Скачать книгу

      

      LOUISA DU TOIT

      Dan kom die eensaamheid

      Jasmyn

      1

      “Kom lig dan vir my hier buite by die groente, Hantie.” Nellie Hasper se luide roep vanaf die tafel voor die agterdeur is meer opdrag as versoek.

      Daar is geen manier om te weier nie. Hantie laat die haarborsel terugsak tot op die blad van die spieëltafel. “Met wat, Ma?” probeer sy tyd wen. Sedert hulle in die dorp woon, het haar ma in ’n groentekleinboer ontwikkel, en sy bring handige geld in. Dis net dat dit nooit skietgee nie.

      “Die lantern op die spensrak is seker leeg. Bring dan ’n lead uit, en ’n lampie, my kind. Dit word te skemer hier, netnou sny ek my raak.”

      Hantie is diep moedeloos. Die stoeplig se gloeilamp is kapot, en elke nuwe een pak ook op, wat beteken daar is ’n elektriese fout, wat nooit reggemaak sal word nie. “Ek bring sommer die flits, Ma,” roep sy. Dit sal die vinnigste gaan.

      Dis presies wat sy gevrees het: dat haar ma juis hierdie tyd vanaand haar groente sal verwerk. Dis gewoonlik namiddagwerk, en sy dog haar ma het dit klaar vir die dag gedoen en in die spens gebêre. Hantie kom eers na vyfuur van die werk af. Dan smag sy na ’n bietjie vrede en stilte, en dat ’n koppie tee vir haar aangedra sal word, iets wat nooit gebeur nie. Sy is nie ’n bederfde dogter nie. Maar nou ja, haar ma is seker ook nie ’n bederfde ma of vrou nie. Almal dink haar krag en uithouvermoë is onbeperk.

      As Manus netnou aankom vanaf Donkervlei, wou sy gereed wees om hom te ontvang, sonder hindernis of drukte of ’n deurmekaar roetine. Sy wou alle werk betyds afhandel en het vanmiddag reeds haar program daarna begin inrig. ’n Bietjie vroeër by die werk losgekom, huis toe gestap omdat haar geleentheid eers later ry. Maar haar ma dink nie daaraan dat sy dalk saans te moeg vir tuiswerk is, na heeldag op haar bene in die winkel nie.

      Dan besef sy haar onredelikheid. Natuurlik moet sy met die groente help. As daar geldjies inkom, is haar ma nie suinig nie.

      Maar dis tog darem Vrydagaand. Manus wou kom “praat”, wat seker ’n ander woord is vir die outydse “ouers vra”. Hy wou die gesprek in die rigting stuur dat hy ernstig met Hantie is, dat hulle in die rigting van trou begin dink. Hulle het geen ander opsie nie, want hulle het waarlik geen tyd en plek waar hulle alleen met mekaar kan wees nie. ’n Sonderlinge situasie van: “Moet trou, het geen opsitplek.” Dis hoe Manus dit opgesom het toe Hantie kla dat hulle soos voëls op ’n tak is.

      Maar in Nellie Hasper se leefwêreld trou meisies nie net nie, hulle moet toestemming kry. Manus het walgegooi toe Hantie dit ter sprake bring: “Hulle kan mos sien ons raak ernstig.”

      “Nee, Manus, hulle kan nie. Ons vat nie eers aan mekaar se hande voor hulle nie, hulle dink nog steeds jy kom vir Boet kuier.”

      “Dan stel ek voor ons begin aan mekaar se hande vat waar hulle naby is.”

      “Dis nie so eenvoudig nie. My ma sal by my wil weet presies hoe die wind waai.”

      “Wat se besware kan sy tog hê? Wil jy sê sy hou nie van my nie?”

      “Ek het geen idee hoe sy oor jou voel, of oor enige ou wat hier sou kom nie. Sy is ’n geslote boek, ek dink partykeer ek ken nie my eie ma nie.”

      “Is dit nie hoog tyd dat sy laat blyk hoe sy voel nie?”

      “Jy vermy die onderwerp. Praat net met hulle in die koers. Jy vertel my gereeld hoe haastig jy is.”

      “Natuurlik, verdomp, ek bedoel ja, natuurlik is ek haastig. Om tog net ’n plek van ons eie te hê waar ons privaat kan wees. Maar die pratery?”

      “Ek is by jou, ek sal alle besware uit die pad vee. My pa is niks, jy moet by my ma verby kom.”

      Wat se besware kan haar ouers ook hê? Hulle kan dankbaar wees dat sy so ’n aansienlike ou het. Ook nie arm nie. Sy pa het Donkervlei redelik duur gekoop, ook die Haspers se grondjie opgekoop toe haar pa uitboer. Manus sal tog seker goed erwe.

      Haar ma het gevoel die prys vir hulle grond is te laag, maar haar pa het geredeneer dat dit ranteveld is en nutteloos vir saaiery. Dit is kwalik ’n ekonomiese eenheid. Daar loop wel ’n sterk spruit, en Bruwer gebruik die grond hoofsaaklik vir vee. Manus se pa het ook vaag daarop geskimp dat die grond weer “familiebesit” kan word. As hulle kinders trou, het hy sekerlik bedoel. Hantie het afgeluister; die idee was sekerlik nie dat sy moet hoor nie.

      Hulle sal dalk verbaas wees om van ’n verhouding te hoor; veral haar ma, wat glo dat Manus vir Boet kom kuier. En Boet doen of sê nooit iets om die waarheid te onthul nie. Haar ouers weet nie van die gesteelde oomblikkies wanneer Boet hulle doelbewus alleen in sy buitekamer los nie. Met ’n halfoop deur waaragter hulle skuil, haha. Haar ma sal nie ’n toe deur duld nie.

      Sy weet nie of Boet dit uit bedagsaamheid doen nie. Hy sal dalk bly wees as sy en Manus oor die tou trap en in die moeilikheid beland, so ’n bietjie skadevreugde. Want Boet is die oudste van hulle twee kinders, maar die minder skerp een. Op skool het hy ietwat gesukkel. Dis moeilik om te weet of sy mindere intelligensie hom pla. Mens weet nie met Boet nie; dalk is hy tog geheg aan sy suster, hy het haar kleintyd met alles gehelp.

      Wanneer Manus ook al by haar werk kan inloer, en veral wanneer sy per geluk in die winkel is, keer hy haar vas agter ’n rak vol tuinslange en sproeierkoppe, en hulle soen tot hulle uitasem en smagtend is. Maar alte gou word hulle weer gesteur en moet uiteenbreek.

      Manus moet dan maar vanaand buite by die groentetafel, in die dobberende lig van die flitslig “ouers vra”. Mits hulle haar pa ook hier kan kry. Hy sit op die sofa en pyp rook. Sy weet dit sonder om dit te sien. Hy is in sy middeljare steeds ’n mooi man en meestal tuis, maar op sy eie behoeftes ingestel. Dis of die vonk in hom, wat sy uit haar kleintyd onthou, mettertyd uitgedoof is. Daar is soveel wat hy in en rondom die huis kan en behoort te doen. Hantie teister haar deur die oproep van talle klein muggies wat tot olifante in haar gemoed groei. Hoekom moet hulle Haspers tog ewiglik met praktiese goedjies spook? Nooit diep sielkundige of opbouende filosofiese kwessies nie, altyd gaan dit maar om den brode. Sy soek ’n dieper lewe, die soort lewe wat sy en Manus saam sal kan opbou.

      Sy het gedink dat die onafgerondheid van hulle soort bestaan vir Manus Bruwer net so erg sal hinder, dat hy hulle veral sal verag omdat haar pa uitgeboer het. Daarom was sy verras en dankbaar toe dit blyk dat sy, en nie Boet nie, die eintlike trekpleister is.

      Reeds van gister af het sy ongemerk voorbereidings getref vir ’n ete van koue vleis en slaaie vanaand, want sy het gereken dat Manus hier moet eet. ’n Malvapoeding het sy vandag by die tuisnywerheid gekoop. Sy wil hom met haar raakvat verras.

      Sy soek die flitslig om by haar ma te gaan aansluit. Nellie Hasper maak ’n ritueel van werk, klein of groot. Haar eie ma was ’n weduwee, en Nellie die oudste dogter in die gesin. Heelwat ouer as die ander kinders, moes sy alle soorte werk leer doen. Die probleem is net dat sy dit nou nog nie regkry om werk af te staan, veral aan mansmense nie … tot my ongerief, en my pa en Boet se groot bederf, besluit Hantie. Maar nie eers Nellie Hasper kon die plaas red nie.

      Hulle moes verkoop en op die rand van die dorp Hopenrus kom kluister, om dit so te stel. Op ’n dubbele erf met ’n ruim dog onaantreklike woning, ’n regte kasarm. Maar ’n boorgat, en genoeg grond vir groente. Dit het die deurslag gegee, en die prys was laag genoeg dat hulle met die plaas se oorblywende geldjies kon koop.

      En groente word daar inderdaad gekweek, tot moegwordens toe. Nellie ry in die ou bakkie die pakkies vars groente asook die gebottelde en bevrore produkte rond, na plekke soos die ysterwarewinkel, wat dit goedgunstiglik sonder kommissie vir haar verkoop. Vir Hantie wat by dié winkel werk, is dit ’n verleentheid om haar ma se goed te moet versmous. Haar salaris is nie groot nie, maar sy het dit broodnodig en wil dit nie verloor nie. Sy weet buitendien dat die eienaar, al is hy goed vir haar, eintlik ’n manspersoon in die pos benodig, iemand met spiere wat goeters op bakkies en in kattebakke kan laai.

      Naweke veral is hulle dorpskombuis ’n kookpot, letterlik, want haar ma doen dan die inlê- en vrieswerk. Die “blansjering”, soos Nellie dit ewe deftig noem, is vir Hantie ’n sieldodende taak. Vinnig kook, in yswater

Скачать книгу