Скачать книгу

“mooi lewe” sodat haar ouers dit moet sien.

      Op die stoep is Muggie nog steeds besig om koggelend vir die wêreld te vertel dat Saartjie nie kan spring nie.

      “Is jou keel nog nie seer nie?” vra Saartjie toe sy verby haar stap.

      “Jy dink seker jy’s snaaks, nè!” snou Muggie haar toe.

      Toe Saartjie by die hekkie kom, hoor sy hoe die kleintjie weer dieselfde deuntjie herhaal: “Saartjie kan nie spring nie.”

      Sy glimlag maar net. Muggie sal wel een of ander tyd moeg word en van die springery vergeet.

      Dié aand aan tafel is Saartjie so vriendelik en goedgemanierd dat haar ouers, haar ouer broer, Kris, en haar jonger boetie, Apie, meer as een keer fronsend na haar kyk.

      Sy vra gedurig: “Gee asseblief vir my dit of dat aan,” en wanneer dit gedoen word, sê Saartjie met ’n glimlag: “Baie, baie dankie.”

      Verder vra sy die hele tyd goed soos: “Wil Pappa nie nog ’n bietjie rys hê nie?” En as hy haar verseker hy het genoeg sê sy vir haar ma: “Hoe lyk dit, Mamma. Nog ’n bietjie aartappels?” Saartjie se ma sê nee dankie, want sy hou haar figuur dop.

      Dan vra Saartjie weer vir Kris: “Kan ek nie vir jou iets aangee nie?”

      En so hou dit aan. Die Baumanns is ’n beleefde familie, maar Saartjie se bedagsaamheid word darem nou te erg en hulle begin almal ongemaklik voel.

      Saartjie se agtjarige boetie – Abraham, maar almal noem hom Apie – het klaar geëet en hy sit haar nou met ’n frons op sy sproetgesig en dophou. Hy wonder hoekom sy so vriendelik is en wat sy in die mou voer.

      Apie is ’n vreeslike karnallie. Hy speel met die punt van sy tong deur die opening waar sy twee voortande skitter in hul afwesigheid.

      Hy het een middag in ’n gehawende toestand met ’n blouoog en sonder sy twee voortande by die huis aangekom. Sy storie was dat hy uit ’n boom geval het, maar niemand het hom geglo nie. Almal was seker hy was in ’n woeste geveg betrokke.

      “Julle kan maar so dink as julle wil,” het hy net koppig gesê en met gebalde vuiste gestaan. “Maar ek sê vir julle,” en die s-geluide was sss-geluide: “ek het uit ’n boom geval.”

      Toe sy ma sien hoe die trane in sy oë blink, het sy almal belet om hom verder uit te vra.

      “As Apie sê hy het uit die boom geval,” het sy net teer gesê, “dan het hy uit ’n boom geval.” Toe het sy hom gaan dokter.

      Nou sit Apie Saartjie agterdogtig en dophou. Hy weet mos sy is so vriendelik en beleef omdat sy iets wil hê. Hy wonder net wat dit kan wees.

      Toe Saartjie vra: “Het jy genoeg geëet, Apie? Wil jy nie nog iets hê nie?” maak hy net ’n paar sisgeluide en brom: “Ek wil niks hê nie – ek wil net weet wassit met jou.”

      “Wat bedoel jy?” Sy suster glimlag vriendelik.

      “Hoekom het jy all-of-a-sutten sulke goeie maniertjies?” vra Apie.

      “Abraham!” sê sy ma kwaai.

      “Hoekom praat jy so deurmekaar?” sê sy pa vererg. “As jy Afrikaans praat, praat dit ordentlik en nie so ’n mengelmoes van Engels en Afrikaans nie. Verstaan?”

      “Ek verstaan, Pa,” sê Apie, “maar Pa moet onthou, ek kan Engels goed gooi. My onnie het my vandag ses uit tien vir ’n Engelse opstel gegee. Dis die hoogste punte wat ek nog ooit gekry het.”

      Die seun lyk baie trots. Dan draai hy weer na Saartjie en sê: “Nou wassit met jou?”

      “Ek het nie ’n benul waarvan jy praat nie,” sê sy uit die hoogte en kyk vies na haar barbaar van ’n boetie.

      “Hoekom is jy kastig vanaand so vriendelik? Ander aande wil jy nooit vir my iets aangee as ek vra nie – maar vanaand vra jy skielik of ek genoeg geëet het en of ek nog kos wil hê! Daar’s iets verkeerd. Ek kan dit ruik.” Apie snuif-snuif met sy sproetneus in die lug.

      “Jy weet so min van maniere af,” sê Saartjie bitsig, “dat as jy iemand soos ek met goeie maniere teëkom, jy dit glad nie kan verstaan nie!”

      Apie en Saartjie kyk mekaar kwaai aan. Dokter en mevrou Baumann en Kris sukkel om hul lag te bedwing.

      Saartjie vee met die agterkant van haar hand oor haar hare. Sy byt effens op haar onderlip. Sy moet liewer nie haar humeur verloor nie. Dit sal alles bederf.

      Sy praat soos iemand wat spraaklesse neem: “Ek kan nie redeneer met mense wat nie die vaagste benul het van hoflikheid, diens, plig, hulpvaardigheid, opoffering vir ’n medemens … en …” Saartjie soek na nog ’n paar sulke edele eienskappe, maar kan nie aan nog iets dink nie en sê dan net: “en sulke belangrike eienskappe nie.”

      Apie kyk verbaas na haar. Dan sê hy: “Jissie, sy’t nie net ’n warm patat in haar mond nie – sy’t nou nog ’n stok ook ingesluk!”

      Voor enigeen iets verder kan sê, tik dokter Baumann met sy kneukels op die tafel.

      Ná haar pa se dankgebed spring Saartjie vinnig op. Sy is tog nie lus om verder met Apie te baklei nie. Sy moet mos ’n goeie indruk maak.

      “Dankie vir die lekker kos, Mamma,” sê sy vriendelik en stoot haar stoel in. “Ek het heerlik geëet.”

      “Ek is bly, my kind,” sê haar ma effens geamuseerd.

      “Ek gaan nou kamer toe om te leer.” Saartjie probeer lyk soos iemand op wie se kop ’n stralekransie goed sal pas. “’n Mens moet jou plig nakom.”

      Haar ouers, Kris en Apie kyk haar verbaas agterna.

      “Ek het baie werk,” sê sy toe sy trap toe stap. “Ek wil probeer om hierdie kwartaal eerste te staan.”

      Sy loer onderlangs om te sien watter indruk hierdie woorde op haar ouers maak, maar hulle glimlag net vir mekaar en gaan sit gemaklik in hul leunstoele. Haar pa tel sy boek op en haar ma begin weer brei.

      Saartjie mompel – hard genoeg sodat hulle kan hoor – dat sy nie iemand is wat haar plig versuim nie. Ja-nee, sy werk hard … feitlik dag en nag … Sy hoop net sy kry nie ’n senuwee-ineenstorting of so iets van al die baie werk nie …

      In haar kamer op die boonste verdieping doen Saartjie nog vir ’n hele ruk huiswerk. Sy voel sy het vandag ’n goeie indruk op haar ouers gemaak. Apie het alles amper bederf, maar gelukkig het sy hom nie ingevlieg nie.

      Saartjie gaap. Sy het nou lank genoeg gewerk. Sy gaan bad, trek haar nagklere aan en klim in die bed. Sy skakel die lig af. Dan lig sy haarself effens op en kyk deur die venster. Sy sien Johannesburg se liggies in die verte flikker.

      Met ’n sug sak Saartjie weer terug op haar bed. Sy is nogal moeg van die inspanning om heeldag ’n rol te speel waaraan sy nie gewoond is nie.

      Maar dis darem nog net ’n paar dae, dan gaan sy haar ouers vra of sy saam met Anna en haar pa, oom Louis, Durban toe kan gaan. Wanneer hulle eers hul toestemming gegee het – en hulle sal dit tog seker doen, want sy is mos nou so mooi soet – sal sy weer haar natuurlike self kan wees.

      Vakerig lê Saartjie nou aan Durban en dink. Dit sal darem heerlik wees om soontoe te gaan! Sy en Anna sal swem en speel soos nog nooit nie! Hulle sal natuurlik in ’n wonderlike hotel bly waar alles net van die heel luuksste is – en die beste is dat oom Louis elke dag by die konferensie gaan wees. Sy en Anna sal bedags alleen wees en kan doen net wat hulle wil!

      Saartjie is amper aan die slaap. Haar asemhaling word reëlmatig. In haar verbeelding sien sy die blou see, die blou lug, die wit sand. Sy sien hoe sy en Anna in die aanstormende branders induik. Sy sien hoe hulle …

      En toe sit Saartjie skielik regop. Haar hart klop vinnig.

      “Nee,” prewel sy, “dit kan nie wees nie! Dit mag nie wees nie!” Sy moet dink, ernstig

Скачать книгу