Скачать книгу

vir julle waterige waatlemoene en wilde komkommers dra, en mij hare sal op die grond groei en gras word. Dan sal julle oorgenoeg kos hê.”

      Die Diere vra: “Hoelank gaan jij nog lewe? En hoelank moet ons nog wag? Want ’n Olifant word baie oud.”

      Hij antwoord: “Hoelank ek gaan lewe, weet ek nie. Al wat julle te doen het, is: julle moet julle tijd afwag.”

      Daarop vra die Diere weer: “Waar krij ons water om te drink?” Hierop gee die groot ou Slang, met die blink steen op sij kop, antwoord: “So gek om dood te gaan, is ek nie; maar ek sal oor ’n plan nadink om water te maak. As ek dood is, kan ek dit nie doen nie.”

      Van al die Diere wat sterk genoeg is om die groot Olifant dood te maak, is die groot Slang met die blink steen op sij kop die enigste; want hij is nie alleen baie sterk nie, maar daarbij ook baie giftig.

      Daardie groot Slang roep toe uit: “Groot Olifant, jij het jouw eie vonnis uitgespreek. Jij moet woord hou! Op die plek moet jij dood, dan sal jij en ons algaar gelukkiger wees as nou.”

      Hierop maak die groot Slang ’n aanval op die groot Olifant, en bijt hom met sij gif dood. Toe het al die Diere vereers genoeg kos en drank aan die vleis en bloed van die Olifant. Dieselfde aand sien die Diere die groot Gees van die Olifant, met twee groot vurige oë en bek, rondstap, maar die Gees stap weg en doen vir hulle niks nie.

      So het hij aand vir aand kom kijk na sij aas, waaraan die Diere eet tot daar glad niks mer oorgeblij het nie as net die bene, senings en hare. Toe praat die Gees met die bene, die senings en hare, dat hul bome, rankplante en gras moet word, wat kos aan die Diere moet verskaf, en dat hul hulle eie sade moet dra, om hulle self verder voort te plant.

      Toe kom daar bome, rankplante en gras. Maar daar was toe nog geen water nie. Hiervoor het die groot Slang mos belowe om te sorg. Hieroor spreek die Diere toe die groot Slang aan en vra hom waarom hij nog langer versuim om water te maak.

      Op die plek kruip hij onder die grond en maak toe die onderaardse waters, wat in fonteine staan of uitborrel.

      Die gras en bome langs die fonteinplekke groei toe welig en geil; maar die plante op die berge en vlaktes kwijn, verlep en verdor. Toe huil daardie plante en soebat die Sterretjies en Maan om tog van hulle water snags op die bome, rankplante en gras uit te giet.

      Maar die Maan en Sterre antwoord dat hul net genoeg water vir hulle eie gebruik het, en daarvan nie kan spaar nie.

      Daarop huil die plante wat op die berge en vlaktes groei. Die plante aan die waterbronne huil ook saam oor die lot van hulle broers en susters. Hierdie rouwgekerm was te veel vir die Maan en Sterre, wat toe ook met die dorstiges bitterlik saamhuil; en hulle trane val snags in druppels op die blare van die plante, sodat hulle soggends nat gedouw is.

      Die geval nou is: Die Diere het genoeg drinkwater bij die fonteine, wat deur die groot Waterslang gemaak is; ook die plante wat bij die fonteinplekke groei het volop water; maar die berge en vlaktes is droog en dor. Dan kom daarbij nog: Die sonstrale is warm en dorstig, en die wind is dor en ook dorstig; daarom lek daardie sonstrale en wind die douwtrane soggends vroeg op.

      Daar was ’n groot Bees, wat baie graag gras geëet het, en hij kon nie genoeg daarvan krij om te eet nie. Hij sê toe dat hij reën sal maak om orals op die velde te laat uitstort. Hij neem van die waters van die fonteine en gooi dit in die lug. Hij stap van fontein na fontein en smijt water in die lug. Die winde kom van ver af en drijwe al daardie waters bo in die lug saam om wolke te vorm; dan vervoer hij die wolke, wat reën uitskud, oor die velde; en so het die eerste reëns ontstaan.

      Later, as daar droogte oor die land kom, word daardie Reënbees rondgelei om die plekke te wijs waar dit droog is. Die plekke wat hul hom nie kom wijs nie, blij droog tot hul hom eendag daardie plekke gaan wijs. Van toe af was daar genoeg kos en water vir al die Diere.

      Maar partij Diere was te moorddadig en wederstrewig en kon nie ophou om te moor en te verslind nie. Hulle wou glad nie veldvrugte en gras eet nie. Leeuw, Tier, Wolf, die Wildekatte,Valk, Uil en nog baie ander het tot daardie klas behoort, om niks anders as vleis te wil eet nie. Aasvoël het gesê hij is met die aas van die dooie Diere tevrede.

      En so bestaan die wêreld vandag nog: Die een leef van die ander, en sonder die ander kan die een nie bestaan nie.

      Die slang in die tuin

      THOMAS DEACON

      Grootmoeder vertel vir my: “Eendag was daar ’n man en ’n vrou wat in ’n tuin gebly het. Hulle het mooi gelewe, want daar was nie anner mense met wie hulle maatskappy kon maak nie. Maar eendag kom ’n slang by daai vrou; hy vra: ‘Is dit waar lat jou tata gesê het jy mag nie van die aartappels op die ploegland eet nie?’

      “Die vrou sê: ‘Ja, hy’t gesê as ek van daai aartappels eet, sal ek dood neerslaan.’

      “‘Nee,’ sê die slang. ‘Die dood sal jou nie vang nie. As jy beginne aartappels eet, sal jy net so slim soos jou tata worre.’

      “Toe’t daai vrou ’n streepsak vol aartappels in die ploegland gaan uitgrou. Sy’t ’n paar daarvan in die warmte van die vuur gebraai.

      “Naderhand kom haar man van die veld af. Hy vra: ‘Wat vir ’n soort kos ruik so lekker?’

      “‘Ditapolê,’ sê die vrou.

      “Toe beginne hulle se monde te water. Hulle vat van daai aartappels; hulle eet lat die spoeg spat. Jy sien net skille trek soos wat hulle afdop.

      “Maar toe hulle klaar geëet het, hou die vrou haar hanne voor haar tiete; sy vra: ‘Hoekom is my liggaam so káál?’

      “Die man sê: ‘En kyk hoe speel die kaligheid oor my lyf!’

      “Hulle gaan kruip in die riete langes die rivier weg, maar hulle se tata het al die tyd eenkant gestaan en kyk hoe stout sy twee kinners is. Hy sê: ‘Omlat julle so ongehoorsamig was, sal julle van nou af aan laag moet buk om julle se kos te verdien. Julle sal ook nie meer in hierie mooi tuin bly nie. Nee, julle het nie mooi gemaak nie! Die asem wat in julle se lywe geblaas is, sal ook nie meer vir altyd daar nesmaak nie. Een of anner tyd sal die velsak van julle se lywe oopgaan; dan sal die asem deur die blou lug vasgegryp worre, soos reën wat in die ploegland wegsak.’

      “Van daai tyd af aan het die swaarkry van die lewe al met die mens se voetspoor saamgestap. Toe het die mens beginne krom buig om die goeie dinge van die lewe tussen die opslag uit te grawe, net soos daai aartappel-etertjies. Toe’t die engel van die dood gekom; hy’t sy skadu oor al wat mens en dier en plant is, gegooi. Jy sal nog dink om dit of dat te doen, dan klap daai vlerke bokant jou kop.”

      Rooigrond (1995), waaruit die bostaande fragment kom, is gebaseer op onderhoude wat Deacon met Alfred Mokgotsi gevoer en in ’n unieke Sotho-Afrikaans geskryf het.

Koning van die Groot Gariep

      Die Waterslang

      PIETER W. GROBBELAAR

      Hierdie vertelling is ’n verwerking van ’n verhaal wat deur G.R. von Wielligh (1859–1932) opgeteken is.

      Diep in die mond van die fontein waar dit deur die riete borrel en altyd koel is, woon Waterslang. Sy is die dogter van die waters. Haar lyf is blink en haar oë blink, maar die blinkste van alles is die groot wit steen op haar kop. Sy het dit ver onder die aarde gekry, en nou is sy baie jaloers daarop. Wanneer sy in die rivier af swem sodat die golwe teen die oewers stoot, dra sy dit hoog in die son. Maar wanneer sy water drink, steek sy dit eers tussen die lang palmietgras weg, omdat sy bang is dat dit kan afval en wegraak. En as iemand die steen dalk wil steel en sy gewaar dit – nee,

Скачать книгу