ТОП просматриваемых книг сайта:
Terug na die Ou Testament. Adrio König
Читать онлайн.Название Terug na die Ou Testament
Год выпуска 0
isbn 9780796318855
Автор произведения Adrio König
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
2.3.2 JESUS HET SELF DIE SABBAT GEHOU
Ons het alreeds daarna gekyk. Jesus het inderdaad self die Sabbat gehou. Hierdie Christene is nou oortuig dat ons moet aanvaar sy volgelinge het ná sy opwekking daarmee voortgegaan, en daarom moet ons ook.
Dit gaan hier oor twee sake: Oor Jesus, en dan oor die eerste Christene.
Jesus Daar was keer op keer ’n konfrontasie oor die Sabbat tussen Hom en die godsdiensleiers, maar dit het gegaan oor die vraag hoe die Sabbat gehou moet word. Daar is geen teken dat Jesus self met die Sabbat as ’n instelling ’n probleem gehad het nie. Jesus se aanvaarding van die Sabbat was eenvoudig deel van sy lewe as getroue Ou-Testamentiese Jood.
Moet ons Hom dan nie hierin navolg nie? Hy is tog ons voorbeeld.
As ons na die lewe van Jesus kyk, is dit gou duidelik dat Jesus ook baie ander dinge gedoen het wat ons as Christene nie meer doen nie:
•Hy is besny (Luk 2:21).
•Hy is in die tempel aan die Here gewy (Luk 2:21,22).
•Hy het gereeld die sinagoge en die tempel besoek.
•Hy het die feeste van die Ou Testament gevier.
•Hy het onreines wat Hy genees, beveel om hulle aan die priesters te gaan wys (Luk 17:14).
•Hy het aanvaar sy volgelinge neem hulle offers in die tempel na die altaar toe (Matt 5:23,24).
Daar is regtig baie min Christene wat Jesus nog in al hierdie gebruike navolg! Kies ons nou eenvoudig watter en los die ander? Kom ons kyk mooi hierna.
Jesus was nie ’n Christen nie. Hy was ’n Jood. Sy volgelinge is later eers Christene genoem (Hand 11:26). Selfs die dissipels en die eerste bekeerlinge was nog Jode. Die belangrikste verskil met die ander Jode was dat hulle geglo het die Messias het al gekom.
Jesus was, godsdienstig gesproke, ’n Ou-Testamentiese gelowige. Hy het die Ou-Testamentiese gebruike aanvaar, al het Hy baie kritiek gehad op die manier waarop die godsdiensleiers dit uitgevoer het.
Natuurlik is Jesus ons voorbeeld (1 Pet 2:21). Natuurlik moet ons Hom navolg. Maar waarin? In sy besnydenis? In sy sinagoge-besoeke? In sy Joodse kleredrag? In die feit dat Hy nie ’n vaste werk of ’n vaste adres of vaste eiendom gehad het nie?
Is dit nie ’n bietjie willekeurig om juis sy Sabbatsonderhouding uit te sonder nie? Was sy besnydenis en sy tempelbesoeke en sy raad oor offers nie net so belangrik nie?
Waarin is ons geroepe om Jesus na te volg? In sy kruisdra, in sy diens aan mense in nood, in sy nederigheid, in sy reinheid, en noem maar op. Dit beteken dat dit nie gaan oor die formele gebruike nie, maar oor die geestelike sake en die etiese waardes.
2.3.3 MATTEUS 20:24
Maar wat dan van die uitspraak van Jesus in die profetiese rede dat sy volgelinge moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat sal moet vlug nie? (Matt 24:20). Beteken dit Hy het verwag sy volgelinge sal die Sabbat hou?
Wat het Jesus met hierdie uitspraak bedoel?
Dis deel van sy profetiese rede. Dit gaan oor sy wederkoms en die vervolgings wat sy volgelinge sal beleef. In die voorafgaande verse sê Jesus dat dit baie swaar sal gaan wanneer hulle moet vlug. Dit sal ’n tyd vol ontberings wees en hulle sal baie haastig moet vlug (24:16-17; ook Mark 13:15-16 en Luk 21:21). Hy vervolg dan dat dié wat bykomende laste dra, buitengewoon swaar sal kry (vers 19). En dan sê Hy: “Bid dat julle nie in die winter of op die Sabbatdag hoef te vlug nie.”
Waarom nie in die winter nie? Dit sal die vlug nog swaarder maak, want in die winter is daar in Palestina reën, koue, stormagtige weer en deurweekte paaie.
In dieselfde asem sê Jesus dat hulle moet bid dat hulle vlug nie op die Sabbat moet plaasvind nie. Waarom? Seker om dieselfde rede: dit sal hulle vlug bemoeilik.
Hoe? ’n Mens kan twee antwoorde oorweeg. Omdat die Christene nog die Sabbat sou hou, sal hulle uit eerbied vir die Sabbat nie op dié dag mag vlug nie. Hulle sou in gehoorsaamheid aan die vierde gebod moes rus, en dan sou die vyand hulle natuurlik oorrompel.
Maar daar is ’n ander moontlikheid. Jesus bedoel dat die Jode dit vir sy volgelinge op die Sabbat baie moeilik sou maak. Hulle sou byvoorbeeld nie voedsel kon koop nie, en voor allerlei ander beperkings staan. Fanatieke Jode sou dit as hulle plig beskou om hulle vlug te kortwiek.
Watter een van hierdie twee betekenisse is die waarskynlikste? Sit daar nie ’n vreemde beeld van Jesus agter die eerste een nie? Sou Jesus regtig gemeen het sy volgelinge moet op die Sabbat rus al is hulle lewe in gevaar? Is dít die Jesus van die Evangelies, die Jesus wat sy dissipels verdedig as hulle op die Sabbat koringare pluk oor hulle honger is, en siekes op die Sabbat genees? Is Hy nie die Een wat gesê het die mens is nie vir die Sabbat gemaak nie, maar die Sabbat vir die mens (Mark 2:27)?
Dis dus sinvoller om die tweede rede te aanvaar: Dat die Sabbat dieselfde probleme as die winter sou oplewer. Dit sou omstandighede meebring wat hulle vlug sou bemoeilik. Dit beteken dat ons nie uit hierdie woorde van Jesus kan aflei dat Hy bedoel het dat sy volgelinge na sy opwekking nog die Sabbat moes hou nie.
Jesaja 66:22-23 sal in hoofstuk 3 behandel word.
Maar intussen is dit in elk geval duidelik dat Jesus self die Sabbat gehou het net soos Hy getrou was aan die ander aspekte van die Ou-Testamentiese kultus: die besnydenis, die tempel, die feeste, die priesterdiens en die offers.
2.3.4 HET DIE VROEË CHRISTENE DIE SABBAT GEHOU?
Ná die uitstorting van die Gees het die dissipels en die Joodse Christene nog lank ’n besondere verbondenheid aan die Ou-Testamentiese vorm van godsdiens gehad. Ons lees spesifiek van hulle tempelbesoek, die feeste en die besnydenis (Hand 3:1 ev; 20:16; 21:20-26). Trouens, die vroeë Christene was eintlik nog Jode wat net, anders as hulle mede-Jode, geglo het die Messias het gekom, gekruisig en opgewek is, en hulle wou net hulle mede-Jode daarvan oortuig.
Dis eers gaandeweg dat daar ’n afstand tussen hierdie twee groepe begin kom het. En skynbaar was die Sabbat deel van hierdie afstand.
So op die oog af lyk dit asof Paulus die Sabbat nog streng gehou het. Immers volgens Handelinge is hy keer op keer op die Sabbat in ’n sinagoge (Hand 13:14,42; 17:2; 18:4). Maar wat doen Hy daar? Is dit ’n byeenkoms van Christene? Of ontmoet hy Jode om hulle te probeer oortuig dat Jesus die Messias is? “Hou hulle kerk,” of redeneer hy met hulle? (Hand 17:2, en al die ander gevalle.) Paulus gaan op die Sabbat na die sinagoge omdat dit die enigste dag is waarop Hy die Jode daar bymekaar sal kry om die evangelie van Jesus aan hulle te bring en hulle met argumente te probeer oortuig dat Jesus die Messias is (Hand 17:3). Uit Handelinge 13:42-44 is dit duidelik dat hy dit net op Sabbatdae kon doen. Dit was egter nie byeenkomste van Christene nie.
Ná die opwekking van Jesus word daar nooit verwys na ’n byeenkoms van Christene op ’n Sabbat nie. Trouens, behalwe vir die een negatiewe verwysing na die Sabbat (Kol 2:16), kom die woord “Sabbat” nooit in die Briewe of in Openbaring voor nie.
Hierdie een negatiewe verwysing in die Briewe lui: Moenie “dat iemand vir julle voorskrywe ... dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die Sabbatdag moet vier nie. Dis alles maar net ’n skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus” (Kol 2:16-20). Paulus noem die Sabbat saam met die feeste ’n “skaduwee van wat sou kom”. Dis ook hoe Hebreërs oor die wet van Moses praat (waarvan die Sabbat ’n deel is). Die wet was “slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom,” die “weldade” wat deur Jesus gekom het (Heb 10:1-4). En Paulus vervolg dan in Kolossense dat Christene dood is vir hierdie wettiese godsdienstige