Скачать книгу

>

      

      Terug na die

      OU TESTAMENT...

      En wat dan van Jesus?

      ADRIO KÖNIG

      Lux Verbi

      Voorwoord

      Dit is een van die moeilikste boeke wat ek nog geskryf het.

      Dis nie oor die onderwerp so ingewikkeld is nie. Dis oor ek moet verskil van mense wat naby my staan, gelowiges wat die Here liefhet.

      Daarom is dit deurgaans ’n saaklike bespreking, want as gelowiges kan ons tog ook saaklik van mekaar verskil, en mekaar probeer verstaan en oortuig.

      Die titel is “Terug na die Ou Testament ...” Sommige sal alreeds hiervan verskil en sê hulle is nie op pad terug nie, maar vorentoe om die wil van die Here te doen soos dit uitdruklik in die Bybel staan.

      Maar soos ek dit verstaan, was die gebruike waaroor dit hier gaan, nie meer deel van die vroeë Christene se lewe nie. Dit het alreeds in die tyd van die Nuwe Testament uit hulle lewe verdwyn.

      Een saak wat my baie help, is om te onthou dat Jesus in ’n sekere sin nog heeltemal deel van die Ou Testament was. Hy het nog streng volgens die wet geleef: tempel, offers, feeste, besnydenis, Sabbat. Die werklik nuwe tyd het eers by sy kruis en opstanding gekom. Daarna het die mense wat in Jesus geglo het, vir die eerste keer as ’n aparte groep begin optree, aanvanklik nog steeds as deel van die Joodse gemeenskap, maar gaandeweg het daar verwydering tussen hulle en die Jode gekom totdat hulle uiteindelik heeltemal ’n eie godsdiens gehad het.

      Selfs binne hierdie nuwe geloofsgemeenskap was daar afstand en soms spanning tussen die Joodse Christene en die Christene uit die heidene. Dit het veral oor die wet en meer spesifiek oor die besnydenis gegaan (Galasiërs).

      Maar uiteindelik het die “wetsvrye” Christendom heeltemal oorgeneem.

      Maar dit lyk nou asof daar ’n groep Christene is wat as ’t ware wil terug na die wet en na die gemeente wat uit Joodse gelowiges bestaan het. Miskien sou Paulus dit nog wel toegelaat het vir Christene uit die Jode, maar vir Christene uit die heidene het hy ’n volstrekte nee gesê. Galasiërs 1:6-9; 4:8-11en 5:2-4 is duidelik hieroor. In werklikheid lyk dit vir my asof hy hiermee selfs die Christene uit die Jode verbied om nog met die besnydenis voort te gaan.

      Maar die besnydenis was net die punt van die ysberg. Dis duidelik dat die Sabbat, die feeste en selfs die voedselvoorskrifte ook uit die lewe van die Christene verdwyn het (Gal 4:8-11; Kol 2:16-17) en later ook die tempel-priesters-offers (Hebreërs).

      Die boodskap van hierdie boek is dat die beweging “terug na die Ou Testament” nie pas in ’n gemeente van Christene nie. Galasiërs, Kolossense en Hebreërs is duidelik hieroor.

      Adrio König

      April 2014

      1

      DIE TERUGKEER NA DIE OU TESTAMENT

twril.jpg

      Sommige Christene is vandag ernstig om weer te begin met sekere gebruike wat in die Ou Testament baie belangrik was. En soms beteken dit ’n radikale herinterpretasie en herorganisasie van hulle lewe.

      Daar was altyd verskille onder Christene oor hoe ons die Ou Testament moet hanteer, watter dinge nog vir ons geld en watter nie. Is dit eenvoudig hierdie selfde dinge wat terugkom, of is dit nuwe dinge?

      Kom ons kyk terug na die begin van die Christelike geloof.

      •Aan die begin was een van die brandendste vrae die een of die bekeerlinge uit die heidendom besny moes word (Hand 15; Galasiërs).

      •Maar die feeste en die Sabbat het ook vrae na vore gebring (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17; Rom 14:5-6).

      •Ook die vleis van onrein diere (Hand 10:9-16), ander voorskrifte oor vleis (Hand 15:20,29) en eet- en drinkvoorskrifte (Kol 2:16-17).

      •Die vraag of gelowiges die vleis wat deur heidene aan afgode geoffer is, mag eet, het hier bygekom (Rom 14; 1 Kor 8 – 9).

      •Maar ’n veel ingrypender vraag was die vraag wat die verhouding moes wees tussen die Joodse gelowiges en die gelowiges uit die heidene. Hieroor het Paulus en Petrus selfs in die openbaar van mekaar verskil (Gal 2:11-14).

      •Maar miskien die heel belangrikste was die Joodse gelowiges wat skynbaar nie net oorweeg het om weer na sekere gebruike in die Ou Testament terug te gaan nie, maar selfs om hulle geloof in Jesus prys te gee (Hebreërs).

      Baie nou hieraan verbonde was die algemene vraag oor die wet. Geld die wet nog, of nie meer nie? Wat van die wet geld nog, en wat nie meer nie (oa Rom 7 – 8). In hierdie verband het die vraag: Abraham óf Moses, die geloof óf die wet (Gal 3:1-9) baie sterk na vore gekom. Maar dit was ’n omvattender vraag wat nie net oor spesifieke sake gegaan het nie.

      Die antwoorde op hierdie vrae oor die Ou Testament was van beslissende betekenis vir die voortbestaan van die Christelike geloofsgemeenskap. Die antwoorde was oorwegend negatief wat die Ou Testament betref:

      •nie meer die besnydenis nie;

      •nie meer die feeste nie;

      •nie meer Sabbat nie;

      •nie meer die wet nie; en

      •nie meer die tempel, priesters, offers nie.

      Al hierdie gebruike is nie oornag afgeskaf nie. ’n Mens moet onderskei tussen Jode en heidene wat Christene geword het. Die Joodse Christene het met hierdie gebruike grootgeword en aanvanklik daarmee voortgegaan. Die apostels het self aanvanklik nog die tempel besoek (Hand 3), die gelowige Jode in Jerusalem het nog lank “die wet van Moses stiptelik onderhou” en onder andere hulle seuntjies besny (Hand 21:21). Daar is skynbaar selfs een of twee voorbeelde van feeste wat hulle gevier het (Hand 20:6,16). Hulle het ook van die heiden-Christene verwag om hierby in te val. En juis dit was die krisis waaraan Paulus so hard gewerk het. Hy was oortuig dat dit nie net onnodig was vir die Christene uit die heidene nie, maar selfs verkeerd (Galasiërs, Kolossense). Hierdie gelowiges het dus afstand gedoen van hierdie gebruike.

      En die omvattende prysgawe van al hierdie dinge was onontbeerlik vir die behoud en groei van die Christelike geloofsgemeenskap.

      Indien hierdie proses van “ontbondeling” met die Jode nie plaasgevind het nie, sou die Christene voortbestaan het bloot as ’n vreemde groepie Jode binne die Joodse geloofsgemeenskap.

      Dis immers hoe die Christelike geloofsgemeenskap begin het. Dit was ’n groepie Jode, deel van die Joodse geloofsgemeenskap, wat eintlik in beginsel net op een punt van die ander Jode verskil het: hulle het geglo dat die Messias reeds gekom het. Maar hulle het saam met die ander Jode die tempel besoek (Hand 3), die feeste gevier (Hand 20:6,16; 21:26), die wet gehou en hulle kinders besny (Hand 21:20-21). Indien hulle net só aangegaan het, indien Paulus nie na die heidene uitgereik het nie, sou die vroegste Christene niks meer bereik het nie as om ’n (kleiner of groter) skeuring in Joodse geledere te veroorsaak.

      Ons het dit aan die werk van die Here deur Paulus te danke dat die Christelike geloof uit hierdie ingehokte situasie uitgebreek het en die heidenwêreld verower het. Dis Paulus wat die evangelie “verbruikersvriendelik” vir die heidene gemaak het. Die kans dat ’n massa heidene skielik Jode sou word, was gering. Ons kan moeilik ten volle die betekenis waardeer wat Paulus gehad het en nog steeds het vir die vorming én die groei van die Christendom in die wêreld. Hy was ’n gawe van God, nie net aan die kerk nie, maar aan die wêreld.

      Wat het hy gedoen?

      •Hy het nie die Ou Testament afgeskaf nie. Dit sou fataal gewees het.

      •Hy het dit ook nie sondermeer heelhuids aanvaar nie. Dit sou ewe fataal gewees het.

      •Hy het versigtig, selektief, met fyn onderskeidingsvermoë, uitgesoek wat enersyds nog geldig is en geldig sou bly, en wat andersyds deur Christus vervul en vervang is.

Скачать книгу