Скачать книгу

Oktober 2000.)

      TE VEEL VAN ONS IS RYK EN TE VEEL IS ARM

      (Beyers Naudé)

squiggle.jpg

      Dr. Beyers Naudé glimlag breed en steek sy hand uit om te groet wanneer hy op ’n rolstoel ingestoot word in die portaal van die aftreeoord waar ons op hom wag.

      Dat sy verstand ondanks sy 86 jaar en ernstige siekte nog glashelder is, blyk met die intrapslag. Hy groet my op die naam en herken die fotograaf Dawid Roux, al het Dawid hom nog net twee keer, albei kere ’n paar jaar gelede, afgeneem.

      “Ek kan nie nou al doodgaan nie,” lag hy in antwoord op ’n opmerking oor hoe goed hy lyk. En vir iemand wat só siek was dat mense om hom gedink het dis die einde, lyk oom Bey inderdaad goed in sy blou hemp, baadjie en das – al is hy klein in sy rolstoel. By hom, soos hoeveel dekades al, is sy vrou, tannie Ilse.

      Ons gaan sit in ’n eetkamertjie. As dit warmer word, beplan sy om oom Bey die middag vir die eerste keer weer ’n slag uit te stoot na buite. Ek kyk op my horlosie, want ons het beloof ons sal oom Bey nie langer as ’n kwartier besig hou nie. Hy word nog baie gou moeg, al gaan dit nou beter met hom, het sy seun, mnr. Johan Naudé, vroeër verduidelik.

      Die dokters het gesê dat sy een long verkalk het en dat hy daarom sukkel om asem te kry, vertel oom Bey as ons om die tafeltjie sit. Sy hande beduie terwyl hy praat. Hulle kan niks daaraan doen nie, voeg hy by. Tannie Ilse vul aan dat dit die min suurstof is wat hy inkry, wat veroorsaak dat sy energievlakke so laag is.

      Hy sorg darem dat hy oefening kry. Met die loopraam stap hy op en af in die gang. Dis noodsaaklik vir sy bene, sê oom Bey. Maar ja, dis vermoeiend ook. Op die vraag hoe hy voel oor al die eerbewyse wat nou na sy kant kom, soos die Vryheid van Johannesburg wat môre aan hom toegeken word, skud hy net sy kop en glimlag. Dis asof hy na woorde soek voordat hy antwoord dat hy nooit só iets verwag het nie.

      Hy glimlag as hy kyk na Dawid se foto’s van die nuwe naambordjies van Beyers Naudérylaan (soos D.F. Malanrylaan voortaan genoem gaan word), en sê aanvanklik wou hy nie glo dat hy nou só vereer word nie. Hy het gedink dis seker ’n fout. Maar hy is baie dankbaar daaroor, veral omdat sy vrou en kinders dit saam met hom kan beleef.

      Volg hy darem nog die nuus? “Jáá,” antwoord hy, asof hy wil sê: “Maar natuurlik!” Hy kry Beeld elke dag, sê hy en tel op sy vingers af: “En die Sowetan, en The Citizen en The Star.” En hy lees hulle weer self.

      “Dankie, Vader,” sê tannie Ilse. Daar was ’n tyd toe hy nie die krag gehad het daarvoor nie en sy alles vir hom moes lees.

      Ongelukkig kan hy nie meer kerk toe gaan nie, vertel oom Bey, maar as tannie Ilse Sondag gaan, dan koop sy op pad terug die Rapport en City Press. Die Sunday Times word tuis afgelewer.

      In die kamer in die versorgingsafdeling van die oord waar hy nou bly, is daar ’n TV-stel ook. Hy het alles oor die aanvalle op die World Trade Center in New York en die Pentagon in Washington gevolg. Oom Bey se voorkop plooi op die frons wat altyd verskyn as hy ernstig oor ’n saak praat. “Dis verskriklik,” sê hy. Hy het homself afgevra wat dit is wat gebeur, of dit die begin is van ’n derde wêreldoorlog.

      Hy praat oor die vernietiging, probeer dit in ’n groter prentjie plaas. “Ons gaan onsself vernietig as dit só aanhou,” sê hy. Hy verwys na die oggend se Beeld en die bespiegeling oor die moontlikheid van chemiese en biologiese oorlogvoering, die spuit van gifgasse. “Waarheen gaan dit als?” vra hy hom af. Onvermydelik lyk dit vir hom of dit afstuur op ’n wêreldoorlog. En die gevolge …

      “Ek vra vir myself wat God daarmee wil bereik en ek weet nie. Ek worstel daarmee. Ek verstaan nie wat gaan gebeur nie.” Een ding is vir hom duidelik: “Op die een of ander manier wil God hê dat ons moet leer om saam te lewe, saam te werk en dat ons saam ’n nuwe wêreld moet opbou.”

      My horlosie wys dat 8 van ons 15 minute verby is en ek vra of oom Bey ’n boodskap vir Beeld se lesers het.

      “Ek hóóp ek het ’n boodskap,” sê hy en praat dan met dieselfde drif wat ek oor jare leer ken het. “Dis absoluut noodsaaklik dat ons leer om saam te leef, om mekaar te verdra – ook mense van verskillende godsdienste. Ons moet leer om met liefde en toegeneentheid saam te leef met mense en godsdienste wat geweldig van ons verskil,” sê hy.

      “Ook verskillende kleure,” voeg tannie Ilse by. Oom Bey beaam dit. “Ek kan nie sien waarom dit nie kan gebeur nie. Die Woord van God sê julle moet mekaar liefhê en verstaan en vergewe,” en hy beklemtoon dat dit teenoor álle mense geld, nie net teenoor Christene nie.

      Nes ek dink hy is klaar, pak oom Bey nog ’n tema: As ’n man en vrou getroud is, moet hulle hul liefde prakties en konkreet uitdruk, sê hy. Hy kyk na tannie Ilse en noem haar as ’n voorbeeld vir wie hy net kan dankie sê.

      Hy verstaan die probleem van mense wat wil skei, maar vra dat hulle alles in hul vermoë doen om ’n egskeiding te voorkom ter wille van hulself: man, vrou en kinders.

      “Boweal,” gaan hy voort, “gee God ons die mag om ’n nuwe wêreld te bou. Ons moet met groot beskeidenheid, maar met groot beslistheid, ons hoofde buig en God vra hoe. In my siel is ek oortuig dit is moontlik.” Hy kyk op na my en voeg by: “Die pers kan hierin ’n belangrike rol speel.”

      Dan keer die gesprek terug na sy gesondheid. Hy vertel hoe hy in sy eie hart gesê het: “Here, so kort of lank as wat U mense laat leef …” Dan val hy homself in die rede: “Menslik gesproke dink ek nie ek sal meer lank lewe nie,” waarop tannie Ilse onderlangs opmerk: “Onkruid vergaan nie.”

      Hy lag oor haar opmerking voordat hy vertel hoe hy hom voorgeneem het om van die tyd wat oorbly die mooiste en beste te maak. Hy praat van armes en mense in nood en hoe hy dit vir hulle mooi wil maak.

      Ons tyd is omtrent om, maar ek vra of daar spesifieke goed is wat hy nog wil doen. Tannie Ilse sê saggies dat hy nie meer veel kan doen nie, maar oom Bey begin praat oor die regverdiger bedeling wat hy tussen ryk en arm in die land wil sien.

      Ek hoor sy stem slaan deur en ek wonder of dit slym op die longe is. “Daar is te veel van ons wat ryk is en te veel wat arm is,” sê oom Bey. Die Here het dit nie só bedoel dat die rykes ryker word, terwyl die armes armer word nie. Almal moet hande vat en kyk hoe hulle ’n regverdiger bedeling kan bewerkstellig. Weer kom die opmerking dat die pers ’n groot rol kan speel.

      Voordat ons groet, vra ek of ek vir hulle kan bid. Ons hou almal hande vas terwyl ek vra dat die Here vir oom Bey en tannie Ilse sal oppas. Terwyl ons groet, sê tannie Ilse aan my dat sy ’n wonderlike man het.

      Ek staan al reg om te loop toe oom Bey sê hy worstel baie oor dié ding van die kerk en homoseksuele. Hy verstaan dit nie. Daar moet ’n rede wees waarom die Here homoseksuele só gemaak het. Een ding sê hy vir homself: “Bey, jy mag nie veroordeel nie.”

      Ná ’n laaste groet stap ons daar uit. Ek kyk op my horlosie. Ons het 21 minute gekuier, maar ek sê vir myself: Dis nie my skuld nie. Dis oom Bey wat wóú aanhou gesels.

      (Uit Beeld, 29 September 2001.)

      KEERPUNT-KERKMAN HURLEY HET ’N MYN VAN BESLISSENDE ERVARINGS OM TE ONTGIN

      (Dennis Hurley)

squiggle.jpg

      In sy lang loopbaan het aartsbiskop Dennis Hurley talle ingrypende kerklike en politieke veranderings beleef, maar op 86 het hy pas finaal uitgetree. Nou pak hy sy memoires aan.

      Op 86 begin aartsbiskop Dennis Hurley die spore van sy jare toon.

      ’n Paar keer gedurende die onderhoud moet ’n mens ’n vraag herhaal wat hy nie mooi kon hoor nie. Sy oë het so verswak dat hy nie meer self na ’n krieketstadion gaan om ’n toets te kyk nie. Ook sy stap is nie meer so flink soos vroeër nie.

      Begin hy egter gesels, is dit duidelik dat daar

Скачать книгу