Скачать книгу

dors sy ook al is, sy durf nie die water uit die vuil Nylrivier drink nie. Sy sluip tussen die riete uit en probeer desperaat in die donker na iets soek wat haar dors sal les. ’n Paar meter in een rigting, dan weer in ’n ander rigting, dan om ’n vullishoop om te sien of daar nie iets lê wat sy kan drink nie. Koorsagtig begin sy krap en skud aan elke plastiekhouer waarin daar vloeistof is. Die dors maak haar amper waansinnig. Uiteindelik kry sy ’n botteltjie met nog ’n paar slukke flou, warm koeldrank in, sluk dorstig, stik en soek verder, maar alles wat sy in die hande kry, is leeg.

      Sy gaan terug na haar skuilplek. Wat nou? Gedaan gaan lê sy net eenvoudig op die harde grond. Haar bene is tam van die dag se inspanning. Die versoeking om haar selfoon aan te skakel en Ashraf te bel is baie groot, maar hy het haar ten strengste verbied om dit te doen. Só sal hulle albei maklik opgespoor kan word. Eers ’n ander SIM-kaart koop.

      Ag, my Vader, bewaar Ashraf vannag. Ek weet nie waar hy is en of hy veilig is nie. Bewaar U hom, asseblief. En bewaar my en my baba hier vanaand, bid sy en vryf saggies oor haar maag voor sy totaal uitgeput in ’n diep slaap wegsink.

      Saleh word skielik helder wakker. Dit is nog donker, maar die maan het opgekom en skitter oor die Nyl. Haar lyf is seer gelê op die harde grond, maar die ongelooflike uitputting van ’n paar uur gelede is weg. Sy voel-voel oor die nat klere wat sy uitgespoel het; dis nog klam. Dit ruik steeds na die goorheid waarin sy die verskriklike lang ure onder die grond deurgebring het. Sy wonder of sy dit ooit sal uitkry, daardie reuk. Hoe laat is dit? Dringendheid oorval haar. Sy moet hier wegkom, sy moet so gou moontlik uit Luxor padgee en dit is baie makliker om ongesiens in die donker te beweeg. As sy net nie so dors was nie!

      Sy pak die klam klere in die rugsak en druk haar beursie en selfoon in haar broeksakke. Met ’n skoon hijab om haar kop gebind, kies sy koers tussen die riete deur.

      Sy het nie ’n benul waarheen sy moet gaan nie. Die eerste busse vertrek laatoggend uit Luxor, maar dit sal net te opsigtelik wees as sy daarmee ry. Hulle sal dit verwag en haar daar inwag. Nee, beslis nie. Die treinstasie het dieselfde risiko. Ryloop? As vrou sal dit hoegenaamd nie ’n veilige opsie wees nie. Stap? Stap tot in Kaïro? Dit sal haar weke neem en hoe gaan sy op pad oorleef? Sy weet nie. Dus stap sy bloot die donker in. Nyl-op is die maklikste manier om rigting te hou en ook weg te kruip tussen die riete. Sy is versigtig vir loonwerkers wat op die plase langs die Nyl werk en snags tussen die riete slaap. Sag stap. Stap en stap weg van soveel herinneringe. Stap.

      Saleh het geen benul van tyd of hoe lank sy al stap nie, maar die dringendheid om weg te kom, dryf haar.

      Isa, wys my die pad. Ek weet glad nie wat ek nou moet doen nie en ek is regtig bang hulle sal my vind.

      ’n Ent verder in die maanlig is daar toeristebote en sy wil eers in ’n ander rigting koers kies, maar toe onthou sy: Farouk. Farouk werk op een van hierdie bote. ’n Idee begin posvat. Miskien kan sy hom vra om haar te help? Wat is tog die naam van die boot waarop hy werk? Sy kan glad nie onthou nie.

      Behoedsaam maar doelgerig stap sy in die rigting van die bote wat twee-twee in die kaai vasgemeer lê. Sy hou in die skaduwees, stap saggies verby ’n paar. Moondance, Nile Cruiser, Prince of the Nile, Royal Lilly, maar nie een naam klink bekend nie. Ag, wat is die kans dat Farouk nou hier sal wees? Moedeloosheid dreig om haar te oorweldig, wil haar laat omdraai.

      Ek gee uitkoms in die nag van gevaar.

      Dit was nie ’n stem nie, maar ’n wete binne-in haar gees.

      Vader? Ek ken U nog so sleg. Is dit U wat met my praat?

      Ek gee uitkoms in die nag van gevaar. Ek steek jou weg onder my vleuels.

      Kalmte kom oor haar. Sy weet nie presies hoekom nie, maar sy stap verder langs die bote verby. Toe sien sy die naam van die heel voorste boot: Jewel of the Nile. Ja! Dis die een. Dis die naam van die boot waarop Farouk werk.

      Sy skuil steeds in die skaduwees en wonder hoe op aarde sy hom in die hande gaan kry. Die boot lê slaapstil vasgemeer in die donker. Daar is ’n voetbrug van die kaai na die boot en ’n flou lig brand in die portaal. Durf sy oorstap en kyk of die deur oop is? Waar gaan sy begin soek na Farouk op die boot?

      Terwyl sy nog haar opsies oorweeg, hoor sy stemme agter haar. Sy wriemel haar dieper tussen die bougainvilleas in wat welig langs die kaai groei en moet op haar tande byt om nie uit te roep toe die dorings haar steek nie. Die mense lag uitbundig en loop effe onvas op hulle voete.

      “Kom, ons moet gou maak!” roep iemand in Engels. “Hulle het gesê hulle sluit tweeuur die deur.”

      “Hoe laat is dit nou?”

      “Daar is nog net drie minute oor.”

      “Maak gou!”

      Toe begin hulle senuweeagtig lag en hardloop in die rigting van die boot.

      “Moenie so lawaai nie.”

      Nog gelag klink op.

      Sy is weer eens dankbaar vir die Engels wat sy op skool geleer het. Dit was een van die beste dinge wat haar pa haar ooit gedwing het om te doen. Drie minute. Drie minute om ’n plan te maak. Miskien moet sy agter hulle by die deur inglip. Maar ’n mens kan van ’n myl af sien sy is ’n plaaslike inwoner, nie ’n toeris nie. Haar kopdoek afhaal? Sy pluk dit af en kom saggies uit die skaduwee. Die mense beweeg luidrugtig oor die voetbrug. Sy draf saggies in die skaduwee agterna. Skielik gaan die deur oop en die lig val in ’n baan buitentoe. Farouk! Kan dit wees? Dis beslis sy kenmerkende neus en hoë voorkop. Hy staan in die deur en heet die gaste welkom.

      “Ons het nog net vir julle gewag,” sê hy, steeds vriendelik ten spyte daarvan dat dit so laat is.

      Sy staan in die skaduwee aan die ander kant van die brug. Durf sy na hom roep? Netnou hoor hulle haar. Die gaste loop in en Farouk tree ’n oomblik na buite om seker te maak dat almal binne is.

      “Farouk!”

      Hy bly staan en tuur die donker in.

      “Farouk,” roep sy weer sag.

      “Wie is daar?” vra hy in Arabies.

      “Saleh,” antwoord sy, maar bly in die donker staan.

      Hy maak die deur na die boot eers versigtig toe en steek toe die brug tot by haar oor.

      “Farouk. Dank God, dis jy.”

      “Saleh? Wat maak jy hier? Dis die middel van die nag,” sê hy verbaas.

      “Ashraf se familie … Hulle’t fatwa oor ons uitgespreek.”

      Daar is skok op sy gesig. “Voëlvry verklaar. Hoe het hulle van julle uitgevind?”

      “Dis ’n lang storie waarvan ek jou alles sal vertel, maar eers het ek jou hulp dringend nodig. Asseblief, Farouk, ek vlug.”

      “Hoe kan ek jou help?”

      “Versteek my op die boot, asseblief, Farouk. Ek kan nie ’n trein of bus neem sonder dat iemand my sal herken nie. Dit is al manier waaraan ek kan dink om ongesiens hier te kan wegkom.”

      “Nee, Saleh. Ek kan my werk verloor. Ek kan dit glad nie doen nie,” sê hy uit die veld geslaan.

      “Ek weet, Farouk,” antwoord sy sag. “Dit skree ten hemele om iets so gevaarliks van jou te vra, maar ek weet nie wat anders om te doen nie.”

      “Ek het ’n vrou en kinders, Saleh.” Sy stem is beslis. “Werk is skaars. Ek kan nie bekostig om my werk te verloor nie. Ek is jammer.”

      “Ek verstaan, maar ek is so bang. Ek weet nie hoe anders om hier weg te kom nie.”

      “Ek is jammer vir jou, maar ek kan jou nie help nie. Nie ten koste van my gesin nie. Ek moet nou die deur sluit; dis die reëls.”

      Die wind is uit haar seile. “Ek verstaan. Jammer dat ek jou gepla het, Farouk.”

      Hy draai om en stap oor die brug. Die deur gaan agter hom toe, maar sy bly geplant in die donker staan. Die slot word gegrendel en die lig gaan af. Sy bly net staan. Die vrees omhels haar van agter af, en sy het geen

Скачать книгу