Скачать книгу

is 17de laan 45, Mitchells Plain.” Rajkumar leun triomfantelik terug in sy stoel en neem nog ’n toebroodjie uit die skinkbord.

      Mentz staan agter hom en kyk na die gegewens op die skerm.

      “Ons het geweet hy is gebore, Rahjev. Ons soek meer as dit.”

      “Ek moes iewers begin,” sê hy, gekrenk deur haar gebrek aan lof.

      “Ek hoop nie sy verjaardag is ’n voorbode nie.”

      Rajhkumar kyk na die skerm, dan na haar. “I don’t get it.”

      “Heldedag, Raj. In die ou dae was 10 Oktober Heldedag. Daardie adres is oud. Hy woon nie meer daar nie. Vind uit wie daar gebly het. Hy’s veertig jaar oud. Te oud om Monica se portuur te wees, oud genoeg om iets met Johnny Kleintjes te doene te gehad het …”

      “Mevrou,” roep Quinn, maar sy laat haar nie in die rede val nie.

      “… Ek wil weet wat sy verbintenis met Johnny Kleintjes is, Rahjev. Ek wil weet of hy gedien het en wat hy gedoen het. Ek wil weet waarom Monica Kleintjes na hom toe is met haar probleempie.”

      “Mevrou,” roep Quinn met groot dringendheid. Sy kyk na hom. “Ons het ’n voortvlugtige.”

      * * * * *

      Hy kies die donkerste deel van die lughaweterrein en hou aan met hardloop. Sy ore wag vir sirenes en uitroepe en skote. Hy is kwaad – vir Monica, Johnny Kleintjes, homself. Hoe weet die owerhede skielik van Johnny Kleintjes se transaksietjie?

      Hulle het sy naam geken daar binne en met ’n vinger op die blou sak getik. Hulle weet wat daarin is, die twee grys pakke. Hulle het hom al dopgehou toe hy die lughawegebou binnegestap het, hulle weet van hom. Seker vir Monica agtervolg na hom toe, hulle weet dus van haar, van Johnny Kleintjes, fokken Johnny Kleintjes, hulle weet van alles. Hy hardloop, kyk om, maar daar is niemand wat agterna hardloop nie. Geen geweld meer nie, het hy aan homself gesweer. Hy het twee jaar daarvolgens geleef. Niemand geskiet of geslaan of eers gedreig nie. Hy het vir Miriam belowe daardie lewe is verby en binne dertig sekondes nadat die twee grys pakke by hom kom staan het, was dit bitter amper of al die beloftes was in die fokken water. Hy weet hoe hierdie goed werk – dit raak net erger. As die siklus eers begin, kan jy dit nie stop nie. Wat hy nou moet doen, is die sak vir die vrou gaan teruggee en sê Johnny Kleintjes kan sy eie gemors regmaak. Stop die siklus voor dit verder gaan – stop dit nóú.

      Hy kom by die draadheining en staan stil. Anderkant lê Borchards Quarry-weg. Hy haal swaar asem, sy lyf nie gewoond aan die inspanning nie. Sweet drup teen sy wang af. Hy kyk weer om. Die gebou is nou te ver om mense te onderskei, maar dit is stil: Niks is in rep en roer nie. Wat beteken dit is nie ’n Polisie- en Doeane-optrede nie. Anders sou die plek nou gekrioel het.

      Wat beteken …

      Spoke.

      Dit maak sin, as jy in ag neem wat op die hardeskyf is.

      Fok hulle. Hy’s nie bang vir Spoke nie. Hy spring teen die draad op.

      * * * * *

      “Sit hulle op die luidspreker,” sê Janina Mentz en Quinn druk ’n knoppie.

      “… hy was net gelukkig, Beheer, dis al.”

      “Julle is op luidspreker, Willie.”

      “O.”

      “Ek wil weet wat gebeur het,” sê sy.

      “Hy het weggekom, mevrou, maar …”

      “Ek weet hy het weggekom. Wat het gebeur?”

      “Alles was onder beheer, mevrou,” sê die stem met groot ontsag, in die amptelike spreekwyse van rapportering. “Ons het gewag tot hy gaan sit het in die vertreksaal. Ons het onsself geïdentifiseer en die teiken gevra om ons te vergesel. Beheer het gesê hou dit lae profiel, rustig, hy’s net ’n motorfietsmeganikus. Hy’t daar gesit met die sakkie op sy skoot soos iemand van die plaas af, so half verlate en verleë. Hy het gesê hy wil nie moeilikheid hê nie. Hy was duidelik bang. Dit was my skuld, mevrou. Ek wou die sak neem en hy het my vuurwapen bekom …”

      “Bekom?”

      “Ja, mevrou, hy het dit gegryp. Ek … sy optrede was … ek het dit hoegenaamd nie verwag nie.”

      “En toe?”

      “Toe het hy die sak geneem, met Alfred se vuurwapen daarin, en op die vlug geslaan.”

      Stilte.

      “Hy het dus nou twee vuurwapens?”

      “Ek dink nie hy weet wat om daarmee te doen nie, mevrou. Hy het my pistool ’n rewolwer genoem.”

      “Dis ’n verligting.”

      Willie reageer nie.

      Quinn sug moedeloos en sê gedemp: “Ek het gedink hulle sal dit kan hanteer.”

      “Hy was net gelukkig, mevrou. Te oordeel na sy reaksie, gaan ons hom maklik vastrek,” sê Willie oor die eter.

      Sy antwoord nie.

      “Hy het selfs ‘asseblief’ gesê.”

      “Asseblief?”

      “Ja, mevrou. En ons weet hy’s nie op die vliegtuig nie.”

      Mentz herkou aan die inligting. Dit is stil in die vertrek.

      “Mevrou?” sê die stem oor die radio.

      “Ja?”

      “Wat doen ons nou?”

      6

      Daar is ’n tyd om jou woede te wys, beheersd, doelgerig, ’n afkeer te hê aan jou mense se optrede, nie aan hulle as persoon nie.

      Janina skakel die sprekerfoon ergerlik af en stap na waar haar rekenaar staan. “Ons het die ding beheer. Ons. Ons het geweet waar sy is, waar hy is, waarheen hy gaan, hoe hy daar gaan kom. Volkome beheer.”

      Haar stem dra, die woede vlak. Elkeen kyk na haar sonder om oogkontak te maak.

      “Waarom het ons beheer verloor? Gebrek aan inligting, gebrek aan intelligensie, gebrek aan oordeel. Hier en by die lughawe. Ons het nou ’n agterstand. Ons het geen idee waar hy is nie. Ons weet minstens waarheen hy gaan en ons ken die vinnigste manier om daar te kom. Maar dit is nie genoeg nie. Ek wil nóú weet wie Tobela Mpayipheli is. Nóú. Ek wil weet waarom Monica Kleintjes na hóm toe is. En ek wil weet wáár hy is. Ek wil weet wát op daardie skyf is. Álles. En ek gee nie om wát julle moet doen om die inligting te kry nie.”

      Sy soek na hul oë, maar hulle kyk na die vloer.

      “En daardie twee narre, Quinn.”

      “Ja, mevrou?”

      “Laat hulle ’n verslag indien. En as hulle klaar is …”

      “Ja, mevrou?”

      “Laat hulle gaan. Hulle hoort nie in dié span nie.”

      Sy stap by die vertrek uit, wens daar was ’n deur om te klap. In die gang af, by haar kantoor in – dáár is ’n deur om te klap. Sy val in haar swart leerstoel neer.

      Laat die bliksems sweet.

      Laat hulle in die eerste plek verstaan as jy nie die hitte kan hanteer nie, sal Janina Mentz jou uit die kombuis verwyder. Want, God weet, hier’s nie plek vir mislukking nie. Sy sal haar beloftes nakom.

      Die direkteur weet. Hy sit daar in sy kantoor in sy spierwit hemp en hy weet, want hy luister. Hy hoor elke woord wat in die Opskamer gesê word – en weeg dit: haar doen en late, haar leiding.

      Hy het haar gevra, dit voel na ’n leeftyd gelede, tydens hul eerste onderhoud vir die pos: “Sien jy kans, Janina?”

      En sy het gesê “ja”, want vir ’n wit vrou in ’n swart administrasie is daar net soveel geleenthede, maak nie saak of jou IK 147 is en jou rekord die een foutlose klein sukses

Скачать книгу