Скачать книгу

of dit Tobela Mpayipheli is.

      Die bejaarde man verskyn weer vanuit die gang. “Ek het die ketel aangesit. Wat bring u na my huis, juf. Dalindyebo?”

      Sy huiwer vir ’n oomblik, skielike twyfel in die voorbereide frase wat op haar tong gehurk sit. Daar is iets wat uit die ou man straal. Liefde, deernis.

      “Dominee, ek werk vir die Staat …”

      Hy is reg om oorkant haar te gaan sit, sien haar twyfel. “Praat maar, my kind, moenie bang wees nie.”

      “Dominee, ons het inligting nodig oor u seun. Oor Tobela Mpayipheli.”

      ’n Diepe emosie beweeg oor die ou man se gesig, oor sy oë en sy mond. Hy staan vir oomblikke lank by die stoel asof versteen, so lank dat sy bekommerd raak. Dan gaan sit hy stadig, asof daar pyn in sy ledemate is en sy sug is diep en swaar.

      “My seun?” Sy een hand is teen die grys slaap, net die vingerpunte, en met die ander klem hy die leuning van die stoel vas. Sy oë sien haar nie. Dit is ’n reaksie wat sy nie verwag het nie en sy moet aanpas, haar tydsberekening en haar vrae hersien. Sy weet sy moet eers net stilbly.

      “My seun,” sê hy, dié keer nie ’n vraag nie. Die hand op die stoel kom los en sweef na sy mond asof hy in ’n staat van gewigloosheid is. Sy kyk is êrens, maar nie in dié vertrek nie.

      “Tobela,” sê hy asof hy homself aan die naam moet herinner.

      Dit neem byna vyftien minute voor die ou man die storie begin vertel. Hy vra eers na die welstand van sy seun, waarop sy met vae leuens antwoord om hom wroeging te spaar. Hy verskoon homself en gaan maak koffie, sy tred soos dié van ’n slaapwandelaar. Hy bring ’n skinkbord waarop hy vir haar ’n bordjie met beskuit en koekies gerangskik het. Hy wik en weeg waar om vir haar die kronieke van Tobela Mpayipheli te begin en dan kom dit uit, eers sukkelend, hortend, op soek na die regte woorde, die gepaste trant, tot dit vloei, tot dit ’n stroom van sinne en emosies word, asof hy bieg, asof hy absolusie by haar soek.

      Jy moet teruggaan na die vorige geslag om te verstaan. Na sy geslag. Na hom en sy broer. Lawrence en Senzeni. Die duif en die valk. Jakob en Esau, as hy vergewe sal word vir die vergelyking. Kinders van die Katrivier, van armoede, ja, eenvoud, maar trots, seuns van ’n stamkaptein wat beeswagterdiens moes doen, wat die Xhosa-kultuur in die vuurkring saans aangehoor het, wat die geskiedenis van die Mense aan die voete van die Gryskoppe geleer het, wat die Xhosa-inlywing moes deurloop in dié dae voor dit ’n uitbuiting van die armes geword het. Die verskil tussen hulle was van vroeg af daar. Lawrence die oudste, die dromer, die lang, skraal seun, die slim een wat by die Sendingskooltjie met sy enkele klaskamer altyd ’n akademiese tree of wat voor die ander was, die vredemaker. Senzeni, korter, gespierd, ’n vegter, ’n gebore soldaat, ongeduldig, kort van humeur, vurig, sy aandag net volkome vasgevang wanneer die veldslae oorvertel word, sy oë glinsterend van strydlus.

      Daar was ’n definiërende oomblik, soveel jare gelede, toe hy wat Lawrence is sy eer moes verdedig, ’n sinnelose puberteitsvuisgeveg met ’n ander seun, ’n moeilikheidmaker, jaloers op die status van stamhoofsuigeling. Hy is uitgedaag met snedige verkleinering en hy moes binne die kring van jillende kinders sy waardigheid met sy vuiste verdedig. En dit was asof hy bo die twee seuns wat in kleiner wordende sirkels mekaar aandurf, verhewe was, asof hy gesweef het, asof hy nie regtig daar was nie. En toe die houe begin reën, kon hy nie seermaak nie. Hy kon nie sy hande in vuiste klem nie, kon nie die haat of die woede vind om vel te breek, bloed te trek nie. Dit was ’n goddelike oomblik, die wete dat hy sy opponent se pyn kon voel nog voor dit daar was, die drang om dit te heel, om dit te salwe.

      Senzeni, sy kleinboet, het tot sy redding gekom terwyl hy steierend en bloeiend in die kring gestrompel het. Sy kop het gesing van die houe, met bloed om sy oë en aan sy neus en toe hy weer sien, was Senzeni daar, ’n swart tornado van woede wat die ander seun meedoënloos afransel. Sekuur, verskriklik.

      En toe hy klaar was, het hy na Lawrence gedraai met minagting, met ’n soort haat ja, ’n onwillige aanvaarding van ’n nuwe verantwoordelikheid en ’n vraag, onuitgespreek, wat wil weet hoe hulle broers kon wees.

      Lawrence het die Here gevind in die Sendingskool, het in Christus alles gesien wat hy in homself gevoel het. Senzeni het gesê dit is die wit man se godsdiens.

      Lawrence het ’n beurs gekry deur die kerk en hul moeder het hom aangemoedig. Hy het studeer en getrou en die lang, eindelose reis as dissipel begin, hier, tussen sy eie mense, in die Katriviervallei. En sy broer was altyd daar, aan die rimpel, ’n teenwig, die volgende stamkaptein by verstek, die kryger wat die gerugte van ’n nuwe beweging vanuit die noorde aangegryp het, wat elke woord oor die Rivoniaverhoor oor en oor gelees het, wat ’n ander soort dissipel vir Vryheid geword het.

      En toe kom Tobela.

      Die Here het die seun gemaak met ’n doel, die Here het gaan kyk na die voorvaders en ’n stukkie hier en ’n deeltjie daar geneem en hierdie kind die wêreld ingestuur met die teenwoordigheid van sy oupa Mpayipheli, die vermoë om te lei, om te beslis, om deur die newels en hoeke en kante van ’n saak te sien en ’n oordeel te vel. Die Here het aan hom die liggaam van sy pa gegee. Lank. Dieselfde ledemate wat vir ure aaneen oor die heuwels van die Transkei kon draf met ’n kenmerkende, afgemete tred. Dieselfde gelaatstrekke, sodat baie mense, ook Tobela se pa, die fout moes maak om te dink daar is dieselfde vredemakersgeaardheid binne.

      Die Here het ’n roofdier daarbinne geskep, ’n Xhosa-kryger. Die Here het ver teruggegaan in die voorgeslagte, na Phalo, Rharhabe, Ngqika en Maqoma, soos wat hy gemaak het met Senzeni, en vir Tobela Mpayipheli die hart van die jagter gegee.

      In die eerste jare het die uiterlike almal geflous. “Hy is sy pa se seun,” het almal gesê. Maar die seun het ouer geword en die waarheid het na vore gekom. Sy pa was die eerste om te weet, want hy was die broer van Senzeni, hy het die tekens geken en hy het gebid, gevra vir genade, want hy het vermoed wat dit sou veroorsaak. Hy het die seun met liefde omhul, wou ’n kokon skep waarin hy hom beskermend kon toedraai, maar dit was nie die Here se wil nie. Te laat het hy besef dit was sy toets, hierdie kind, te laat, want hy het gefaal, sy wysheid en sy deernis het hom in die steek gelaat, sy diepe liefde vir die kind het hom blind gemaak.

      Die struwelinge het klein begin, huishoudelike verskille tussen pa en seun. Van daar, soos die jare aangestap het, het dit uitgekring soos die rimpelinge van ’n klippie wat ’n stil poel tref.

      En toe kom Senzeni om die vermoede te bevestig. Hul harte het mekaar herken, Tobela en sy oom. Hul monde het dieselfde taal gepraat, hul lywe het gedors na dieselfde slagvelde, hul koppe het dieselfde verwerping van vrede en liefde voorgestaan. En toe verloor Lawrence Mpayipheli sy enigste seun.

      “In 1976, met die Soweto-opstande, was Tobela 14 jaar oud. Toe kom haal Senzeni hom in die nag. My broer was die huis verbied oor sy invloed en hy het soos ’n dief ingesluip en die kind kom haal en ons later gebel en gesê hy sal Tobela terugbring as hy ’n man geword het. Hy het hom laat inlyf, iewers, en toe het hy hom gevat na elke plek waar Xhosa-bloed lê. Hy het die seun se kop vol haat gemaak. Hulle was lank weg, by die drie maande, en toe hulle terugkom, het ek my seun nie meer geken nie. En hy nie vir my nie. Twee jaar lank het ons só geleef in die pastorie, soos vreemdelinge. Hy het sy eie paaie geloop, stil, geheimsinnig, asof hy my verdra, asof hy wag, voorberei.

      “En in 1979 is hy weg. Hy het die vorige aand nag gesê, ’n rare gebeurtenis, en in die oggend was sy kamer leeg, sy bed nog opgemaak, ’n klompie klere weg uit die kas. Senzeni het hier aangekom en gesê my seun is slagveld toe. Daar was ’n groot rusie daardie dag. Harde woorde het geval. Ek het myself vergeet. Ek het seer gehad omdat ek nie ’n pa kon wees nie, omdat my broer my seun van my gesteel het. My woorde was aan Senzeni, maar ek het met God gepraat. Die Here het my kind van my laat weggaan, Hy het die meetsnoere van hierdie land en van hierdie familie op sulke vreemde plekke laat val, hy het my ’n man van vrede en liefde gemaak, vir my ’n herdersrol gegee en toe plaas hy ’n wolf in die kudde, sodat ek ’n bespotting was, sodat Hy deur die afvalliges gehoon kon word, en ek kon dit nie verstaan nie.

      “Ek het eers baie later besef dit was my toets. Dit was die Here se manier om my nederig te maak, om my te stroop van die illusie dat ek

Скачать книгу