Скачать книгу

veral, maar ook Beethoven en Haydn. (Mozart, het sy gesê, het nie genoeg passie gehad nie.) Sy was nie lief vir huishou en kosmaak nie, maar daar was altyd ’n ete vir hom, dikwels eksoties voorberei deur haar vriende. En hy was ’n randfiguur, die man wat met sy hardehoed en bliktrommel van skof af gekom en dan gaan rugby oefen het. Of gaan draf het in die somer. Hy was, jare voor dit mode was, ’n fiksheidsfanatikus. Hy het die Comrades gedoen, jaar na jaar, ander vergete marathonne ook. Hy was ’n stil man, en sy lewe het om sy liefde vir haar en sy liefde vir sport gedraai – en later sy liefde vir my.

      In hierdie huishouding het die noodlot my gewerp, op 27 Januarie 1961, ’n seun met sy ma se donker gelaat en, klaarblyklik, sy pa se stiltes.

      Dit was hy wat voorgestel het dat hulle my Zatopek noem.

      Hy was ’n groot bewonderaar van die Tsjeggiese atleet Emil Zátopek en die feit dat hy ’n voornaam met hom gedeel het, al was die spelling effens anders, het seker ook ’n rol gespeel. Vir my ma was Zatopek anders, uitheems, boheems genoeg. Nie een van hulle, met hul meer alledaagse voorname, kon seker voorsien wat dit sou doen aan ’n seun wat op ’n myndorp grootword nie. Nie dat kinders se tipies onsensitiewe gespot ’n letsel gelaat het nie. Maar die irritasie van jou voornaam vir vorminvullers spel vir die res van jou lewe, daardie lig van die wenkbroue wanneer jy dit uiter, daardie “ekskuus” elke keer dat jy jouself voorstel … daarvoor het hulle in hul naamgewing nooit voorsiening gemaak nie.

      Daar was net twee gebeurtenisse van my eerste ses jaar wat my lewenslank sou bybly.

      Die eerste was die ontdekking van vroulike skoonheid.

      Die toepaslikheid hiervan is meervoudig en jy sal geduld moet hê – my vergewe as ek hier van die narratiewe en chronologiese afwyk, maar die onderwerp sou my boei en betower en eindelik bydra tot die legkaart van wie ek is.

      Die spesifieke van die gebeurtenis is vergete. Ek was vyf, dink ek, in die sitkamer van die mynhuis, sekerlik besig met speelgoed tussen die grootmense, toe ek opkyk na een van haar vriendinne, ’n aktrise (?), en in daardie oomblik die vrou se skoonheid besef, ongedefinieerd, net ’n alomteenwoordige iets dat sy mooi is, dat die somtotaal van haar gelaatstrekke aangryp en meevoer. Ek moet beken dat ek nie meer haar gesig kan oproep nie, bloot die feit dat sy tengerig, skraal was, moontlik bruin hare gehad het. Maar dit was die eerste van vele soortgelyke gewaarwordinge, elkeen ’n mylpaal op die pad na groeiende bewondering van en filosofering oor die skoonheid van vroue.

      Die gevaar is natuurlik om objektiwiteit te verloor, want alle mans word immers deur ’n mooi vrou bekoor. Maar ek glo dat my aanvoeling daarvoor, my vermoë om daardeur beïndruk te word, bo die peil van die normale is. Moontlik, het ek destyds gewonder toe ek nog die energie en honger vir dink gehad het, is dit die enigste erfenis van my ma se kunstenaarsgene – om deur die vorm, die lyne, die brokstukke en somtotaal van ’n vrou betower te word, soos my pa se lyf haar aangegryp het. Die verskil is dat sy dit – en soveel ander mense se gesigte en posture – wou skilder. Ek was altyd bloot tevrede om te kyk en te dink. Om te wonder oor die onregverdigheid van die gode, wat skoonheid uitdeel op ’n lukrake grondslag. Oor die duiwels van die ouderdom wat skoonheid kom terugneem, sodat net die persoonlikheid wat dit geslyp het, oorbly. Oor die invloed van ware, verstommende skoonheid op ’n mooi vrou se karakter. Oor die eienaardigheid van skoonheid, oor sy vele, wonderbaarlike gestaltes van neus en mond en ken en wangbeen en oog. Oor die gode se sin vir humor, onnutsigheid en gemeenheid. Om vir sommige vroue die volmaakte lyf te gee en dit te weerhou by die setel van die mooie – die gesig. Of om ’n goddelike gesig aan ’n lyf te koppel wat afstoot. Of die geringste imperfeksie in die hutspot van skoonheid te gooi sodat dit daar in die ruimte tussen mooi en lelik hang. Dalk ’n profiel wat aangryp, maar ’n vooraansig wat nie aan die verwagtinge voldoen nie.

      O, en die vermoë van vroue om met klere en kleursel, lipstiffie en kwas en kleine bewegings van hande en vingers die natuur se suinigheid aan te vul tot ’n mooier eindproduk.

      Van daardie oomblik in die sitkamer op Stilfontein was ek die slaaf van skoonheid.

      Die tweede onuitwisbare indruk uit my eerste ses jaar het begin met ’n aardbewing.

      5

      “Ek het van Windhoek af gekom en Jan sou my op die lughawe kom haal het. Maar hy was nie daar nie. Ek het huis toe gebel. Hier was nie antwoord nie. Toe neem ek ’n taxi, nadat ek amper twee uur gewag het. Dit was al laat, seker tienuur die aand. Die huis was donker. Ek was toe al bekommerd, want hy was altyd, elke aand, vroeg by die huis. En die kombuislig het altyd gebrand. En toe maak ek die voordeur oop en stap in en toe sien ek hom, daar in die kombuis, dadelik, dit was die eerste ding wat ek gesien het. En ek het geweet hy was dood. Daar was so baie bloed. Sy kop het laag op sy bors gehang. Hulle het hom op die stoel vasgemaak, een van die kombuisstoele, ek het die stelletjie verkoop, ek kon dit nie hier hou nie. Sy arms was agter hom vasgemaak met draad, het die Polisie vir my gesê. Ek kon nie nader gaan nie, ek het net daar in die deur bly staan en toe het ek na die bure toe gehardloop. Hulle het die Polisie gebel, ek het skok gehad. Hulle het die dokter ook laat kom.”

      Hy hoor in haar stemtoon dat sy die storie al dikwels moes vertel, die gebrek aan intonasie wat herhaling en onderdrukte trauma bring.

      “Die Polisie het jou later gevra om na die huis te kyk.”

      “Ja. Hulle wou baie dinge weet. Hoe die rowers ingekom het, wat alles gesteel is …”

      “Kon jy hulle help?”

      “Ons weet nie hoe hulle ingekom het nie. Die Polisie dink hulle het hom voorgelê toe hy by die huis kom. Maar die bure het niks gesien nie.”

      “Wat was alles weg?”

      “Net die kluis se inhoud.”

      “Sy beursie? Televisie? Hoëtrou?”

      “Niks behalwe die kluis se inhoud nie.”

      “Hoe lank was jy in Windhoek?”

      “Ek was vir die hele week in Namibië. Meestal op die platteland. Ek het net van Windhoek af gevlieg.”

      “Hoe lank was hy reeds dood by jou terugkeer?”

      “Hulle sê dit het die vorige aand gebeur. Voor ek teruggekom het.”

      “Jy het nie daardie dag hiernatoe gebel nie?”

      “Nee. Ek het twee dae tevore van Gobabis af gebel. Net om te sê wat ek gekry het.”

      “Hoe het hy geklink?”

      “Soos altyd. Hy het nie gehou van telefone nie. Ek het maar altyd die praatwerk gedoen. Ek het seker gemaak die pryse wat ek aangebied het, was reg, die adresse gegee vir die trok.”

      “Hy het niks gesê wat anders as gewoonlik was nie?”

      “Nee.”

      “Die trok. Watter trok?”

      “Dit is nie ons trok nie. Manie Meiring Vervoer van Kuilsrivier het vir ons die goed gaan haal, een keer per maand. Ons het vir hulle die adresse laat kry en die tjeks wat hy vir die verkopers moes gee. Dan het hy iemand gestuur met ’n vragmotor.”

      “Hoeveel mense het geweet jy was daardie week uitstedig?”

      “Ek weet nie … Dit was eintlik net Jan.”

      “Is hier ’n huishulp? Tuinier?”

      “Nee. Ek … ons het alles gedoen.”

      “Skoonmaker by die kantoor?”

      “Die Polisie het my ook gevra. Miskien was daar iemand wat geweet het ek is weg, maar ons het nie ander werknemers gehad nie. Hulle wou ook weet of ek elke maand dieselfde tyd weggaan. Dit was nooit presies dieselfde tyd nie. Soms was ek net weg vir ’n nag of twee, soms vir twee weke.”

      “En Jan Smit het dan self wasgoed gewas en huis skoongemaak.”

      “Daar was nie baie om skoon te maak nie. En hier is ’n wasgoedplek wat strykwerk ook doen in Wellingtonstraat.”

      “Wie

Скачать книгу