Скачать книгу

      “Ai.”

      “Hy het vanmiddag … Hy is …” Sy soek eufemismes, haar empatie met die vrou voor haar groot. “Ek vind dit moeilik om met hom te kommunikeer.”

      “Ek weet.”

      “Hy het … bedank, dink ek.”

      “Ek het nie geweet nie. Ek wou jou kom voorberei.”

      Hoop maak ’n hulpelose gebaar met haar hande.

      “Ek kom maak nie verskoning vir hom nie. Ek het gedink as ek probeer verduidelik …”

      “Jy hoef nie.”

      Sy leun vorentoe, haar stem sag. “Hy is my enigste. Ek moet doen wat ek kan. Hy moes sonder ’n pa grootword. Hy was ’n wonderlike kind. Ek het gedink ek het geslaag, selfs as enkelouer.”

      “Joan, jy hoef nie …”

      “Ek moet, Hoop.” Daar is vasberadenheid in haar stem. “Dit was my … ons keuse om hom in dié wêreld in te bring. Ek moet my verantwoordelikheid nakom. Ek moet die foute wat ek gemaak het, probeer regstel. Ek het hom grootgemaak en gedink ek kan pa en ma wees, as ek hard genoeg probeer. Ek was verkeerd. Ek wil jou vertel hoe hy was. ’n Mooi kind, hy het gelag en die wêreld was vir hom ’n wonderlike plek, ’n ontdekkingsreis. Hy het nie geweet van die ander kant van die lewe nie. Ek het hom nie vertel nie. Ek moes. Want toe hy dit ontdek, was ek nie daar om hom te help nie. En dit het alles verander.”

      Daar is nie bejammering in haar stem nie, net kalm beredenering.

      “Hy was sag hierbinne, nog altyd. By die Polisie het hulle hom gespot dat hy te sag was vir die werk, en hy het daarvan gehou, soos ons almal seker so bietjie anders wil wees. En toe … ek was so bly toe hy universiteit toe is, hy was so gelukkig, so vol geesdrif en ek was trots op hom en ek het geweet sy pa sou ook trots op hom gewees het. Maar die lewe is vol draaie en toe gaan hy terug Polisie toe en sy mentor word geskiet, reg voor sy oë, en hy glo dit was sy skuld en toe het hy verander, want ek het hom nie voorberei op dinge soos dood en menslike feilbaarheid nie. Dit is wat ek dink. As hy weer in homself kan glo, as hy net weer ’n kans kan kry …”

      Hoop weet nie wat om te sê nie. Sy wil uitreik na die vrou. “Joan …”

      “Daardie prokureur, Kemp. Hy lyk so kwaai, maar ek dink hy het ’n sagte hart – hy weet my kind is nie sleg nie. Daar was ander, maar hulle het hom nie veel van ’n kans gegee nie. En ek weet nie hoeveel kanse hy nog oor het nie. Hierdie ding met die testament … Zet sal dit kan doen. Hy het dit nodig. Hy het dit só nodig.”

      “Ek …”

      “Ek maak nie verskoning vir hom nie.”

      “Ek weet.”

      “Hy mag nie weet ek was hier nie.”

      “Hy sal nie.”

      Die telefoon lui. Hoop frons.

      “Antwoord gerus,” sê Joan.

      “Dit moet dringend wees. Hulle lui nie gewoonlik nie.” Sy tel die gehoorbuis op. “Ek is in konsultasie, Marietjie.”

      “Meneer Van Heerden is weer hier, Hoop. Hy soek ’n identiteitsdokument.”

      Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe. Die dag kan nie erger raak nie. “Sê vir hom hy moet net daar wag. Jy laat hom onder geen omstandighede toe om deur te kom nie.”

      “Goed, Hoop.”

      “Ek is op pad.” Sy sit die instrument saggies neer.

      “Hy het nou net by ontvangs aangekom.”

      “Heigent hert,” sê Joan van Heerden.

      “Moenie bekommerd wees nie, ek sal dit hanteer.” Sy stap deur toe, maak dit versigtig oop. Die gang is leeg. Sy maak die deur agter haar toe en loop na die ontvangsportaal. Hy staan daar, ongeduldig. Sy sien hy het droë klere aan, denim en seilskoene.

      “Ek soek Smit se I.D.-boek.”

      “Dit is by Wilna van As. Sal ek haar bel?”

      “Ek sal soontoe ry. Ek wil die winkel sien.” Hy kyk nie na haar nie. Hy staar na die Piet Grobler-skildery teen die muur. Man with writer’s block eating an apricot jam sandwich.

      “Mag ek vra waarom jy die identiteitsdokument wil hê?”

      “Moord en Roof se lêer het die verkeerde I.D.-nommer. Ek moet die regte een kry vir die geboorteregister.”

      “Sal dit ons help?”

      Hy kyk bo-oor haar. “Ek wil weet waar hy gebore is. Wie sy ouers was. Sy lewe voor Van As.”

      “Dit is ’n begin.”

      “Ek ry nou.”

      “Goed.” En dan, wanneer hy omgedraai het, voeg sy sag, impulsief by: “Zatopek.”

      Hy steek net voor die glasdeure vas. “Fokken Kemp,” hoor sy en dan is hy uit en sy glimlag vir die eerste keer sedert middagete. Dié dag kan nie ...

      Die ontvangsdame hou die telefoon na haar uit. “Dit is Kara-An Rousseau, Hoop.”

      Sy neem die oproep by die toonbank. “Hallo.”

      “Haai, Hoop. Moenie vir my lag nie. Ek soek daardie speurder van jou se telefoonnommer.”

      “Van Heerden?”

      “Ja, die een in die restaurant vandag.”

      “Hy is … effens volgeboek op die oomblik.”

      “Nee, nie vir werk nie.”

      “O.”

      10

      My ma het gedink dit was Nagel se dood wat die kentering gebring het. Almal het gedink dit was Nagel se dood.

      Waarom, wanneer mense aan ander se lewe dink, tel hulle net ’n paar groot getalle bymekaar om die oordeel te vel? Maar met die somme wat hul eie lewe bepaal, is hulle bereid om ’n duisend syfers te maal, te deel, op te tel en af te trek, tot die boeke só gekook is dat die eindtotaal hulle pas.

      Is ek ook daaraan skuldig? Ek weet nie. Ek probeer om die niksseggende syfers hier uit te laat. En die negatiewes net soveel te laat tel. Maar kan ons ooit betroubare boekhouers van ons eie lewe wees?

      Ek sal steeds probeer:

      Ek was sestien jaar oud toe sy een aand vir my in die sitkamer laat sit en sê sy wil ernstig met my praat. Sy het ’n whiskybottel en twee glase op die koffietafel gesit en ’n vinger of wat in elkeen gegooi.

      “Ek drink nie daai goed nie, Ma.”

      “Al twee is vir my, Zet. Ek wil met jou praat oor seks, my kind.”

      “Ma …”

      “ Jy is nie die enigste een vir wie dit ongemaklik is nie. Dit is net iets wat ons sal moet doen.”

      “Maar Ma …”

      “Ek weet jy weet al van seks. Ek het ook by my skoolmaats alles gehoor lank voor my ma met my gepraat het …”

      “Ma …”

      “Ek wil net seker maak jy hoor die ander kant ook, die regte kant.”

      En toe sluk sy die eerste whisky weg.

      “Die mensdom is oud, Zet. Miljoene jare. En dit wat ons is, is nie gister gemaak nie. Ons is gevorm en geskaaf en gebeitel toe ons nog wild was, toe ons nog in klein groepies oor die vlaktes van Afrika en Europa getrek het agter kos aan, met klipmesse en velklere. Toe dit nog glad nie seker was dat ons die spesie gaan wees wat gaan oorheers nie. Ons moes net oorleef. En om dit te kon doen, moes elkeen sy deel bydra. Man en vrou. Die man het gejag en baklei en beskerm. En soveel vroue as moontlik bevrug, want die genepoel mag nie stagneer nie en môre is hy dalk leeukos. En vroue moes hul groepie bymekaar

Скачать книгу