Скачать книгу

… ons het geslaap. Ek het hom hoor skree. ‘Hilf mir.’ Help my. Hulle moes hier in die sitkamer gewees het. Toe ek hier kom … die voordeur was oop, toe hardloop ek uit, toe skiet hulle …”

      “Outomatiese wapens.”

      “Ja … Hoe het jy geweet?”

      “Die doppies … Koeëlgate …”

      “O. Ja … Toe hardloop ek terug, vir my geweer, daar, in die studeerkamerkluis. Toe ek weer buite kom … Ek het hulle sien wegjaag, ek dink dit was ’n Hummer, swart, of donkerblou …”

      “’n Hummer?”

      “Ja, jy weet … die siviele een. Toe hardloop ek skuur toe, maar hulle het die plug-drade uit die bakkie en die Double Cab geruk. Toe radio ek almal …”

      “Hoe laat was dit?”

      “Ek is nie seker nie … Ek het die eerste ouens so net voor twee begin radio. Hulle maak die paaie toe …” Hy wys op die kaart. “Hier, Fraserburg, Sakrivierpoort, Modderpoort, Beaufort. Dis net hier, Carnarvon se kant toe, waar dit kan neuk. As hulle die paaie ken, daar’s te veel opsies …”

      Ek kyk na my horlosie. Twintig oor twee. Hulle het ’n voorsprong van meer as ’n halfuur. Maar die groot vraag is, hoekom sou iemand Grethe se pa wou ontvoer? Ek vra dit gedemp, wil haar nie ontstel nie.

      “Ek weet nie,” sê Lucien. Ek sien hoe hy na sy vrou kyk, net ’n vinnige skuif van die oë, maar dit is genoeg om te weet hy lieg. ’n Hummer? Outomatiese kleingewere? En ’n ontvoering? Nie jou tipiese plaasaanval nie.

      “Lucien,” sê ek egalig, “waar’s die polisie?”

      “Ek …”

      “Ich muss ihm sagen,” sê Grethe, van agter af.

      Lucien kyk met groot deernis na haar. Eindelik sê hy: “Bist du sicher?”

      Sy lê haar kinders sag op die rusbank neer, kom na ons toe. Sy is ’n mooi vrou, maar die nag het sy tol geëis. Sy is verslae, moeg, oë rooi gehuil.

      “Ja,” sê sy, hou aan ’n eetkamerstoel se leuning vas, kyk op na my, haal diep asem. “My vader was Stasi,” sê sy, die Duitse aksent sterk. Dan sug sy, asof daar verlossing in die woorde was. “Die Ministerium für Staatssicherheit, Oos-Duitse Staatsveiligheid …”

      “Ek weet,” sê ek.

      “Maar hy’t uitgetree, in 1990 al,” sê Lucien verdedigend.

      “Wat het hy vir Stasi gedoen?” vra ek.

      “Hy … ek dink hy het vir die HVA gewerk …” Sy sien ek verstaan nie. “Die Hauptverwaltung Aufklärung, Stasi se buitelandse intelligensiediens …”

      “Erzählen ihm von Rosenholz,” sê Lucien.

      Sy skud haar kop. “Ich weiß nicht genug …”

      “Grethe,” sê hy byna pleitend.

      Sy byt haar onderlip. “My vader … Die Rosenholz-dossiere. Dit was ’n lys van name … Oos-Duitse agente in die buiteland. Ná die val van die muur het die CIA die dossiere bekom. Almal het gedink dit was die enigste kopieë …”

      “Maar dit was nie,” sê ek.

      Sy skud weer haar kop.

      “Julle dink dis mense uit sy verlede wat hom ontvoer het.”

      “Ja,” sê hulle saam. Sy loop na ’n mooi Oregon-kas toe, haal iets uit. ’n Pakkie foto’s. Sy haal een uit, wys dit vir my. Hier op die plaas geneem, in die tuin, somer se groen. Hy is ’n oubaas, blinkkop-bles, diep lyne langs die mond, iewers oor die sestig. “Sy naam is Jürgen,” sê sy.

      Ek kyk op. “Dis hoekom julle nie die polisie betrokke wil hê nie.”

      “Kan jy dink wat die media …” Lucien beduie met sy hand, ’n wanhoopsgebaar.

      “Jy’t die aanvallers gesien,” sê ek vir Lucien.

      “Ja … Daar was drie. Wit. Groot.”

      Ek probeer sin maak, vooruit dink. Waarheen gaan hulle hom neem? Dis die groot vraag.

      Dan kraak die radio. “Lucien, Lucien, kom in.”

      “Dis Dries Wiese,” sê Lucien. Hy vat die radiomikrofoon. “Kom in, Dries.”

      “Ons is net anderkant Slingersfontein, op die Carnarvonpad. ’n Hummer het nou net van Rietpoort se kant of gekom, teen ’n helse spoed. Maar toe hy ons sien, toe vlieg hy om, terug, in julle rigting.”

      Hy kyk vir my.

      “Het jy ’n radio vir my bakkie?” vra ek.

      Hy knik.

      “En ’n geweer,” sê ek. “Die grootste wat jy het.”

      2

      Ek staan voor die bakkie in die ysige koue, alleen, die hoofligte wat die tweespoorpaadjie tussen Kalkbult en Dawidskolk helder verlig. Bo gooi die Melkweg ’n skitterende draai, en hier onder in die stof lê die Hummer se kenmerkende, breë spore.

      Surrealisties.

      Want ek jag die ontvoerders van ’n bejaarde, voormalige Stasi-offisier in die donker uitgestrektheid van die Bo-Karoo, met ’n geleende .270-jaggeweer en ’n Glock-pistool.

      Dit is nie die onwerklikheid wat my pla nie, maar die blootstelling – ek is ’n vuurtoring in die veld-see, ’n perfekte teiken voor die kopligte. Hulle kan ’n honderd meter van die paadjie af staan, die kruisdraadjies van ’n teleskoop oor my rug trek …

      Ek loop om, maak die Ranger se deur oop, klim in. Die kajuit is warm, die V6 luier. Ek vat die tweerigtingradio se mikrofoon. “Lucien, dis Lemmer, kom in.”

      Die jong skaapboer antwoord haastig, spanning in sy stem. “Ek hoor jou.”

      “Die Hummer is hier deur,” sê ek.

      “O.K.,” sê hy, “hou aan …”

      Ek vermoed hy kyk nou op die kaart, oorweeg die moontlikhede. Maar dink hy aan die implikasies? Moet ek vir hom sê? As hulle dié obskure paadjie ry, het hulle ’n GPS, met detail-kaartprogrammatuur. Of ’n gids, wat hierdie wêreld ken. Dalk ’n radio wat op ons golflengte ingestel is en iemand wat Die Taal verstaan. Want alles wat hulle tot nou toe gedoen het, was presies, professioneel.

      “Lemmer, is jy daar?”

      “Ek’s hier.”

      “Ons blokkeer nou al die groot padaansluitings. Hulle kan nie uit nie. Volg net die spoor …”

      Volg net die spoor. Hy laat dit so eenvoudig klink. Lemmer se Eerste Algemene Werkswet is “Doen dit alleen”. Met ’n subklousule wat sê dat as “alleen” onmoontlik is, sorg dat jy met professionele mense werk. Al twee in hul maai in. Omdat ek vir die eerste keer aanvaar wil word, insluiting soek by die Loxton-stam.

      “Ek maak so,” antwoord ek, en ry. Daar is een troos: Die Hummer-manne sal konfrontasie en geweervuur wil vermy. Want hulle wil Grethe se pa lewend hê, anders sou hulle hom in sy bed geskiet het.

      Deur ’n oop veehek, die spoor duidelik in die stof. Ek skakel die ligte af, kyk die donkerte in, op soek na ’n voertuig se ligte, sien niks. Ligte weer aan, kry ’n idee, vat die radio. “Lucien, is die hekke gewoonlik toe?”

      “Positief, Lemmer, dis ’n servituutpad, die hekke is altyd toe.”

      Nie vanaand nie. Wat beteken Hummer en kie maak oop, maar mors nie tyd met die toemaak nie. Hulle is haastig. En hulle laat bakens van hul vordering agter.

      “Dankie,” sê ek oor die radio, my hartklop vinniger. Ek trap die Ranger se versneller. Ek kan hulle inhaal. Ek gaan hulle kry.

      * * *

      Die eerste teken dat die afstand

Скачать книгу