Скачать книгу

      Deon Meyer

      Karoonag

      en ander verhale

      Human & Rousseau

KAROONAG

      1

      Twee-uur op ’n Sondagmôre, die kerm van ’n enjin wat my wakker maak, te hoog, te naby, te desperaat vir dié dorp, dié tyd.

      Die geknars van bande op die nanag se ryp, die hoë, dun fluit van stofbedekte remme net hier buite in die grondpad en ek is op, vat die Glock 37 onder die bed raak. My instink is om uit te glip by die agterdeur, hulle om die hoek van die huis te verras. Maar Emma lê hier, vas aan die slaap, my eerste beskermingsprioriteit.

      Voetstappe oor my voorstoep, haastig. Ek beweeg, uit, in die gang af, voordeur toe, my lyf teen die muur.

      “Lemmer!” roep hy en hamer aan my deur. “Dis Willie.”

      Willie Bruwer, professionele jagter, Loxton se hoflike slagter, dringendheid in sy stem. Ek sluit die deur oop, hou die pistool agter my rug, maak oop. Die koue gly in soos ’n ongenooide gas.

      “Plaasaanval,” sê hy. “Ons het jou nodig.” Sy hare is deurmekaar van uit die slaap uit opstaan; hy hou die dik baadjie se pante styf.

      “Waar?” Ek probeer die verligting uit my stem hou.

      “Bontfontein. Lucien-hulle.” My verligting word verontwaardiging, woede. En dan sê hy: “Ry solank, ek maak nog mense bymekaar.”

      Ek wil vra of daar dood is, maar hy draf al na sy voertuig toe.

      “Ek ry,” roep ek. Hy maak net ’n handgebaar, ruk die bakkie se deur oop. Wanneer die liggie aangaan, sien ek die gewere voor. Dan beweeg ek.

      * * *

      Ek kry my kopflits in die kombuis, dan klere uit my kamerkas – sonder om vir Emma wakker te maak – en gaan trek by die hitte van die Aga-koolstoof aan. Skryf vir haar ’n haastige briefie, druk die Glock in die Cape Storm-baadjie se sak, vat die sleutels, uit by die voordeur, sluit dit agter my. Die skewe sinkplaatdeure kerm op oerskarniere as ek die motorhuis oopmaak. Dit alles moes al vervang gewees het. Maar nou moet ek eers die nuwe Ford-bakkie afbetaal. Want die klein, skraal stralekrans-nimf in my bed het die ou Isuzu afgeskryf, op die draai duskant Jakhalsdans. Emma le Roux – voormalige kliënt, nuwe liefde – het sonder ’n skrapie uit die wrak geklim.

      Ek draai die Ranger se sleutel, die V6 grom geesdriftig. Dan sit ek die verwarmer aan en ry.

      Buite die dorp maak die sterrehemel se skouspel oop. Ek kyk net een keer, vinnig, dan vat ek die draai Fraserburg se kant toe. By die Modderrivier is die yslaag op die drif se water al gebreek. Ek is nie die eerste een wat vanoggend hier deur is nie. Anderkant trap ek die versneller diep. Daar’s woede in my, want dis Lucien en Grethe.

      Ek ken hulle skaars. Maar ek ken hul storie. Dit word met genoegdoening in die Bo-Karoo vertel: Toeval het hul paaie tien jaar gelede laat kruis. Sy, ’n Europese stedeling, meestersgraad in die letterkunde, het uit Berlyn kom kuier vir haar Duitse vriendin, ’n wetenskaplike wat die oewerkonyn navors. Lucien was in die Kaap. ’n Terloopse saamrygeleentheid, op die nippertjie gereël. Hulle het in ’n rammelende Land Cruiser, tussen die Hexriviervallei en die Nuweveldberge, mekaar in moeitevolle Engels ontdek. In die twee weke van haar besoek is sy betower deur die goddelike landskap, hierdie mense, hierdie aardse leefwyse – en die ontluikende liefde van ’n eerbare man.

      Hulle is nie die distrik se enigste mooi egpaar in hul dertigs met twee oulike kinders nie. Maar hulle is ’n simbool, ’n soort bevestiging van die gehalte van Loxton en sy mense. Sy is lewende bewys daarvan dat hierdie droë, vergete wêreld goed genoeg is om ’n belese, berese wêreldburger soos sy te laat bly. Vandag praat sy vlot Afrikaans, met ’n bekoorlike aksent. Sy kan ’n skaap in sewe minute kaal skeer, sy bak van die lekkerste koeksisters in die kontrei. Sy het alles hier sonder skroom aanvaar, en Loxton het haar in ruil daarvoor onvoorwaardelik omhels.

      Meer nog: Sy is die vergestalting van my hoop om so ingesluit te word. Dit is waarom ek verligting gevoel het, met Willie voor my deur. Verligting, eerstens, omdat dit nie onheil uit my verlede was wat besoek kom aflê het nie. Maar ook omdat hy my kom haal het, ingesluit het, want ek is nog op die rand van aanvaarding hier. Vandat Emma in my lewe is, gaan dit makliker. Sy is ’n teken van normaliteit, van bestendigheid, sy versag die newe-effekte van my vreemde beroep – die vryskut-lyfwag wat weekliks ’n handwapen op Loxton se skietbaan laat knetter, wat in die skemer op grondpaaie draf, wat weke lank weg is, soms met sigbare wonde terugkeer.

      Verligting. Want vir die eerste keer het ek nut hier. Al behels dit ’n oortreding van Lemmer se Eerste Wet: Moenie betrokke raak nie.

      Anderkant Welgevonden se afdraai, teen 160 kilometer per uur, ’n duiker se oë blink voor in die pad, mik om oor te hardloop.

      “Moenie,” sê ek, want ek sal nie betyds kan rem nie.

      Hy luister, druk sy kop deur die grensdraad wanneer ek verbyskiet, huppel die nag in.

      Net voor Juriesfontein verminder ek spoed vir die skerp draai, versnel anderkant uit – en skielik staan hulle reg voor my, twee bakkies wat die pad versper, verblindende ligte in my oë.

      * * *

      Ek stoei met die kragstuur, die remme, hou in ’n stofwolk stil, swets, want die Glock is nog in die baadjiesak. Voor ek dit uit het, is hy by my venster, jaggeweer gelig.

      Dan herken ek hom, laat my hand sak.

      “Lemmer,” sê Joe van Wyk jr. kalm as ek oopdraai. Langs hom staan Nicola van der Westhuizen. Jong boere, gepantser teen die koue, gesigte stroef.

      “Is daar nuus, Joe?”

      “Hulle het Grethe se pa,” sê hy, sy asem maak wasem in die ysigheid. “Ons maak die paaie toe.”

      Voor ek nog kan vra, sê Nicola: “Hier kom nog iemand.”

      Joe kyk verby my, padaf. Dan beduie hy: “Ry sommer so om. Hulle wag vir jou.”

      Ek knik, trek weg, ry om die bakkies, vat weer die pad.

      Hulle het Grethe se pa.

      Wat beteken dit?

      * * *

      Twee voertuie op Bontfontein se werf. Geen polisie nie. Ligte brand hier en daar in die netjiese tuin, die grasperk spierwit van die ryp.

      Ek klim uit en loop met die leiklippaadjie voordeur toe. Geel metaal flonker links van my. Koeëldoppies. Twaalf, vyftien van hulle. Ek buk, tel een op. Kort. Vet. 9x19 Luger. Eienaardig. Ek staan op as twee mense by die voordeur uitkom. Tickey van Wyk, Martin Scholtz, elkeen met ’n geweer.

      “Naand, Lemmer.” Hulle kom gee hand, haastig. “Bly jy’s hier. Ons gaan Grootfontein se kruising toemaak,” Martin beduie in Fraserburg se rigting, draf weg na ’n bakkie toe.

      By die oop voordeur sien ek die koeëlgate in die muur. Nie grootkaliber nie, die reëlmatige stippels van outomatiese vuur. Masjienpistool?

      Ek loop in. Grethe sit op die sitkamerbank, haar kinders op haar skoot. Sy huil, sien my skaars. Agter, by die groot eetkamertafel van Oregonden, sit Lucien. In sy hand is ’n radiomikrofoon, voor hom is ’n groot kaart. Ek probeer my verligting wegsteek. Hulle leef.

      Lucien sien my. “O.K., Joe,” sê hy oor die radio, “oor en uit.” Hy kom orent, steek sy hand uit. “Lemmer.” Ek kom by die tafel, skud sy hand.

      “Hulle het Grethe se pa,” ongeloof en skok nog vlak in sy stem.

      “Ek het gehoor.”

      En dan ’n stilte. Ek snap nie dadelik die betekenis nie, sien eers die verwagting op sy gesig. Onthou Joe se woorde. Hulle wag vir jou. En Martin Scholtz: Bly jy’s hier Willie, wat gesê het: Ons het jou nodig. Insig: Hulle wil hê ek moet iets doen. Leiding neem? ’n Mening gee? Het hulle eindelik uitgevind van my verlede, die manslag, die tronkstraf, waarvan nie eens Emma bewus is nie. Ek probeer Lucien lees, sien net vertroue.

      Miskien is dit onskuldig, ’n blote assosiasie met professionele beskermingsdienste.

Скачать книгу