Скачать книгу

ons wysheid kortkom, moet ons tot God bid “want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt”. Maar ons moet in die geloof bid “en nie twyfel nie” (Jak 1:5-6). Dit lyk asof God se ingryping in ons lewe geskied in reaksie op gebed in die geloof, maar hoekom wil God hê dat ons bid? Hoekom voorsien God nie sonder dat ons vra nie? God weet tog wat ons nodig het!

      God weet inderdaad wat ons nodig het, beter as wat ons dit self weet, en God gee dan ook baie aan ons waarvoor ons nie gevra het nie. Ons vra byvoorbeeld nie onophoudelik dat God, die onderhouer van alle lewe, vir ons lug voorsien om in te asem nie, maar dit word nogtans aan ons geskenk. Baie ander gawes skenk God in antwoord op gebed, omdat God ons graag by die hemelse raadsplan wil betrek, sodat ons deur die gebed instrumente van die goddelike voorsienigheid kan wees. Gebed herinner ons ook wie die Gewer van alle goeie gawes is; dit verseker volgehoue kontak tussen ons en God.

      Die Bybel moedig ons aan om ál ons begeertes aan God bekend te maak: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Fil 4:6). Hoewel ons keer op keer in die Bybel lees dat God ons gebede hoor, beteken dit nie dat gebed ontvlugting uit alle swaarkry bied nie. Terwyl Paulus hierdie woorde aan die Filippense geskryf het, was hy in die tronk omdat hy die Evangelie verkondig het. Paulus het geweet dat lyding ter wille van die geloof deel van sy roeping was (vgl. Fil 2:17).

      Jesus het sy dissipels verseker dat God ál hul gebede sal verhoor, maar die belofte is aan ’n voorwaarde verbind: “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry” (Joh 15:7). Die voorwaarde is dat die dissipels in Hom bly, dat hulle sy wil soek en dat hul begeertes ooreenstem met wat Hy hulle geleer het. Die kern van ware gebed is dat ons oorgehaal word tot God se wil eerder as dat ons God oorhaal om ons wil te doen; in die gelowige gebed word God meer as onsself vertrou om te weet wat die beste is. Die ideale gebed is ’n dialoog waarin God deur ons begeertes beweeg word en ons begeertes beweeg word deur God se wil, sodat daar volkome harmonie heers tussen die bidder en die Een wat aanbid word.

      Jesus het in Getsemane ’n voorbeeld van so ’n gebed gegee. In die nag voordat Hy gevange geneem is, het Hy gebid: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil” (Markus 14:36). God het nie die beker van Hom weggeneem soos Hy verlang het nie en Hy het sy wil aan die wil van sy hemelse Vader oorgegee. Jesus se lyding en angs in Getsemane was verskriklik, sodat sy sweet soos druppels bloed op die grond geval het (vgl. Luk 22:44), maar toe Hy eenmaal sy wil aan God onderwerp het, het Hy Hom vrywillig oorgegee aan diegene wat gekom het om Hom gevange te neem. Hy het aanvaar: “[…] nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans” (Luk 22:53). Die hele skepping is deur die onbeantwoorde gebed van Jesus geseën; sy pyn was die bron van ons verlossing. Sy onuitspreeklike lyding is deur ’n ewige heerlikheid gevolg, omdat Hy gewillig was om vir ’n verlore mensdom te ly en te sterf.

      GELOOF IN MOEILIKE TYE

      Niemand van ons kan Jesus se geloof, liefde en gehoorsaamheid ewenaar nie. Ons geloof word maklik deur beproewings vernietig; mense is stomgeslaan deur die verwoesting van byvoorbeeld aardbewings en tsoenami’s, waar die goeies, die slegtes en die onskuldiges (kinders) saam getref word. Kan ’n God wat goed is, so iets toelaat? Waarom laat God slegte dinge met goeie mense gebeur?

      Hoewel geen mens hierdie vrae volledig kan beantwoord nie, is dit goed om te onthou dat geloof wat ook in moeilike tye standhou, groot waarde het; die sterkste geloof is die geloof wat God ook in tye van teenspoed kan loof. Dit is dié soort geloof wat Paulus en Silas geopenbaar het toe hulle in die tronk in Filippi was: “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister” (Hand 16:25). Letterlik en figuurlik in duisternis gehul, het hulle nogtans gebid en God geprys – hul geloof is nie deur die negatiewe omstandighede vernietig nie. En toe, terwyl hulle God met hul onverwoesbare geloof verheerlik, gaan die deure van die gevangenis oop en die volgende môre is hulle vrygelaat. Ons is geneig om te dink: “Laat God my uit my moeilikheid help, dán sal ek God prys.” Paulus en Silas het God eers geprys en toe het hul omstandighede verander. In reaksie op hul geloof het God op ’n kragtige wyse ingegryp.

      Dit is belangrik om te let op die dramatiese uitwerking wat Paulus en Silas se geloof op die mense om hulle gehad het. Die ander gevan­g­enes is duidelik geraak deur hul gebede en sang – ons lees dat hulle daarna geluister het. Dié dramatiese gebeure lei ook tot die bekering van die sipier en sy familie; dit het begin met Paulus en Silas se gebede en lofsange. In ’n hele aantal briewe vra Paulus die gelowiges om vir hom en sy werk te bid; hy weet dat die gebede van medegelowiges God se seën bewerk. Deur gebed neem ons deel aan God se goeie werke; as ons sou ophou om vir ander te bid, versper ons die kanale van God se goedheid. God eer ons met die verantwoordelikheid van gebed, maar gee aan ons die vryheid om ons plig te verwaarloos.

      DEUR GOD GELEI

      Egte geloof maak ’n groot verskil. Dit gee nuwe rigting aan ons lewe, want ons word deur die Gees van God gelei. Maar hoe word ons deur God gelei? Die patriarg Abraham kry allerlei opdragte van God (soos om sy seun te offer!). As moderne mense vind ons dit moeilik om in direkte, ondubbelsinnige kommunikasie met die Almagtige te glo, soos in Abraham se verhaal. Om die waarheid te sê, ons vind dikwels dat die mense wat met die grootste sekerheid verklaar dat hulle deur God gelei is om iets te doen, op ’n dwaalspoor is. Aan die begin van sy politieke loopbaan het ’n taamlik kontroversiële politikus aan een van sy gewese professore gesê God het hom gelei om hom in die politiek te begewe. Die professor het stilweg geluister en toe kalm gevra: “Broer, is jy seker dis nie maar ’n ander geraas wat jy gehoor het nie?”

      Hoe kan ons weet wat God se wil is wanneer ons belangrike besluite moet neem? Ook in dié geval begin geloof met die wil. Gebed is belangrik – nie om in ’n oogwink aan ons die regte besluit bekend te maak nie, maar om deur God se Gees oorreed te word om God se wil te soek. As ons ons wil oorgegee het, kan ons beter dink, want geloof vertroebel nie die denke nie, maar verhelder dit. Geloofsgehoorsaamheid maak ons vry van ons angste en selfgesentreerde begeertes; dit help ons om rasioneel te dink, om die voor- en nadele van verskillende moontlikhede rustig te oorweeg, en om ’n gesonde morele besluit te neem. Vriende kan ons ook help of veranderde omstandighede kan die deur toemaak waardeur ons wou gaan. En uiteindelik, deur die Godgegewe vrede in ons hart, kry ons bevestiging dat ons keuse reg was.

      GELOOF IN ’N GOD VAN LIEFDE

      Die Christelike deugde is aan mekaar verbonde en hulle is almal verbind met die sentrale Christelike deug van die liefde. Dit geld ook vir die deug van die geloof. Uit ’n Christelike oogpunt kan ’n mens nooit van geloof praat as jy dit nie verbind met die vraag wat daarby hoort nie: Geloof in wie? Want dit is nie ons geloof wat van belang is nie, maar die Persoon in wie ons glo. Geloof gaan nie bloot om onsself nie. Dit bring ons in ’n verhouding met God, en daardeur in ’n nuwe verhouding met ons medemens en met onsself. Die Christelike geloof is ’n geloof in ’n God van liefde; dit is ’n geloof wat ons verander na die gelykenis van die Seun van God wat uit liefde sy lewe vir ons afgelê het; dit is ’n geloof wat ons leer om Jesus op sy liefdesweg te volg. Geloof is in die geskiedenis dikwels as voorwendsel vir allerlei twyfelagtige doeleindes gebruik: om eiebelang in die politiek te dien en om wreedhede te pleeg – te martel, dood te maak en te vernietig. Op dié manier is valse geloof gebruik om geloofwaardigheid aan verwronge idees te gee, maar dít is nie die geloof wat die Nuwe Testament verkondig nie. Die Nuwe Testament handel oor geloof wat tot liefde lei en liefde wat tot geloof lei – dít is die geloof wat Jesus verkondig en uitgeleef het.

      IS DIT MOEILIK OM TE GLO?

      ’n Gelowige se lewe is maklik en ook moeilik. Maklik, omdat jy nie God se guns hoef te verdien nie. Maklik, omdat jy jou bekommernisse op Iemand kan werp wat vir jou sorg en daarom veilig kan voel. Maklik, omdat God jou van onheil bewaar en jou bystaan in beproewings. Dit is egter ook moeilik, omdat dit strydig is met die menslike natuur – van nature wil ons in beheer van ons lewe bly. Ons natuurlike neiging tot selfgesentreerdheid en ongeloof moet plek maak vir geloof en gehoorsaamheid – en dit is moeilik.

      ’n Gelowige se lewe is soos iemand wat leer swem – dit is moeilik én maklik. Aan die begin wil jy jou doodskrik as die water onder jou padgee

Скачать книгу