Скачать книгу

sal baie mense gered word wat andersins verlore sou gaan. Moenie die krag van hierdie gebed onderskat nie!

      Ons bid omdat God ons beveel om te bid

      Gebed is ’n opdrag van God. “Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word” (Luk 18:1). Paulus skryf in Kolossense aan die gelowiges in daardie stad: “Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging” (Kol 4:2). Aan die mense in Tessalonika skryf hy dat hulle gedurig moet bid: “Bid sonder ophou” (1 Tess 5:17). Gebed is noodsaaklik vir alles wat God op die aarde wil doen. Dit is so noodsaaklik dat Hy ons beveel om dit sonder ophou te doen. Ons behoort selfs slaap en eet prys te gee om met groter krag te kan bid (vgl. Luk 6:12; Luk 21:36; Kol 4:2).

      Ons bid omdat Jesus, ons rolmodel, gedurig gebid het

      Jesus het volmaakte gemeenskap met sy Vader gehad. Hy het geweet wat sy Vader wil hê, wat sy Vader sê en wat sy Vader doen. Hy het snags en in die vroeë oggendure alleen gaan bid (vgl. Mark 1:35). Hy het in tye van krisis en versoeking gebid (vgl. Matt 26:36, 39, 42). As die Seun van God so baie moes bid, hoeveel te meer moet ons nie bid as ons Hom wil volg en soos Hy wil wees nie!

      Ons bid omdat God ons hoor en ons gebede beantwoord

      Jesus het gesê: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Matt 7:7). Ons behoeftes is groot. Ons het baie dinge nodig wat buite ons eie bereik lê, maar hulle is nie buite God se bereik nie. As God nie daarvoor sorg nie, sal daar niks gebeur nie! God beantwoord gebed en dit is Hy wat die verskil in ons lewe teweeg bring.

      Ons bid dat ons blydskap volkome kan wees

      God wil hê jou blydskap moet volkome wees: “Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees” (Joh 16:24). Dit gaan slegs gebeur wanneer jy antwoorde op jou gebede begin kry. God wil graag hê dat ons blymoedig moet wees. Dit is nie sy wil dat ons hartseer en neerslagtig sal wees nie. Sy antwoord op gebed bring groot vreugde in ons hart. Dit is wat Hy wil hê – harte wat met vreugde gevul is.

flower_top.jpg

      Ek is al dikwels op my knieë gedwing deur die oorweldigende oortuiging dat ek nêrens elders het om heen te gaan nie. My eie wysheid, en alles van my, blyk onvoldoende vir die dag te wees.

      – Abraham Lincoln

flower_top.jpg

      Om God se Woord te bid

      Wil jy hê jou gebede moet meer krag dra? Bid God se Woord. “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard” (Heb 4:12). Wanneer jy die Woord spreek of bid, tree jy in ooreenstemming met God en sy Woord op, en só word sy krag vrygestel om ons gebede te beantwoord.

      Miskien dink of glo jy dat God nie jou gebede beantwoord nie, of miskien weet jy nie waarvoor om te vra in sekere omstandighede nie. “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh 5:14).

      Die voordeel wat gebede gegrond op die Skrif inhou, is gewaarborgde geestelike groei omdat ons daardeur leer wat God vir ons oor ons lewensomstandighede sê. Dit help ons om te verstaan hoe ons behoort op te tree of te glo. God se Woord is ook ’n roetekaart ten opsigte van hoe ons teenoor moeilike mense behoort op te tree. Só kan jy in tere bewondering tot God bid of vra vir die beskerming van jou gesin. Jy kan bid vir goeie gesondheid of vir die herstel van jou huwelik. Jy kan bid vir diegene wat Jesus nodig het én ook vir dié wat teruggeval het. Jy kan bid vir jou kind wat onverskillig leef of vir antwoorde op ’n moeilike saak.

      ’n Verbintenis tot die bid van God se Woord

      Min mense hou van ’n verbintenis tot iets buitekant die raamwerk van die alledaagse, en hulle sê ook gou: “Ek het nie tyd vir nog ’n verbintenis nie!” As jy wil hê jou omstandighede moet verander, moet jy jou tot gebed verbind, en veral daartoe om die Woord van God hardop te bid. Dit behoort gereeld gedoen te word. My aanbeveling is dat daar elke dag van elke week só gebid moet word. Dán sal jy sien hoe jou gebedslewe verander, en hoe jy in oorwinning begin bid deur die kragtige Woord van God in jou mond en in jou hart te lê. Só ’n bidder sal oorwinning ervaar op elke gebied van sy of haar lewe: by die huis, in die huwelik, by die werk, in verhoudings, in finansies; trouens op alle gebiede waarby die bidder betrokke is. Gebed is soos ’n sleutel wat ’n ryk geestelike lewe ontsluit. Bid die Woord hardop, al fluister jy dit net. Daardeur spreek jy God se wil hardop uit. Sodoende hoor jy self die gesproke Woord en neem jou geloof toe (vgl. Rom 10:17), en geloof behaag die Here (vgl. Heb 11:6).

flower_top.jpg

      Gebed is die koord wat God en mens aanmekaar bind. Maar dit trek God nie af na ons toe nie, dit trek ons op na Hom toe.

      – Billy Graham

flower_top.jpg flower_top.jpg

      Elke Christen het omtrent ’n halfuur van gebed per dag nodig, behalwe wanneer hy besig is. Dan het hy ’n uur nodig.

      – Francis de Sales

flower_top.jpg

      Die voordele daarvan om die Woord te bid

      Miskien wonder jy waarom dit enigsins nodig is om juis God se Woord te bid. Talle voordele is hieraan verbonde.

      Dit bevorder geestelike groei

      Deur die Woord van God te bid, word geestelike groei by die bidder bevorder. Ons verkry daardeur ’n beter begrip van wat God se wil is rakende sekere sake. Deur sy Woord te bid, bevestig jy dat jy in ooreenstemming met God en sy Woord optree, nie net in wat jy doen nie, maar ook in jou denke. En daar kan slegs goeie gevolge voortvloei as jy in jou denke sowel as jou dade in ooreenstemming met God is.

      Dit betrek God by ons lewe

      Deur God se Woord te bid, spreek jy sy wil hardop uit en ontwikkel jy ’n vertroue in God en sy Woord en die vermoë wat die Here het om ons perspektiewe oor wêreldse sake te verander. Daardeur betrek ons die Here by ons lewe. Ons weet dat ons ons sorge en die stres van die moderne lewe voor die Here se voete kan neerlê wanneer ons Hom by al ons sake betrek. Ons kom lê dit alles voor Hom neer en verklaar sodoende ons afhanklikheid van God.

      Verder is Skrifgebede baie maklik om te lees en as jy dit gereeld lees (elke dag van elke week), raak jy só vertroud daarmee dat jy dit later sal kan herroep wanneer jy met bepaalde situasies gekonfronteer word. Sonder dat jy dit weet, word dit deel van jou wese en kan jy dit toepas wanneer dit nodig is. Jy sal dit onwillekeurig bid sonder dat jy dié materiaal byderhand het.

      Dit bring eer aan God

      Jy vereer God wanneer jy sy Woord bid, want hierdeur bevestig jy dat jy Hom glo, en reageer jy op sy waarheid. Hierdie uitdrukking van ons geloof behaag God. Dit bring eer aan Hom wat alle eer waardig is.

      Dit verander die bidder

      Die mens wat in geloof die Woord van God bid, sal nie dieselfde bly nie. Deur die Woord te bid, sal jy van binne af vernuwe word. Enige ingesteldheid wat nie in ooreenstemming met God se Woord is nie, sal verander. ’n Negatiewe of vreesagtige ingesteldheid sal vervang word met ’n positiewe ingesteldheid en vertroue in die Een wat omstandighede kan verander.

      Wanneer ons verstaan wat die Here se beloftes aan ons in sy Woord behels, is dit ’n natuurlike reaksie om in geloof en vertroue sy Woord te bid. Sodoende oefen jy jou geestelike priesterskap uit oor jou eie lewe en dié van jou gesin, jou familie, jou vriende en alles wat betrekking het op jou lewe. Sodoende tree jy in geloof in vir dié mense en sake waarvoor en waaroor jy omgee. Gelowiges is

Скачать книгу