Скачать книгу

knik net en maak haar handsak oop. Ek wonder nie waarom sy dit doen nie. Die foto kom te voorskyn. Sy plaas dit op die lessenaar en skuif dit oor na Wolhuter. Hy druk sy hand in ’n hempsak en haal ’n leesbril uit, wat hy op sy neus sit. Hy neem die foto en kyk daarna. Lank. Buite, naby, brul ’n rehabiliterende leeu in die kampie, kort en beneuk. Voëls kras. Binne is dit nie ondraaglik warm nie, miskien omdat die gordyne halfpad toegetrek is. Emma kyk geduldig na Wolhuter.

      Hy sit die foto neer, haal die leesbril af en plaas dit op die tafel. Dan trek hy ’n laai oop en haal ’n pyp uit, ’n groot reguitsteel. Vuurhoutjies kom uit die laai. Hy byt die pypsteel tussen sy tande en trek ’n vuurhoutjie, hou dit oor die twak. Suig die pyp behendig aan die gang en blaas rook dak toe.

      “Nee wat,” sê hy en kyk na Emma. “Dis nie Cobie nie.”

      “Meneer Wolhuter …”

      “Noem my Frank.”

      “Het jy vir Jacobus geken toe hy twintig was?” Ek verwonder my weer aan haar stemtoon, so redelik, so gemoedelik.

      “Nee.” Trek aan die pyp.

      “Kan jy met absolute sekerheid sê dit is nie sy foto nie?” Wolhuter kyk net oor die pyp vir haar.

      “Dis al wat ek soek. Absolute sekerheid.” Sy glimlag vir hom. Dit is ’n mooi glimlag. Ek vermoed hy sal dit nie kan weerstaan nie.

      Frank Wolhuter werk aan ’n groot bol rook en sê dan: “Vertel vir my jou lang storie, juffrou Le Roux,” maar sy oë is nou dié van ’n ongelowige.

      * * *

      Sy sê niks van die aanval op haar nie. Miskien is dit goed so, want sy het mý nie daarmee oortuig nie. Maar anders as toe sy vir my vertel het, doen sy dit nou chronologies. Miskien leer sy...

      Sy begin by 1986, toe haar broer verdwyn het. En hoe sy twintig jaar later ’n gesig op televisie gesien het en ’n vae oproep ontvang het. Dieselfde wankelrige styl van onvoltooide sinne, asof sy self nie heeltemal daarin glo nie. Of miskien te bang is om daarin te glo. Wanneer sy klaar is, gee Wolhuter die foto vir Branca aan.

      “Ek het gesien,” sê die jonger man.

      “Wat dink jy?”

      “Daar is ’n ooreenkoms …”

      Wolhuter neem die foto terug. Hy kyk weer. Gee dit vir Emma aan. Hy sit die pyp in die laai, wat steeds oopstaan.

      “Juffrou Le Roux …”

      “Emma.”

      “Emma, het jy ’n identiteitsdokument by jou?”

      Sy frons effens. “Ja.”

      “Kan ek dit sien?”

      Sy kyk vir ’n oomblik na my en dan steek sy haar hand in haar handsak. Sy haal ’n ID-boekie uit en gee dit vir Wolhuter. Hy maak dit by die foto oop.

      “Het jy ’n besigheidskaartjie?”

      Sy huiwer weer, maar grawe haar beursie uit, knip dit oop en bring ’n visitekaartjie te voorskyn. Wolhuter neem dit tussen sy skraal vingers en bestudeer dit. Hy kyk op, na my. “Jy is Lemmer?”

      “Ja.” Ek hou nie van sy stemtoon nie.

      “Wat is jou belang hierby?”

      Emma trek haar asem in om te antwoord, maar ek spring haar voor. “Morele ondersteuning.”

      “Wat is jou beroep?”

      Dit is sy houding wat my ’n fout laat maak. Ek probeer slim wees. “Ek is ’n bouer.”

      “’n Bouer?”

      “Ek knap huise op, hoofsaaklik.”

      “Het jy ’n besigheidskaartjie?”

      “Nee.”

      “En wat wil jy hier kom bou?”

      “Vriendskapsbande.”

      “Is jy ’n ontwikkelaar, Lemmer?”

      “’n Wat?”

      “Frank …” sê Emma.

      Wolhuter probeer haar stilmaak met ’n goedige “Net ’n oomblik, Emmatjie …” Slegte woordkeuse.

      “Ek is nie Emmatjie nie.” Vir die eerste keer vandat ek haar ken, is daar ysigheid in haar stem. Ek kyk vir haar. Wolhuter en Branca ook. Sy sit regop, ’n ligte gloed op haar wange. “Ek is Emma. En as jy nie daarvan hou nie, kan jy juffrou Le Roux probeer. Dit is die enigste twee aanvaarbare opsies. Verstaan ons mekaar?”

      Vir ’n oomblik wonder ek hoekom sy ’n lyfwag nodig het.

      Niemand antwoord nie. Emma vul die stilte. “Lemmer is hier omdat ek hom gevra het om hier te wees. Ek is hier om uit te vind of Cobie de Villiers my broer is. Dis al. En ek sal dit doen mét óf sónder julle hulp.”

      12

      Wolhuter tel ’n benerige hand stadig op en vryf oor sy bokbaard. Dan erodeer sy gesig tot ’n versigtige glimlag. “Emma,” sê hy, met respek.

      “Dis reg,” sê juffrou Le Roux.

      “Jy gaan daardie houding nodig hê, want jy het geen idee in watter bynes jy jou kop insteek nie.”

      “Dis wat inspekteur Jack Phatudi ook gesê het.”

      Wolhuter kyk betekenisvol vir Branca. Dan vra hy vir Emma: “Wanneer het julle met hom gepraat?”

      “Vanoggend.”

      “Wat weet jy van hom?”

      “Niks.”

      Frank Wolhuter skuif sy maer lyf uit die stoel uit op en plaas sy voorarms op die lessenaar. “Emma, ek hou van jou. Maar ek sien op jou besigheidskaartjie jy kom van die Kaap af. En ek moet vir jou sê, dis nie die Kaap hierdie nie. Dis ’n ander wêreld. Jy gaan nie daarvan hou nie, maar laat ek vir jou sê julle Kapenaars leef nie in Afrika nie. Ek weet. Ek gaan elke jaar Kaap toe en dan … dis soos om Europa te besoek.”

      “Wat het dit met Jacobus te doene?”

      “Ek kom daarby. Ek wil net eers vir jou ’n prentjie teken van Limpopo, van die Laeveld, sodat jy die hele ding kan verstaan. Dis nog Ou Suid-Afrika dié. Nee, dis ook nie heeltemal waar nie. Die meeste se koppe, almal, swart en wit, is nog in die ou bedeling, maar al die probleme is Nuwe Suid-Afrika. En dis ’n lelike kombinasie. Rassisme en vooruitgang, haat en samewerking, agterdog en versoening .… dié goed wil nie in een bed slaap nie. En dan is daar die geld en die armoede, die gierigheid …”

      Hy tel weer sy pyp op, maar doen niks daarmee nie.

      “Julle het geen idee wat hier by ons aangaan nie. Kom ek vertel jou van jou inspekteur Jack Phatudi. Hy’s van die Sibashwa-stam, ’n groot kokkedoor, seun van die hoofman. En net toevallig is die Sibashwa besig met ’n grondeis. En die grond wat hulle wil hê, is deel van die Krugerpark. En net toevallig is die Sibashwa nie groot aanhangers van Cobie de Villiers nie. Want Cobie is wat sekere mense ’n aktivis sal noem. Nie jou gewone groene, jou tipiese bunny hugger nie. Hy betoog nie en hy skree nie van podiums of nie. Hy’s ’n sluiper, hy’s stil, hy’s hier en hy’s daar en jy sien hom nie. Maar hy’s meedoënloos, hy hou nie op nie, hy kry nie end nie. Hy sal hier luister en daar hoor en hy sal sy foto’s neem en sy notas maak – en as jy weer sien, dan weet hy alles. Hy’s die een met bewyse dat die Sibashwa al klaar ’n ooreenkoms geteken het met ’n eiendomsontwikkelaar. Ons praat honderde miljoene. En toe gee Cobie sy inligting vir Nasionale Parke en hul regsmense, want hy glo as die Sibashwa-eis slaag, is dit die begin van die einde vir Kruger. Jy kan nie ’n klomp huise daar gaan bou en dink dit sal nie impak hê nie. Jy kan nie …”

      Hy val homself in die rede. “Laat ek nou nie vir julle preek nie. Die feit van die saak is, die Sibashwa hou nie van Cobie nie. Hy’t al voor die aasvoël-ding met hulle moeilikheid gehad oor goed. Oor slagysters vir luiperds

Скачать книгу