Скачать книгу

      “Ek kan regtig nie.”

      Sy’s bang om ’n fout te maak. Griessel loop tot teen Vusi en praat sag, naby sy oor, sodat sy nie kan hoor nie. “Sy lê al lank, Vusi. Die bloed is al swart.”

      “Hoe lank?”

      “Ek weet nie. Vier uur … of meer. Vyf.”

      “O.K. So ons sal moet wikkel.”

      Griessel knik. “Kry daardie foto’s vinnig. En praat met die Metro-mense, Vusi. Hulle het videokameras wat die strate monitor – in Langstraat ook. Kom ons hoop die goed het gewerk, laas nag. Die beheerkamer is in Waal. Miskien is daar iets …”

      “Dankie, Bennie.”

      * * *

      Sy raak aan die slaap, teen die muur agter die struike.

      Sy wou net ’n oomblik lank rus. Sy het haar oë toegemaak en met haar rugsak teen die muur teruggesak en haar bene voor haar uitgestrek, wou net vir ’n oomblik aan die uitputting en spanning probeer ontkom. Die nag se gebeure was demone in haar kop. Om dit te ontvlug, het sy aan haar ouers gedink, hoe laat dit nou by die huis is, die berekening van tydsones te veel vir haar. As dit vroegoggend in West Lafayette was, sou haar pa met die koerant, die Journal & Courier, gesit het en sy kop geskud het oor Purdue-voetbalafrigter Joe Tiller se uitlatings. Haar ma sou laat gewees het, soos altyd, haar hakke wat teen die trappe af kletter, oorhaastig, die verslete bruin leertas oor haar skouer, “I’m late, I’m late, how can I be late again?” Haar pa sou sy koerant laat sak, “It’s a mystery, honey,” sê en sy en haar pa sou hul rituele glimlag oor die kombuistafel heen daaroor deel. Dié roetine, dié geborgenheid, die veiligheid van haar ouerhuis oorweldig haar met ’n verskriklike verlange en sy wil hulle bel, op daardie oomblik, hul stemme hoor, vir hulle sê hoe lief sy hulle het. Sy het dié denkbeeldige gesprek gevoer, met haar pa wat sag en rustig antwoord, tot die slaap haar bekruip en oorval het.

      3

      Dr. Tiffany October roep hulle: “Inspekteur …”

      “Ja?”

      “Ek kan ’n bietjie spekuleer …”

      Griessel wonder of sy hom gehoor praat het netnou.

      “Enigiets kan help …”

      “Ek dink sy is hier dood, op die toneel. Die bloedpatroon wys hy het haar keel afgesny terwyl sy hier gelê het. Ek dink hy het haar op die grond platgehou, so, op haar maag, en toe sny hy haar. Daar is nie spatmerke wat wys sy het gestaan nie.”

      “O …” Dit het hy al vir homself uitgewerk.

      “En hierdie twee snye …” Sy wys na die twee snye op die meisie se skouerblaaie.

      “Ja?

      “Dit lyk of dit post mortem uitgevoer is.”

      Hy knik.

      “Dit lyk na vesels hier …” Dr. October het ’n klein metaalknyper waarmee sy versigtig by die rugwond werk. “Sintetiese materiaal, ’n donker kleur, heeltemal anders as haar klere …”

      Ndabeni kyk na die forensiese span, wat nou gebukkend met die paadjie afloop, koppe bymekaar, oë soekend, monde nooit stil nie. “Jimmy,” roep hy, “hier’s iets vir julle …” Dan gaan buk hy by die patoloog.

      Sy sê: “Ek dink hy het iets van haar rug afgesny. Soos ’n rugsak, jy weet, die twee skouerbande …”

      Jimmy kom kniel langs hulle. Tiffany October wys vir hom die vesels. “Ek sal wag tot julle dit versamel het.”

      “O.K.,” sê Jimmy. Hy en sy kollega haal instrumente uit om die vesels te versamel. Hulle sit ’n vorige gesprek voort, asof daar geen onderbreking was nie: “Ek sê jou dis Amore.”

      “Dis nie Amore nie, dis Amor,” sê dik Arnold en haal ’n klein, deurskynende plastieksakkie uit sy tas. Hy hou dit reg.

      “Waarvan praat julle?” vra Vusi.

      “Joost se vrou.”

      “Joost wie?”

      “Van der Westhuizen.”

      “Wie’s dit?”

      “Die rugbyspeler.”

      “Hy was Springbok-kaptein, Vusi.”

      “I’m more of a soccer guy.”

      “Anyway, sy’t hierdie paar …” Arnold wys met sy hande om groot borste aan te dui. Tiffany October kyk weg, geaffronteer. “I’m just stating a fact,” sê Arnold, verdedigend.

      Jimmy trek die vesels versigtig met ’n tangetjie uit die meisie se wond. “Haar naam is Amore,” sê hy.

      “Dis Amor, ek sê jou. En toe klim hierdie ou mos op die stage saam met haar …”

      “Watter ou?” vra Vusi.

      “Ek weet nie, dit was ’n ou wat na een van haar shows gaan kyk het. En hy gryp die mikrofoon en hy sê: ‘Jy’t die mooiste tiete in die business,’ so sê hy vir Amor, en toe is Joost vreeslik die moer in.”

      “Shows? Sy gee shows?” vra Griessel.

      “Jissis, Bennie, lees jy nie Huisgenoot nie? Sy’s ’n sangeres.”

      “Toe gryp Joost hom ná die tyd en hy sê: ‘Jy kan nie so met my vrou praat nie’ en die ou sê vir hom: ‘Maar sy hét mooi tiete’ …” Arnold lag uitbundig. Jimmy he-he saam. Tiffany October vervies haar en loop na die muur se kant toe.

      “Wat?” sê die korte verontskuldigend vir haar. “Dis ’n ware storie …”

      “Praat liewer van ‘borste’,” sê Jimmy.

      “Maar dis wat die ou gesê het.”

      “Nou hoekom het Joost hom nie gemoer nie?”

      “Dis wat ek ook wil weet. Hy’t vir Jonah Lomu getackle dat die spoeg spat, hy breek booms by hekke af as hy die moer in is, maar hy klap nie ’n ou wat oor sy vrou se t … borste praat nie.”

      “Let’s be reasonable, hoe gaan hy by ’n landdros verbykom met daai een? Die ou se prokureur gaan net ’n pak Huisgenote uitpluk en sê: ‘Edelagbare, kyk hier, op elke kiekie kan jy die werke sien, van Pramberg tot in Koekenaap.’ Dan moet ’n man mos weet, die ouens gaan oor jou vroutjie se assets praat of dit hulle s’n is.”

      “Is so. Maar ek sê jou, dis Amor.”

      “Not ’n fok.”

      “Jy dink aan Amore Bekker, die DJ.”

      “Nee, issie waar nie. Maar een ding sê ek vir jou: Ek sal nie my vrou só laat rondloop nie.”

      “Jou vrou het nie die mooiste tiete in die business nie. If you’ve got it, flaunt it …”

      “Is julle klaar?” vra Bennie.

      “Ons moet nog die paadjie klaarmaak en die muur doen,” sê Jimmy en staan op. Vusi roep die fotograaf nader. “Hoe gou sal ek my gesigfoto’s kan kry?”

      Die fotograaf, jonk met lang krulhare, haal sy skouers op. “Ek sal kyk wat ek kan doen.”

      Sê vir hom sy moer, dink Griessel. Maar Vusi knik net.

      “Nee,” sê Griessel. “Ons soek dit voor agt. Dis nie onderhandelbaar nie.”

      Die fotograaf het ’n houding aan hom as hy wegstap muur toe. Griessel kyk hom vies agterna. “Dankie, Bennie,” sê Vusi sag.

      “Jy moet hardegat wees, Vusi.”

      “Ek weet …”

      Ná ’n ongemaklike stilte vra hy: “Wat mis ek, Bennie?”

      Griessel hou sy stem sag, raadgewend. “Die rugsak. Dit moes roof gewees het, Vusi. Haar geld,

Скачать книгу