Скачать книгу

      “Could you get them?”

      “They’re on my camera, but I can show you …”

      “That would be good.”

      Ollie Sands loop by die deur uit.

      “As ons ’n foto van die missing girl kan kry …” sê Vusi.

      “Hy steek iets weg,” sê Griessel. “Oor gisteraand.”

      “Dink jy, Bennie?”

      “Netnou, toe hy sy bril afgehaal het … Hy’t begin lieg.”

      “Hy’t gehuil voor jy gekom het. Miskien was dit …”

      “Hy steek iets weg, Vusi. Met brildraers … hulle het ’n manier … Daar is …” En dan huiwer Griessel; hy het met Dekker geleer dat hy sy mentorskoene versigtig moet neersit. “Vusi, ’n ou leer dinge so oor die jare, met ondervraging …”

      “Jy weet ek wil leer, Bennie.”

      Griessel staan op. “Kom sit hier, Vusi. Jy wil altyd jou ondervraagde se rug na die deur toe hê …” Hy skuif die stoele, gaan sit op die een. Vusi kom sit langs hom. “Jy sal sien, as hulle iets het om weg te steek … Sê nou maar hy sit hier, skuins, dan sal hy sy bene deur toe draai. Dan’s die tekens nie so duidelik nie. Maar met die deur agter hom, voel hy vasgekeer. Dan raak die tekens duideliker, hulle sweet, vinger kort-kort in die kraag, been of voet van spring, hand oor die oë, of brildraers wat die bril afhaal. Hierdie een het dit gedoen toe hy begin praat het van vroeg terugkom gisteraand …”

      Ndabeni het elke woord ingedrink. Hy sê: “Dankie, Bennie. Ek sal hom vra.”

      “Is hy die enigste een wat hier is, van die groep?”

      “Ja. Daar’s van hulle wat al gisteraand gevlieg het. Die ander is iewers. ’n Wyntoer. Of teen die berg uit.”

      “En dié een was hier?”

      “Hy was nog in die bed.”

      “Nou hoekom sou dit wees?”

      “Goeie vraag.”

      “Weet jy hoe om vir sy oë te kyk, Vusi?”

      Die swart speurder skud sy kop.

      “Jy kry hom eers om iets neer te skryf, sodat jy kan weet of hy links of regs is. Dan kyk jy vir oogbeweging as hy antwoord …”

      En dan lui Griessel se selfoon en hy sien die naam op die skerm. AFRIKA. “Dis die kommissaris,” sê hy voor hy antwoord. Vusi se wenkbroue lig.

      “Griessel,” neem hy die oproep.

      “Bennie, wat die fok gaan aan?” vra die streekkommissaris: Speurdienste en Misdaadintelligensie, so hard dat Vusi hier langs hom ook hoor.

      “Kommissaris?”

      “Hier bel ’n prokureur my, Groenewoud of Groenewald of iets, praat so suutjiespoep stadig soos ’n sendingpredikant, hy sê julle het só kak aangejaag met ’n Adriaan Barnard se vrou …”

      “Adam Bar …”

      “Dit maak nie ’n fok saak nie,” sê John Afrika. “Nou’t die vrou gaan staan en selfmoord pleeg omdat julle haar in haar moer in geïntimideer het en sy het niks met die hele fokken ding te doene nie …”

      ’n Hand om sy hart. “Is sy dood?”

      “Nee, sy’s nie fokken dood nie, maar jy’s daar om te mentor, Bennie, dis die rede hoekom ek jou ingebring het, kan jy dink wat die pers hiermee gaan maak, ek hoor Barnard is ’n fokken celebrity …”

      “Kommissaris, niemand het …”

      “Jy kry my by die hospitaal, jy en Fransman Dekker, hy kan nie sy fokken ambisie beheer nie en as ek vir hom cover, dan sê hulle dis omdat hy ook ’n hotnot is, ek beskerm net my mense, waar de fok is jy, in elk geval?”

      “By Vusi, kommissaris … Die kerkmoord …”

      “En nou hoor ek dis ’n Amerikaanse toeris, jissis, Bennie, net op ’n Dinsdag, ek sê jou. By die hospitaal, Bennie, ek kry julle daar, vyf minute,” en dan is die lyn dood en Bennie dink dis hy wat vir Alexa Barnard die drank gegee het en die kommissaris het nie gesê watter hospitaal nie, en dan loop Oliver “Ollie” Sands in met die kamera in sy hand en hy huil weer as hy na die skerm agter op die apparaat kyk. Hy hou dit só dat die speurders kan sien. Bennie Griessel kyk daarna en hy voel hoe ’n skimhand om sy hart kom druk, die bekende beklemming. En die vrees. Want Rachel Anderson en Erin Russel staan daar, laggend en mooi en sorgeloos, met Kilimandjaro op die agtergrond. Jonk en bruisend, soos sy dogter Carla, deel van die Groot Avontuur.

      * * *

      Rachel Anderson lê op haar maag agter die stapel dennehoutstompe, in die koelte van die byna voltooide motorhuis, en probeer haar asem beheer.

      Sy dink hulle het haar gesien, want sy hoor die voetstappe en die stemme wat al hoe nader kom.

      “… more people,” sê die een.

      “Maybe. But if the Big Guy comes through, we’ll have more than enough.”

      Sy ken hul stemme.

      Hulle gaan staan, hier reg voor die motorhuis.

      “I just hope to God she’s still out there.”

      “Fucking mountain. It’s huge. But if she moves, Barry will spot her. And the cops will have the streets covered, we’ll get the bitch, I’m telling you, sooner or later we’ll get her and this whole fuck-up will go away.”

      Sy lê en sy luister na die stemme en die voetstappe wat bergop sagter raak. And the cops will have the streets covered. Dit is die woorde wat in haar kop herhaal word, wat die laaste van haar hoop dooddruk.

      * * *

      Bennie Griessel sê in Afrikaans: “Hy sal praat, Vusi. Jy moet hom net skrikmaak. Sê jy gaan hom toesluit. Of vat hom af selle toe. Ek moet ry.”

      “O.K., Bennie,” en dan loop Griessel uit en buite, op pad na sy motor, bel hy vir Dekker. “Leef sy nog, Fransman?”

      “Ja, sy leef. Tinkie was by haar, die hele tyd, maar toe fok sy in die badkamer in en sluit die deur en gaan sny haar pols met ’n stuk gin-bottel …”

      Die een wat hy vir haar uit laat drink het? Hoe het sy dit in die badkamer ingekry?

      “Gaan sy dit maak?”

      “Ek dink so, ons was vinnig by. Sy’t baie bloed verloor, maar sy behoort O.K. te wees.”

      “By watter hospitaal is jy?”

      “City Park. Het die kommissaris jou gebel?”

      “Hy’s hoogs die moer in.”

      “Dis niemand se skuld nie, Bennie, dis die fokken Mouton-doos wat ’n helse scene gegooi het. Toe hy die bloed sien, toe haak hy eenvoudig uit …”

      “Ons sal dit hanteer, Fransman. Ek is nou daar.” Hy klim in sy kar en hy wonder of hy iets gemis het in sy gesprek met Alexa Barnard. Was daar ’n teken?

      * * *

      Inspekteur Vusi Ndabeni sê: “I am your friend. You can tell me anything,” en hy sien hoe Oliver Sands se hande na sy bril toe beweeg en dit afhaal.

      “I know.” Sands begin die bril met sy T-hemp se soom skoonmaak, nou met sy rug deur toe.

      “So what really happened last night?” Vusi kyk of hy van die tekens kan sien waarvan Bennie gepraat het.

      “I told you,” die stem te beheersd.

      Vusi laat die stilte rek. Hy kyk stip na Sands, maar die brillose oë vermy syne. Hy wag tot Sands weer die bril op sy neus het. Dan leun hy vorentoe. “I don’t think you’ve told me everything.”

      “I

Скачать книгу