Скачать книгу

van nuuts af te ontmoet en Hóm toe te laat om die ritme van jou asemteue te bepaal sodat Hy sy lewe en vreugde in jou siel kan blaas.” Ek self voel hoe ek weer vry asemhaal en die wind van die Gees my van binne af skoonwaai.

       Here, help my om diep en rustig asem te haal omdat ek weet my lot is in u hande.

      Vyf

      In ons huis vier ons graag fees en Valentynsdag is geen uitsondering nie. Elke jaar word die tafel met ’n spierwit damastafeldoek gedek en bestrooi met roosblare uit ons tuin wat dié tyd van die jaar so mooi blom. Handgemaakte kaartjies en geskenkies word langs elkeen se bord neergesit – klein gebare om van dié liefdesfees iets spesiaals te maak. Daar is sjampanje en spesiale eetgoed en ’n spreekbeurt vir ons jongste, wat tog so graag ’n heildronk op sy gesinslede instel.

      Die liefde … bedek alles, verdra alles

      -1 Kor 13:7

      Jaar na jaar word elke kaartjie en kunswerkie sorgvuldig gebêre – van die vetkrythartjies uit my kinders se kleuterskooldae tot die briefies met lofsange van my (nou reeds) opgeskote seuns wat steeds dink hul ma is die mooiste vrou op aarde. Op soek na notas oor die geskiedenis van Valentynsdag kom ek af op ’n brief wat ek aan Johan met ons eerste huweliksherdenking geskryf het.

      “Ek dink al die hele week aan wat ek vir jou gaan skryf om dankie te sê vir dié eerste jaar saam. Ek wou begin met ’n lys van al die mooi dinge wat jy tot ons lewens bygevoeg het, maar dit is eerder die woorde uit Korintiërs 13:4 tot 7 wat God op my hart bly druk. Nadat ek dit gelees het, weet ek dat dit nie net die liefde beskryf wat God vir ons twee in gedagte het nie, maar dat Hy ook vir my ’n duidelike opdrag gee oor hoe ek jóú moet liefhê. Dis sy padkaart en kompas vir ons toekoms saam.”

       Vader, laat ek altyd liefhê soos U my liefhet.

      Ses

      In die begin van die lang somervakansie kies ek en die seuns een oggend koers na ’n plaas in die Vredefortkoepel. Die doel van die uitstappie is om ’n drif vol vlinders te gaan opsoek, tyd saam deur te bring en ’n slag weer die stilte van die natuur te ervaar.

      Ná maande het dié bekende omgewing nog niks verander nie. Die groen klowe en klipkoppies is nog net so mooi soos altyd. Met die stilhou hoor ’n mens die bobbejane roep.

      Kyk, Ek maak alles nuut

      -Op 21:5

      Ons pak die stowwerige paadjie na Vlinderdrif te voet aan. Dis warm en stil met die gesuis van sonbesies die enigste agtergrondgeluid. Nou en dan roep ’n dassievoël en ’n rooivlerkspreeu wat sorgsaam oor haar nes met kuikens waak.

      Dis eers toe ons om die bekende draai gaan dat ek wéét hoekom my hart so na dié plek hunker. Honderde van die fynste vlinders in skakerings van liggeel en lila dartel tussen die lang gras en oral om ons rond. Ons staan stil in verwondering. “Kyk, Ma, kyk al die vlinders,” roep die seuns gelyktydig uit. Dis Vlinderdrif. So mooi soos altyd. Om een of ander rede lok die water in die driffie ’n menigte vlinders. En so, omring deur ’n magdom vlinders, kom die woorde van ’n SMS ná die geboorte van ’n nuwe baba in ons vriendekring in my gedagtes op.

      Uit die aardsheid van ’n larwe kom die skoonheid van ’n hemelse vlinder. Uit die dood, weer lewe. Ná gehoorsaamheid, ’n Koninklike beloning. Ek sien die pasgebore klein Arian, veilig toegewoel in ’n katoen­kombersie, in sy ma se arms nestel.

       Vader, maak my ’n nuwe mens in U …

      “En is ek opnuut dankbaar vir die vryheid om my God te aanbid – net waar en wanneer ek wil.”

      Sewe

      Sally Chow het my eerste na die Bybelstudiegroepie in Hongkong genooi. Sally, ’n Amerikaner, is getroud met Ping, ’n imposante Taiwannees. Hoewel Ping nie gelowig is nie, gaan hy elke Sondag saam met sy gesin kerk toe. Met die Chinese Nuwejaar besoek die gesin hul voorvadertuiste in Taiwan. Dan bid ons saam met Sally vir haar dogtertjies wat verplig word om te buig voor die voorvaderaltaar, soos die Boeddhistiese tradisie vereis.

      En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe

      -Heb 12:38

      ’n Foto van jare gelede van die Chows op kamele voor die piramides in Egipte is al bewys wat ek van ons vriendskap oorhet. Tog wonder ek dikwels of Sally se gebede beantwoord is en of Ping al tot bekering gekom het.

      Jophie Batista was die leier van ons groep – ’n Filippynse vrou met ’n sterk geloof en diepgaande kennis van die Bybel. Waar sý vandaan kom, is sendelinge dikwels deur bandiete beroof en selfs doodgemaak. Tydens die vier jaar dat ons elke Dinsdag­oggend bymekaargekom het, het vroue van verskillende nasionaliteite gekom en gegaan. Maar dít wat in my hart agtergelaat is, is blywend.

      Tydens ’n oggenddiens in ons gemeente is ’n hartroerende video-insetsel oor die vervolgde kerk gewys. Daagliks word twee honderd miljoen gelowiges wêreldwyd vervolg. Hoewel ek niemand ken nie, sien ek daar in die donker voor my geestesoog die gesigte van ou vriende en kennisse, toegewyde Christene in ’n wêreld waar dit dikwels ongewoon (soms pynlik en selfs gevaarlik) is om te glo. En ek is opnuut dankbaar vir die vryheid om God te aanbid – net waar en wanneer ek wil.

       Dankie, Jesus, dat ek U in vryheid mag aanbid.

      Agt

      Ek het grootgeword met ’n Ouma Plaas en ’n Ouma Theunissen.

      Ouma Theunissen het op ’n dorpie in die Vrystaat in ’n huis met ’n groot peperboom in die agterplaas gewoon. Herinneringe aan kuiers by Ouma Theunissen word ingekleur deur haar groot donkerbruin art deco-stoele, die gekleurde glasruitjiespatroon van haar voordeur en haar elegante smuktassie van liggeel gekleurde leer wat ook as medisyne­kissie gedien het. Ouma Max is al jare gelede oorlede.

      Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte

      -Spr 31:31

      Ouma Plaas het jare lank saam met Oupa op ’n plaas net buite Bloemfontein gewoon. Van die kuiers hier onthou ek die laning sipresse, die bekende blou koffieblikke vol spierwit uitgekookte varkvet wat sy vir ons op dik snye plaasbrood gesmeer en met fyn witpeper bestrooi het. Ek onthou die stemmigheid van die donker sitkamer, die plaasdammetjie in die tuin en blikke met soetkoekies.

      ’n Paar jaar gelede vier ons Ouma Violet se honderdste verjaardag. Vir die

      honderdste feesviering het die dorp se vroue saamgespan om gaste van heinde en ver met fyngebak en ander lekkernye te onthaal. Ek sien voor my geestesoog hoe Ouma dié oggend in ’n deftige snyerspakkie alles stil-stil sit en bekyk met die wys­heid van een wat al langer as ons almal geleef het.

      Toe sy die jaar 102 word, sê Sarah Nkosi, die kosbare vrou wat na ons huishouding omsien as ek nie daar is nie: “’n Lang lewe is ’n seëning uit God se hand.”

       Here, dankie vir die liefde van ’n ouma. Help my om haar nalatenskap te eer en dit aan my kinders oor te dra.

      Nege

      Ek en Johan kuier laatsomer in ’n gastehuis op ’n perdeplaas naby Mooirivier. Die laaste

Скачать книгу