Скачать книгу

meer sal gaan oor geestelike seëninge vir my geliefdes, eerder as oor konkrete sake. Is jy nie lus om in die week wat voorlê Paulus se versoeke vir jóú mense te herhaal nie?

      Here, ek bid dat U my geliefdes innerlik sterk sal maak, dat hulle in U sal glo en u liefde sal ken. Amen.

      9 Januarie – Stuurwiel of noodwiel?

      9 JANUARIE

      Lees: 1 Tessalonisense 5:12–25

      Stuurwiel of noodwiel?

      Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. – 1 Tessalonisense 5:16–18

      Ek is mal oor Corrie ten Boom, die ou Hollandse dame wat ’n Duitse strafkamp oorleef het en daarna op ’n baie hoë ouderdom die wêreld deurkruis het om oor Jesus te getuig. Die dinge wat sy skryf, getuig van ’n nugter, praktiese ingesteldheid, en die beelde waarmee sy haar praatjies en boeke illustreer, is só aards en treffend dat ’n mens dit nooit weer vergeet nie. Só skryf sy dat gebed vir ons ’n stuurwiel behoort te wees en nie ’n noodwiel nie.

      Die oorgrote meerderheid Christene bid wel gereeld, maar dit is eers in krisistye wanneer hulle ’n “noodwiel” benodig dat hulle genoeg tyd aan gebed afstaan, dat hulle werklik met groot erns begin bid. Dit is nie soos God dit wil hê nie. Dit is sy wil dat gebed die stúúrwiel van jou lewe sal wees. Dat jy heeltemal niks sal doen, geen belangrike besluite sal neem voordat jy, soos Jesus gedoen het, éérs daaroor gebid het nie.

      Is gebed al die stuurwiel van jóú lewe, of bid jy net met erns wanneer jy probleme teëkom en ’n noodwiel nodig het? Volg Paulus se raad en bid van vandag af sonder ophou, bid gedurig, sodat jy die hele dag lank deur ’n koord van gebed aan God verbind sal wees en gebed van nou af werklik die stuurwiel van jou lewe sal wees.

      Hemelse Vader, vergewe my asseblief dat ek soveel meer tyd in gesprek met U deurbring as dit moeilik gaan. Help my dat my gebede nie langer die noodwiel van my lewe sal wees nie, maar die stuurwiel waarmee U dit beheer. Amen.

      10 Januarie – Neem jou probleme en begeertes na God toe

      10 JANUARIE

      Lees: Filippense 4:4–9

      Neem jou probleme en begeertes na God toe

      Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God be-kend. – Filippense 4:5–6

      God wil graag hoor van jou probleme – nie omdat Hy dit nodig het om hulle aan te hoor nie, maar omdat jy dit nodig het om hulle by Hom af te laai. Jy mag ook maar dié dinge wat jy graag wil hê, sowel as jou drome en ideale, met Hom deel. Jy kan enige tyd van die dag of nag met jou versoeke na God gaan, Hy is altyd gereed om na jou gebede te luister. Hy kan nie insluimer of slaap nie, skryf die psalmdigter. Hy is altyd naby jou, verseker vandag se kernvers jou. Om hierdie rede hoef jy oor niks bekommerd te wees nie, maar mag jy maar in álles jou begeertes met God deel. En, terwyl jy nog besig is om dit te doen, kan jy reeds vir Hom dankie sê dat Hy jou gebede sal verhoor. Dit is presies wat Jesus gedoen het toe Hy by die graf van Lasarus gebid het: “Ek dank U dat U My verhoor het.” En dit was vóórdat Lasarus lewendig geword het (vgl Johannes 11:41).

      Vra God om jou in staat te stel om Hom te dank alhoewel sy antwoord op jou gebed nog nie gerealiseer het nie, en ook ondanks die feit dat Hy jou soms mag laat wag op sy antwoord, en dat dié antwoord dalk anders mag wees as die een waarvoor jy gevra het.

      Hemelse Vader, ek loof U vir die voorreg om my begeertes in gebed na U te bring. Gee my die geloof om U te dank voordat U my gebede verhoor het. Amen.

      11 Januarie – Gebed verander jou

      11 JANUARIE

      Lees: Jakobus 4:1–10

      Gebed verander jou

      Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars … Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog. – Jakobus 4:8,10

      Wanneer jy deur ernstige gebed aan God verbind is, sal dit jou ook verander. Omdat jy so naby aan God leef, neem jy nou jou besluite anders, lewe jy op ’n ander manier as voorheen.

      In die vierde hoofstuk van sy brief beskryf Jakobus hoe mense lyk wat hulself en die wêreld liefhet. Hy vra gelowiges om eerder nader aan Gód te kom, en gee sy lesers die versekering dat wanneer hulle dit doen en hul sondes bely, God ook nader aan húlle sal kom. Wanneer jy tot God nader in gebed, kom God terselfdertyd nader aan jóú, leer ken jy Hom al hoe beter en verstaan jy ook algaande presies wat Hy van sy kinders verwag.

      Hemelse Vader, ek ervaar self dat gebed menselewens verander. Verander mý en wys my wat U van my verwag. Amen.

      12 Januarie – Vra gerus!

      12 JANUARIE

      Lees: Lukas 18:1–8

      Vra gerus!

      Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! – Lukas 18:7–8

      Alhoewel jy God nooit as ’n soort super-Krismisvader mag gebruik en van jou gebede lang lyste met nimmereindigende versoeke mag maak nie, mag jy wel vir God dié dinge vra wat jy regtig nodig het. Hy het immers beloof dat Hy in elkeen van jou behoeftes oorvloediglik sal voorsien. Elke Christen wat erns maak met gebed, sal kan getuig dat God antwoord wanneer ons bid; dat Hy soms ons gebede op so ’n letterlike manier beantwoord dat dit ons sprakeloos laat! Net soos die regter die lastige weduwee in vandag se Skrifgedeelte gehelp het omdat sy aangehou het met vra, kan God deur die aanhoudende gebede van sy kinders oorreed word om aan hul versoeke te voldoen. Bid dus onophoudelik, hou gerus aan om te vra, tot God jou antwoord. Die Bybel verseker jou dát Hy sal antwoord – en gou ook!

      Hemelse Vader, dankie vir u groot geduld met my; dat ek maar mag aanhou met vra, met die seker wete dat U my gebede sal beantwoord. Amen

      13 Januarie – Aanbid God

      13 JANUARIE

      Lees: Eksodus 4:27–31

      Aanbid God

      Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig. – Eksodus 4:31

Скачать книгу