Скачать книгу

my weer kry nie. Al wat ek te doen het, is om op een plek aan te bly tot hulle almal daar bymekaarkom en dit sal uiters drie dae neem. Ek gaan vir hulle in die Middelveld wag, en as die vyand ons daar kan vaskeer, sal hy slim wees. Die seur het nou self gesien dat hulle hele kommando nie in staat sal wees om my kindertjies aan te ja nie. Al skade wat hulle sal kan verrig, sal wees om sommige dood te skiet – en daar sal hulle voor moet betaal.”

      Dit het Gool ondubbelsinnig toegegee.

      Die laaste gebeurtenis van die groot slag wat Gool tot sy dood toe in sy geheue sou voer, het plaasgevind net toe hulle opstaan om te vertrek. Hulle gewaar skielik in hul onmiddellike nabyheid ’n geweldige geraas in die bosse. Dit was asof ’n afdeling ruiters met geweld ’n weg deur die ruigste haak baan. Vir ’n oomblik het dit ou Hendrik weer op sy hoede gestel. Met ’n handgreep druk hy Gool weer onder die takke van die stamvrugteboom, terwyl sy blink kraalogies die omgewing aandagtig beloer. Gool kon deur die takke ’n groot gedaante direk op hulle sien afkom. En toe die gevaarte net onder hulle klipstapel te voorskyn kom, word dit met ’n groot gelag deur ou Hendrik begroet.

      Dit was Generaal, die pragtige jong afrikanerbul wat Gool die vorige nag in die donker bewonder het. Om een horing was die helfte van ’n jas so vasgevleg dat hy tevergeefs getrag het om dit teen boomstamme en tussen takke af te skuur. Al twee horings, sy skof, en die een gespierde skouer was dik met bloed bevlek. Met gerekte neusgate en ’n sagte gebulk het hy sy vriend bo-op die rotse begroet. Ou Hendrik moes sy herneuter gebruik om die bul van sy lastige drag te verlos.

      “My offisier het hulle oorlogsvlag buitgemaak,” was ou Hendrik se opmerking.

      Alles het uitgekom net soos ou Hendrik belowe het. Die volgende dag was hy en Gool veilig in die Middelveld. Hier en daar het hulle patrollies gewaar op die spoor van die beeste. Maar dit was kinderspeletjies om van hulle ontslae te raak. Binne ses dae was die trop weer bymekaar sonder dat dit nodig was om ’n enkele een op te soek. Hy het hulle “op die haar” nagegaan en sy verslag was: ses afwesig, waarvan vier koeie was met weggesteekte kalwers wat later sou bykom; tien swaar gewond en ongeveer dertig met ligter beserings. Tien dae ná die “slag” het Gool sy perd, Kousband, weer in die hande gekry. Byna ’n maand later het hy sy kommando weer bereik, ná hy lank reeds deur sy makkers as “gesneuwel” of “vermoor” betreur was. Hy het op Kousband aangery gekom, bloots, sonder selfs tou-in-die-bek.

      Die leeus van Magoeba

      DIE LEEUS VAN MAGOEBA

      (’n historiese voorval)

      Die indoena Magoeba was ’n onderkaptein van die kaptein Sebasa, wat weer op sy beurt gestaan het onder die groot opperhoof Ramapoelana, koning van die Bawenda.

      Magoeba het oor ’n klein statjie in die berge geheers, op die uithoek van Bawendaland, na aan die Portugese grens. So afgesluit was hy deur magtige berge, klowe en oneindige houtbosse dat hy met die res van die nasie selde of ooit in aanraking gekom het, tensy daar ’n oproep was van die kgotla-raad van sy kaptein Sebasa, en dit het baie selde gebeur.

      En so het hy sy stat as ’n onafhanklike koninkryk regeer, want van sy doen en late het die groot stat selde of nooit berig bekom. Sy volk het bestaan uit hoogstens twintig huisgesinne, en die klein volkie was meer getrou aan hom as aan Ramapoelana self, wat by hulle slegs ’n naam was. Hy was sag van geaardheid, geen krygsman nie, en hy het nooit swaar gestraf nie. Dit word vertel dat hy nooit een van sy volk tot die dood veroordeel het nie, nieteenstaande hy die reg van dood en lewe in sy hand had.

      Hy was lief om lekker en gemaklik te lewe; om in die son te sit in die winter of onder die skadu van die kaptein se boom in die somer; met ’n bierpot naby sy regterhand en snuifhoring aan sy linkersy. Die bors van elke stuk wild was natuurlik syne en so ryk het hy mettertyd geword dat hy nooit sonder vet beesvleis in sy skerm was nie. Hy het tien vrouens gehad wat hom moes bedien en sy volk moes vir hom saai en oes, volgens gewoonte van die Bawenda, sodat hy nooit nodig had om van sy skerm te verroer nie. En op sy oudag het dit gekom dat hy baie vet geword het; so vet dat sy volk, as hulle met vreemdelinge gesels van Magoeba, gespog het. “Ons gosji is so vet,” het hulle beduie en dit het ’n spreekwoord geword onder die Bawenda.

      Hy kon lekker en baie lag, en was lief vir mense wat hom laat lag. In die vroeë môre as sy volk, by hulle vure, die “Ho! ho, ho, ha, ha,” uit die koninklike skerm van die kranse hoor weerklink, dan roep hulle groetend terug met luider stemme: “Groot wolf, seun van die Jakkals!”

      En Magoeba was lief om soos ’n koning te regeer. Hy het ’n kgotla gebou waarin vyf van sy ou volk sitting gehad het.

      In al sy lekker lewe was daar slegs een ding wat hom gehinder het, soos ’n doring diep in die hakskeen van die reisiger. Hy was bang vir towery. Dag en nag het hy aan die towery gedink en daarvan gepraat en al die beeste wat hy ooit uit sy krale uitbetaal het, was aan toordokters. Sodra hy hoor van een, by ’n ander Bawendakaptein wat ’n naam het vir wysheid en krag van medisyne, dan word boodskappers in aller yl gestuur, met ’n klompie vet vee om die dokter om te konkel om na sy stat te trek. So het hy dikwels in onvrede geraak met broeder-kapteins. Maar so veilig was hy tussen sy beskermende berge dat hy altyd lekker gelag het as dreigemente sy oor bereik van een of ander klein kapteintjie wat hy van sy dokter beroof het.

      Maar onder sy volk was die berig van die koms van ’n nuwe dokter altyd ’n treurmare. Nooit was ’n kaptein meer vrygewig dan Magoeba nie, waar dit sy nuwe dokter betref. Voor sy aankoms reeds was huise vir hom klaar. Sy skuur was met graan gevul, sy kraal met vee, en wat Magoeba met milde hand skenk, moes sy volk verskaf. Nooit het die gifte van sy eie werf gekom nie.

      “My kinders,” was hy gewoond om te sê, “ons moet die volk van Magoeba nie in die skande steek nie. Laat die volk anderkant die berg ons nie uitlag nie. Daarom jy, Rabenda, stuur dadelik die rooi vers met die bles en jy, Maneledi, uit jou tuin ’n seroet vol rooi bierkoring vir die dokter,” en so het dit voortgegaan en Magoeba het heinde en ver ’n naam gekry vir sy vrygewigheid.

      Wat sy ongelukkigheid dieper en groter gemaak het, was die feit dat hy nooit ’n dokter kon kry wat hom tevrede gestel het nie. Met die eerste vaart was niks te goed vir die dokter nie. Daar was elke dag presente van bier en vleis – ’n streep vroue wat aandra; en dan stadigaan het dit begin afkoel. Dingetjies gebeur, ’n bokooi van die kaptein vrek skielik van ’n onbekende kwaal, of Magoeba kry ’n aaklige gevoel in sy ingewande; ’n dowwe pyn met ’n bewerasie wat in geen woorde te beskrywe was nie. Gewoonlik was dit ná die maak van die nuwe bier. Daar was ’n spreekwoord onder sy volk: “Die drinkkalbas van Magoeba is groter dan die bierpot van Ramapoel.” Die dokter word in alle haas geroep, en van Magoeba gaan die woord uit: “My kinders, julle sien dat ek nooit verniet praat nie. Dit is klaar met my. Die towenaars het my beet.”

      Dolosse word gegooi, medisyne word gemaak, en as die aakligheid in die maag voortduur, soos gewoonlik gebeur het – dan moes die dokter maar weer die voetpad oor die berge trap, gewoonlik met soveel haas dat die graan en vee moes agterbly, wat die kaptein natuurlik in beslag neem.

      En dan kom daar weer droogte of te veel reën of ongedierte, die vee of een of ander ou afgeleefde sterf, en dadelik verdwyn die kaptein se vrolike lag.

      “Kyk,” sê hy aan sy kgotla, “kyk hoe hang my vel om my bene,” en hy trek aan die vetlae van sy romp. “Nou kan julle self sien wat dit is om getoor te wees. Help my, kinders, soek na ’n dokter. Verlang julle dat ek sterf?” En van alle skerms styg ’n gekerm van vrouens omhoog.

      En so het dit voortgegaan en voortgegaan. Een dag huil, die ander dag lag, en nooit ’n dokter wat kon help nie.

      ’n Lid van Magoeba se kgotla was ’n ou raadsman met die naam van Ra-Boelala-tata. Van hom het sy bure gesê: “Hy eet woorde en word vet.”

      Behalwe die kaptein self was daar geen man in Magoeba se stat wat minder gewerk het en lekkerder gelewe het as Ra-Boelala-tata nie. Behalwe een of twee bokooitjies en twee ou vrouens het hy niks besit nie. Niemand kon met sekerheid sê wie die vetste van die twee was, die kaptein of Boelala-tata nie . . . Wanneer die kaptein onder houtstomp van die towenaars lê, dan was daar geen twyfel nie. Die vet van Boelala-tata het nooit gesak nie. Niks het ooit sy slaap gestoor nie. G’n towenaar het hom ooit

Скачать книгу