Скачать книгу

en dit dan soos twee blikkies klink. Die kinders het natuurlik altyd probeer om Blikkies soveel moontlik in die klas te laat opstaan. Dit was groot pret om die blikkerige geluide te hoor.

      Blikkies kou altyd. As sy finansiële posisie gesond is, kou hy kougom – as hy platsak is, kou hy grashalms. Hy is duidelik op die oomblik platsak. Sy kakebene beweeg ritmies op en af soos hy aan ’n grashalm kou.

      Dawie is tengerig gebou, maar het wakker, ondeunde bruin oë. Hy is die een wat Trompie altyd blindelings volg. Dawie het eenkeer amper in die dam in die kloof verdrink, maar toe het Trompie ingespring en hom gered. Hy het natuurlik nooit vir Dawie gesê die een wat sy lewe gered het, was ook die een wat hom in die water gestamp het nie. Trompie het hom mos dadelik uitgehaal toe hy sien hy is in die moeilikheid, so dit maak hom nie minder van ’n lewensredder nie.

      “Wat doen julle?” vra Dawie nou.

      Trompie saag net. Hy antwoord nie. Rooie doen die praatwerk. Hy vertel vir hulle Trompie kry ’n mik vir sy kettie en voeg dan grinnikend by die Grootkaptein was so onnosel om die tak voor hom te begin afsaag terwyl hy sit op die stuk wat moet afkom.

      Blikkies en Dawie lag lekker.

      “Jy sou jou so dood soos ’n mossie geval het!” skree Dawie vir Trompie.

      “Los dit nou!” roep Trompie ondertoe. “Ons maak almal simpel foute.”

      Die drie kyk ’n rukkie hoe Trompie werk, dan vra Blikkies: “Weet jou pa jy gebruik sy saag?”

      “Nee, hoekom?”

      “Ons het gesien hy’s op pad huis toe.”

      “Wat?”

      Trompie kyk agterdogtig af na hulle om te sien of hulle nie met hom gekskeer nie.

      “Ja,” verduidelik Dawie nou, “ons het by die bank verbygestap net toe hy daar uitkom – en toe sien ons hom huis toe stap, maar toe loop hy vir Dominee raak en gesels eers met hom.”

      “Hy trek my velle van my lyf af as hy my met sy saag vang,” sê Trompie benoud. “Dawie, gaan kyk gou of hy nog met Dominee praat.”

      “As ek al twee my hande in die lug opsteek,” sê die intelligente Dawie, “beteken dit hy staan en gesels nog daar by Dominee en jy kan maar aanhou saag, dis nog veilig. Maar as ek net een hand opsteek, dan beteken dit hy kom huis toe.”

      “Oukei, Dawie,” sê Trompie vinnig. “Hardloop nou!”

      Dawie hardloop na die hoek van die straat. Trompie saag nou so vinnig as wat hy kan.

      Rooie en Blikkies hou Dawie dop. Hulle sal vir Trompie sê watter teken hy gee.

      Dawie kom vinnig om die hoek en loop hom vas in Trompie se pa wat van die ander kant af kom.

      “Wat gaan met jou aan?” vra meneer Toerien. “Hoekom is jy so haastig?”

      Dawie gee ’n verleë laggie. “Ek’t sommer net bietjie gehardloop. Om bietjie oefening te kry, Oom weet.” Sy een hand skiet hoog die lug in. Hy waarsku sy vriende dat meneer Toerien hier is – asof Blikkies en Rooie die petalje nie self met groot oë aanskou nie.

      “Jou pa! Hy’s daar by Dawie,” waarsku Rooie.

      “Hè?” vra Trompie verbaas. “Het Dawie net sy een hand in die lug?”

      “Ja,” sê Rooie, “en ons kan jou pa ook sien. Hy staan daar by Dawie.”

      Trompie hou op met saag. Hy kyk na die straathoek toe en sien sy pa by Dawie.

      Sy vriend se hand is nog steeds hoog in die lug.

      “Jissie!” sê Trompie. “Wat nou?”

      “Maak gou! Kom af daar!” sê Blikkies. “Dit lyk of Dawie jou pa probeer besig hou sodat jy ’n plan kan maak.”

      “Ek gooi die saag af,” sê Trompie hees vir Blikkies. “Steek dit iewers weg!”

      Trompie laat val die saag. Dit tref die grond met ’n harde geluid. Toe Blikkies dit opraap, sê Rooie vinnig: “Jou pa kom nou aan huis toe. Dawie praat nog aanhoudend, maar hy stap aan!”

      Trompie sien dit nou ook.

      “Maak gou, Blikkies!” skree hy hees. Blikkies sien ’n paar sakke ’n entjie van hom af in die hoek van die tuin. Hy steek die saag blitsig daaronder weg. Hy kom net mooi weer regop toe Trompie se pa die tuinhekkie oopmaak.

      “Middag, Oom,” groet Blikkies en gee ’n verbouereerde laggie. Hy staan met sy rug na die sakke toe.

      “Middag, Blikkies,” sê Trompie se pa. Hy frons effens.

      Die bankbestuurder wonder wat aan die gang is. Dawie het om die hoek in hom vasgehardloop en toe gesê dit is net “om bietjie oefening te kry, Oom weet,” en toe sonder ophou aanhou babbel oor hoe gesond oefening vir ’n mens is. En nou staan Blikkies hier in die tuin en lyk baie verleë.

      Meneer Toerien wonder waar Trompie en Rooie dan is. Die vier seuns is mos altyd bymekaar.

      Hy wil net vra waar die ander twee is toe Trompie uit die boom sê: “Middag, Pa,” en laggend maar ook effens verbouereerd byvoeg: “Heng, Pa het ons nie eens hier in die boom gesien nie.”

      Rooie groet ook vriendelik.

      “Hoekom sou ek julle gesien het?” vra meneer Toerien. “Ek loop en kyk mos nie heeltyd in die lug op nie.”

      Daar is nog steeds ’n frons op sy voorkop. Hy wonder hoekom Blikkies so skuldig daar in die een hoek van die tuin staan en Trompie en Rooie in die boom is, terwyl Dawie vinnig op en af met die sypaadjie langs hardloop, kastig vir oefening.

      Die bankbestuurder wonder met watter kattekwaad die vier besig is. Hy wonder nog meer en word nog agterdogtiger toe Dawie skielik hier langs hom sê: “Dis darem ’n heerlike, sonnige middag, nè, Oom?”

      Dawie het gevoel hy moet ophou maak of hy hardloop en vinnig iets sê. Hierdie stilte word nou amper ondraaglik.

      Meneer Toerien kan duidelik sien die seuns probeer iets wegsteek. Al vier gesels nou opgewonde oor hoe ’n heerlike, sonnige middag dit is.

      “Wat doen julle daar in die boom?” vra hy.

      “Ons sit sommer, Pa,” antwoord Trompie. En dit is mos waar.

      “Julle vang nie kattekwaad aan nie?”

      “Haai nee, jissie, Pa!” Trompie klink geskok dat sy pa so ’n vraag kan vra. “Ons sit sommer net hier. Waar sal ons nou kattekwaad aanvang?” Dan voeg hy vroom by: “Ons doen mos nooit so iets nie.”

      Dawie, Rooie en Blikkies knik heftig kop. Botter kan nie in hul monde smelt nie.

      “Hmmm,” brom meneer Toerien net en stap dan peinsend met die tuinpaadjie huis toe. Hy het werk van die kantoor af gebring wat hy hier by die huis wil klaarmaak. Hy gaan in sy studeerkamer werk.

      Nadat die bankbestuurder die voordeur agter hom toegetrek het, is die seuns ’n paar oomblikke lank doodstil. Trompie en Rooie sit nog steeds in die boom, Blikkies staan met sy rug na die sakke waaronder die saag lê en Dawie doen nou ’n paar strekoefeninge by die hekkie, net ingeval meneer Toerien miskien by die sitkamervenster uitkyk.

      Trompie is die eerste een wat iets sê.

      “Heng, dit was amper!” Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy voorkop.

      “Wat doen ons nou?” wil Rooie weet. “Hoe kry ons die saag terug in die werkkamer?”

      Trompie sit ’n oomblik en dink. Hy weet as sy pa so vroeg van die kantoor af kom, gaan werk hy gewoonlik in sy studeerkamer. Dit is natuurlik waar hy nou is – en die studeerkamer is mos aan die ander kant van die huis.

      “Dawie,” sê die Grootkaptein met ’n hees stem, “kruip om die huis en kyk of my pa in die studeerkamer is. Ek soek hierdie mik met ’n seer hart, maar ons moet eers doodseker maak my pa is binne besig voor ek weer aan die tak begin

Скачать книгу