ТОП просматриваемых книг сайта:
Trompie die reisiger (#21). Topsy Smith
Читать онлайн.Название Trompie die reisiger (#21)
Год выпуска 0
isbn 9780798154116
Автор произведения Topsy Smith
Жанр Учебная литература
Серия Trompie
Издательство Ingram
TROMPIE – Die reisiger
Topsy Smith
Die Trompie-reeks
1. Trompie
2. Trompie die stouterd
3. Trompie die soet seun
4. Trompie die hoërskoolseun
5. Trompie die dromer
6. Trompie die speurder
7. Trompie die kragman
8. Trompie die hartedief
9. Trompie die held
10. Trompie die mooi seun
11. Trompie die leier
12. Trompie die rugbyreus
13. Trompie die vegter
14. Trompie die krieketspeler
15. Trompie die filmster
16. Trompie die sakeman
17. Trompie die rebel
18. Trompie die waaghals
19. Trompie die sportman
20. Trompie die hanswors
21. Trompie die reisiger
22. Trompie die kaptein
23. Trompie die alleenloper
24. Trompie die atleet
1
’n Nuwe kettie
Die sestienjarige Trompie sit in sy kamer by sy tafel. Sy skoolboeke lê voor hom opgestapel. Hy moet huiswerk doen.
Trompie staar droomverlore by die venster uit. Hy het nog nie met sy huiswerk begin nie. ’n Mens moet darem eers ’n bietjie rus voor jy begin met die “slawewerk” soos hy en sy vriende dit deesdae noem.
Hy rus nou omtrent al twintig minute lank. Mense wat net sit en nie werk of lees nie kan in twee groepe verdeel word – dié wat sit en dink en dié wat sommer net sit. Trompie behoort tot die laaste groep. Hy sit sommer net.
Later begin hy verveeld raak en trek sy boeke met ’n swaar sug nader. Hy sal seker nou maar moet begin, anders gaan hy nooit klaarkry nie.
Trompie kyk na wat hy alles vandag by die skool in sy huiswerkboek neergeskryf het. Hy kan sy oë nie glo nie. Hoe langer hy kyk, hoe vroliker voel hy. Dit lyk of hy glad nie eintlik vanmiddag huiswerk het nie.
Hy lees hy moet geskiedenis leer – die gevolge van die Franse Rewolusie – maar hy ken daardie werk mos al. Hy het goed in die klas opgelet. Ja-nee, hy glimlag gelukkig, hy hoef nie vanmiddag geskiedenis te leer nie. ’n Mens leer mos nie iets wat jy al klaar ken nie.
Hy sien ook hy moet van bladsy 58 tot bladsy 63 in die Engelse voorgeskrewe boek lees en seker maak hy ken al die moeilike woorde daarin se spelling en betekenis.
“Dis onnodig,” brom Trompie by homself, “om daai bladsye te lees.” Hy het die hele boek mos al gelees en hy is seker juffrou Carelse sal nie een vraag vra wat hy nie kan antwoord nie. Hy is in elk geval ook mos ’n ou wat Engels “sommer properlies” kan praat soos hy homself en sy vriende gereeld herinner.
Hy is seker daar is nie een enkele Engelse woord op daardie bladsye wat hy nie ken en sommer net so uit sy kop vir die juffrou en sy klas sal kan verduidelik nie.
So ja, die Engelse huiswerk word met ’n potloodtikkie afgemerk. Trompie hoef dit nie te doen nie. Dit is natuurlik net bedoel vir die ape in sy klas wat net yus en no kan sê en begin hakkel as hulle twee Engelse woorde ná mekaar moet praat.
Trompie frons toe hy die volgende item op sy huiswerklys sien:
Algebra –probleme 12 en 13, bladsy 22.
Hulle moet hierdie probleme netjies in hul oefeningboeke uitwerk.
Trompie vryf sy hand oor sy deurmekaar hare. Hy is nie ’n lui ou nie en hy sal daardie probleme nou met die grootste lus en ywer aanpak en doen – as hy net geweet het hoe. Maar hy het nie die vaagste benul hoe om dit te doen nie. Toe die onderwyser vir hulle die huiswerk gegee het, het die Boksombende se Grootkaptein vlugtig na die twee probleme gekyk en sommer dadelik gesien hy kan nie kop of stert daarvan uitmaak nie.
En, dink hy nou, dit is mos tydmors om iets te probeer doen as jy voor jou siel weet jy kan nie. Wat help dit hy probeer nog?
Nee wat! Met ’n glimlag maak Trompie ’n potloodtikkie langs die algebrahuiswerk asof dit klaar gedoen is. Hy sal Dawie môreoggend voor skool vra om hom gou daarmee te help.
Die laaste item op die lys is ’n speltoets wat hulle gaan skryf en waarvoor hulle moet leer. Dit is Afrikaanse spelling. Die onderwyser het vir hulle vyftig moeilike woorde gegee om te leer.
Trompie beskou dit ook as tydmors om te leer hoe om Afrikaanse woorde te spel. Dit is mos sy moedertaal. Hy gaan nie eens na die lys woorde kyk nie. Dit is heeltemal onnodig.
Met ’n sug van verligting maak hy ook ’n tikkie langs die Afrikaanse huiswerk. So ja, dit is nou ook gedoen. Hy is klaar. Sy huiswerk vir vandag is agter die rug.
Nou pak Trompie sy boeke vinnig terug in sy boeksak. Behalwe die huiswerkboek het hy nie een ander boek oopgemaak nie.
Trompie het vanoggend in die skool gesit en dink wat hy vanmiddag eers gou gaan doen voor hy na Rooie, Blikkies en Dawie toe gaan. In die hoek van die Toeriens se voortuin staan daar ’n groot ou bloekomboom, en hy het gesien daar is ’n perfekte mik aan die punt van die een tak. Hy wil sy kettie regmaak en hy het so ’n mik nodig.
Trompie krap in sy tafel se laai rond en haal sy kettie uit. Hy het die ding lanklaas gebruik. Die kettie bestaan uit twee stukke rek wat aan elke kant aan mekaar vasgemaak is met ’n stukkie tou. Tussen die toutjies is natuurlik die velletjie waarin die “ammunisie” gesit word. Aan die ander punte is ook twee toutjies, maar hulle is nie aan ’n mikstok vas nie.
Die mik het gebreek en Trompie het nog nooit weer ’n ander een aangesit nie – maar nou gaan hy dit doen. Daar is mos ouens by die skool wat dink hulle is kastig wonderlik omdat hulle ketties het. Een ou het hom sowaar in die sangklas met ’n natgekoude stukkie papier agter die oor geskiet. Maar wag maar, dink Trompie en glimlag by hierdie gedagte, môre gaan daardie vent ’n ding sien wat hy nie graag wil sien nie.
Trompie stap kombuis toe om ’n skerp mes te kry. Dan gaan hy by die agterdeur uit en loop na sy pa se werkkamer toe. Hy soek ’n saag. Hy hoop maar net sy pa betrap hom nie. Hy het sy seun gewaarsku om nie ’n voet daar in die werkkamer te sit en met die gereedskap te lol nie. Maar, stel Trompie homself gerus, daar is niks om voor bang te wees nie. Sy ma is by ’n vrouevergadering in die kerksaal en sy pa is mos op kantoor.
Trompie stap fluit-fluit na die werkkamer waar sy pa houtwerk vir ’n stokperdjie doen. Meneer Toerien is ’n bankbestuurder hier in Kwaggaberg, maar in sy vrye tyd maak hy pragtige tafels en stoele.
Die sproetgesig se hande is diep in sy broeksakke. Sy pet sit skeef op sy ongekamde boskasie en sy hemp hang agter by sy broek uit en wip-wip oor sy sitvlak soos hy aanstap. Sy kouse lê soos gewoonlik op sy skoene. Hy loop en skop na blomme wat oor die voetpaadjie hang. Dit is mos nie mooi as die goed so daaroor hang nie. ’n Paadjie moet oop en skoon wees.
Trompie sal natuurlik nooit so na die blomme wat oorhang skop as sy ma hier is nie. Selfs noudat hy weet sy kan hom nie deur die venster dophou nie, kyk hy eers vinnig rond voor hy die blom wat hy netjies van sy stingel afgeskop het, opraap en dit dan oor die heining gooi.
Maar wanneer Trompie die werkkamer probeer oopmaak, sak sy hart in sy skoene. Dit is gesluit. Hy staan fronsend voor die deur. Hy wonder waar sy pa die sleutel gebêre het.
Dan besef hy die ding is seker aan die bos sleutels wat sy pa altyd saam met hom dra.
Trompie wonder nou of hy die