Скачать книгу

se praatjies is selde opheffend of ’n verheerliking van God.

      Vind jou vreugde in die Woord van die Here. Oordink dit dag en nag. Laat sy Woord die lig wees wat vir jou die lewenskoers aandui.

      Liewe Here, hou my tog weg van almal wat u Woord verontagsaam en laat ek dag vir dag my vreugde in u Woord vind. Amen.

      3 Februarie

      Soos ’n boom by ’n waterstroom

      Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. Psalm 1:3

      In Psalm 1 vind ons ’n wonderlike belofte vir mense wat hulle lewens in pas met God se Woord inruim. Hulle is soos bome wat by ’n waterstroom geplant is, vrugte dra en nooit verdroog nie. Verder is sulke mense voorspoedig in alles wat hulle doen.

      Vir die eerste hoorders van hierdie teks was ’n waterstroom niks minder as ’n bron van hemelse genade nie. Hulle het in woestynstreke gewoon en was vir oorlewing van water afhanklik. Die beeld wat die digter hier gebruik, het hulle hartsnare geroer: ’n boom by ’n standhoudende stroom water! Só is iemand wat sy groeikrag in God se Woord vind. Hy is gewortel in ’n lewensbron wat onuitputlik is. Maar meer nog: Die boom by die water se vrugte word gewaarborg. Mense wat in God se Woord geanker is, sal vrugte dra wat vir ander tot seën sal wees. Hierdie boom sal lewenskragtig bly en nooit verdor nie. Maar nóg meer: Iemand wat sy vreugde in God se Woord vind, sal voorspoedig wees in alles wat hy aanpak! Nee, dit is nie sommer net ’n skimbelofte nie; dit is God se woordbelofte. Indien jou hele lewe Skrifgetrou beplan en uitgevoer word, sal God self sorg vir voorspoed.

      Ons moet onthou om die volledige beeld in ons lewens toe te pas: Om uit die bron van die Woord te put, moet dit bewys word deur vrugte te dra. Voorspoed word gewaarborg vir mense wat Woord-getrou lewe.

      Here, voed my met u Woord sodat ek vrug kan dra tot u eer. Amen.

      4 Februarie

      Sug, roep en wag

      Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag. Psalm 5:2–4

      Kom ons onderbreek vir ’n paar dae ons fokus op die wonder van God se woord; kom ons luister na mensewoorde – woorde waardeur die versugting na God se helende Woord verwoord word.

      Die sugtende en roepende mens – is dit nie ’n treffende beeld van die mens in die algemeen nie? Ons sug omdat ons aan soveel ellende blootgestel word. Vir die Psalmdigters het dit hoofsaaklik oor vyande en siekte gegaan. Daar is soveel slegte dinge wat ons lewens versuur. Sovele onverstaanbare dinge. En ons sug van moedeloosheid. En ons roep tot God. Ja, as die moeilike omstandighede maar net telkens daartoe wil lei, naamlik dat ons in opregte afhanklikheid tot God sal roep. Die digter praat met sy Koning en sy God. Hy erken die Here met wie hy praat as die enige God, maar ook as die heerser oor sy lewe. Geen omstandighede of aardse magte is in beheer van sy lewe nie, maar God alleen. Hy is my Koning.

      As ’n mens só tot God bid, kan jy met vrymoedigheid saam met die Psalmdigter getuig dat God in die môre na jou luister, in die môre as jy in gebed tot Hom nader en op Hom wag. Onthou tog maar om op die Here te wag – wag in afhanklikheid en volkome vertroue. Want die Here hét geluister!

      Here, dankie dat U my hoor sug en roep. Ek wag op U. Amen.

      5 Februarie

      Gee my krag!

      Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang. Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het. Psalm 13:4–6

      Nog ’n benoude hulpgeroep: “Here, gee my krag!” En hoe goed ken ons nie dié versugting nie. Hoe dikwels bevind ons onsself nie aan die einde van ons kragte nie. Dit kan wees as gevolg van benouende omstandighede, siekte, of krisisse – al die goed wat ons kragte tap. Ons voel gedreineer en soms selfs deur die dood bedreig. Só het die digter gevoel. Sy lewe was letterlik op die spel. En sy dood sou ’n oorwinning vir sy vyande (en onregstreeks ook God se vyande) beteken. Gee my tog nuwe lewenskrag! Tot sover sy versugting. Besluit eers of jy jouself by geleentheid met dié man se stemming kan identifiseer.

      En dan, sommer so in dieselfde asem, kom hy met ’n vreugdelied vorendag. Ja, ek voel kragteloos, maar ek ken die Here, Hy sal my ondersteun. Ek hou vas aan sy troue liefde. My God is getrou aan sy beloftes. Hy laat nie sy kinders in die steek nie. Daarom juig my hart. En daarom sing ek sommer so deur my trane heen. Die Here het aan my goed gedoen. Hét gedoen? Ja, so seker is ek van my God se troue liefde.

      Hou ons nie te dikwels by die kragelose hulpgeroep op nie? Moet ons nie meer dikwels van klaagsang tot loflied oorgaan nie? Ons ken mos ons Here. Hy is en bly getrou aan sy beloftes. Sing tot sy eer!

      Here, dankie dat U luister as ek kla. Nou wil ek eers weer sing tot u eer. Amen.

      6 Februarie

      Blydskap en insig

      Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. Psalm 19:9

      En nou is ons weer terug by die Here se Woord – dié Here wat op mense se versugtinge antwoord. Die digter van Psalm 19 vertel vir ons wat die Here se Woord vir ons wil beteken. Dit is veel meer as ’n ligte vertroosting of bemoediging. Dit is ’n Woord met daadkrag wat dinge in ons lewens laat gebeur. Let op dat die digter aan die woord van die Here verskillende benaminge gee (wet, bevele, gebod, opdragte, ens.), maar dit gaan telkens maar net om een saak, naamlik die woord wat lewe gee uit die mond van die almagtige God.

      Ons hoor keer op keer dat die Here se Woord vir ons die regte koers aandui. Dit is rigtinggewend. Dit plaas ons op koers na die regte doelwitte. Is dit nie verbysterend hoe maklik ’n mens koers verloor nie? Daar is so baie dinge wat ons aandag aftrek en ons van ons doelwitte laat vergeet. Ons agenda raak mettertyd oorlaai met onbelangrike dinge wat algaande al hoe belangriker raak. Die Here se Woord wil ons op koers hou sodat ons gelukkige mense kan wees. Om jou doel te bereik, maak jou bly. ’n Vervulde lewe is ’n vreugdelewe.

      ’n Verdere pluspunt van God se Woord is dat dit vir ’n mens insig gee. Dit help jou om sake helder deur te sien en te weet presies watter besluite geneem moet word. En dit gebeur so omdat jy die Woord van die Here as betroubare maatstaf kan gebruik.

      Here, hou my asseblief aan die hand van u Woord op die regte koers. Amen.

      7 Februarie

      Kosbaarder as goud

      Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning. Psalm 19:10–12

      Die Woord van die Here dui nie net die regte koers aan nie, maar stel ook eise aan God se kinders. Ten einde op die regte koers te bly, moet jy bereid wees om reg te doen, om die woord van die Here te gehoorsaam. God se eise is altyd reg en regverdig. Hy stel geen eise wat nie in jou belang is nie. Die Here is nie ’n pretbederwer wat alles voor die voet verbied nie. Maar Hy is ook nie ’n lamsakkige vader wat om vredeswil net maar alles toelaat nie. Gehoorsaam gerus die Here se eise; dit is in jou eie belang. Dan sal jy vind dat dit baie kosbaar is.

      Wanneer die digter God se Woord as kosbaarder as goud bestempel, ken hy ’n waarde daaraan toe wat die hoogste materiële waardes oortref. Vir baie mense lê die waarde van die lewe in materiële sekuriteite opgesluit. Hulle sal feitlik alles prysgee net ter wille van materiële gewin. En in die proses sal God se wet ook nie veel punte tel nie. Die gelowige wat hom egter deur God se Woord

Скачать книгу