Скачать книгу

die jaar vir jou gaan verloop.

      Om die regte besluite te kán neem, het jy God se wysheid nodig. Die Griekse woord wat in ons Bybel met “wysheid” vertaal word, beteken eintlik om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Indien jy twyfel of jou besluite reg of verkeerd is, kan jy hulle aan God se Woord toets. Jy mag ook met vrymoedigheid vir God vra om vir jou wysheid te gee indien jy meen dat jy wysheid nodig het, “want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (Jak 1:5).

      Daar is egter één riglyn wat nagekom moet word: ’n Mens wat om wysheid bid, moet gló dat God hom daardie wysheid sal gee. Jy moet gelowig bid en nie twyfel nie, maan Jakobus in vers 6.

      Here, vandag wil ek bid dat U vir my wysheid sal gee sodat ek in die jaar wat voorlê met U hulp elke keer die regte besluite sal kan neem.

      Amen

      23 Januarie

      Laat God toe om jou te vorm

      Lees Jeremia 18:1-10

      Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel – Jer 18:6

squig.jpg

      Jeremia kry opdrag om na die pottebakker se huis te gaan. Daar sien hy hoe die pottebakker uit ’n mislukte skepping ’n kunswerk kan maak. Net só, sê God, is Hy met Israel besig. Indien hulle hul bekeer, sal Hy hulle nog ’n kans gee, en van hulle dié volk maak wat Hy wil hê.

      God is altyd skeppend met ons besig. In die begin het Hy ons na sy beeld gemaak. Ons was volmaak en sondeloos, totdat sonde die wêreld binnegekom en hierdie beeld geskend het. Nou word álle mense onvolmaak en sondig gebore. Gelukkig los God ons nie daar nie. Hy het sy Seun in ons plek gestuur om aan ’n kruis te sterf sodat ons sonde vergewe en ons weer heelgemaak kan word.

      God is ook in jou lewe aan die werk. Soos die pottebakker ’n verkeerde pot weer kan regmaak en ’n stuk vormlose klei in ’n kunswerk kan omskep, kan Hy jou na die beeld van sy Seun omvorm.

      Aan die begin van ’n nuwe jaar is dit nodig dat jy self sal besluit of jy Hom sal toelaat om van jou dié vrou te maak wat Hy bedoel het jy sal wees. Indien jy gewillig is, sal jy soos Israel van ouds jou lewe en jou dade moet regmaak. Sien jy kans?

      Hemelse Vader, ek wil graag hê dat U my sal vorm. Dankie dat U my sonde kan vergewe en my kan oormaak sodat ek dié mens sal kan wees wat U wil hê. Doen dit asseblief vir my, Here.

      Amen

      24 Januarie

      God maak jou voorspoedig

      Lees Esegiël 34:25-31

      Hulle sal besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is […] “julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God,” sê die Here my God – Eseg 34:30-31

squig.jpg

      In die Ou Testament word daar ’n voorwaarde gestel as God se volk voorspoed wil ervaar: Hulle moet besef God is by hulle om hulle te help, by te staan en te seën. Hulle moet ook onderneem om sy gebooie te gehoorsaam en sy verbond na te kom. Wanneer God vir Moses by geleentheid vertel dat Hy nie langer kans sien om saam met die ongehoorsame volk te trek nie, weier Moses summier om ’n tree sonder die Here te versit. Moses sê: “Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde” (Eks 33:16).

      Die andersmakende faktor in Israel se bestaan was die God wat hulle aanbid het. Ook jy het vir God in jou lewe nodig as jy vanjaar voorspoed wil ervaar. As jy daardie andersmakende faktor in jou eie lewe het, mag jy vanjaar op God se seën reken, kan jy vir seker weet dat Hy elke dag van die nuwe jaar by jou sal wees om vir jou te sorg. As dit van jou waar is, kan jy maar die onsekerhede van die nuwe jaar met groot vertroue tegemoetgaan. Jy het tog al dikwels in die verlede ondervind dat die Here jou gehelp en vir jou voorsien het – Hy belowe om dit ook in die jaar wat voorlê te doen.

      Hemelse Vader, dankie vir die versekering dat U in my lewe teenwoordig is. Help my om U te gehoorsaam, te dien en lief te hê, en maak my asseblief voorspoedig in die jaar wat voorlê.

      Amen

      25 Januarie

      Soek en dink

      Lees Psalm 105:1-8

      Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid. Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel – Ps 105:4-5

squig.jpg

      Die teksvers hierbo bevat twee werkwoorde wat vir jou baie kan beteken in die jaar wat voorlê, naamlik “soek” en “dink”.

      Soek die Here se teenwoordigheid, maan die psalmdigter. Sorg dat jy elke dag van die nuwe jaar genoeg tyd in jou besige program vir Hom opsy sit, anders gaan jy baie ontbeer.

      Die tweede ding waaraan jy aandag moet gee, is jou gedagtes. Dink gedurig aan die Here se magtige dade, aan die dinge wat Hy vir jou in die verlede gedoen het, aan sy wonders in die natuur. Hoe meer jy aan God dink en sy teenwoordigheid opsoek, hoe groter werklikheid sal Hy in jou lewe word.

      Tog is om God te soek en aan sy wonderdade te dink nog nie genoeg nie. “Dit gaan goed met die mens […] wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink,” skryf die psalmdigter (Ps 1:1-2). Behalwe om God se teenwoordigheid te soek en aan sy wonderdade te dink, moet jy ook nog sy Woord bestudeer en in jou hart bewaar. Wanneer jy dít doen, sal jy, soos Psalm 1 dit so mooi stel, wees “soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra”. Só ’n man, sê die psalmdigter, “is voorspoedig in alles wat hy aanpak” (vgl Ps 1:3).

      Vader, ek kom vra dat U my vanjaar sal help om u teenwoordigheid op te soek, om u dade te oordink en u Woord in my hart te bêre sodat ek voorspoedig sal wees in alles wat ek aanpak.

      Amen

      26 Januarie

      Gun ander hul voorspoed

      Lees Spreuke 11:25-31

      Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is – Spr 11:25

squig.jpg

      Christene behoort lig te loop vir die groenoog-monster. Dit is maklik om jaloers te raak as dit vir jou lyk asof almal óm jou meer voorspoedig as jyself is. Des te meer as dié voorspoedige mense nie eers Christene is nie! Dis eweneens moeilik om tevrede te wees met die stokou motor in jou motorhuis as jou buurman met ’n blinknuwe Duitse model by jou verby flits.

      Indien jy soms jaloers op ander is, is jy beslis nie alleen nie! Selfs Dawid, die “man na God se hart”, het in hierdie strik getrap: In heelparty psalms kla hy oor die voorspoed van die goddeloses. Ook Asaf skryf in Psalm 73:3: “Ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien.” Tog is die voorspoed van ongelowiges maar van korte duur en kan dit nooit opweeg teen die hemelse voorspoed wat daar vir God se kinders wag nie.

      “Afguns is om ander mense se seëninge te tel, pleks van jou eie,” sê Charles Colton. As jy weer in die versoeking wil kom om op ánder mense se voorspoed jaloers te raak, dink liewer aan al die seëninge wat God reeds aan jóú toevertrou het, en sê vir Hom dankie daarvoor. Kyk ook of jy nie vir iemand ánders goed kan wees nie. Daarna kan jy doen wat die wyse Spreukeskrywer jou aanraai: Gun ander mense hul voorspoed, dan sal jy self oorvloed hê.

      Here, vergewe my dat ek so maklik jaloers raak op mense wat meer as ek het. Maak my eerder dankbaar vir alles wat U vir mý gee, en help my om ander mense hul voorspoed te gun sodat ek self oorvloed kan hê.

Скачать книгу