Скачать книгу

      

      As jy ’n ster sien verskiet

      Maya Fowler

      Tafelberg

      1

      

      Die gesanik dryf straataf, maar dis nog altyd hard genoeg dat ek die kombuisvenster oopruk en my kop uitsteek. Daarvoor moet ek op my tone staan.

      Ek maak stukkies van die geskreeu uit: “Leeu, help! Oe! Aa!”

      Dit klink al omtrent soos ’n flippen ambulans. Maar wat ek nou voor my twee oë sien, is tog onmoontlik. Ons het nie eers ’n dieretuin op hierdie plek nie!

      Ek klouter oor die opwasbak sodat ek deur die venster kan spring. Ek weet, ek weet. Ander ouens gebruik die deur, maar ek’s te haastig. My tekkies tref die grond, dwaf, en ek tjek die omgewing uit.

      Nou toe nou. Dis al die tyd daai Lyle Benade-kind van straatop wat so te kere gaan. Hy’t sy skooluniform en als aan. Hy hol of hy vir die Springbokke uittraai, en sover is hy al een bruin Grasshopper-skoen kwyt. Kom daarvan dat daai ma van hom alles te groot koop. En agter hom is iets wat lyk na ’n jong leeu.

      Goeie hel, dit ís ’n leeu. Hoe’s dit ooit moontlik?

      Die leeu haal Lyle in en spring bo-op hom. Die bloed dreun in my oortromme terwyl ek na my asem snak. Rothmanstraat gaan nooit weer dieselfde wees nie.

      Ek kan seker hardloop en gaan help, maar ek het so ’n bietjie van ’n probleem wat maak dat wanneer ek regtig . . . wel, nou nie bang nie, maar onseker is, sommer net gaan staan soos ’n sementbeeld.

      Lyle gil en soebat. Die leeu spring op en af op sy bors en lek sy gesig. Bietjie vreemd vir ’n leeu, as jy my vra. Miskien is die ding nog ’n welpie. En dié is die soort ding waarvan Lyle se ma ’n video kan maak om hom by sy twenty-first mee te terg. As leeus nou sulke goed aangevang het . . . Aan die ander kant, hierdie leeu het al ’n dik boskaas maanhaar, alhoewel hy aan die klein kant is.

      My nuuskierigheid boul vir ’n slag my papbroekerigheid uit en ek hardloop na Lyle waar hy op die sypaadjie lê en ’n keel opsit.

      Wag ’n bietjie. Ek kom nader. Flippit, dié leeu is dan so groot soos ’n skaaphond. Die lag borrel by my uit. Ek lag só erg, ek moet my maag vashou. Lyle is nog aan die snuif toe die dier sy hand begin lek.

      “Lyle,” giggel ek met trane in my oë, “dis ’n blerrie hond, man!”

      Hy hap na asem en begin nog erger huil. Sy regterhand is besmeer met gesmelte sjokolade.

      Merkwaardig, sê ek jou. Ek weet nie, dalk is dit die nuwe mode. Of miskien probeer iemand hulle SPCA special se selfbeeld ’n hupstoot gee, maar dís nou vir jou ’n stuk snoeiwerk.

      Die hond, ’n geel wolhaarbrak, was duidelik by een of ander haarkapper. Ek ken die snit. En dis nogal wat hulle ’n lion cut noem. Ek weet, want een vakansie het ek help honde was by tannie Bella Kruger se hondesalon in Op-die-oewerstraat. Daar was ’n vreeslik deftige vrou wat haar poedel ingebring het vir dié styl. Jy maak so: skeer die hele hond, behalwe waar die maanhaar sou sit as dit nou ’n leeu was. Die stert skeer jy amper kaal, maar jy los so ’n pompom aan die punt. Dis wat met hierdie hond gebeur het.

      “Jissie, Lyle, wat maak jy in elk geval dié tyd van die oggend hier?” vra ek. Asof ek nou skielik hoofmeisie is.

      “Ek was laat vir skool. En toe . . . en toe . . .” Hy sukkel om te praat tussen die gehyg deur. Sy wange is vol strepe, soos slakpaad-jies deur die stof.

      “En toe’t jy langs die pad ’n stukkie tjoklit raakgeloop.”

      Hy wys na die pepermentgroen huis aan die bopunt van die blok. Oukei, dit maak sin. Dis ou Moses se huis, en almal weet Moses se vrou hou swiets op die stoeptafel aan.

      Moses se regte naam is Boet van Vuuren, maar almal noem hom Moses, behalwe wanneer hulle met hom self praat. Hy’t die naam jare gelede opgetel toe sy rooibruin baard verby ’n sekere punt begin groei het en sy hare al verby sy kraag getrek het.

      Moses werk van die huis af. Dit was omtrent ’n storie met die munisipaliteit, want hulle sê residensieel is residensieel, maar op die ou end het hy gewen. Hulle het oë toegeknyp oor dit ’n herstelbesigheid is, en nie ’n winkel waar mense heeldag kom en gaan nie.

      “Dis nie asof ek onder ’n bleddie kar lê en geraas maak nie, of hoe?” sê hy.

      En dis waar, dis nogal stil, die herstelwerk aan wasmasjiene en DVD-spelers en mevrou Fourie se kassetspeler (wat sy al net sowel in Beulah de Kok se antiekwinkel kan gaan los, maar nee, die ding moet reg, want al haar Bles Bridges-albums is nog op tape).

      Ek lag nog vir Lyle en die hond.

      “Jy kan seker nou maar gaan,” terg ek, en hy skarrel weg terwyl ek die hond tussen sy ore kielie.

      Net toe kom Moses by sy huis uit en tuur straataf.

      “Simba!” bulder hy. “Kry jou lyf hier, man!”

      Die hond trippel in die rigting van die groen huis, en ek stap agterna.

      “Môre, oom,” groet ek.

      “Dag!” brom hy. “Jis, jy weet, dié hond. Raak nog gewoond aan sy nuwe naam. Was altyd Oscar gewees, voor die beauty parlour hom in die hande gekry het.”

      Ek staan en glimlag oor die hele besigheid. Ek’s baie dankbaar dat daar vir ’n verandering iets is om oor te lag.

      “Dis ’n oulike haarstyl, oom. Het jy hom na tannie Bella toe gestuur?”

      “Ja, jong, jy weet mos. Die hele dorp weet ek het al hierdie goed hier. Dis goed wat mense wil steel! En dan los die blerrie ouvrou ook nog haar lekkers hier op die stoep vir ingeval die dominee hier aankom of iets. Dis ook nou ’n ding wat slegte elemente kan lok.”

      Hy klop Simba teen die blad. “Security,” lag hy. “Nou moet ek die ou nog net leer om die regte skollies te vang.”

      2

      

      Oukei, so wil jy hoor hoekom ek op ’n Dinsdagoggend by die huis sit, terwyl ouens soos Lyle Benade in die skool moet wees? Wil jy hoor hoekom hulle my uitgeskop het? Nou ja.

      Dit het klein begin. Toe ek, glo dit as jy wil, my hare swart gekleur het. Ek’s ’n natural blonde, wat beteken dat dit nogal ’n drastiese verandering was. Hulle’t my by die skool gesê ek beter ontslae raak daarvan, maar ek was platsak, en my ma ook. Toe kry ek ’n finale waarskuwing, sien. Soos ’n geelkaart of iets. Teen daai tyd het die wortels al begin uitgroei, en mense het my Sebra begin noem. Dit het my soort van laat stres, jy weet?

      Toe klim ek een aand ná kooroefening op die skoolsaal se dak om bietjie boom te rook. Ek het dit uit my ma se klein fluweelsakkie gesteel. Flippit, man, dit was maar net die tweede keer dat ek dit probeer het, en toe, kaboem, daar vang hulle my. Nou ja, dis toe neusie verby. Geskors. Kan jy dit glo? Oukei, oukei, nie heeltemal geskors nie. Net tydelik. Met helse waarskuwings. Maar dis erg genoeg. En dis hoekom ek nou bietjie van ’n blaaskans vat.

      Nou soos ek gesê het, sit almal op die oomblik in die skool. Behalwe natuurlik ek, want ek mag eers teruggaan wanneer ek my wilde gedrag laat staan het en iets gedoen het omtrent hierdie swart boskaas.

      Ek stap suutjies by Wayne se kamer verby, maar loop my in ’n versameling windklingels vas toe ek die agterdeur toetrek. Verdomp.

      Ek los die deur oop. Ons sluit nie deure hier rond nie. Ek strompel teen die helling langs die huis af en laat rammel die hek agter my toe. Dan loer ek oor my skouer. Jissie, ek hoop regtig ek het hom nie wakker gemaak nie.

      Die dennebome voor ons huis staan doodstil. Hulle gee ’n reuk af wat ek net as donkergroen

Скачать книгу