Скачать книгу

ction>

      

      Ontmoet my in Patong

      Medeleine Malherbe

      Hartklop

      ~ 1 ~

      Laura wag twee volle lang dae voor sy Dries van die e-posuitnodiging vertel.

      “Ek dag jy het die tsoenami-spulletjie verwerk en aangegaan met jou lewe,” brom hy. “En wat van Kersfees? My ma staan reg met groot gedoentes. Ek sal nie in Desember kan wegkom om vakansie te gaan hou nie. Jy weet ek skryf deesdae kliphard aan daardie boek wat einde Januarie moet klaar wees. Maar ek belowe, ons kan daarna bietjie wegbreek. Miskien Kaap toe.”

      “Ek onthou van die boek, ja. Die hoofstuk oor binnelandse handel,” sê sy.

      Hy moet darem kan sien sy stel belang. Sy sê nie dat sy hom in elk geval nie saamgenooi het nie. Sy vertel hom nie dat dit ’n pelgrimstog gaan wees nie. Sy alleen met haar gedagtes en haar gevoelens. Sy en die een ander mens wat dit saam met haar beleef het.

      “Sal ons vanaand die opening van Sybil se uitstalling by die galery gaan bywoon? Ek hou nogal van haar goed,” verander Dries die onderwerp en wys haar die advertensie in die koerant.

      Gelukkig vra hy nie verder uit oor haar reisplanne nie. Hy neem seker aan, mymer sy, dat sy aan hom en sy ma sal dink en ’n Kersvakansie weg van hom af glad nie eens sal oorweeg nie.

      Laura is nie lus om aan Dries se ma te dink en hoe teleurgesteld sy sal wees nie. Sy neem gewoonlik ander mense in ag: dis hoog tyd dat sy ’n slag net aan haarself dink, praat sy haarself moed in. Sy het bekommernisse oor haar werk en haar loopbaan, dinge wat vir ander mense minder belangrik lyk, maar wat haar hinder.

      “Ek weet nie wat my so bang gemaak het om vir Dries te sê van die uitnodiging nie,” erken sy die volgende dag in die woonstel teenoor Zelda. “Hy het hom toe nie veel daaraan gesteur dat ek Phuket toe wil gaan nie. Dis nie asof hy ’n bohaai opgeskop het nie. Miskien het hy sommer aangeneem dis net ’n gier en dat ek nie sal gaan nie.”

      “Ag, ek beny jou so,” sug Zelda opnuut. “Ek sou só graag weer wou gaan. Maar ek weet waarom jy hom nie wou vertel nie: jy is natuurlik bang hy maak die wêreld vir jou moeilik as jy alleen oppak en die pad vat. Jy het deesdae so baie dinge om uit te sorteer; miskien help die wegbreek jou. Jy sê jy wil nie nou nóg moeilike besluite neem nie. Jy raak saans gedaan aan die slaap en skrik drie-uur in die oggend wakker en begin tob oor al die dinge wat jou pla.”

      Zelda stryk al pratende gou haar nuwe blou rok. “Wil jy ook stryk?”

      Toe Laura net haar kop skud, skakel sy die yster af en kom teenoor haar woonstelmaat sit.

      “Dit kan ook wees dat jy so sleg voel omdat jy onttrekkingsimptome het. Jy het maar pas, ’n skrale twee weke gelede, jou laaste sigaret gerook en die halfvol pakkie in die vullisblik gesmyt. Dís wat jou pla,” sê sy beslis. “Jy soek na iets in die plek van die sigarette. Daar ontbreek iets, en dis daardie gifpyltjies. Maar jy sal hierdeur kom, ek belowe jou. Jy gaan nie weer begin rook nie. Kom, ek maak vir ons tee.”

      Hoewel Laura ewe gedweë saamstem, weet sy dat die nare onttrekkingsimptome nie ál oorsaak vir haar onrus is nie.

      En dié bekommernisse beïnvloed tog haar verhouding met Dries, weet sy. Dis of sy op die oomblik nie meer lekker met hom uitgaan nie. Sy is heeltyd haastig, en al die afsprake met hom voel vir haar te lank. Sy wil heeltyd teruggaan huis toe en haar eie ding gaan doen, haar eie gedagtes gaan dink, haar kaste gaan regpak, haar ma gaan bel.

      Dis of sy heeltyd lysies maak in haar kop van dinge waaraan sy moet aandag gee. Tussendeur steek sy kort-kort haar hand uit na ’n sigaret – om net te besef sy is klaar met die rookgewoonte. En dit is op sigself ’n oorlog, dertig maal per dag.

      Op die oomblik is haar grootste bekommernis egter of sy Thailand toe moet gaan of nie. Dis wat haar gedagtes oorheers.

      Sy gaan sit voor haar rekenaar en maak weer die e-pos oop.

      Liewe Laura

      Ek hoop dit gaan met jou goed daar in die verre land in die suide, die wonderlike sonnige Suid-Afrika. Hier by ons is die lekker herfsweer verby en is daar nie ’n dag dat dit nie reën nie. Nie die vinnige buitjies wat ons op Phuket gehad het nie, sommer aanhoudende gereën die hele dag, en bitter koud daarby.

      Ek dink so baie aan jou en daardie traumatiese dag toe jy my lewe gered het. Nie elkeen sou so kop gehou het soos jy en ’n plan met my gemaak het nie. Nie elkeen sou agterna keer op keer teruggekom het na my in my hospitaalbed en my so daadwerklik ondersteun het nie. Nie almal sou in daardie land agtergebly en siek mense verpleeg het soos jy nie. Die meeste mense het hulle bene afgehardloop, weg van die gevaar af, die eerste vlug uit daardie arme geteisterde landstreek gehaal en nooit verder betrokke geraak nie. Jy was ’n ligstraal in ’n baie donker wêreld.

      Nou het ek vir jou ’n voorstel: ontmoet my in Patong ’n jaar ná daardie dag. Dan gaan ons terug na daardie straatjie, na daardie hoekie. Dan kyk ons hoe lyk dit nou daar. Dan dink ons na oor die wonder van gespaarde lewens en ons steek ’n kers aan vir die toekoms.

      Ek weet dis kort kennisgewing om verlof te reël en so aan, en dis dalk moeilik om vir ’n tweede Kersfees na mekaar weg te wees van jou ouers. Of is daar dalk deesdae ’n ander spesiale dierbare wat laas jaar nog nie in die prentjie was nie? Ek weet jy was laas jaar saam met vriendinne op reis. Maar wat ook al jou omstandighede, ek dring aan dat jy moet kom, met of sonder ’n metgesel. Ek het gekyk na vlugte en dit lyk asof jy van Johannesburg af tot in Singapoer kan vlieg en van daar af met Silk Air na Phuket. Ek ontmoet jou dan in Patong vir ons “pelgrimstog”. Jy moet asseblief kom, en jy moenie lank wag om te laat weet nie. Ek is bang die vlugte raak heeltemal vol en ek wil sommer binne ’n dag of wat die kaartjies koop, vir ons hier van Engeland af en vir jou van Johannesburg af. En kamers bespreek in ’n lekker hotel. Miskien die Seaview waar ons groepie laas gebly het, ek sien hulle het intussen heropen.

      Asseblief, Laura! Ek nooi jou en jy móét net ja sê.

      Francis Dobson

      Asof sy nie genoeg het om aan te dink nie! Dis maar ’n skamele twee maande voor die tyd. As sy sou gaan, moet die plekke sommer nóú bespreek word. Sy wens dit was ’n jaar vroeër, toe sy sommer impulsief ná die eindeksamen kon planne maak en saam met Zelda en die ander twee gaan vakansie hou het. Toe was daar nie ’n spesiale vriend en omstandighede om in ag te neem nie. Toe was Braam pas weg Engeland toe en het sy nog gedink hy kom oor ’n jaar terug na haar toe.

      Hoe verder die week aanstap, hoe meer dink sy dat dit tog die regte ding sal wees om te doen. Gaan Phuket toe, gaan rus vir ’n week of tien dae, kom weg van die hospitaal, die bitterbek-saalsuster, die gevare hier in Pretoria, die onrustigheid oor Dries wat soveel van haar eis.

      Gaan maak kop skoon in ’n idilliese eilandparadys, moedig sy haarself aan. Wanneer sy dan terugkom, sal sy aan Dries verloof raak en desnoods van werk verander, al die ingrypende dinge doen waarvoor sy nie nou kans sien nie. Sy is nou net moeg, moeg, moeg, en dis wat haar so besluiteloos maak. ’n Heerlike vakansie sal haar nuwe perspektief gee.

      Ek sal kom, laat weet sy later die aand, en jou in Patong ontmoet. Op die 26e Desember so om en by elfuur die oggend, voor die Kodak-winkeltjie.

      Saam met die ritmiese klikketie-kliek van haar naels op die rekenaar se toetsbord kom daar ’n opgewondenheid in haar op. Sy weet skielik dat dit die regte ding sal wees om te doen. Sy sal verlof vra en gaan, en as hulle haar verlof weier, sal sy summier bedank. Dan is die besluit oor haar werk ook sommer vir haar geneem.

      Sy ry die volgende oggend vroeg werk toe. Daar is die gewone geskarrel van nagpersoneel wat haastig is om by die huis te kom, en dagpersoneel wat op die laaste nippertjie uit die reën ingehardloop kom om oor te neem.

      “Mevrou Mabola is weer sieker,” sê suster Sonnekus met haar blik op die pasiënt se kaart. “Hou tog in hemelsnaam haar bloeddruk goed dop. En sorg dat dokter Beneke haar sien die oomblik as hy sy oë hier wys. Hy is glo op pad.”

      “Kom, verpleegster Els!” hoor Laura die dagskofsuster in die gang roep. “Verbeel ek my of is jy laat?”

      Laura

Скачать книгу