Скачать книгу

as een van hulle verhuur word …”

      “Gaan dit help, Tau?”

      “Ek verstaan nie.”

      “Gaan dit help om iemand in een van daardie huise te kry? Nog ’n paar foto’s van hoe hulle in en uit. Maar dit gee ons niks nuuts nie. Ons wil weet wáároor hulle praat.”

      “Mevrou, ons beplan darem heelwat meer as net ’n kamera.”

      “O?”

      “Ons gaan selfoonantennas oprig, paraboliese mikrofone …”

      Mentz maak ’n handgebaar wat sê dit sal nie veel help nie.

      Masilo laat hom nie van stryk bring nie. “Kyk byvoorbeeld hier, teen die voorste muur. As ons een van hierdie skroewe kan vervang met ’n elektro-akoestiese mikrofoon …”

      “As?”

      “Mevrou, u weet tog, ons het eers nodig om observasie te doen.”

      “Tau, soms kry ek die indruk ons speel. Met al die tegnologie, met die idee van spioenasie. Dit is tog so filmies, soveel pret en opwinding. Maar as dit by resultate kom, skiet ons tekort.”

      “Ek wil beswaar maak …”

      “Jy kan soveel beswaar maak as wat jy wil, maar sê my, waar is die resultate? Ons het vir Ismail Mohammed aan die binnekant gehad, ons het probeer afluister met tegnologie wat ek soms nie heeltemal verstaan nie, en hier sit ons. In die duister.”

      “Darem nie heeltemal nie.”

      Janina Mentz grynslag en skud haar kop. “Bring vir my resultate, Tau.”

      Hy glimlag vir haar. “Ons sal.”

      * * *

      (19 Augustus 2009. Woensdag.)

      “Sou jy jouself as ambisieus beskou?” vra die moederlike, middeljarige mev. Nkosi.

      Milla dink voor sy antwoord, want sy vermoed dit is ’n strikvraag. “Ek glo dat as ’n mens hard werk, as jy jou verantwoordelikhede getrou en na die beste van jou vermoë nakom, sal jy sukses behaal.”

      Mev. Nkosi sê weer ingenome “uh-huh” en skryf iets op haar dokumente. Dan kyk sy op. “Vertel my so ’n bietjie van jouself. Jou agtergrond.”

      Milla het dit verwag, sy het daarop voorberei. “Ek is op Wellington gebore, ek het daar grootgeword en daar gematrikuleer. My ma was ’n huisvrou …”

      “ ’n Tuisteskepper,” sê mev. Nkosi, asof dit die edelste van beroepe is.

      “Ja,” sê Milla. “En my pa was ’n sakeman, kan ’n mens seker sê …”

      * * *

      Operasie Shawwal

      Transkripsie: Meeluistering, M. Strachan. Daven Court no. 14, Davenportstraat, Vredehoek

      Datum en tyd: 7 Oktober 2009. 23:09

      MS: Hulle was twee Boere-hippies, hy en my ma. Baie eksentriek, baie anders as ander kinders se ouers. Ek weet nog steeds nie of dit … watse invloed dit op my gehad het nie. Daar was ’n tyd toe ek so skaam was vir hulle … Ek bedoel, my ma was … Sy het partykeer kaal in die huis rondegeloop, as ons alleen was. My pa het nou en dan dagga gerook. In die sitkamer. Hy’t van die huis af gewerk. Die garage was sy werkswinkel. Hy het kasregisters reggemaak, aan die begin. Toe rekenaars … Hy was … nie net eksentriek nie, hy was slim. Hy het baie wyd gelees, wetenskap, geskiedenis, filosofie … Hy was ’n groot aanhanger van Bertrand Russell, hy het homself ook beskou as ’n relatiewe politieke pasifis, sy gunsteling-aanhaling was “free intellect is the chief engine of human progress …”

      * * *

      “Ek is getroud die jaar wat ek met honneurs in joernalistiek klaargemaak het. En swanger geraak. Toe tuisteskepper …” en sy laat die woord met ’n verleë glimlag tussen hulle hang, omdat dit mev. Nkosi s’n was. “… vir sewentien jaar. En nou is ek weer op my eie. Ek moet ook sê, ek is nog nie amptelik weer Strachan nie. Dit is my nooiensvan, maar die egskeiding is nog nie deur nie …”

      “Good for you,” sê mev. Nkosi. “Hoe lank is jy al op jou eie?”

      “Al ’n hele paar maande.” Die leuen uit nood gebore.

      “Good,” sê mev. Nkosi. Milla weet nie waarom nie. Die hele ervaring het vir haar ’n sekere surrealisme. Die personeelagentskap is ’n teleurstelling. Op die vyfde verdieping van ’n sjarmelose gebou in Waalstraat, die letters op die deur is klein en verbeeldingloos. Perfect Placement. Employment Brokers. Die meubels en dekor is sonder karakter, vaagweg neerdrukkend. Sy wonder steeds vir watter publikasie die pos dan kan wees. ’n Klein industrie-tydskrif? ’n Nuwe, gratis voorstedelike koerantjie?

      Vir meer as ’n uur en ’n half gesels hulle, dwaal af na byna apologetiese verkennings van haar agtergrond, haar persoonlikheid, haar sienings en ideologieë, elke antwoord beloon met ’n “good”, ’n gefassineerde “uh-huh” en soms ’n “wonderful”, asof dit perfek en nommerpas-reg is.

      Eindelik: “Is daar iets wat jy vir my wil vra?”

      “Ek sal graag wil weet vir watter publikasie die pos is.”

      “Om met jou eerlik te wees, dit is nie vir ’n publikasie as sodanig nie. My kliënt het joernaliste in die eerste plek nodig vir hulle vaardigheid met die prosessering van inligting. En natuurlik goeie skryfwerk.” Mev. Nkosi raadpleeg haar notas. “Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees vir die assimilasie en strukturering van feite, en die skryf van bondige, duidelike en leesbare verslae vir senior bestuur. Die verslae speel ’n kardinale rol in die instansie se besluitneming.”

      “O.” Die teleurstelling slaan deur.

      “Dis ’n belangrike pos,” sê mev. Nkosi.

      Milla knik ingedagte.

      “Jy sal presies dieselfde verdien as iemand in die media. Selfs ’n bietjie meer.”

      “Watter instansie is dit?”

      “Ek is nie by magte om dit nou al bekend te maak nie.”

      7

      Fotostatiese rekord: Dagboek van Milla Strachan

      Inskrywingsdatum: 20 Augustus 2009

      Die eerste ses danslesse afgehandel, die bekendstellingsiklus, en amptelik oorhandig aan mnr. Soderstrom, my nuwe, langtermyn-instrukteur. Ek weet nie wat sy naam is nie, dit is Arthur Murray-konvensie, die ouwêreldse aanspreekvorms, “meneer” en “mevrou” en “juffrou”, die galantheid, die waardigheid. Mnr. Soderstrom is skraal en so ’n verskriklike goeie danser. Ek het hom gevra, ná ’n sessie van sweet en sukkel, of hy dink ek sal kan? “O ja,” het hy gestraal, “jy gaan dáns!”

      Hy sê dit sekerlik vir al sy studente.

      Het drie ure lank voor die rekenaar gesit, probeer skryf aan die boek. Niks. Is daar skoolfigure vir skryf, die aanpak van ’n roman gereduseer tot one-two-three-backstep vir leke? My gedagtes het gedwaal na vreemde plekke. Die aard van vryheid, die relatiwiteit daarvan. Vryheid, gebonde deur gewete, deur verlange, deur skuld en afhanklikheid aan geld en stimulasie en struktuur en talent en doelwitte. En moed. Ek het dit verloor, iewers in die noordelike voorstede, jare gelede.

      * * *

      (24 Augustus 2009. Maandag.)

      Milla is in die Pick n Pay in die Tuinesentrum toe Kemp, die prokureur, bel.

      “Twee goed. Hier is ’n brief van jou seun. Vir jou. En Christo het gebel, baie kwaad. Hy sê daar het mense hom kom sien, by die werk. Oor jou klaring.”

      “My klaring?” Heeltemal oorbluf.

      “Jy het blykbaar iewers aansoek gedoen vir werk.”

      Sy stoei om die kloutjie by die oor te bring.

      “Het

Скачать книгу