Скачать книгу

      ’n Finale faktor was die parlementêre aanvaarding van POCA (Prevention of Organised Crime Act), omvattende wetgewing wat byvoorbeeld aan die Staat die reg gegee het om beslag te lê op die bates van bendebase en hul meelopers.

      • Die Restless Ravens

      Die Restless Ravens was ’n relatief klein maar baie doeltreffende straatbende wat in die vroeë negentigs hoofsaaklik in Manenberg, Bonteheuwel, Bishop Lavis, Heideveld, Surrey en Primrose Park aktief was.

      Hul leier was die meedoënlose, ambisieuse en hoogs intelligente Willem (Willy) “Tweetybird” de la Cruz (53), wat toe reeds twee keer tronkstraf uitgedien het vir aanranding (1978 – 1981) en roof (1983 – 1988). Hy het sy bynaam te danke aan sy stokperdjie, die teel van budjies, maar ook die ritueel om ’n lewende voël in die mond te plaas van verraaiers nadat hy hulle om die lewe laat bring het.

      De la Cruz en die Restless Ravens het grootliks baat gevind by die chaos wat Pagad in 1996 veroorsaak het. Juis omdat hulle kleiner was en dus as ’n mindere bedreiging gesien is, het Pagad hulle meestal met rus gelaat. Die Ravens het nie net dié tydperk oorleef nie, maar ook as gevolg van die vigilante-optrede nuwe werwings- en afsetgebiede bekom.

      De la Cruz was ook een van die stigterslede van CORE, en het met sy goeie onderhandelings- en netwerkvaardighede eindelik ’n sleutelrol in dié alliansie gespeel. Daarby het hy vroeg reeds die bedreiging van die POCA-wetgewing en die toepassing daarvan deur die spesiale ondersoekeenheid, die Skerpioene, raakgesien.

      Sy vrees dat die owerhede beslag kon lê op sy aansienlike finansiële en eiendomsbates het hom genoop om twee belangrike aanstellings te maak – elke keer ’n vertroueling wat hy in die gevangenis ontmoet het.

      Die eerste was ’n rekenmeester, die voormalige boekhouer Moegamat Perkins (49, bedrogvonnis uitgedien van 1982 – 1988), wat moes verseker dat die Ravens se bates eerstens nie op De la Cruz se naam is nie, en tweedens só gestruktureer is dat beslaglegging haas onmoontlik sou wees.

      Die tweede aanstelling was dié van ’n generaal, ’n sterkman wat met moord, aanranding en intimidasie die Ravens se gesag kon afdwing, maar ook ’n teenwig om te verseker dat die rekenmeester Perkins se invloed beperk word. Sy keuse het geval op Terrence Richard Baadjies (50, “Terry”, “Terror”, “The Terrorist”) – tot ’n jeuginstansie gevonnis vir moord op ouderdom 15, dien daarna gevangenisstraf uit vir handel in verbode middels, aanranding met die opset, en manslag.

      Albei aanstellings was meesterskuiwe. Toe die Skerpioene en veral die SAPD se Eenheid vir Georganiseerde Misdaad in die tydperk 2000 tot 2006 op byna R200 miljoen se bendebates in die Kaapse Skiereiland beslag gelê het, was die Ravens onaantasbaar.

      En met Terror Baadjies en sy soldate wat voortdurend gereed was om benadeelde sindikate se werksaamhede met geweld oor te neem, het die Restless Ravens in dieselfde tydperk tot een van die suksesvolste misdaadorganisasies in die Kaap ontwikkel. De la Cruz se prominensie in CORE het ook ’n verdere hupstoot gekry.

      Die Ravens se werwing onder jong bruin mans op die Kaapse Vlakte is ook aansienlik aangehelp deur die sosioëkonomiese agteruitgang van dié gemeenskap sedert 1994. Van die belangrikste bydraende faktore is:

      o Die dwelm tik: 91% persent van alle tikafhanklikes is bruin – met ’n gemiddelde ouderdom van 16,6 jaar.

      o 18% van alle bruin jeugdiges tussen 14 en 34 is in gevangenskap weens misdaad.

      o 21,8% van bruin jeugdiges op ouderdom 16 is nie op skool nie.

      o 48% van die breë bruin gemeenskap is ekonomies onaktief of werkloos. (Uit ’n totaal van 2,7 miljoen is 975 000 ekonomies onaktief en 340 000 werkloos.)

      • Ten slotte:

      Die Restless Ravens se sukses (en POCA-ontduiking) het nou dalk juis die soort aandag getrek wat hulle nie wou hê nie. Volgens ’n onlangse berig in Die Burger (28 Augustus 2009) het die nuwe provinsiale DA-regering in die Wes-Kaap opdrag gegee dat ’n spesiale aanklaer aangestel word om die bende se bedrywighede te ondersoek – met die oog op ’n aanklag van belastingontduiking.

      16

      (15 September 2009. Dinsdag.)

      In die laatmiddag nooi Mentz hulle in met ’n glimlag en ’n lighartige: “Kom sit gerus, kollegas.” Sy sê die minister het ná middagete gebel. Hy was gretig om te hoor of daar nuwe verwikkelinge is. Sy kon vir hom vertel van Walvisbaai. En toe sê hy, Janina, ek en die president het groot waardering vir jou werk, maar veral die manier waarop jy hierdie ding hanteer het. Kyk na jou begroting. As jy meer nodig het, moet jy praat, want dit is vir ons hoë prioriteit. Daar is ook ’n ander ding wat ek moet noem: Jy het dalk al gerugte gehoor van ’n nuwe intelligensiestruktuur, ek hoor dit lê die gange vol. Nou, Janina, ek wil nou vir jou sê, jou agentskap is voorlopig nie deel van die president se planne nie.

      En Janina Mentz sit terug in haar stoel en kyk met groot tevredenheid na die twee mans.

      Masilo druk sy duime onder sy kruisbande in en glimlag, stadig en breed.

      Rajkumar, getrou aan sy natuur, sak toe op die woord “voorlopig”.

      Mentz bemoedig hom, maar vandag sonder die tradisionele frons en onderdrukte irritasie. “That was exactly what we wanted, Raj, it was our primary goal, and we achieved it. Let’s enjoy the moment. And let me thank you both for excellent work.” En dan voeg sy by: “I want you to convey my congratulations to the Report Squad. I thought their work yesterday was excellent. And let Mrs Killian take them to lunch somewhere nice. On my account.”

      Die twee mans steek hulle verbasing weg. Hulle kan nie onthou dat hulle vir Janina Mentz al só gesien het nie.

      Mentz rig haar glimlag op Masilo. “En hoe gaan dit met ons man in Walvisbaai?”

      Die advokaat rapporteer dat Osman, volgens operateur Reinhard Rohn, die nag in die Protea Hotel oorgebly het en die volgende middag om 12:55 teruggevlieg het na Kaapstad. ’n Span het hom hier ingewag, en versigtig agtervolg na die Supreme Committee se vergaderhuis by Chamberlainstraat 15, waar hy vermoedelik gaan verslag doen het. Intussen het Quinn vir Rohn opdrag gegee om in Walvisbaai agter te bly en te kyk wat hy kan uitrig om die raaisel op te los.

      “And what do we know about Consolidated Fisheries, Raj?”

      Hy gee vir haar Jessica se bondige verslag aan, en sê die Report Squad kon hoegenaamd geen bewyse vind dat die maatskappy by enige vorm van onwettige bedrywighede betrokke is nie. “They are part of the Erongo Group of companies, which is listed on their Stock Exchange. They own a fishing fleet of nine stern trawler vessels, a fish and tinning factory, and they exploit the Benguela region. There’s nothing there.”

      “Maar,” sê Tau Masilo, immer die regsgeleerde wat sy huiswerk doen, “luister net ’n oomblik hierna.” Hy skuif ’n dokument voor hom reg en lees vir hulle voor: “All vessels wishing to enter Walvis Bay Harbour require the following information to be submitted 72 hours prior vessel’s arrival by e-mail or fax: International Ship Security Certificate Number, Security Status of the vessel, Date of Departure from last Port, etcetera …”

      Masilo kyk op na Mentz. “All vessels …” sê hy en laat dit vir ’n oomblik daar hang voor hy die sin voltooi, “with the exception of fishing vessels …”

      “Damn,” sê Rajkumar.

      “Ek stel voor, mevrou, dat ons drie spanne in Walvisbaai ontplooi. Want dit is waar hulle die wapens gaan inbring. Sonder enige twyfel.”

      * * *

      (17 September 2009. Donderdag.)

      Die elektries-akoestiese mikrofoon in die muur van Chamberlainstraat 15 lewer vir die eerste keer dividende.

      Net ná elf in die oggend kom Shahied Latief Osman aan, en gaan in, terwyl die vroulike operateur van oorkant die straat dit op video en stilfoto vaslê. Sy het haar kopstuk op, maar verwag nie dat sy veel deur die betonmikrofoon gaan hoor nie, want gewoonlik praat die mans min in die voorkamer bo.

      Maar tot

Скачать книгу