Аннотация

Koos Kombuis se vorige outobiografie, Seks & Drugs & Boeremusiek, was pretensieloos, eerlik, skreeusnaaks én hartroerend. Hierdie is sy Voëlvry-memoir en hy skryf met dieselfde rou eerlikheid en selfspot oor sy herinneringe van daardie tyd. Hy bely daar is dinge wat hy lank probeer ontken het, daarom kon hy nou eers daaroor skryf. En al is hierdie sy persoonlike blik op die mense en gebeure rondom die Voëlvry-toer, beskryf dit terselfdertyd ’n belangrike deel van die onlangse Afrikaanse musiekgeskiedenis – vanaf Piekniek by Dingaan tot by Oppikoppi.

Аннотация

Koos Kombuis, kulturele guerrilla, is terug. Met ’n styl wat verbysterend kan wissel tussen erns en luim, tussen Algemeen Beskaafde Afrikaans en pavement special patois, takel hy die Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, sake van die dag. Hierdie versameling is gekies uit ’n verskeidenheid skryfsels: rubrieke in koerante (meestal Rapport), artikels in tydskrifte en op webwerwe en – natuurlik – sy blogs. Een van sy nuwe leuses is immers: “Kom laat ons twit.” Wat jy dus in dié bundel sal vind – in geen spesifieke orde – is Koos Kombuis se groot rugbygeheim (met verwysing na waar sy liefde vir kurktrekkers vandaan kom), ’n liefdesverklaring aan Stellenbosch, ruminasies oor bekende persoonlikhede van Kurt Darren tot Eugène Terre’Blanche, kleintydherinneringe aan Hartenbos-vakansies, skouers skuur met politici al dan nie (don’t braai for me, Jacob Zuma), en die eerste dag van sy menopouse. Koos Kombuis is skerp, slim, satiries – en enig in sy soort.