Аннотация

Karla bedank haar werk by ’n trattoria op Stellenbosch om as sjef en bemarker op ’n gasteplaas naby Malmesbury te gaan werk. Eers nadat sy op die plaas aangekom het, hoor sy dat daar kort tevore ’n moord gepleeg is en dat die uiters aantreklike nuwe eienaar, Hugo Joubert, die hoofverdagte is. Nogtans is sy dadelik baie sterk aangetrokke tot hom.
Tot haar skok is daar ook groot finansiële probleme op die plaas en Karla moet bitter hard werk om van die gastehuis ’n sukses te maak. Intussen word haar innerlike woelinge daagliks meer. Is Hugo sy broer se moordenaar? Wat behels die eienaardige verhouding tussen hom en die beeldskone Natalie van die buurplaas? En kan Karla regtig daarop reken dat daar nie ná al die jare ook in Londen, waar hy eintlik bly, ’n meisie op Hugo wag nie?
Die moord, die spoke in die gastehuis, haar eksman en Natalie maak Karla se lewe daagliks ál moeiliker. Dit is asof haar lyf een taal praat en haar verstand ’n ander. Is dit dalk ’n geval van blinde liefde?

Аннотация

Victoria Vermaak se ouers nooi haar saam op ’n luukse bootreis om te herstel ná sy in ’n motorongeluk betrokke was. Haar lewenslustige vriendin Belle, wat saamreis, het egter nie net herstel in gedagte nie: Sy het die bootrit na die MVV – die manvangvaart – herdoop en is vasberade dat sy en Victoria voor die einde van die vakansie elk ’n nuwe manlike bewonderaar moet hê. Op die boot loop Victoria vir Bartho Krüger raak, die sakeman wat sy die aand van die motorongeluk ontmoet het. Hy herstel ook op die vaart ná ’n ski-ongeluk hom tydelik aan ’n rolstoel gekluister het. Hoewel die besonderhede van hul eerste ontmoeting vaag is, onthou Victoria dat hy vir haar presies gelyk het soos sy haar droomman voorstel. Is Bartho werklik als waaroor Victoria nog altyd droom? Is dit net sy afhanklikheid van die rolstoel wat hom so nukkerig maak? Wat van sy broer, Lukas, wie se blote aanraking haar vel byna aan die brand laat slaan . . .?

Аннотация

Danielle Krause wil tyd maak om ’n speurverhaal te skryf, maar haar suster, Magdeleen, en dié se nuwe man span haar voortdurend in as gratis kinderoppasser. Dit help ook nie dat hulle ’n huis deel nie. Dani het genoeg gehad en adverteer haar dienste as “instaanmammie” in ’n buurt waar sy graag sal wil woon, met die voorwaarde dat sy nie in die oggende aan diens moet wees nie. Nooit het sy kon dink dat die ryk en aantreklike wewenaar Meyer Senekal haar sou aanstel om met sy dogtertjie, Nina, te help nie . . . Maar sal Meyer ooit die tragiese dood van sy vrou kan verwerk en is daar plek in sy hart vir ’n nuwe liefde?

Аннотация

Emma Smith kom holderstebolder op Pelikaanbaai aan die Weskus aan, so te sê ’n vlugteling: van wat in Londen gebeur het met haar sogenaamde liefdesverhouding, én van haar oorbeskermende ouers, veral haar ma. Hier, op die ou vertroude vakansieplek, wil sy rus vind, haar lewe oordink, vrede kry.
Sy’t nie gereken daarop dat Pelikaanbaai die blyplek kan wees van die aantreklikste man wat sy nog ooit aanskou het nie. Simon Sutherland is ’n ellelange man met pikswart hare – en volgens Emma duidelik ’n opperste ongeskikte idioot. Hy maak allerlei aannames oor haar, sommer net oor sy weens haar haas en ontsteltenis in die “verkeerde” stadsklere op die Weskus aanland. En dan is hy nog so orig, ook! Heeltyd ál om haar werf, en skynbaar kop in een mus met haar ouers, om alles te kroon. Wanneer haar ma boonop kom verneem wat Emma so halsoorkop uit Londen laat wegvlug het, is die gort gaar.
Simon het soveel bagasie en familiekwellinge, daar’s geen toekoms vir die stadsmeisie en die plaasklong nie. Haar ma is in elk geval verniet bekommerd sy’t hier in Suid-Afrika kom verlief raak . . .

Аннотация

Ebbie Basson se hart is gebreek; haar jarelange verhouding het pas verbrokkel. Daarom gryp sy die geleentheid aan om ’n gholflandgoed wat op Kransbaai aan die Weskus ontwikkel gaan word, te bemark en te verkoop. Want Eddie is ’n eiendomsagent wat sterk voel oor bewaring.Die ontwikkelaar is die charismatiese Liam Murray en kort voor lank voel Eddie aangetrokke tot hom. Hy het egter ’n reputasie as hartebreker. As Liam van moord aangekla word en Eddie die kontrak verloor om die Kransbaai-ontwikkeling te verkoop, begin dinge lelik skeefloop. En spoedig kom Eddie agter dat sy óók in hartebreker Liam se strik getrap het. Wat ís dit dan met haar dat sy aanmekaar die verkeerde man kies?