Скачать книгу

is hier, gaan sy nie van beter weet nie. Maar vandag sien ek nie kans vir die ou nie. En in dié toestand sien ek nog minder kans om myself te gaan voorstel aan die mooiste ding wat ek nog ooit op twee bene gesien het.

      Ek draai vinnig om sodat hy my nie sien nie. Shane is amper oud genoeg om my pa te wees. Dis dalk wat my in die begin na hom toe getrek het, tot ek agtergekom het hy’s eintlik net besig met sy eie agenda. Ek was naïef genoeg om te dink hy gee om.

      My handpalms is nou natgesweet.

      Ek moet eerder wegkom van hierdie plek, weg van Shane af. Wie weet wanneer hulle ons weer gaan toelaat om uit te gaan? En as ek kyk na hoe maklik Shane ingekom het, is die sekuriteit vandag dalk non-existent.

      Ek sal môre in die registerklas by CP notas kry. Die ou doen altyd sy werk getrou. Hy’s die naaste aan ’n pel wat ek in die skool het. CP is oukei, meestal stil en eenkant, soos ek. Ons praat gewoonlik net oor bikes wanneer ons langs mekaar in die klas sit. Dit werk vir my. En ek reken vir hom ook. Ek skuld hom eintlik al ’n guns of twee, nog een gaan nie regtig ’n verskil maak nie.

      Klaar besluit wurm ek terug, deur die gemaal van ouens wat staan en wag vir die volgende klas, na ’n ander uitgang. Die een die verste van Shane af.

      “Hoezit, bra?” Ek’s net buite die groot, lang gebou van die seuns se slaapsaal, toe James skielik om die hoek geseil kom – nog ’n bloedsuier in my kop. “En waar gaat jy heen?” Hy grinnik met sy gechipte voortand.

      Shit. Ek moes beter beplan het. Dalk eerder my goed in my kamer gelos en net gesplit het. Ek kan mos ’n dag sonder ’n tandeborsel of wat oorleef?

      Ek het net die nodigste goed gaan gryp, maar die rugsak hang steeds swaar oor my skouer. Ek draai my lyf sodat die sak minder sigbaar is agter my rug.

      “Fokof, James! Ek’t gister vir jou gesê ek’s klaar.”

      Dié ou is nes Shane, knaend. Dis moontlik die rede hoekom hulle twee sulke dik pelle is.

      “Ag, kom nou, Heibrandt-bra. Ek het dié week ’n goeie special. Top class goods.”

      “Ek het nie geld gebring nie,” mompel ek.

      Ek skop ’n klip dat dit doer trek. Eintlik bring ek nooit geld saam nie. Maar dit beteken nie dat James gaan ophou vra nie.

      “Jy ken mos appro, bra. Ek weet mos jy sal betaal.”

      Ek voel-voel in my broeksak na my pakkie sigarette. Flippet! Ek het al vroeg vanoggend gesien daar’s net een oor en ek bêre dit vir wanneer ek hier uit is.

      My keel voel skielik skurf en ek lek selfbewus oor my lippe. Hulle weet ook net hoe om ’n mens te vang.

      “Fine, maar ek soek net ’n dimp.” Dan raak ek dalk van die ou ontslae.

      “A, Heibrandt-bra, jy kan mos cigarettes by die shop loop koop. Ek het net good stuff.”

      Vir ’n oomblik twyfel ek en loer oor my skouer, net om seker te maak niemand kyk nie. ’n Pyn flash deur my kop. Ek vat daaraan en vryf met twee vingers oor die verband. Dit help nie.

      “Oukei,” stem ek in. Anders gaan sê die vark dalk vir iemand waar ek is. “Maar ek soek iets ligs – net om die edge af te haal, jy ken my.”

      James loer na die sak teen my rug. Hy frons. Ek haak my duim deur die strap en klou dit stywer vas.

      “Jy praat mos nou met die regte man. Kom, volg my.”

      Op die verhoog, agter die gordyne in die saal, staan daar al ’n ry. Almal wag vir James en sy top class goods. Die laaste keer dat ek hier was het James se gesig kennis gemaak met een van sy kliënte se vuiste, maar die hele voorval is stil-stil onder die mat ingevee. Ek val skrikkerig agter in die ry, check kort-kort oor my skouer.

      Dit vat vir ewig.

      Ek oorweeg ’n paar keer om te waai, maar my kop pyn, dalk help ’n pil daarvoor. Toe ek uiteindelik voor kom, is ek vies. Ek haat die stuff wat James na my uithou.

      “Dis al wat ek vandag vir jou het, bra,” sê James. Hy keer my dadelik toe ek omdraai en try wegstap. “Toe kom nou, vat die pil – ek dare jou. Of is die laaitie bang?”

      Ek gryp dit en prop dit in my mond.

      James grinnik, sy gechipte voortand byt op sy onderlip. Flippen krimineel – die goed is ook oral.

      James wag dat ek voor hom moet sluk. So kan ek hom nie split nie. Geen evidence, geen case.

      “’n Mens mors nie met kwaliteit nie,” sê hy toe ek uiteindelik sluk en wegdraai. “Check jou, nè?” Toe lag hy en voeg by: “Gaan bêre nou maar daai sak, bra. En bly op die straight en narrow.”

      Ek voel hoe sy hand om my arm klem en my na die saal se deur toe stoot. Ek ruk weg, maar hy het my nog aan die mou beet.

      “James!” roep iemand benoud van buite die saal. “Kom help!”

      “Check jou, nè,” waarsku James toe hy my arm los en by die deur uithardloop.

      Ek laat nie op my wag nie. Buite die saal ruik die lug skielik soos vrot melk. Die reuk maak my naar. Ek voel hoe die pil opkook in my mond.

      Om die naaste hoek spoeg ek die skuim met ’n boog uit voor ek mik vir ’n kraan. Ek probeer al ’n vir ruk lank ophou met die pille, al is dit beter as Shane se naalde. Die goed is flippen sterk, sit my op ’n trip – een wat ek nie nou kan bekostig nie. Ek wil eerder reguit dink. Hier uitkom. Weg. En so vinnig moontlik by die ouvrou se huis kom.

      Agter my sien ek hoe James ’n girl van haar eie spoeg try red. Die girl was voor my in die ry. Sy lê nou op die grond, in haar eie slym. Iemand hardloop verby my en ek hoor stemme wat Shane se naam roep. Ek kon raai die ou het iets hiermee te doen.

      Met die agterkant van my hand vee ek die spoegstreep van my ken af. Meer mense peul by die deure uit. Niemand neem eens notisie van my en my swaar sak nie.

      Dis my kans. Hopelik is daar genoeg tyd oor voor ’n klok weer lui en iemand dalk iets agterkom.

      Jy’t te veel tyd met James gemors, raas dit in my kop. Hoe laat is dit?

      Ek bring my watch tot by my oor, try luister. Die ding tik niks. Ek skud my arm, luister weer. Stilte. Cheap flippen plastic! Ek ruk die blou ding van my arm af en moer dit agter die naaste bos in. Toe stap ek om die geboue na die agterste ingangshek.

      Die klipperige grondpaadjie is stil. Niemand gebruik juis hierdie ingang nie. Maar ek is versigtig, loop en koes agter elke boom.

      Dit vat my ’n hele paar minute om by die hek te kom. Die wag is doenig op sy foon, so ek kan sonder moeite uitglip.

      Dié hek is nogal freaken ver van my huis af en ek is nie dadelik seker watter rigting om in te slaan nie. Ek’s al ’n blok weg toe ek weer die klok soos ’n alarm agter my hoor afgaan.

      Dis darem soort van ’n change of scenery. Ek hardloop oor die pad en in die eerste systraat af. Ek kyk terug oor my skouer, maar dit lyk nie of iemand my agtervolg nie. Anderkant ’n park kry ek ’n klomp grand huise, die drankwinkel, die slaghuis en toe Van Ryhn’s Gunshop voor ek verby die Spar stap. Dit lyk bekend, maar ook nie.

      Ons arm woonbuurt behoort nou net daar agter die sentrum iewers te lê.

      Om die hoek sit-lê ’n boemelaar teen die sentrum se muur. Dit lyk of hy dié tyd van die oggend al ’n paar van James se pille in het. Langs hom op die grond lê ’n bottel drank toegedraai in bruinpapier. Ek loop ’n draai om hom.

      “Waar die dooie liggaam ook al is, daar sal die arende bymekaarkom,” hoor ek in die verbyloop en loer dadelik na die boemelaar.

      Sy hoed is laag oor sy gesig getrek, net sy ken steek uit. En sy arms hang slap langs sy lyf. Hy roer nie – dit moes my verbeelding gewees het.

      Ek’s nogal vrek bang vir ’n arend. Die dag toe Cinthia in die grond weggesak het, het ek vir die eerste keer een

Скачать книгу