Скачать книгу

wat julle mis nie.”

      Trompie gee die meisies se geld vir hulle terug en die twee loop vinnig om die hoek en by die kafee in om drop te gaan koop – teen die gewone vyftig sent stuk.

      Die Boksombende se Grootkaptein sit die lekkers verslae terug in sy tas.

      “Dit lyk nie goed nie,” sê Blikkies en byt die stukkie kougom waaraan hy kou met sy tande vas en trek dit tussen sy duim en vinger ver voor hom uit. “Ons gaan al ons geld verloor.”

      “Ons gaan nie,” brom Trompie. “Die meisiekinders is nou sommer simpel – en onthou, hulle was hier langs die kafee. By die skool is daar nie ’n kafee nie, so iemand wat daar lekkers wil koop, móét by ons koop – en móét ons pryse betaal!”

      Noudat Trompie dit so verduidelik het, voel die ander beter. Blikkies sê hulle gaan darem hopelik nie al hulle geld verloor nie. Rooie gryp gou ’n lekker uit die tas voor Trompie dit kan toemaak en sê al verloor hulle ook al hulle geld, sal hulle mae darem ten minste vol lekkers wees.

      Toe die vier by die kafee wegry, kom Katrien en haar vriendin uit met die drop wat hulle gekoop het.

      “Kyk wat het ek hier,” sê Katrien. “Hier is tien repies vir vyf rand – en dis presies dieselfde as julle s’n!”

      “Dis wat jy dink,” mompel Trompie.

      “Ek weet nie hoe julle kan verwag om geld te maak as julle goed so belaglik duur is nie,” sê Katrien.

      “Dis ons besigheid,” antwoord Trompie oor sy skouer. “Onthou, daar’s baie ouens by die skool wat ons lekkers sal koop! Nie almal is so vol nonsens soos julle twee nie!”

      Die Boksombende trek vir die meisies skewebek en maak dat hulle wegkom. Hulle is glad nie meer so opgeruimd en optimisties nie. Hulle wonder hoe die snoepwinkel gaan vaar.

      By die skool maak almal opmerkings oor die vier se groot tasse. Trompie-hulle lag net en vertel die kinders van die lekker lekkers wat daarin is. Hulle maak natuurlik ook ’n punt daarvan om te sê dat die lekkers pouses agter die fietsafdakke verkoop gaan word. Almal moet ’n draai daar kom maak, altans almal wat geld het.

      Toe ’n onderwyser vraend na hul groot tasse kyk, sê Trompie onskuldig: “Baie werk, Meneer weet, baie werk.”

      In die klas kou die vier vriende heerlik aan die lekkers elke keer wanneer die onderwyser uitgaan of wegkyk of as hulle ’n boek moet uithaal.

      Die Boksombende gee niks van die lekkers vir die ander leerders in die klas nie. Soos Trompie sê, hulle is nie suinig nie, maar ’n goeie besigheid werk mos nie so nie! Hulle het die lekkers gebring om te verkoop, nie om dit weg te gee nie.

      Toe die klok vir pouse lui, stap die vier met die groot tasse na die fietsafdakke toe.

      ’n Klomp seuns loop saam met hulle en Trompie glimlag van oor tot oor. Hier is hul kliënte al klaar. Hy hoop hulle het baie geld.

      Trompie-hulle maak die tasse op ’n ou tafel agter die fietsafdakke oop.

      “Kom kyk, ouens!” nooi Trompie die omstanders nader. “Hoe’s daai vir julle?”

      Die kinders drom om die tasse saam en lek skoon hul lippe af. Daar is ’n groot verskeidenheid – allerhande soorte en kleure lekkers.

      “Net kyk, hoor,” sê Trompie streng. “Nie vat nie.”

      Die seuns kyk en hul oë is groot. Hulle het sowaar nog nooit so baie lekkers bymekaar gesien nie.

      Trompie vryf sy hande voor hom en glimlag breed.

      “Nou toe,” sê hy, “die snoepwinkel is oop. Julle kan maar koop. Moet net nie almal gelyk storm nie.”

      Maar die kinders storm nie. Hulle staan net en kyk.

      “Dié wat nie geld het nie, staan terug sodat die ander kan deurkom,” sê Trompie.

      Maar niks gebeur nie. Niemand staan terug nie, want niemand wil deurkom nie. Dit lyk of die klomp net uit nuuskierigheid hier is. Hulle is nie kliënte nie.

      Trompie kyk mismoedig na die omstanders.

      “Wat staan julle soos ’n spul simpel bobbejane?” vra hy vies. “Kom koop! Dis die varsste en lekkerste lekkers wat julle nog ooit gesien of geproe het!”

      “Ons het nie geld nie,” brom een vet seuntjie wat ’n entjie voor Trompie staan.

      Trompie snork vies. Hy wil die japsnoet net uit die pad stoot toe hy hom bedink. Die outjie het nie vandag geld nie, maar hy kan miskien môre hê. Dit is nie goeie besigheid om moontlike toekomstige kliënte sleg te behandel nie.

      “Is daar niemand wat geld het nie?” vra Trompie met ’n wye gebaar wat almal insluit.

      “Ek het geld, maar ek wil nie lekkers koop nie,” sê ’n seun.

      Trompie gee ’n laggie. “Hy’t geld, maar hy wil nie lekkers koop nie!” Dan kyk hy na die seun en vra: “Is jy besimpeld?”

      Die seun en sy maat loop vies daar weg en Trompie lag hulle uit.

      “Ek het geld. Ek wil iets koop,” sê ’n graadaggie skielik.

      “Mooi so,” sê Trompie en wink hom nader.

      “Kom kyk wat het ons alles,” sê Rooie en glimlag bemoedigend vir die kind wat huiwerig nader staan terwyl almal se oë op hom gerig is.

      “Kom koop jou beursie leeg en jou maag vol,” sê Trompie.

      “Jy sal nooit spyt wees nie,” sê Dawie. “Jou naam gaan verewig wees in die annale van ons beroemde skool. Jy is die eerste ou wat by ons snoepwinkel koop!”

      “Ons eerste kliënt!” sê Blikkies en kyk trots na die seun wat nou nog meer verbouereerd lyk.

      “Ek is bly daar’s darem iemand in die skool wat verstand het,” sê Trompie en gluur nors na die klomp wat daar staan om die snoepie se eerste transaksie te aanskou.

      Trompie tik die graadaggie wat voor die oop tas staan vriendelik op die skouer.

      “Lekker lekkers, nè?” sê-vra hy en vryf sy hande weer met mening voor hom in die lug. “So hoeveel wil jy hê?”

      Almal staan nader om te hoor. Die outjie gaan seker baie koop.

      Die snoepwinkel se eienaars maak dan so ’n ophef van hul eerste kliënt.

      “Ek … ek …” begin die graadaggie stamel.

      “Moenie skaam wees nie,” por Trompie hom aan. “Ons sal soveel as wat jy wil hê aan jou verkoop. Sê net hoeveel.”

      “Ek dink ons moet vir hom ’n lekker present gee,” stel Dawie skielik voor, “want hy’s ons eerste kliënt.”

      Trompie dink daaraan dat hulle darem nie bankrot sal gaan as hulle een lekker verniet weggee nie. En dit sal die skamerige outjie miskien aanmoedig om meer te koop as wat hy wou.

      “Ek dink dis ’n uitstekende plan, Dawie,” sê Trompie. Die ander vennote, Rooie en Blikkies, knik hul koppe om te wys hulle dink ook so.

      “Vat vir jou ’n lekker,” sê Trompie goedhartig vir die seun. “Enigeen wat jy wil hê – maak nie saak wat dit kos nie.”

      “Sjoe, dankie,” sê die outjie. Hy krap die lekkers in die tas deurmekaar en kom met ’n sjokoladestafie te voorskyn.

      Trompie-hulle kyk vinnig na mekaar. Vir wat kies die knaap een van hul duurste lekkers? Maar dit help nie om nou te wys hulle is snoep deur die lekker wat die kind so styf vashou terug te vat nie.

      Daarom kondig Trompie aan: “Dis een van ons beste en duurste lekkers daai, maar jy kan dit hou. Dis met die komplimente van Trompie en sy vriende se snoepwinkel.”

      “Sjoe, dankie,” sê die outjie weer.

      Trompie

Скачать книгу