Скачать книгу

gee om in die kantoor te hou nie. Hy sê ek kan daarmee maak net wat ek wil.”

      Minnie draai nie om voor die spieël nie. “Maar dis nou goed,” sê sy, “nou kan jy my vyf sjielings teruggee wat jy twee weke terug geleen het toe jou sakgeld op was.”

      “Gi,” sê Santa, “jy kan wag tot die vakansie om dit te kry. Ek gaan vir my nou elke dag roomys koop.”

      Geld leen, dink Alie. Miskien kan sy by Santa geld leen vir die Hallelujaboek, maar toe skrik sy soos een wat ’n verkeerde ding hardop gesê het. ’n Mens mag nooit leen nie, sê tant Lenie altyd, want ou Leen lê op sy buurman ’n steen. Van jou suster miskien, maar nooit van ander mense mag jy leen nie.

      Tok-tok klop iemand aan die deur en Tossie Smuts se rooi kop loer om die hoek.

      “Liewe dogters van die volk,” sê sy, “het een van julle nie vir my asseblief ’n botteltjie swart teken-ink nie?”

      “Swart teken-ink?” vra Minnie. “Wat wil jy dan nou teken?”

      “’n Kol op my been wil ek teken,” sê Tossie. “Ek het ’n gat in my kous en nie tyd om dit heel te maak voor die wandeling nie, en ek wil net gou die been swart smeer waar die gat wys.”

      “Jy’s darem ’n slodderkous, Tossie,” sê Minnie. “Het jy dan nie ander kouse nie?”

      “G’n ander kous as ’n voddekous op my edele naam nie,” sê Tossie. “Dink jy miskien ek is Leonora Wessels wat ’n dosyn pare kouse en ’n dosyn wit syhemde het? Nee, ou suster, wie nie ryk is nie, moet skelm wees. Gee nou vir my die ink, ou Minnie.”

      Minnie haal die botteltjie ink van haar boekrak af. “Haai,” sê Tossie, “lyk my julle het almal vandag briewe gekry, dié wat Alie weer so in haar slaap loop.”

      Alie sien hoe Minnie skielik afkyk na die brief op haar bed en toe stadig daardie kant toe skuif, ewe ongeërg daarop gaan sit en skielik doenig is met haar kousnate. “Nou ja,” sê sy, “ons moet ons seker regtrek vir die wandeling.”

      “Dis presies wat ek aan die doen is,” sê Tossie. Sy stroop een kous af en skroef die botteltjie ink oop. “Net hier,” sê sy, “net hier waar ek die potloodkring getrek het.” ’n Klein puntjie tong steek by haar mond uit toe sy versigtig met die swart ink die kol op haar been verf. Toe blaas sy ’n slag hard daarop. “So ja,” sê sy, “so ja, bo blink en onder ink en wie sal daarvan weet?”

      “Tossie, onthou net om daardie kous vanaand heel te maak, hoor,” sê Minnie, “anders is jy môre in ’n ding. Jy weet hoe fyn juffrou Naudé se oë is, nè?”

      “Seker, moeder Mina, seker, ek sal dit vanaand in die studiesaal mooi netjies sit en stop, en as die juffrou iets sê, sal ek sê die geagte hoofmeisie het my die opdrag gegee,” antwoord Tossie en maak ’n diep buiging voor Minnie.

      Ghoef-ghoef! stamp iemand teen die deur, toe swaai dit met ’n vaart oop en Corrie Jansen staan in die kamer. “Haai, ou Minnie, een van die dagkinders sê vandag haar broer is by Herman in die klas en hy sê Herman het vir jou ’n brief gepos, sommer net so het hy dit deur die pos gestuur. Is hy nie bang ou Nottie kry jou voor nie? Het jy al die brief gekry?”

      Minnie trek haar voorkop op ’n plooi soos een wat vir die eerste keer van ’n snaakse ding hoor, maar daar kruip ’n rooi skaduweetjie van haar nek af op boontoe en sy skuif ’n slag rond op die bed. “Ag loop, Corrie,” sê sy. “Wat het jy nou daarmee te doen van wie ek ’n brief kry? Buitendien het my ma by juffrou Naudé verlof gekry dat ek van vriende briewe mag kry, van Herman ook, as jy nou moet weet.”

      Corrie val plat op die vloer en dop haar bene oor haar kop. “Ohoe!” lag sy. “Ou Minnie het seker klaar daardie brief gekry en sy jok oor daardie verlof!”

      “Haai, Corrie!” sê Alie. “Minnie sal mos nie jok nie!”

      Corrie kom stadig regop. “Reken, Balie Beentjies,” sê sy, “en wie’t miskien jou opinie oor die saak gevra? Jy’s nog ’n bybie hier en jy’t nie sê nie, hoor! Dis van ons julle nuwelinge nie mag doop nie dat julle so astrant word.”

      Tossie draai haar kousnaat reg en gaan staan voor Corrie. “En jy’s ’n ou mens hier, Kerneels,” sê sy, “maar jy sit darem nog by die bybies in die klas, hoe’s dit vir jou vir ’n som om te maak?”

      “En wat daarvan?” sê Corrie en haar skerp neusie lyk na ’n spreeusnawel.

      “Dit daarvan,” sê Tossie, “dat jy jou mond uit die wapad moet hou, anders trap ’n wiel hom raak.”

      “Komaan,” sê Minnie, “julle koggel mekaar soos twee ou kalkoene, en dis nie nodig nie. Kom ons gaan drink koffie. Dis wandeling vanmiddag.” Maar sy staan glad nie van die bed af op nie.

      “Wie’s jou maat, Alie?” vra Tossie.

      “Leonora,” sê Alie. “Sy’t my vanoggend gevra.”

      “O, maar onthou, die volgende wandeling is myne. Santa, wil jy nie my maat wees nie?”

      “Ek stap saam met Minnie,” sê Santa en sy pluk haar hoed van die kas af.

      “O nee,” sê Minnie, “jy stap glad nie saam met Minnie nie; jy soek vir jou ’n ander maat, ou sussie, en ’n mens sê dankie as iemand jou skiet vir die wandeling.”

      Tossie skud haar rooi kop agtertoe. “Ag wat, Santa,” sê sy, “jy hoef nie dankie te sê nie, maar stap dan maar saam met my, of hoe?”

      “Dankie,” brom Santa en sy sukkel met haar hoed voor die spieël.

      “Nou ja,” sê Corrie, “niemand vra my om saam te stap nie, nou sal ek maar loop. Maar ek gaan nog uitvind van daardie brief van Herman, ek belowe jou, Minnie.”

      “Kom ons gaan drink koffie, Minnie,” sê Alie.

      Minnie vou haar arms en rek haar bene voor haar uit. “Ag wat,” sê sy, “stap julle maar; ek het nie vanmiddag lus vir koffie nie. Ek kom netnou boontoe vir die wandeling.”

      Alie hou die deur oop en stap agter die ander drie uit, maar voordat sy die deur toemaak, kyk sy om en sy sien hoe Minnie haar oplig, haar hand vinnig onder haar insteek en die brief uithaal. Sy kyk op en vas in Alie se oë. Toe glimlag sy, so soos een wat stilletjies vir ’n ander ’n present gee waarvan net hulle twee weet. Alie glimlag terug, trek die deur saggies agter haar toe en stap stadig agter die ander aan soos een wat te groot is om te spring en te hardloop.

      Van Donderdag af ryg die dae vinnig uit tot Maandag. ’n Lekker skoon week en ’n lekker nuwe begin in die saal. Alie voel hoe haar kop en haar voete lig word toe hulle instap in die saal wat oorloop van die vrolike marsmusiek. Sy staan op die punt van ’n ry, en toe die ander seksies se graadneges verbykom, gee Leonora Alie se gordel ’n plukkie en stap aan sonder om na haar te kyk. Kort agter haar is Hanna, en Alie sien hoe blink haar vaal hare van die naweek se was. Op haar hakke kom Corrie, en sy probeer Hanna se hakskene met elke tweede tree raak trap, maar Hanna weet daar niks van nie.

      Toe almal binne is, kom die juffrouens en juffrou Naudé op die verhoog en alles is doodstil. Toe gee juffrou Naudé die Halleluja-lied op en Alie draai na Catherine Lewis toe en wag dat sy moet opsoek in haar boekie. Nader my God by U … Dis vir Alie die mooiste lied in die hele boekie en sy hoop hulle sing al die versies, want dis so mooi om te sing van “verdwaal alleen …” Dit laat ’n mens dink aan die groot oop veld met net hier en daar ’n doringboom. Firts-firts-firts gaan dit soos baie hande in die saal blaai in hul boekies. Alie kyk op om te sien hoe juffrou Naudé vir Minnie wys sy kan maar die lied begin speel, so met ’n effense kopknikkie. Maar juffrou Naudé staan doodstil en dit lyk of haar oë die hele saal styf vashou. Toe sê sy: “Ek merk hier is nog baie meisies wat nie hul eie boekies het nie, en waarom nie?” Sy bly ’n rukkie stil en kyk oor die graadneges. “Aletta Neethling,” sê sy, “daar staan jy ook sonder jou eie boek. Is dit nou nie ’n skande nie? Maar dis die laaste keer dat ek daaroor praat. Dié van julle wat volgende Maandag nog nie jul eie boeke het nie, sal gestraf word. ’n Mens moet in hierdie wêreld

Скачать книгу