Скачать книгу

regte vir burgers meer nie maar slegs vir swartes”, het ’n omgekrapte veldkornet uitgeroep. Hy is voor die hof gedaag nadat hy opgetree het teen “astrante” Khoi-Khois wat geweier het om sy plaas te verlaat.

      Die burgers het begin voel soos vreemdelinge in hul eie land. Stockenstrom het hul gevoelens so saamgevat: Nou het ons ’n siviele kommissaris om ons geld te ontvang vir die regering en landmeters, ’n magistraat om ons te straf, ’n klerk om ons te vervolg en in die tronk te sit, maar geen heemraad wat aan ons kan sê wat reg en verkeerd is nie.

      ’n Essay van Olive Schreiner, ’n vroeë feministiese skrywer en iemand met sterk liberale oortuigings, het ook die grenskoloniste se gevoel van vervreemding beskryf. As ’n goewernante in die grensdistrikte Colesberg en Cradock tussen 1874 en 1891 het sy die mense goed leer ken en ook die stories wat hulle vertel het. Sy het kommentaar gelewer oor die feit dat die mense so swak gekompenseer is vir hul slawe en toe bygevoeg: “But that which most embittered the hearts of the colonists was the cold indifference with which they were treated, and the consciousness that they were regarded as a subject and inferior race … [The] feeling of bitterness became so intense that about the year 1836 large numbers of individuals determined to leave for ever the colony and the homes they created.”

      Ten tye van die Sesde Grensoorlog was dit al meer as dertig jaar dat Britte uiters negatief oor die grensboere geskryf het. Dit het begin met die reisverhaal van John Barrow. Reeds in die eerste jare van die negentiende eeu skryf ds. M.C. Vos die Afrikaners se tradisionele gasvryheid teenoor vreemdelinge word swaar beproef deur die “lasteringen” van die meeste reisbeskrywers wat goed deur hulle ontvang is. Dié soort berig het met die werk van Philip ’n hoogtepunt bereik.

      Die grensboere het min hoop gehad dat hulle ooit as enigiets anders as die wit uitvaagsels van die Britse ryk beskou gaan word. Die tydskrif The Spectator skryf op 17 Maart 1834, nege maande voordat die oorlog uitgebreek het: “The maltreatment of the aborigines is one of the darkest and bloodiest stains in the pages of history and scarcely any is equal in atrocity to the conduct of the Dutch Boers.”

      Ten grondslag aan die grensboere se vervreemding het gelê die aanslag wat ’n nuwe politieke stelsel op hul selfbeeld gemaak het. Die feit dat hulle aan Britse gesag onderworpe was en die krenkende wyse waarop van hulle gepraat is, was nie die hele probleem nie. Hul hele selfbeeld, soos dié van hul ouers, is deur die status-onderskeidinge van die ou Kompanjiesbewind gevorm. In stryd met die moderne onderskeide en die Britse klem op “non-racial citizenshhip” en “rule of law” het hulle voortgegaan om die gelykstelling te verwerp van mense van die verskillende statusgroepe – meester en bediende; “gebore Christene” en “gedoopte” Christene (mense wie se ouers nie Christene was nie, maar wat deur sendelinge bekeer is); burgers wat geboer en die land beskerm het en mense wat nie burgers was nie, nie kommandodiens gedoen het nie en ook nie geboer het nie. Hierdie onderskeidinge het nie in ’n rasse- of kleuronderskeid ontstaan nie, maar die korrelasie tussen die onderskeidinge en kleur was van die begin af daar en het steeds sterker geword. Ten tye van die trek het Karel Tregardt die konflik spesifiek in kleurterme uitgedruk: “’n Hoofbeswaar teen die aanstaande nuwe gang van sake was die gelykstelling van kleurlinge met blankes.” En in 1837 het veldkornet Carel Buchner van die Suurveld uitgeroep: “[Die] tomelose gedrag van die swartes alhier is strydig met die murg van die Afrikaners en dit alleen en niks anders nie is die bewegende oorsaak van die verhuising.”

      Maar in die algemeen was kleur slegs een dimensie van die selfkonsepsie van die burgers aan die oosgrens: hulle was ook burgers en Christene – identifikasies met veel dieper wortels. Anna Steenkamp, wie se oom Piet Retief was, gee iets weer van die meer komplekse gevoelens oor gelykstelling wat die trekkers ervaar het. Sy verwys eers na die “onophoudelike stropery en diefstalle” en dan na die onregverdige wyse waarop die slawe vrygestel is, en voeg dan by: “Nogtans het hierdie vryheid ons nie soseer verdryf nie as hul gelykstelling met die Christene, strydig met God se wette en onuitstaanbaar vir elke fatsoenlike Christen.” Dit het vir haar waarskynlik gegaan oor die toelating van bruin of swart mense as lidmate van die kerk, hoewel sommige se morele gedrag nie aanvaarbaar was nie. Van die einde van die agtiende eeu af het verskeie gemeentes reëlings getref dat nie-wit lidmate afsonderlik gedoop en met Nagmaal bedien word, maar die sinode van 1829 het dit op aandrang van die regering se verteenwoordiger verbied. J.N. Boshoff, ’n amptenaar op Graaff-Reinet wat later getrek het, het verwys na die ontsteltenis wat gespruit het uit die feit dat swartes aangemoedig is om hulle as gelykes in die kerk te beskou, hoewel hulle “heidene” was en ook nie lidmate van so ’n kerk of gemeente nie.

      Ewe belangrik was die konsepsie van mense wat as burgers militêr en administratief ’n sleutelrol gespeel het. Burgers het as veldkornette gedien, waarsonder plaaslike regering in duie sou gestort het, en het in kommando’s geveg, wat onontbeerlik vir die kolonie se verdediging was. Hulle was inderdaad voortreflike vegters en Stockenstrom het verklaar dat kommando’s onder hul eie veldkommandante en veldkornette hulle uitstekend van hul taak gekwyt het. D’Urban het die burgers beskryf as die beste vegslui van hul soort wat hy nog gesien het.

      Ten spyte van hul sleutelrol het sommige Britse amptenare en offisiere hulle as blote ondergeskiktes behandel. Die burgers se gevoel van gekweste waardigheid is in die Sesde Grensoorlog op die spits gedryf toe kommando’s in die koloniale mag onder aanvoering van kolonel Harry Smith geveg het. Die regering het hulle nie betaal nie en hulle het ook nie ’n deel van die buit gekry soos vroeër nie. Ná hul ontslag het die Britse bevelvoerders hul perde opgekommandeer en hulle moes ver huis toe stap. Dit was ’n vernederende ervaring wat hulle sin van burgerlike deugsaamheid gekwes het.

      Ná die oorlog het die regering planne bekend gemaak om burgers in ’n milisie te gebruik. Dit het sake vererger. Die boere het gevrees dat hulle dieselfde vernederings as gedurende die oorlog sou smaak. Vrese wat aan die Kompanjiestyd herinner het, dat hulle in die regering se diens gedwing sou word as soldate of matrose, het weer lewendig geword. ’n Voortrekker het aan ’n waarnemer vertel van die vrees dat hul kinders as soldate opgeroep en na vreemde lande gestuur sou word. Tot in 1848 nog het amptenare die burgers se verset teen planne om hulle vir ’n milisie op te roep, toegeskryf aan hul weiering om as enigiets anders as vrye burgers beskou te word.

      Van die trekkers sou sekerlik gebly het indien daar bevredigende kanale was waardeur hulle hul griewe aan die regering kon voorlê. Maar daar was nie. Die burgers het aan Stockenstrom gesê dat hulle nie langer tuis voel in hul eie land nie. Die gedrag van Hendrik Potgieter van die Tarkawyk onderstreep die faktor van vervreemding. Saam met Piet Retief, Andries Pretorius en Gert Maritz was Potgieter die belangrikste Voortrekkerleier. Hy was ’n welvarende boer en slawebesitter met goeie ekonomiese vooruitsigte. Sy arbeider het ’n klag teen hom ingedien en hy het nog steeds gewag op ’n oordragakte vir sy plaas. Hy het sy grond laat opmeet kort ná die nuwe wetgewing van 1813, maar 22 jaar lank is daar geen titelakte aan hom gestuur nie. Toe hy die kolonie aan die einde van 1835 verlaat, is hy nog nie die kompensasie betaal vir sy slawe nie. Die regering het ook nie betaal vir die voorrade wat hy en sy broer vir die burgerkommando in die grensoorlog van 1834-35 gelewer het nie.

      Potgieter, een van invloedrykste grensboere, het geen volledige verduideliking vir sy emigrasie gelaat nie, maar dit is duidelik dat hy dit onmoontlik gevind het om langer te leef onder wat hy beskou het as ’n vreemde, ploeterende regering. In Desember 1838, drie jaar nadat hy die kolonie verlaat het, het hy aan die goewerneur in Kaapstad geskryf dat die “uitgewekenes” om hul “familie se behoud” getrek het – “nie alleen om sy Eksellensie se wette nie, maar veral omrede die onbestaanbaarheid, omdat ons ons vrou en ons kinders nie kon munteneeren (onderhou).” Hy het bygevoeg: “[Ons] het geen kwade voornemens om iets onwettigs te doen nie, en ons beskou ons self as vrye burgers om te gaan waar ons verkies sonder om iemand te benadeel, aangesien alle nasies vry is en kan gaan waar hulle wil.”

      Drie jaar later het hy aan sy medetrekkerleier Andries Pretorius geskryf: “Ek wil my nie aan die Britte of enige ander moondheid in die wêreld onderwerp nie. Ek is geen Brit nie en ek hoop en vertrou dat ek nooit een sal moet word nie.”

      In ’n brief in Julie 1837, toe hy reeds op die trek was, het Retief die Britse regering verseker dat die trekkers nie teenoor die “Britse nasie” vyandig wil wees nie. Hulle het die kolonie verlaat hoewel dit enorme en onberekenbare verliese meegebring het.

Скачать книгу