Скачать книгу

“Injustice to whites, English or Dutch, or to blacks, Kaffir, Hottentot or Bushman, I will still consider injustice and deal with accordingly,” het hy verklaar. “But I am not called to please any party. I have the cause of truth to serve. I am to call ‘murder murder’ and ‘plunder plunder’, whatever the colour of the perpetrator’s skin.”

      In die debat van 1825 het Philip en die ander gaste op die ou end besluit dat Stockenstrom se argument redelik is. Hulle het egter skepties gestaan teenoor die moontlikheid van ’n beleid wat geregtigheid en gematigdheid vooropstel.

      Stockenstrom was ook daaroor bekommerd dat die regeringsbeleid te ver geswaai het van groot hardhandigheid tot een waar die burgers so aan bande gelê word dat dit die pogings om hul lewe en eiendom te verdedig, verlam. In 1830 het hy opgemerk “dat periodieke strenge optrede onontbeerlik is om die grens leefbaar te maak”. Hy het begryp waarom die grensboere so bitter was teenoor amptenare ver weg in Kaapstad wat presies kon voorskryf hoe daar op die onstuimige oosgrens te werk gegaan moes word om die regte en die veiligheid van mense met mekaar te versoen.

      Ná sy aankoms op Graaff-Reinet in 1828 het Stockenstrom gou in aanraking gekom met die Britse militêre offisiere en die Britse handelaars wat daar gebaseer was. Die vernaamste figuur onder die Britse militêre offisiere aan die oosgrens was kolonel Henry Somerset, die goewerneur se seun, met wie Stockenstrom reeds in ’n vroeë stadium gebots het. In 1823 is Somerset tot die pos van kommandant van die grens bevorder en hy is ook in bevel van die Kaapse regiment bestaande uit Khoi-Khoi-soldate geplaas. Die kolonel was ’n offisier met ’n bedenklike tekortkoming: swak oordeel gepaard met ’n vurige geaardheid. In die raamwerk van ’n onsekere grensbeleid was dit ’n resep vir ’n ramp.

      Stockenstrom was omtrent dadelik met die offisiere en handelaars oorhoops en die gespanne verhouding het weldra in vyandskap oorgegaan. Die offisiere en handelaars se mondstuk, TheGrahamstown Journal, het propaganda daarvoor gemaak dat die kolonie nog ’n deel van die Xhosa-gebied moet annekseer en dat die Xhosas met ’n groot militêre mag tot onderwerping gedwing moet word. Soos ander voorstanders van gebiedsuitbreiding het die koerant dit probeer regverdig deur te wys op die aggressiewe aard van die Xhosas en hulle aandadigheid aan die onrus op die grens. In 1837 het goewerneur Napier na die Grahamstown Journal en die drukgroep van handelaars in die dorp verwys as die mense wat die “luidrugtigste teen die Xhosa-nasie” is. Hul eiebelang was kwalik verskuil. Grootskaalse militêre optrede en die anneksasie van nuwe grondgebied het groot winste beteken vir handelaars wat die proviand moes verskaf. Dit het ook oorvloedige kanse geskep vir die smokkel van wapens en die spekulasie met grond.

      In 1828 het Retief nog op Mooimeisiesfontein in die suidoostelike grensgebied gewoon, maar vier jaar later het hy na ’n plaas in die Winterbergwyk in die sentrale grensgebied getrek. Hy was redelik goed bevriend met kolonel Somerset en die redaksie van die Grahamstown Journal. Retief se manifes wat in 1838 uitgereik is om sy vertrek uit die kolonie te verduidelik en die rubriek van Robert Godlonton, die Grahamstown Journal se redakteur, is grotendeels in dieselfde trant geskryf.

      Een van die grootste oorsake van die gebrek aan sekuriteit aan die grens was die onsekerheid oor wat die bedoeling van die regering was met die sogenaamde neutrale gebied wat dit ná die oorlog van 1819 geproklameer het. Was die regering se bedoeling om ’n neutrale te gebied te skep waar niemand kon woon nie of was dit maar net ’n slenter om die deur vir kolonisasie van die gebied oop te maak? Die goewerneur self het geen geheim daarvan gemaak nie dat hy dit as ’n uitstekende geleentheid vir “systematic colonisation” beskou.

      In 1821, terwyl die regering in die Kaap aan die weifel was oor die grensbeleid, het Ngqika se seuns Maqoma en Tyhali weer in die gebied ingetrek wat so lank deur hulle en hul vader bewoon is. Maqoma het hom op sy aanloklike ou tuiste in die vrugbare Katriviervallei gevestig. Ander kapteins het hulle gevolg en plase is ook aan blankes uitgegee. In 1828, toe Stockenstrom as kommissaris-generaal aangestel is, was Maqoma al sewe jaar in die gebied. Hy was so gerus dat hy ’n naburige stam in die gebied aangeval en amper duisend stuks vee geroof het.

      In 1828 het sir Lowry Cole goewerneur geword en dadelik besluit dat Maqoma uit die gebied verban moet word. Daar is ook aan die ander kapteins in die gebied laat weet dat hulle slegs daar kan bly solank hulle hulle goed gedra. Cole is geadviseer deur Stockenstrom, wat die noodsaak beklemtoon het dat die regering sy beleid ferm toepas.

      Kort ná sy aankoms in Grahamstad het Stockenstrom in samewerking met Somerset Maqoma uit die neutrale gebied verdryf. Vir sowel Maqoma as sy broer Tyhali was dit ’n bitter pil dat hulle ’n gebied moes prysgee waarop hulle ’n sterk aanspraak gehad het en wat van die weinige dele was waar daar genoeg water was. Die grond van Maqoma het nou die Katriviernedersetting vir die Khoi-Khois geword.

      Stockenstrom was die vader van hierdie idee. Sy hoofdoel was om deur middel van ’n digte nedersetting ’n defensiewe barrikade teen invallers te skep. Terselfdertyd sou die nedersetting die geleentheid vir die Khoi-Khois bied om op klein skaal te boer. Sowat 5 000 Khoi-Khois het hulle gou in die Katriviernedersetting gevestig.

      Intussen het die grensgebied toenemend die gevolge ondervind van die Mfecane, die draaikolk van dood en verwoesting wat kleiner stamme ylings laat vlug het, ook oor die kolonie se grens. Die regering wou hierdie stamme terugdruk en indien moontlik die Zoeloes verslaan, wat as die hoofbron van al die konflik beskou is.

      In 1828 het twee militêre ekspedisies onder Britse offisiere stamme ver anderkant die oosgrens aangeval. ’n Mag onder die Britse landdros William Dundas het die sogenaamde “Fetcani” aangeval omdat daar verkeerdelik gemeen is dat hulle Zoeloes is. Dit het 25 000 beeste teruggebring en ongeveer 100 mense, wat later ingeboek is. ’n Aantal maande later het kolonel Somerset met ’n gemengde leër van meer as duisend burgers, setlaars en Khoi-Khoi-huurtroepe, ondersteun deur duisende swart hulptroepe, die Ngwane-stam aangeval, wat van die Hoëveld gevlug het. Die slag het naby die huidige stad Umtata plaasgevind. Somerset het ligte en swaar kanonne gebruik. Hy het gerapporteer dat sy swart hulptroepe duisende swartes doodgemaak en al hul vee buitgemaak het. Die mag het teruggekeer met ongeveer 100 vroue en kinders, wat hulle op die plase in die kolonie laat inboek het.

      Die regering het Dundas en Somerset nie voor stok gekry nie. Daar was ook geen aanduiding dat die Britse sendelinge of joernaliste die optrede gekritiseer het nie. Dit staan in skerp teenstelling met die groot ontsteltenis wat ontstaan het as soortgelyke wreedhede deur burgerkommando’s gepleeg is. ’n Burger het met verwysing na die aanval op die “Fetcani” teenoor Thomas Pringle, ’n Skotse setlaar, opgemerk: “We were living in a state of bitter feud and constant warfare with the natives, and both parties were intent on mutual extermination. But what had your Ficani done when they were destroyed by wholesale slaughter by your British commanders? … Here we had a massacre in all its horrors … But all this, I hear, your English missionaries defend or wink at, because it was done by Englishmen in authority and does not tell against us unfortunate Boors [sic].”

      Die grensburgers was ontsteld oor hierdie meet met twee mate, en Piet Retief sou later daarna verwys in sy manifes wat die oorsake van die emigrasie uit die kolonie uiteengesit het.

      “’n Reeks van bloedige oorloë”: Stockenstrom se vrees

      Die vernaamste botsings wat tot die grootskaalse emigrasie van grensboere sou lei, het afgespeel in drie prominente grensgebiede.

Скачать книгу