Скачать книгу

      2

luis_3.psd

      Die pet en die spieël

      Twee blou oë loer terug na haar vanuit die spieël. Alles is nog presies dieselfde! Teleurgesteld draai sy na Jessie: “Niks gebeur nie!”

      “Wag, miskien moet jy die pet in plaas van die mus ophê.” Vinnig pluk sy Nina se mus af en plak die swart-en-rooi pet bo-op Nina se kop.

      Skielik voel Nina vreemde sensasies. Dit voel asof ’n magneet haar binne-in die spieël intrek. Sy hoor ’n suisgeluid en ’n ligte windjie kielie haar vel. Sy ruik iets tussen vanielje en aarbeie en dan voel dit asof sy in deurskynende jellie beweeg.

      “Heeeelp!” gil sy beangs, maar geen geluid kom by haar mond uit nie. Aan die ander kant van die jellie is die lig verblindend helder. Sy knyp haar oë toe. Sy is bo-op iets, iets wat taamlik vinnig beweeg. Woep-woep-woep word sy heen en weer geskud. Nina probeer vasklou aan enigiets, maar vind dat sy nie kan beweeg nie.

      Kalmeer, Nina, kalmeer! Sy haal diep asem en besef dat, ten spyte van die woeste rit, sy nie afval of seerkry nie. Eintlik begin sy dit nogal geniet. Sy maak haar oë oop. Vir die eerste keer neem sy waar wat om haar aangaan.

      Wat? Verbaas kyk sy af. Sy sien twee rooi vlegsels onder haar afhang en ’n paar sproete op ’n neusbrug op ’n onderstebo gesig. Alles lyk groter as gewoonlik. Verder ondertoe sien sy hul skool se groen sporthemp en blou rompie. Sy sien ook twee hardlopende bene met hul skool se donkerblou hokkiesokkies en hokkiestewels aan. ’n Wit bal word vinnig en behendig met ’n hokkiestok oor die gras gestoot, en met ’n laaste knalskoot kletter dit agter in die doelhok. Prrrt! blaas ’n fluitjie skril.

hoofstuk%202.TIF

      Sy is sowaar op iemand se kop.

      “Mooi, Susan!” hoor Nina iemand roep. Susan? Natuurlik, dis Susan de Wet! Sy is ’n pet op Susan de Wet se kop! En dis hoekom alles vir haar groter lyk. Alles is nie groter nie, dis sy, Nina, wat kleiner is!

      Vanwaar Nina bo-op Susan se kop sit, kan sy nou mooi sien wat om haar aangaan. Susan is in graad 7 in Laerskool Tierkop. Sy is die spankaptein van die onder-13A’s. Sy sien die onder-13’s speel teen ’n vreemde span met wit, blou en geel hokkieklere aan.

      “Eina! Vervlaks!” roep Susan terwyl Nina voel hoe haar tande klap soos wat Susan val en oor die gras seil. Nina sien hoe ’n meisie van die ander span vinnig met ’n grynslag weghardloop. Sies, sy het sowaar vir Susan gepootjie!

      Terwyl Susan terughardloop na haar plek, sien sy Susan se groot gesproete hand nader kom om haar haarlyn onder Nina, wat nou die pet is, te krap. Verbaas loer Nina na die plek waar Susan pas gekrap het. Sy sien ’n paar bloederige kolletjies op Susan se kopvel. Sy sien ook ’n paar klein balletjies wat aan die hare vassit. Dit lyk soos klein pêreltjies.

      Dan voel Nina hoe haar nekhare rys. Sy sien twee verdagte bruin grillerige goeters wat vinnig tussen Susan se roesrooi hare skarrel! Nina skrik haar boeglam! Gewoonlik is sy maar skrikkerig vir enigiets wat meer as vier pote het. Dis goggas! En hulle lyk yslik groot, amper so groot soos die kakkerlakke wat hulle verlede week by die skool se drein gesien het! Sy ril toe sy die kriewelrige pote sien. Grrr! Nina knyp maar liewers haar oë toe. Dalk, net dalk as sy hulle nie sien nie, sal hulle haar ook nie sien nie. Niks gebeur egter nie. Sy maak stadig haar oë weer oop. Dit lyk nie asof die goggas hulle aan haar steur nie. Dan skarrel hulle weer weg en verdwyn tussen Susan se hare. Kakkerlakke in hare?

      Die volgende oomblik voel dit weer vir Nina asof sy sweef. Sjoe, gelukkig! Weer deur die deurskynende jellie, die reuk van vanielje en aarbeie, dieselfde suisgeluid en ligte windjie. Wanneer sy haar oë verdwaas oopmaak, kyk sy vas in Jessie se bekommerde bruin oë. Die pet hou sy in haar hande vas. Dankie tog! Sy is weer veilig, weg van daardie nare gediertes!

      “Sjoe, Nina, ek sien wat jy bedoel. Jy het presies soos my Barbiepop gelyk – jy het net nie geglimlag nie! Jy wou nie boe of ba sê nie, selfs nie toe ek jou knyp nie,” babbel Jessie.

      Nog steeds ietwat deur die blare, sê Nina: “Dit was seker die vreemdste ervaring wat ek nog ooit gehad het. En jy’s reg, ek sou jou nooit ooit geglo het nie. Grrr, daar was aaklige goggas … was jy ook op Susan de Wet se kop?”

      “Susan de Wet? Gits, nee,” sê Jessie. “Ek was op Cornè Gouws s’n,” giggel sy. “Op die krieketveld, besig met ’n wedstryd. Hy het sommer ’n ses geslaan. En jig! Daar was goggas op sy kop!” lag Jessie. “Was daar goggas op Susan se kop ook?” Jessie was nog altyd dapperder as Nina, veral as dit by goggas kom.

      “Ja, kakkerlakke!” sê Nina met groot oë.

      “Kakkerlakke? Nee, man, dit was nie kakkerlakke nie.”

      “O, nou wat dan?” vra Nina.

      “Watse goggas woon in hare, Nina?” Jessie klink soos ’n skooljuffrou.

      “Uhm …” dan onthou Nina. “Kopluise! Natuurlik! Nou toe nou, wie sou dit nou kon raai! Susan en Cornè het kopluise!” Almal behandel altyd vir Cornè en Susan met respek aangesien hulle so talentvol en sportief is. Boonop is Cornè die hoofseun. Jy sukkel ook nie sommer met Susan nie – sy kan jou sommer maklik ’n taai klap gee.

      “Nina, dalk moet ons bietjie verder ondersoek instel. Jy weet, uitvind of daar nog kinders is wat dit het.” Jessie se oë glinster.

      Nina en Jessie kyk na die spieël, dan na die pet en daarna na mekaar. Hulle begin giggel.

      “Jy eerste!” sê Nina. Sy is maar steeds skrikkerig vir daardie kriewelrige gediertes.

      3

luis_3.psd

      Morpot

      Die graad 5A-klas is doodstil. Die leerders is besig om ’n Tegnologietoets te skryf. Nina het klaar geskryf en kyk nou verveeld om haar rond. Sy sien hoe Petrie, wat skuins voor haar sit, sy kop met die agterkant van sy potlood krap. Sy ril en skuif bietjie verder van hom af weg. Dalk het hy ook luise. Sy loer onderlangs na juffrou Morkel, of Morpot, soos wat Jessie haar gister herdoop het. Sy sit by haar lessenaar en boeke merk. Morpot het ’n frons op die voorkop en haar mond is op ’n plooi. Haar lang vaalbruin hare is in ’n stywe bolla en haar bril het vuil kolle op die lense.

      Nina en Jessie het die oggend voor skool gou ’n brief op haar lessenaar gaan neersit. Dis ’n naamlose brief waarin hulle haar vertel dat sy luise het. Jessie het gister tydens hul ondervinding met die pet en die spieël uitgevind Morpot het ook luise. Op die briefie staan:

      Liewe juffrou Morkel

      Juffrou het luise. Aaklige, grillerige goggas op Juffrou se kop. Dit is hoekom dit so jeuk.

      Moenie wonder hoe ons weet nie. Raak net ontslae daarvan, asseblief.

      Voor die skoolvakansie sal ons in die geheim kom inspeksie hou. Enigeen wat dan steeds luise het, SAL ONTMASKER WORD!

      Tot weersiens

      Operasie L-Ui-S (die Luis-Uitroei-Span)

      Sonder om af te kyk en die brief op die tafel te sien, het Morpot egter ’n stapel boeke bo-op die brief gaan neersit. Die hele dag al loer Nina kort-kort na die stapel boeke, maar dit het nie gelyk asof Morpot dit ooit gaan skuif nie. Dit is die stapel boeke wat sy nou besig is om te merk. Nina tel vinnig: Nog tien boeke, dan is die stapel weg en sal Morpot hopelik die briefie sien.

      Nina voel iets sags teen haar rug hop. ’n Opgefrommelde papiertjie land op die vloer langs haar stoel. Sy loer na juffrou Morkel en tel die papiertjie dan vinnig op toe sy sien dis veilig. Stadig vou sy dit oop, versigtig om nie ’n kraakgeluid te maak nie.

      Ryki ouje ousepy uiteba yby iede laskr esy enstervi!

      Eeswo ersigtigve, iemandni oetmo oujy iensa ieny!

Скачать книгу