Аннотация

Die drama handel oor die lewe van die Griekse digter-staatsman Periandros (627-585 v.C.), die alleenheeser van Korinthe, wat sy groot droom probeer verwesenlik: om Korinthe ’n wêreldstad te maak.

Аннотация

Negester oor Ninevé (1947) is die bevestiging van Opperman se digterskap en bring ʼn verdere ontwikkeling ná die debuutbundel deurdat die basiese drie “motiewe” nouer verbind en die afsonderlike verse in ʼn groter mate by ʼn omvattende konsepsie ingeskakel word. – J C Kannemeyer

Аннотация

Kuns-mis (1964) is ʼn versameling “oorskietverse” wat “die kuns mis”, maar terselfdertyd bemesting is vir latere werk. Dit bevat gedigte wat satiries of hekelend kommentaar lewer op literêre en ander aktualiteite en waarin dikwels gebruik gemaak word van woordspelings, teleskoperings van verskillende woorde in mekaar, dubbelsinnighede en besondere tipografiese rangskikkings. – J C Kannemeyer

Аннотация

Komas uit ʼn bamboesstok (1979) is geskryf na ʼn ernstige lewersiekte en werk met ʼn hele aantal bekende temas van vroeër, maar deur die besondere verbinding wat bulle met mekaar aangaan, verskyn hulle dikwels in ʼn verrassend-nuwe gedaante. Die motiewe van aftakeling en siekte, beperktheid van menslike lewe en besit, word hier dikwels op ʼn geestige wyse met die gebruik van satire, hekeling, selfspot en ironie aangebied. – J C Kannemeyer

Аннотация

Joernaal van Jorik (1949), is ʼn vyfdelige epiese gedig in kwatryne met gekruiste rym. Die gedig handel oor die geskiedenis van Jorik (ʼn naam wat saamgestel is uit die digter se voorname Diederik Johannes) wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in ʼn duikboot as spioen in Kaapstad aankom. Hy leer die land en sy mense, sy verskeidenheid landskappe en kontraste ken en raak verstrik in die politieke situasie en lewenswyse van Suid-Afrika. – J C Kannemeyer

Аннотация

In Heilige beeste (1945), Opperman se debuutbundel, is die belydende inslag en die religieuse stryd van die Louws se eerste bundels feitlik geheel en al afwesig en beoefen hy ʼn veel meer beeldende poësie as sy voorgangers. Daarby laat vaar hy die chronologiese of achronologiese basis vir sy rubrisering en maak hy ʼn verdeling wat op die temas van “die aardse, die vrou en die Groot-Groot-Gees” uit die titelgedig berus. – J C Kannemeyer.

Аннотация

Alhoewel reeds vroeër as motief aanwesig, vind die besinning oor die kunstenaarstaak besondere gestalte in die bundel Engel uit die klip (1950), ʼn titel waarmee hy andermaal die spanning tussen die goddelike en aardse aandui, nou met die aksent op die verlossingsmotief. Nie alle gedigte handel egter oor die kunstenaarstaak nie. – J C Kannemeyer

Аннотация

Edms. Bpk. (1970), dui op die beperktheid van die menslike lewe en besit en die kleiner wêreld van die bundel, dikwels die vertroude terrein van Franskraal. Alhoewel die verse meestal die magtige greep en groot konstruksies van vroeër mis, is die bundel tog as ʼn duidelike eenheid gekonsipieer. – J C Kannemeyer

Аннотация

Met Blom en baaierd (1956) bou Opperman deur die reeksstruktuur, parallelismes, sirkulering van simbool en beeld en tipografiese rangskikking ʼn hegte bundeleenheid op. In hierdie bundeleenheid verteenwoordig “Oud-digter” en “Paddas” onderskeidelik futiliteit en die bose teenoor sinvolheid en die goeie. Al die gedigte tot “Nagwag” staan in die teken van die Suid-Afrikaanse “kleur”-aktualiteit, terwyl die lyding in die tweede helfte van die bundel op ʼn universeler vlak verken word. – J C Kannmeyer

Аннотация

"As ’n mens Diederik Johannes Opperman (1914-1985) se poësie met dié van die Dertigers vergelyk, is dit opvallend dat hy van die begin af ’n veel minder belydende inslag toon en veel meer oopgestel is vir die Suid-Afrikaanse werklikheid in sy verskillende geledinge. Daarby groei sy poësie, ten spyte van hierdie aardsheid en konkreetheid, uit tot ’n stryd tussen die hemelse en aardse, tusssen die goeie en die bose en tussen orde en chaos, ’n gegewe waarmee die taak van die kunstenaar ten nouste saamhang. In vergelyking met Dertig is die poësie van Opperman veel afgekapter en kantiger en toon sy werk ’n radikale breuk met die “mooi” woord. ’n Mens sien dit in die formuleagtigheid en geslotenheid van die vers, die aanwending van die kortsluitende metafoor en die verruiming van die poëtiese woordeskat."
J.C. Kannemeyer