Скачать книгу

ection>

      

      Jesus vir almal

      Die gay-gesprek in die kerk

      Neels Jackson

      Lux Verbi

      Oor die uitleg

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Jesus vir almal mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe.

      Inleiding

      Hierdie boek is ’n persoonlike getuienis. Ek deel hierin van die insigte en oortuigings waartoe ek deur die jare gekom het.

      Ek was bevoorreg om byna drie dekades lank te werk as joernalis wat my hoofsaaklik op kerksake toegespits het. Dit het meegebring dat ek baie naby aan die kerklike gesprekke en besluitnemingsprosesse beweeg het. Ek het die voorreg gehad om die sleutelmense in die kerklike gesprekke te leer ken, om te hoor hoe hulle dink en om dikwels self met hulle in gesprek te tree. Dit het mense oor die wye spektrum van kerke en kerklike standpunte oor uiteenlopende sake ingesluit.

      Onvermydelik het dit my ook die geleentheid gegee om my sienings te weeg en te slyp. Dit het aan my ’n uitsonderlike geleentheid tot persoonlike groei, ook persoonlike geloofsgroei, gebied. Dit is van die wonderlike skatte wat ek in die proses ontdek het, en wat ek in hierdie boek wil deel.

      Die belangrikste hiervan was dat ek nuut moes leer dink oor Jesus, en daarom nuut moes leer dink oor God.

      Ek het in ’n Christelike omgewing grootgeword. In die huis, by die skool, in die kerk en deur die samelewing is my siening van Jesus gevorm. Maar in ’n stadium het ek die Evangelies begin lees en ontdek dat my persepsies van Jesus en dít wat in die Bybel oor Jesus staan, in baie opsigte nie klop nie.

      Dít was die grootste kopskuif, die grootste bekering van my lewe. Maar dit was ook die begin van ’n avontuur wat steeds voortduur: om Jesus beter te leer verstaan. Dit is waaroor die eerste en grootste deel van hierdie boek handel.

      Maar dit is nie genoeg om iets van Jesus te verstaan nie. Hy vra ook dat ons Hom sal volg. En dit is nie altyd so maklik nie. Kyk maar hoe verskil Christene oor die wêreld heen oor gaywees en oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Dit was veral in die afgelope twee dekades dat die gesprek hieroor ’n groot besprekingspunt in kerke geword het.

      As joernalis het ek in hierdie tyd die geleentheid gehad om met talle gay mense en met mense naby aan hulle te gesels. Ek kon hulle lewensverhale hoor en ek kon hulle geloofsworstelings hoor. Nêrens anders in die kerk het ek soveel pyn gesien en gehoor soos in die verhale van gay mense in die kerk nie.

      Dit is een van die dryfvere agter die skryf van hierdie boek. Ek hoop dat dit ’n bydrae sal lewer om, in navolging van Christus, die kerk ’n vriendeliker plek vir gay gelowiges te maak. Ek hoop dit help die kerke en die lidmate van kerke om met sagter oë na hulle gay broers en susters te kyk.

      ’n Verdere belewenis wat ek in hierdie tyd gehad het, was hoe ’n kerk verdeeld en gepolariseer kan raak. Spesifiek in die NG Kerk waarvan ek lidmaat is, het dit die afgelope jare erg geword.

      Die NG Kerk is die kerk waarin ek gedoop is, waarin my geloof gevorm is, voor en nadat ek belydenis van geloof in dié kerk afgelê het. Dit is die kerk waarin ek getroud is en waarheen ek en my vrou ons kinders gebring het om gedoop te word. Dit is die kerk waar ons harte lê.

      En nou is ons kerk verdeeld, dalk dieper verdeeld as ooit tevore. En dit oor gay verhoudings. Ek hoop om by te dra dat daar in die kerk groter begrip sal kom vir die oortuigings waartoe ek gekom het.

      Daar is baie verkeerde persepsies, onder meer dat ’n mens die Bybel moet ontken of ignoreer as jy die oortuigings het waartoe ek gekom het. Dit is eenvoudig nie waar nie. Dit is juis omdat ek die Bybel ernstig opneem dat ek tot hierdie oortuigings gekom het. Dit is juis op grond van die Bybel dat ek pleit dat gay mense met hulle seksualiteit, hulle verhoudings en al die ander wonderlike aspekte van hulle menswees in die kerk verwelkom moet word. Nie bloot aanvaar moet word nie, maar met oortuiging verwelkom moet word.

      My nuwe verstaan van wie Jesus is, het heeltemal los van die gay gesprek ontwikkel. Baie daarvan het gebeur nog voordat die gay debat in die kerk vlam gevat het.

      Daarom dat ’n mens Deel 1 wat oor Jesus gaan, los van die gesprek oor gaywees kan lees. Die insigte wat ek uit die Bybel oor Jesus gekry het en wat ek in Deel 1 van die boek deel, gaan oor baie meer as hoe ’n mens dink oor gay mense en die kerk. Die implikasies daarvan strek tot by baie ander kwessies, soos hoe ’n mens dink oor armoede en rykdom, oor manlikheid en vroulikheid, oor ras, oor gesinsverhoudings, oor die politiek. Dit is grondliggend tot hoe ek oor die hele lewe dink.

      In Deel 2 skryf ek oor gay mense en wat ek oor hulle geleer het. Eers in Deel 3 bring ek dan die insigte van Deel 1 en Deel 2 bymekaar. Dan probeer ek uiteensit hoe ek die implikasies van alles wat ek oor Jesus geleer het vir die kerklike gesprek oor gay mense verstaan.

      Ek kan dink dat mense vir wie die saak oor die kerk en gay gelowiges baie belangrik is direk na Deel 3 van die boek sou wou gaan. Ek wil hulle vra om geduldig te wees en veral Deel 1 deeglik te lees. Daar lê die onderliggende en bepalende insigte vir die oortuigings waartoe ek gekom het. Hoewel ’n mens Deel 1, oor Jesus, los van die res van die boek kan lees, kan jy die res van die boek, dink ek, nie werklik begryp as jy nie Deel 1 goed gelees en verstaan het nie.

      Laastens, eintlik as ’n soort aanhangsel, probeer ek ’n aantal misverstande opklaar. In Deel 4 skryf ek oor van die interpretasies van Bybelgedeeltes en sommige van die argumente wat ’n mens in die kerklike gesprek hoor. Dit is argumente wat dikwels met groot opregtheid en groot erns gevoer word, maar wat ek meen op misverstande berus.

      Ek hoop dat hierdie boek sal help. Ek hoop dit help gay mense. Ek hoop dit help die familie en vriende van gay mense. Ek hoop dit help die kerk. Ek hoop dit kan ’n bydrae lewer om wonde te help genees. Gay mense se wonde, maar ook die wonde in die kerk.

      Ek dink dit is wat Jesus wil hê moet gebeur.

      Neels Jackson

      Maart 2020

      Deel 1

      ~

      Wie is Jesus?

      Hoofstuk 1

      ~

      Jesus is die Here

      Ek begin hierdie gedeelte oor Jesus met ’n gebed:

      Grote God, U is so gans anders as ons.

      U is in soveel opsigte onbegryplik,

      maar dankie dat U nie onbekend is nie.

      Dankie dat U u Godwees in menswees vertaal het.

      Dankie dat U Uself in Jesus van Nasaret aan ons

      kom toon het.

      Dankie dat die verhale oor Jesus vir ons opgeteken is.

      Dankie, Jesus, dat U nou deur u Gees lewend by ons is.

      Help ons nou om die verhale oor U goed te verstaan,

      sodat ons beter kan weet wie U is,

      wie God is.

      Amen.

      Twee bakens

      Ek het grootgeword met die gedagte dat Jesus die oppergesag in my lewe is.

      As klein seuntjie sou ek dit natuurlik nie in sulke woorde gesê het nie. Maar of ek dit nou so kon sê of nie, ek het dit van kleins af verstaan. Jesus is die hoogste en finale gesag, want Hy is God. Hy het die laaste sê.

      Eers baie jare later sou ek leer dat dit in wese die eerste belydenis van die vroegste kerk was. Daardie eerste groepie gelowiges wat ná Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees ’n nuwe beweging begin het, het bely: “Jesus is die Here.”

      Ons lees

Скачать книгу