Скачать книгу

      Saartjie

      Omnibus 4

      Saartjie se skatte

      Saartjie se kliek

      Saartjie se kêrel

      Bettie Naudé

      Human & Rousseau

      Voorwoord

      Dokter Jan Baumann se groot dubbelverdiepinghuis teen die kant van die heuwel het ’n pragtige uitsig oor die vallei. Op ’n helder, sonnige dag kan ’n mens vanuit Saartjie se venster op die boonste verdieping Johannesburg se wolkekrabbers sien.

      Lynnekom word as ’n voorstad van Johannesburg beskou, maar dit is ’n stil plekkie met ’n tipies plattelandse atmosfeer. Al die inwoners ken mekaar en kom goed oor die weg.

      Op die oomblik is die hele vallei in ’n sagte, rooi skynsel gehul. Dit is skemer – ’n tyd van vrede.

      Maar skielik word die stilte verbreek deur ’n klavier wat hard in dokter Baumann se huis gespeel word. ’n Opgewekte deuntjie weerklink deur die buurt.

      Dan begin iemand sing. Dis ’n pragtige, suiwer stem.

      Menige inwoners se voete begin op maat van die vrolike musiek tik. Hulle glimlag en sê met ’n teer kyk in die oë:

      “Dié Saartjie … Ai, dié Saartjie …”

Saartjie se skatte

      1

      Saartjie hoor van die spokery

      Van waar Saartjie Baumann op ’n stoel voor die venster in haar kamer sit, kan sy die plek wat die kinders deesdae “die spookhuis” noem duidelik sien.

      Die Baumanns woon in ’n groot dubbelverdiepinghuis in die landelike Johannesburgse voorstad, Lynnekom, en die veertienjarige Saartjie se kamer is op die boonste verdieping. Op helder dae kan Saartjie die stad se wolkekrabbers duidelik in die verte sien.

      Deesdae stel Saartjie egter nie belang in die hoë geboue daar ver op die horison nie. Nee, as sy nou by die venster uitkyk, dwaal haar oë oor Lynnekom se hoofstraat, verby die kerk en laerskool waar sy en Anna en Lina soveel gelukkige jare deurgebring het, en kom dan te ruste op ’n bouvallige ou huis ’n entjie buite die woonbuurt.

      Dan kyk sy altyd of sy iets kan gewaar van die spook of spoke wat glo daar by die ou huis “jol”, volgens Apie, haar negejarige boetie met die koddige sproetgesig en twee voortande wat skitter in hul afwesigheid.

      Apie het kastig eendag uit ’n boom geval en só sy twee voortande verloor. Hy het ’n geweldige blouoog ook gehad, maar dit kon hy nie verduidelik nie. Hoe meer die Baumanns hom uitgevra het, hoe meer het hy koppig volgehou dat hy net uit ’n boom geval het. Dit was sy verhaal en dit kon hom nie traak wie hom glo en wie nie.

      En buitendien is Apie nogal trots op sy haasmond. Die opening waar sy tande moes gewees het, is ’n ideale hulpmiddel om sy afkeuring te kenne te gee. Wanneer hy vies is of nie met iets saamstem nie, maak hy sulke sisgeluide daardeur.

      Verder het Apie ook die gewoonte om wanneer hy volgens homself “groot goete” uitdink, gedurig met sy tongpunt deur die opening te speel. Hy glo vas hierdie gewoonte wat sy ma gewoonlik so irriteer, bewys hy is ’n baie groot denker.

      Saartjie sit ingedagte na die spookhuis en kyk. Sy dink nou weer aan die storie wat Apie ’n paar dae gelede vertel het. Hy en sy boesemvriend, Bennie, het glo die middag in die riviertjie duskant Lynnekom gaan visvang.

      Die visse wou nie byt nie, en later het die seuns hul visstokke neergegooi en met hul hande begin paddas vang. Hulle het ’n hele paar vettes gevang en die tyd het veels te vinnig verbygegaan. Toe hulle weer sien, was dit donker. Apie-hulle het die paddas toe maar in die sak wat vir die visse bedoel was, gegooi en begin aanstryk huis toe.

      Dit was al donker toe hulle verby die ou plaashuis net buitekant Lynnekom loop. Hulle het nie eintlik van die huis notisie geneem nie, want hulle weet mos daar woon al jare lank niemand nie. Omdat dit toe al laat was, het hulle sommer kortpad deur die huis se erf gekies.

      Maar vlak voor die plek het die twee seuns skielik botstil gaan staan. Apie se oë is nou nog groot wanneer hy daarvan vertel: “Ons kon nie roer nie, kos why voor ons was so ’n wit ding en die ding het so oor die aarde gesweef. En toe, voor ons nog kon vra wie hy is en wat hy wil hê, maak die ding sulke grillerige kreungeluide en ons hoor iets wat klink soos ’n spook wat kettings sleep. Ek en Bennie is nie bang ouens nie, maar toe hol ons vir al wat ons werd is.”

      Saartjie glimlag by haarself terwyl sy hier in haar kamer sit en aan Apie se storie dink. Dit was hoe hy dit die eerste keer vertel het. Later, toe hy en Bennie agterkom hulle word nogal as helde beskou en die ander kinders luister aandagtig na hulle, het die storie baie stertjies bygekry. Dit was later nie net een spook nie, maar sommer vyf! Bennie reken selfs hy het sewe getel, maar hy erken darem hy kon ’n fout gemaak het.

      Hoe meer die twee seuns hul storie herhaal het, hoe minder het hulle gepraat van die weghardlopery. Hulle het kastig net ewe rustig weggestap. In latere weergawes het hulle selfs begin beweer hulle het die spoke genooi om saam met hulle te stap!

      Maar volgens Apie was die geeste ’n bietjie skrikkerig en het hulle hierdie vriendelike uitnodiging van die hand gewys.

      Saartjie lag en sê hardop vir haarself: “Apie is darem maar laf!”

      Nogtans, dink sy fronsend en byt effens op haar onderlip, daar moet iets in Apie en Bennie se storie steek, want ander kinders het ook gesê hulle het al vreemde geluide daar by die ou huis gehoor. Die jong Lynnekommers word al hoe versigtiger en kom deesdae nie meer naby die plek nie.

      Saartjie staar na die spookhuis. Sy wonder wat sy sal doen as sy ’n spook moet raakloop. Sy sal seker só skrik dat sy nie eens sal kan weghardloop nie!

      Sy voel selfs op hierdie oomblik wat die son so heerlik by haar kamer inskyn skrikkerig as sy aan sulke goed dink.

      Saartjie draai haar kop en kyk in die groot spieël teen haar hangkas. Haar oë rek en haar mond val oop. Dis hoe ek sal lyk as ek vir ’n spook skrik, dink sy en bars uit van die lag.

      Nou kyk Saartjie weer ernstig na haarself in die groot spieël. Sy het mooi, kortgeknipte krulhare en lieflike, helderblou oë. Wanneer sy glimlag, verskyn daar twee diep kuiltjies in haar wange en ’n mens sien haar pragtige wit tande. Op haar neus se brug is daar ’n paar verdwaalde sproete wat haar selfs nog aantrekliker maak.

      Ja-nee, hierdie lewenslustige rabbedoe is ’n aantreklike meisie, dis nou nie altemit nie, al is sy natuurlik nie daarvan bewus nie. Saartjie dink nooit aan haar uiterlike nie. Sy is gans te besig om planne te beraam vir kattekwaad wat sy en haar vriende kan aanvang om die lewe interessant te maak. Soos Lynnekom se inwoners gewoonlik met ’n sug sê: “Waar Saartjie is, gebeur daar altyd iets.”

      Saartjie begin nou vir haarself gesigte in die spieël trek. Sy wil kyk hoe lelik sy kan lyk. Sy probeer om haar een wenkbrou te lig terwyl sy die ander een laat sak, en terselfdertyd haar mond skeef te trek en haar neus te wikkel. Dis glad nie so maklik soos wat sy gedink het nie, maar dan klop iemand gelukkig aan die deur.

      “Ja? Kom in,” sê sy.

      ’n Meisie van Saartjie se ouderdom stap by die deur in. Sy dra ook die beroemde Hoërskool Saamwerk se blou uniform. Sy is een van Saartjie se boesemvriendinne, Anna Strydom.

      “Haai,” sê Anna en kom sit op die bed.

      “Haai jouself,” groet Saartjie vriendelik terug op die tipies Lynnekomse manier.

      Anna bly net langsaan Saartjie en hulle twee is al maats vandat hulle as babatjies eers agterdogtig uit hul kinderwaentjies na mekaar geloer het, en later al laggende hul vet handjies na mekaar uitgesteek het.

      Anna is ’n ronde, vriendelike meisie. Sy is in dieselfde klas as Saartjie en hulle sit in dieselfde bank.

      Saartjie,

Скачать книгу