Скачать книгу

ion>

      

      WEERMAG­STORIES

      Dienspligtiges verbreek die stilte

      Roelf Schoeman

      Lux Verbi

      Mense sê oor hierdie boek …

      Wat sê ’n mens as jy ’n boek soos Weermagstories van Roelf Schoeman lees … van soldaatwees en stemme roepende uit ons verlede, oud en jonk … van verstaan, daar wees vir mekaar, omgee en dankie sê?

      Ek het baie van die soldate oor wie hy skryf, geken. Ek weet van die ander en verstaan die omstandighede waarin hulle was. Die vraag is of ’n mens werklik die wisselgang van die lewe onder angsgevaar en seerkry verstaan?

      Ons seuns was krygers – hulle is dit nog steeds. Sal ons ooit weet wat hulle vir ons beteken het in die tye van nood, tydens die Grensoorlog? Hoe sê ons dankie?

      Vandag is die wapentoerusting iets anders as skietgoed. Dit is meer van wat ons liewe Vader van ons verwag: Van aanhou glo, van omgee en daar wees vir mekaar – al gaan ons deur ’n dal van doodskaduwee. Ons sal geen onheil vrees nie.

      Dit is wat ek verstaan Roelf Schoeman smag om vir ons te sê met die stemme van ons makkers wat seergekry het, asook die stemme van hulle geliefdes en vriende oor wie hy skryf. Wat is dus die essensie van soldaatskap, menswees en kameraadskap?

      Die antwoord lê in die Goddelike voorbeeld wat ons in Jesaja 30:18 vind, waar verwys word na die Vader se ongeëwenaarde, onbreekbare kameraadskap en nabyheid, en na sy behoefte om goed te doen aan die mens, liefde te betrag en genadig te wees.

      Generaal-majoor Roland de Vries (afgetree)

      Dubai, 12 April 2014

      Ek is ’n pa van twee seuns wat daar was. Een van hulle het in 1999 sy lewe geneem. Omdat hy nie ’n brief agtergelaat het nie, sal ek nooit weet watter rol “ongedeelde trauma” in sy dood gespeel het nie. Wat ek wel weet, is die woorde van sy vrou: “Pa, hy slaap nooit.” Die tweede seun is nog by my op aarde. Ook in sy lewe is daar steeds na 32 jaar elemente van ongedeelde trauma. Hulle was net te jonk vir ’n oorlog wat later as “verkeerd” getipeer is. Die oudste het net vir een kamp terug grens toe gegaan en toe gesê: “Pa, hulle kan my maar opsluit, maar nie weer nie.”

      Roelf Schoeman raak ’n hartseer aan wat nie net by hulle wat daar was, voortleef of voortspook nie, maar ook by baie mense naby hulle. Die boek is tydig en nodig. Dit plaas ons binne die spanningsveld tussen treur en rou. Wat dit erger maak is om te rou oor iets wat baie van ons voel ons eintlik lank terug reeds moes bely het – en ons seuns dit gespaar het. Nou, na baie water (ook trane) in die see geloop het, is ons dit ten minste aan hulle verskuldig om te help. Ons behoort veilige ruimtes vir hulle stories te skep. Roelf doen dit en gaan ons hierin voor.

      Vir my is die boek ook die antwoord op gebed. As een van die baie ouers van die duisende wat betrokke was, bid ek dat die boek by ons begrip sal bring en toerusting sal gee oor hoe om soortgelyke uitdagings beter te kan hanteer. Schoeman help ons op ’n wetenskaplike en verantwoordbare manier.

      Malan Nel

      Buitengewone professor

      Dept Praktiese Teologie

      Fakulteit Teologie

      Universiteit van Pretoria

      Met die lees van die boek het drie woorde by my opgekom:

      Broodnodig. 20 jaar na die koms van demokrasie is daar ’n baie spesifieke groep mense wat nog steeds worstel omdat hulle nooit die kans gehad het om hulle verhale vir die groter groep te vertel nie. Ek beleef trouens in my praktyk dat die stemme al hoe sterker word soos die vrae oor die koers van ons land al hoe dringender word.

      Eerlik. Die skrywer huiwer nie om sy eie soeke en worsteling met dié van ander te verweef nie en dit gee aan die boek ’n groot stuk deurleefde integriteit.

      Hoopvol. Daar is hoop, maar dit moet gehaal word. Daar is meer as genoeg praktiese wysheid oor die pad na herstel.

      Ek sien uit daarna om die boek vir mense te kan gee.

      Dr Johan Pienaar

      Bestuurs- en verhoudingskonsultant

      Pretoria

      Baie keer word ons optrede gekenmerk deur gedrag wat eintlik die vrug is van onverwerkte trauma in ons verlede. Een van die omgewings wat die teelaarde vir traumatiese ervarings is, is dié van oorlog. Roelf Schoeman, as oudweermagman, met sy ondervinding in die trauma-beradingswêreld en sy eie verwerking van trauma in die verlede, is ideaal geposisioneer om vir ons hierdie “terapeutiese handleiding” saam te stel.

      Die kern van alle terapie lê in die drievoudige krag van:

      Vergifnis – om vry te kom van jou verlede.

      Verantwoordelikheid – om te kies dat jou verlede nie jou hede sal bepaal nie.

      Vernuwing – Om jou nuwe identiteit in Christus te vind en nie in jou seer nie!

      Mag hierdie boek baie op hulle genesingspad help!

      Alan Platt

      Leier en stigter van Doxa Deo-gemeente

      Opgedra aan die dienspligveterane wat baie opgeoffer het en nie die erkenning en ondersteuning gekry het wat hulle verdien nie.

      VOORWOORD

      Waar is die dae toe ouers aan hulle kinders gesê het: “Gaan speel! Moenie sit en tande tel nie!”? Of nóg erger: “Kinders moet gesien en nie gehoor word nie.” Dit was veral in die Afrikaner-kultuur die gebruik. Kinders en jongmense van daardie era is ook selde die geleentheid gegun om vrae te vra of verduidelikings te eis. Outoritêre figure het eenvoudig vereis dat daar “gedoen moet word wat gesê word” en basta met die res.

      Toe televisie Suid-Afrika in die laat jare sewentig tref, het die samelewing ’n aanpassing gemaak sodat beide oud en jonk nóg minder tyd vir lees of praat gehad het. Kinderprogramme, sepies en sport het elkeen hulle ondersteuners gehad, wat die samelewing verder ontneem het van die geleentheid vir lekker gesels en stories vertel.

      Die koms van selfone was ’n verdere terugslag vir tye van luilekker kuier om die kaggelvuur of om die kombuistafel. Op die koop toe het ook die sosiale media gekom en daar sit ons nou met ’n wêreld waar almal met almal praat, maar in baie kriptiese formaat.

      Gedurende hierdie tyd, in die jare tagtig, toe die dae van stories vertel stelselmatig stil-stil verdwyn het, vind die Grensoorlog plaas. Die ou gesegde van “cowboys don’t cry” is ’n wesenlike deel van hierdie tydperk. Daar is diegene wat “nie daar was nie”, wat stories verdig en gewillige luisteraars met vertellings vermaak of beïndruk. Ander weer, wás daar, maar praat nie. Hoe meer ’n mens hulle vra om te vertel wat met hom of haar in die Grensoorlog gebeur het, hoe meer ontwykend is die reaksie en die afmaak van die werklike gebeure.

      Dit is opmerklik hoe daar sedert 2008, sowat 20 tot 30 jaar ná die Grensoorlog, al hoe meer aandag aan die konflik van daardie tyd gegee word. Dit is asof koerantberigte, TV-programme, boeke oor die Grensoorlog en die sosiale media daarop gerig is om “verroeste gedagtes” los te maak. In 2013 was daar ’n artikel in die gedrukte media wat verwys het na ’n insident waar soldate erg gewond was. Daarin is melding gemaak van ’n dokter wat gehuil het terwyl hy die gewondes gehelp het. Die mediese dokter waaroor daar geskryf is, het ná meer as 30 jaar verontwaardig reageer toe hy die berig lees. Hy het sy destydse bevelvoerder geskakel, na die berig verwys en gevra: “Wie sê ek het gehuil?” Sy bevelvoerder, wat tydens die afvoer en behandeling deur die twee dokters teenwoordig was, kon getuig dat die dokters só gefokus was om die gewondes te red dat niemand gehuil het nie. Die opmerking het die dokter egter so ontstel dat hy die bevelvoerder gevra het om daaroor te skryf. Die bevelvoerder het die versoek omgekeer en die dokter gevra om die werklike gebeure op skrif te stel en aan hom te stuur. Dit het die dokter tot groot verligting van sy vrou gedoen, want hy wou voorheen glad nie oor die insidente op die grens praat nie. Dit was die eerste keer dat hy in soveel besonderhede daaroor gepraat het. Dit het hom gehelp om die detail van die gebeure te herroep en so het daar vir hom berusting gekom. Daar is talle voorbeelde wat toenemend

Скачать книгу