Скачать книгу

en die volgende oggend in ’n noordwestelike rigting al teen die Luenge-rivier opbeweeg. Om­dat dit winter was, het die rivier net uit waterkuile bestaan wat hulle taamlik maklik kon oorsteek. “Ondanks die winter was die dae ongelooflik warm. En saam daarmee was daar vlieë – tsetse­vlieë en mopanievlieë. Oral om, oor en op jou, vlieë en nogmaals vlieë. Dit was ’n verskriklike affêre.”

      Teen die middag het hulle gestop en besluit om die res van die dag daar te bly. Hulle het ’n lekker pot kerrie gemaak, goed geëet en toe onder die bome ontspan. Net toe hulle klaar geëet het, kom Puna na die Recces toe en sê hulle gaan nou stap, steeds op die roete maar nou te voet.

      In ’n stadium kom hulle by ’n poel water so groot soos ’n halwe rugbyveld in die rivier en daar is ’n seekoei in die water. Puna het ’n Amerikaanse militêre geweer by hom gehad en hy wil die seekoei skiet. “Elke keer as die seekoei sy kop uitsteek, skiet hy op hom. En dan duik die seekoei. Ons het seker ’n uur daar deurgebring terwyl ons nie kan verstaan hoekom hy dit doen nie. Dalk het hy gedink die Unitas kon die seekoei eet.

      “Dit het my die hel in gemaak want ons is op die hitte van die dag uit die basis gejaag en nou staan ons hier by ’n poel water en hy skiet op ’n seekoei. Die rivier het glad nie daar gevloei nie en die waterkuil was stil. En Puna kry om die dood nie die seekoei raakgeskiet nie. Ná ’n klomp skote gee hy op en ons loop weer verder.”

      Hulle is al langs die rivier op tot waar dit noord draai in die rigting van Mavinga, wat die naaste dorp was. “Maar dit was nog ’n goeie 100 km van ons af.”

      Die volgende dag sluit ’n klein groepie Unitas by hulle aan. Hulle was van Mavinga se omgewing met ’n bevelvoerder, kol Francisco, by hulle. Blaauw vermoed dat Puna heeltyd van die groe­pie se teenwoordigheid geweet het. Daar was geen vyand in die gebied nie omdat dit heeltemal te afgesonder was.

      “Die bevelvoerder vra toe deur Puna of ons hom kan help. Dit was nadat die twee eers lank gesels het.” Die groepie wou Mavi­n­ga aanval en wou weet of die Recces hulle met die operasionele beplanning kan bystaan.

      “Toe sit ek, Mourão en Amilcar daar onder die bome en luister na die bevelvoerder se plan. Ek het gelukkig ’n kaart by my gehad van die hele Cuando Cubango-gebied. Daar was ’n paar dinge wat ek wou weet: Watse tipe magte het hy, waar is hulle, wat is hul logistieke vermoë en met watter wapens is hulle toegerus? Ek wou ook weet wie die vyand is en hoe sterk hulle is? Die bevelvoerder was besonder vaag oor die vyand en ek kon nie vasstel of dit Fapla of miskien ’n ander mag is nie. Al wat hy kon sê was dat daar Faplas op Mavinga was.”

      Die man het nie geweet waar Savimbi is nie, maar het wel be­vestig dat hy nie in die Cuando Cubango-provinsie is nie. Daar was dus geen sin om langer te bly nie. Die span het omgedraai en al die pad teruggestap na die voertuie toe. Die uittog het niks opgelewer nie, behalwe dat hulle nou geweet het dat Savimbi nie in die provinsie is nie.

      Hulle het die voertuie ná sowat ’n dag en ’n half bereik en die nag daar geslaap. Die volgende dag is hulle terug na Coutado do Mucusso en het weer die ou bospad gevolg en die rivier by Bagani oorgesteek. Uiteindelik, twee weke ná hul vertrek, was hulle terug op Rundu.

      “Die enigste belangrike inligting wat ons ingewin het, was dat Savimbi nie in die Cuando Cubango-provinsie was nie. Ek het Unita se skakeloffisier, Samakuva, en MI se skakeloffisier ingelig.” Die drie Recces is hierna terug Durban toe, maar het eers in Pretoria geland waar Blaauw by die Spesmagte-HK verslag gedoen het. Hy het ook genoem dat Unita besluit het dit is die einde van die saak omdat hulle geen verdere inligting het nie. “As die situasie in die toekoms verander, sou ons hopelik weer ontplooi word.”

      Hulle het laat die Vrydagmiddag by die Bluff in Durban aan­gekom. Vroeg die Sondagoggend bel kmdt Swart en sê Blaauw moet dadelik hoofkwartier toe kom. Die ander twee spanlede was reeds daar. Hulle moet so gou as moontlik terug Pretoria toe want die operasie wat afgelas was, gaan nou weer voort.

      Mourão da Costa was egter klaar geoormerk vir ’n ander ope­rasie. Daar word toe besluit dat Gert Eksteen in sy plek sal gaan. Hulle moet nog dieselfde dag op die een of ander wyse vertrek. Swart skakel inderhaas met die lugmagbasis in Durban en daar is gelukkig ’n Dakota wat na Pretoria moet vlieg. Omdat dit so dringend is, sal die Dakota sommer die Sondagmiddag al vlieg.

      Almal skarrel nou om hul uitrusting weer reg te kry. Hul gewaste kamoefleerdrag hang nog aan die wasgoeddrade. Die nuwe driemanspan vlieg inderhaas terug Pretoria toe. By die Spesmagte-HK hoor hulle die rede vir die dringendheid: Unita het inligting gekry dat Savimbi iewers noord van die Benguela-spoorlyn is en suid in die rigting van die Cunene-provinsie beweeg. Unita het ’n basis daar in die Chimpolo-hoogland. Hy is waarskynlik na dié basis onderweg en sal binne twee dae daar wees.

      Blaauw en sy span moet sorg dat hulle Savimbi inwag as hy by die basis aankom. Unita wil hê dat die Recce-span Savimbi oor die grens moet help na die veiligheid van Rundu. Die inligtingsoffisier noem nie die vermoede dat Savimbi agtervolg word nie. Blaauw weet dus nie dat ’n sterk groep Swapo-, Fapla- en Kubaanse soldate op die Unita-leier se spoor is nie.

      Die Recce-span kom die Sondagaand in Pretoria aan. Volgens Blaauw se vinnige berekenings is dit nie haalbaar om binne twee dae in die Chimpolo-hoogland, 200 km in Angola in, te wees nie. Hy vra Spesmagte se bevelvoerder, genl Fritz Loots, om dringend ’n vliegtuig te reël om hulle reeds die volgende oggend (die Maan­dag) na Rundu te bring. Dit moet verkieslik ’n Hercules C-130 wees sodat hulle daardie aand nog in dieselfde vliegtuig na die teikengebied kan vlieg waar hulle met vryval gaan inspring. Daar gaan nie tyd wees om vanaf Rundu met voertuie na die Chimpolo-hoogland te bundu bash (deur die bos ry) nie. Blaauw vra ook dat elkeen ’n volledige stel vryvaluitrusting kry omdat dit nie op Rundu beskikbaar was nie.

      Nadat Loots die vliegtuig gereël het, laat hy die stoormanne kom. Die drie spanlede het ’n vrye keuse om alles te vat wat hulle nodig het … Elton-hoogtemeters, vryvalbrille, valskerms, noodvalskerms en vryvalhelms.

      Die volgende oggend vlieg hulle Rundu toe waar hulle weer aan­sluit by die skakeloffisier, kol Flip du Preez, en maj Samakuva, die Unita-verteenwoordiger. Dié bevestig dat hulle ’n aanduiding (moontlik ’n berig of deur die bostelegraaf) ontvang het en ook in ’n mate radioverbinding met Savimbi gehad het. Daar is konsensus dat die Recces met vryval gaan inspring maar waar die afgooi­strook (AS) is en wie dit gaan merk, weet hulle nog nie.

      Unita sê toe hulle sal die AS merk met groot vure wat hulle 100 m uit mekaar in die vorm van ’n driehoek aan die brand gaan steek. Dit sal suid van die Chimpolo-basis iewers in ’n shona wees.

      Dieselfde C-130 waarmee hulle gekom het, word vir die valskermsprong gebruik. ’n Dakota sou nie werk nie omdat sensitiewe navigasiestelsels vir nagvlieg nodig is. Die C-130 beskik oor uiters gevorderde stelsels om ’n nagvryvalsprong akkuraat uit te voer.

      Saam met Blaauw-hulle in die vliegtuig is ’n Unita-verteenwoordiger wat Engels kon praat. Dis ’n helder, skoon aand en daar is nêrens rook nie. Die vliegtuig stabiliseer op net meer as 1 800 m bo grondvlak sodat hulle genoeg hoogte vir die sprong het. Omstreeks 23:00 sê die vlieënier dat hulle nou die gebied nader waar die afgooistrook is.

      Die drie Recces spring reg bo die teikengebied uit. Op die grond het Unita – soos afgespreek – drie vure in ’n driehoek aangesteek om die landingstrook aan te dui. Al drie land binne die driehoek, reg bymekaar, waarna hul eskort hulle na die Unita-basis lei – ’n staptog van sowat twee uur.

      Die volgende oggend bevestig die basisbevelvoerder, genl Chiwale, dat Savimbi in aantog is. Daardie aand beleef die drie Recces iets wat hulle allermins in die bos verwag het: ’n aandete in ’n mooi hut gevolg deur ’n dansparty met twee elektriese orkeste. Vroue het dit lekker op die dansvloer uitgekap. Ná die ete dring die Angolese daarop aan dat die Recces ook moet dans. Dit was omtrent ’n storie gewees, vertel Blaauw.

      “Die volgende dag omstreeks 10:00 sê Chiwale: ‘Come, come,’ en kry ons bymekaar. ‘We must go north. We must go and meet the president.’ Ek dog jislaaik, hier gebeur nou iets want ons sien so ’n rimpeling deur die basis trek. Hy sê: ‘Come, we must go forward. The president is on his way’.”

      Die Unitas het ’n ou Mercedes-trok

Скачать книгу