Скачать книгу

ection>

      

      OPERASIE HOËRSKOOL

      deur Nadine en Adriaan Blom

      Tafelberg

      Aan Bertie Blom, ’n wyse man en ’n inspirerende pa. Dankie vir al jou ondersteuning.

      

      Dit is ’n grys, reënerige dag. Tipiese Melkbos-winterweer – behalwe dat dit die middel van Januarie is. Weird.

      Prrrrrttttt! Die -skoolklok skree en die klank brand in my ore.

      Eerste dag in graad 8. Ek het ’n kriewelrige gevoel op my maag.

      “Ons moet seker saal toe skuif, ou,” sê Zander waar ons verlore op die vierkant rondstaan. Sy hare staan bietjie meer regop as gewoonlik en hy lyk tevrede met homself.

      Ons stap teen ’n stywe pas saal toe, baie bewus van ons graadagt-status. Nie noodwendig ’n lekker vorm van bewustheid nie.

      “So … Ek hoor ons nuwe hoof is ’n interessante enetjie,” sê ek en skuif my tas van een skouer oor na die ander. Die klok lui vir die tweede keer. “Nou ja. Let’s face our fury.”

      “Niks kan erger wees as ou Kokkerot se klas laas jaar nie,” merk Zander op terwyl ons begin drafstap.

      Kokkerot se bynaam het hom goed gepas, dink ek by myself en sien weer in my verbeelding hoe ons vorige skoolhoof deur die klas jet nes ’n tipiese kokkerot, reg om in jou nek te blaas as jou huiswerk nie gedoen is nie.

      Die kinders stroom soos miere by die saal in. Zander se oë flits oor die koppe. “Sjô, hier is baie mooi meisies,” sê hy en draai sy kop 180 grade toe een van die meisie-leiers by ons verbyloop.

      Party dinge sal ook nooit verander nie. Altyd Zander en die girlies.

      “Kom, kom, mense, al die graadagts voor in die saal, asseblief!” bulder iemand wat lyk asof hy die hoofseun kan wees oor die mikrofoon. Ons word soos sardiens ingesqueeze in die voorste gedeelte van die saal. Reg voor die verhoog soos graadeentjies.

      “Sit!” sê die balkie-ou.

      “Flip, die ou lyk soos ’n oorloggeneraal met al sy balkies,” sê ek uit die hoek van my mond.

      Die volgende oomblik ontplof die luidsprekers van die saal. “Môre, outjies!” gil ’n vrouestem oor die mikrofoon.

      “O jittetjie tog, jammer, outjies, ek het nie agtergekom die mikrofoon is so hard gestel nie!” ontplof dit weer.

      Ek dink ons is nou almal doof. Ek kyk vir Zander. “Dink jy sy’t hard genoeg gepraat?”

      Zander grinnik langs my.

      “Welkom aan al die graadaggies, beter bekend as hasies,” praat die juffrou verder. Ek laat sak my kop. Hierdie inleiding voorspel niks goeds nie, en haar stem gee my hoofpyn.

      Zander kriewel langs my.

      “Chill ou, jy’s soos ’n meerkat,” fluister ek.

      “Wat is julle twee se name?” vra ’n donderweerstem agter ons.

      Ek sluk soos ’n dors kameel. “H-Hannes en Zander.” Ek sluk weer. Hoekom is my keel skielik so droog?

      “Ek sien julle netnou buite op die veld,” sê die matriek geïrriteerd voordat hy omdraai en wegloop.

      “Well done, jou moroon,” sis Zander.

      “Ja, nè, Adam blameer vir Eva en Eva sê dit was die slang.”

      Zander se kiewe blaas op soos ’n pofadder s’n.

      “Hei! Hou julle monde,” snou dieselfde matrikulant ons weer toe.

      Ek het gedog hy’s weg.

      Ek staar na die druppel sweet wat oor Zander se voorkop kruip.

      Die matriek is duidelik klaar dik vir ons. “Aangesien julle twee so baie hou van praat, gaan julle pouse vir ons ’n mondeling doen oor hoe oulik hasies is,” sê hy en gee ons elkeen ’n vuil kyk.

      Welkom in graad 8.

      Die “juffrou” daar voor die mikrofoon is toe die hoof. Sy praat nou oor die dwelmprobleem in Melkbosstrand en lyk baie ernstig. ’n Polisieman gaan ons glo kom toespreek daaroor.

      Die volgende oomblik stap ’n man op die verhoog wat lyk soos ’n karakter uit een van my pa se gunsteling-skop-skiet-en-boomklim-movies.

      “Môre, julle,” groet hy. “Ek is kaptein Darius Bruggert van die Valke. Ek weet nie wie van julle gehoor het van die nuwe misdaad wat deesdae kop uitsteek hier in Melkbos nie. Vir dié wat nie weet nie, dis nie net ’n misdryf om self dwelms te gebruik nie, maar ook om dwelms te verkoop aan ander kinders. Die verkoop en vervoer van dwelms is strafbaar met tot twaalf jaar tronkstraf, en die gebruik van dwelms kan jou tot veertien jaar in die tjoekie laat beland.”

      Die kaptein lyk na ’n ernstige ou. Ek dink nie mens wil aan sy verkeerde kant beland nie.

      “Ons het inligting ontvang dat daar ’n baie aktiewe dwelmsindikaat in Melkbosstrand aan die woeker is en dat daar sekere van julle is wat by hierdie manne besoek aflê. Die SAPD wil ’n waarskuwing rig aan diegene wat betrokke is by hierdie aktiwiteite. Onthou, die verkoop van dagga is ook onwettig en word verbied deur die wet.”

      ’n Mens kan ’n speld hoor val in die saal. “Die SAPD gaan ’n teenwoordigheid by julle skool handhaaf vir die volgende paar weke en julle kan enige tyd met ons kom praat indien julle weet van iets verdags. Ons besef dat dit nie die hele skool is wat hierby betrokke is nie, maar ons wil net verhoed dat een probleem ’n groter een word. Nou ja, dis dan al van my kant af. Baie dankie vir julle aandag.”

      Daar heers ’n doodse stilte in die saal soos almal wonder wie die skuldiges is.

      “Outjies, julle het nou gehoor hoe ernstig hierdie saak is en ons vra julle samewerking, asseblief,” sê die skoolhoof. “Ek vra dan asseblief vir meneer De Swart om die saal te kom verdaag. Nou toe dan, geniet julle daggie – en onthou: wie nie werk nie, wen nie!”

      “Daggie”. Wie gebruik woorde soos “daggie”?

      Daar word weer gefluister en gegiggel terwyl meneer De Swart na die mikrofoon toe stap. Hy lyk soos iemand wat sy dae en nagte in die gym spandeer en op die meeste ’n uur per nag slaap.

      “Dankie, mevrou Campbell … Môre, julle!” ontplof sy stem deur die mikrofoon. Die skool sal vir seker ’n nuwe klank-ou moet kry, want hierdie kite gaan nie vlieg nie.

      Die saal word stil. “Graadagts, julle het ’n baie besige skedule hierdie week. Ek vra dat julle asseblief solank uitbeweeg na die vierkant, waar die matrieks verder met julle sal werk. Ek sien julle netnou daar.”

      Ons klomp stroom uit die saal en ek kyk rond of ek dalk ’n bekende gesig sien. Dit voel of ek en Zander in ’n vreemde dorp beland het. Niemand lyk bekend nie. Waar is al ons ou vriende heen?

      Ons stap vierkant toe en gaan neem ons plekke in. Die hoofseun staan op die stoep en wag dat ons aantree. Toe hy sy mond oopmaak, is almal stil.

      “Graadagts, nou moet julle mooi hoor. Ek praat een keer, en dis dit. So maak seker julle hoor wat ek sê.” Hy laat sy woorde ekstra lank in die lug hang voor hy verder praat.

      “Voordat ons begin met ons verrigtinge, wil ek net eers iets afhandel. Een van my mede matrikulante het die teenwoordigheid van twee ekstra oulike hasies onder my aandag gebring.”

      Zander kyk na my met oë so groot soos pierings.

      “Ek wil hulle graag die eerste spreekbeurt gee vanmôre, siende dat hulle so baie van praat hou,” gaan die hoofseun voort. “Hasie Hannes en Hasie Zander, sal julle asseblief by my aansluit hier op die stoep?”

      Zander loop voor my uit soos ’n gewonde bokkie. Ek volg hom met lam knieë. Daar’s hy, Hannes, dis mos nou hoe jy jou hoërskoolloopbaan begin,

Скачать книгу