Скачать книгу

ction>

      

      Willie Esterhuyse

      en

      Gerhard van Niekerk

      DIE TRONKGESPREKKE

      Nelson Mandela en Kobie Coetsee

      se voorpuntdiplomasie

      Tafelberg

      ’n Nota vooraf …

      DIE DOKUMENTASIE waarop hierdie publikasie steun, kom uit die omvangryke Kobie Coetsee-versameling wat by die Universiteit van die Vrystaat se argief gehuisves word. Die dokumente is sonder enige voorskrif of bepaling oor die gebruik daarvan aan die argief oorhandig.

      Aanhalings uit die dokumente, taal- en spelfoute inkluis, word gedoen soos dit in die dokumente voorkom. Talle transkripsies van bandopnames, gespreksmonitering genoem, is inderdaad in Afrikaans. Dit is nie onwaarskynlik nie dat Mandela (Prisonier 913) soms Afrikaans gepraat het. Dit kan selfs aanvaar word dat sommige van sy gespreksgenote Afrikaans met hom gepraat het. Hy was immers nóg anti-Afrikaans nóg anti-Afrikaner.

      Uit die magdom dokumente moes noodwendig ’n keuse gemaak word. Dit is streng gedoen in die lig van die tema, naamlik voorpuntdiplomasie. Daarom is hierdie boek eerder tematies gestruktureer en word dit nie as ’n chronologiese weergawe aangebied nie.

      Die skrywers

      Stellenbosch

      Mei 2018

      Voorwoord

      Voorpuntdiplomasie

      DIE TONEELSTUK A Walk in the Woods deur Lee Blessing het ’n klompie jare gelede groot gehore getrek en baie aandag geniet. Die tema daarvan was die uitgerekte, ingewikkelde en soms stormagtige onderhandelingsproses in Wenen oor atoomontwapening. Die Amerikaners en die Russe het mekaar gereeld die harnas ingejaag, soms doelbewus. Toe, op ’n dag, ontmoet die Russiese onderhandelaar en Amerikaanse onderhandelaar mekaar toevallig in die sneeubedekte omgewing van ’n woud waar hulle op ’n bankie gaan sit. En een-tot-een begin praat. Dié ontmoeting en persoonlike gesprek lei uiteindelik tot die amptelike ooreenkoms oor atoomontwapening in Wenen.

      Die histories korrekte verhaal het heelwat anders verloop as Blessing se gedramatiseerde weergawe. Die dooiepunt tussen veral die Russe en Amerikaners is deur die persoonlike ingryping van ’n Rooms-Katolieke priester, Theodore Hesburgh, beredder. Hy was self Amerikaans, maar het baie moeite gedoen om op persoonlike vlak met die Russe kontak te maak en ’n verstandhouding op te bou. Hy slaag uiteindelik daarin om Emeljanof (die Rus) en McCone (die Amerikaner) met mekaar ’n alleengesprek te laat voer een Sondag in die Sacher Hotel in Wenen. Hulle vier later selfs op dié Sondag saam die Heilige Mis in die Katedraal van die Heilige Stefanus, bedien deur Hesburgh.

      Dit is ’n storie oor wat vandag tweedespoor-diplomasie, avant garde-diplomasie of voorpuntdiplomasie genoem word. Dit is gesprekke agter die skerms, buite-om die openbare toneel, vertroulik, persoonlik, privaat en relatief openhartig. Dit is ’n noodsaaklike faset van die proses wat normaalweg as “om-met-die-vyand-te-praat” getipeer word. Die term avant garde kom natuurlik uit kunskringe. Dit dui op iets oorspronkliks wat op hoogs kreatiewe wyse ánders is as die geykte en algemeen aanvaarde. Die woord verwys immers na advance guard, oftewel vanguard.

      Voorpuntdiplomasie is nie onderhandeling nie. Dit verteenwoordig wat soms ook gesprek-oor-gesprek genoem word, is daarom nooit amptelik nie en sluit geen bindende besluitneming in nie. Dit is eerder persoonlike afsprake, verbintenisse en boodskappe wat aan belanghebbende partye oorgedra moet word. Daar het sedert die laat sestigerjare ’n ryke literatuur en talle studies ontstaan oor dié tipe bemiddelingspogings en inisiatiewe om met die vyand te praat ten einde vredesprosesse op dreef te bring. Hierdie publikasie is daarom bedoel as ’n bydrae tot die groeiende literatuur oor die onderwerp. Dit verteenwoordig ’n gevallestudie van die verskil wat individue in konflikgesteisterde omgewings kan maak.1

      Daar is ook ’n ander faset van agter-die-skerms-aktiwiteite wat genoem moet word. Dit is die rol van intelligensiedienste, oftewel staatsgeorganiseerde instellings, wat besluitnemers van strategiese en taktiese inligting moet voorsien en veral ook die veiligheid en stabiliteit van die staat moet beskerm. Hulle word oor die algemeen en baie oppervlakkig met spioenasie vereenselwig. In baie gevalle speel hulle egter ’n belangrike agter-die-skerms-rol in vredesinisiatiewe.

      Selfs die Bybel bevat ’n interessante voorbeeld. In die Ou Testament is daar ’n verbeeldingryke storie oor die Israeliete se verowering van die vestingstad Jerigo. Hulle het eers verspieders uitgestuur om inligting te versamel oor dié stad se sterk en swak punte. In moderne taal uitgedruk was dit ’n intelligensieverslag, opgestel deur kundiges wat strategies én takties kon waarneem en dink, en dit is vóóraf ontwikkel. Intelligensiedienste is so oud soos die berge. Magtige state beskik gewoonlik ook oor baie doeltreffende intelligensiedienste. Sukkelende state het ook sukkelende intelligensiedienste; dienste wat nóg oor die personeel, nóg oor die vermoë beskik om aan hul leiers strategiese en taktiese inligting te verskaf, dit wil sê enersyds langer termyn doelwitte en planne om dit te bereik en, andersyds tersaaklike, onmiddellike en tydige inligting en aksieplanne om krisisse te voorkom of te ontlont én te bestuur.

      Dit is glad nie vreemd dat intelligensiedienste ’n deurslaggewende rol in voorpuntdiplomasie en vredesprosesse speel nie en is daarom ’n onderwerp wat in hierdie boek toegelig sal word aan die hand van die rol wat minister Kobie Coetsee, dr. Niël Barnard en die gevangene Nelson Mandela daarin gespeel het.

      ’n Ander interessante voorbeeld het in meer resente tye in Turkye gebeur. Abdullah Öcalan, die Koerdiese leier wat vryheid vir die Koerde beoog het, word op 15 Februarie 1999 deur militêre agente van die eerste minister, Recep Tayyip Erdoğan, se regering ontvoer. Die Turkse president was toe Abdullah Gül.

      Öcalan2 word in eensame opsluiting op die eiland Imrah aangehou en deur soldate bewaak. Die eiland word selfs tot militêre gebied verklaar en kry die bynaam van die Europese Guantánamo, verwysende na die Amerikaners se berugte plek van aanhouding. Öcalan kan geen briewe skryf of ontvang nie, en ook nie besoekers ontmoet nie. Vroeg in 2009 gebeur daar egter iets hoopgewends: Hakan Fidan, later die direkteur-generaal van die Turkse nasionale intelligensiediens, MIT, ontmoet Öcalan saam met ander amptenare tydens verkennende gesprekke oor ’n moontlike skikking van die gewelddadige konflik tussen die Turkse regering en die Koerde.

      Daar word baie goeie vordering gemaak. Öcalan stel selfs voor dat ’n Waarheids-en-Versoeningskommissie aangestel word. Hy maak ook ander voorstelle om ’n roetekaart na ’n vredeskikking op te stel, presies soos ons sal sien Prisonier 913 (Nelson Mandela) lank voor hom gedoen het. Die konflik tussen die Turkse regering en die Koerde het toe al 20 jaar geduur.

      Verskeie gesprekke vind plaas tussen Fidan en Öcalan en dit lei daartoe dat ’n vredesafvaardiging van 26 ongewapende Koerdiese vegters en politieke vlugtelinge gedurende Oktober 2009 vanaf Irak in Turkye toegelaat word. Die hoop op ’n skikking van die gewelddadige konflik het hoog opgevlam. Selfs Erdoğan het versoenende geluide gemaak.

      ’n Verkiesing in April 2009, waaraan ’n pro-Koerdiese party deelgeneem het, sneller egter ’n vlaag van staatsgeweld, arrestasies en verbannings van Koerdiese politieke aktiviste – geïnspireer deur die Turkse militariste en natuurlik Erdoğan self. Daar is selfs ’n vermoede dat die vredesinisiatief eintlik ’n set was en dat dit nie ernstig bedoel was nie. Dié verloop van sake illustreer ’n baie belangrike bousteen van geslaagde voorpuntdiplomasie: die betroubaarheid van die hoofspelers en die integriteit van die proses. Daarom word voorpuntdiplomasie ook as ’n berekende waagstuk beskou. Sukses is nie gewaarborg nie.

      Voorpuntdiplomasie kan soms lank duur en verg geduld, soos vertel deur Jonathan Powell in sy boek Talking to Terrorists. How to End Armed Conflicts.

      Powell was tussen 1997 en 2007 die Britse regering se hoofonderhandelaar oor Noord-Ierland. Na hy Downingstraat (Londen) verlaat het, het hy ’n groot opskudding veroorsaak toe hy in die openbaar verklaar het dat Brittanje die leiding moet neem om met die Taliban, Hamas en selfs al-Kaïda agter die skerms te begin praat.

      Hy was gereeld vanaf 1997 vertroulik met die Ierse “terroristeleiers”, Gerry Adams en Martin McGuinness, in gesprek.

Скачать книгу