Скачать книгу

aantrek. Haar tuiste is die toonbeeld van ’n uitbundige en chaotiese gesinslewe: Daar is speelgoed op die vloere, kinderlaggies in die tuin, die hemelse geur van varsgebakte koekies uit die kombuis. Die kamer waarin sy staan, spreek van middelklasgemak eerder as weelde, maar die foto’s teen die mure vertoon ’n ander tipe rykdom. Op elke foto kyk ’n man en drie seuns liefdevol na haar, hulle oë gevul met die tipe bewondering wat dit duidelik maak dat sy die spil is waarom al vier se lewens draai.

      Sy is duidelik die hart van die huis – ’n baie gelukkige vrou.

      Maar knip jou oë vinnig, beskou die oomblik van nader, en let op na wat sy besig is om aan te trek. Ten spyte van die son wat helder buite skyn, is die kledingstuk in haar hande nie lig en kleurvol nie; dis dik en gryserig en skynbaar heeltemal te klein vir haar. Vir ’n paar minute probeer sy desperaat haar kurwes in hierdie nuwerwetse tipe korset inforseer: ’n folterende stuk spandex wat haar gul, sagte liggaam só knel dat sy uiteindelik nes ’n opgestopte wors voel.

      Toe sy op die ou end weer haar weerkaatsing in die spieël aanskou, kan sy nie anders as om te lag nie. Maar dis die soort bitter laggie wat mens gee as jy jouself nie kan toelaat om te huil nie.

      Ha-ha-ha. ’n Vet vrou in Spanx met krullers in haar hare.

      Hoe snaaks is dit nie.

      Ha-ha-ha.

      * * *

      Oomblikke. Dit is al wat ons het.

      Maar ’n oomblik kan verraderlik wees. Dit kan ’n halwe waarheid vertel, ’n valse beeld skep, ’n mens heeltemal in die verkeerde lig stel. Moet dus asseblief nie te gou afleidings maak oor hierdie vroue se lewens nie. Moenie te hard oordeel, te vinnig tipeer nie.

      ’n Vrou is baie dinge, en kan nie deur ’n enkele oomblik gedefinieer word nie.

      Soms moet ’n mens die oomblikke verbind – lyntjies tussen die kolletjies trek – voordat jy die hele prentjie sien. Want dis eers as die grepe in ’n verhaal saamgebind word, dat mens regtig perspektief kan kry.

      Dat jy regtig kan verstaan.

      Vyf vroue

      Lana

      Bloed op haar hande. Die vibrasie van die selfoon teen haar lyf. Die Ongevalle-eenheid se teaterdeure wat wild oopswaai. Water en antibakteriële seep. Die reuk van vrees en ontsmettingsmiddels. ’n Noodgeval op die tafel voor haar. ’n Treurende familie. ’n Pasiënt op ’n trollie waarmee in die gang afgejaag word. Die loeiende kreet van nog ’n ambulans.

      Vir dokter Lana Marais voel dit soms asof die dae aaneenloop; ’n golf van gebeure en indrukke wat haar so meedoënloos meesleur soos ’n stukkie dryfhout op ’n rivier.

      Soms is daar goeie dae. Dae wanneer sy aan familielede goeie nuus kan oordra, die intensiteit van die verligting dan soos pyn op hulle gesigte. Maar daar is altyd nog ’n noodgeval. Nog ’n pasiënt wie se lewe aan ’n draadjie hang. Nog mense vasgevang in die donkerste ure van hulle lewe. Nog deure wat oopswaai, nog mediese spanne, nog operasiesale, nog seep en water, nog ure van konsentrasie, nog bloed op haar hande.

      Sy laat haarself nie toe om te tob oor die slegte dae nie. Want daar is slegte dae ook. Dae wanneer die nuus wat sy moet breek families uitmekaarskeur en lewens vernietig. Dae wanneer sy opnuut besef dat haar vrese en byna konstante uitputting niks is in vergelyking met ander se swaarkry nie.

      Dat sy eenvoudig nóg harder moet probeer. Nóg sterker moet wees.

      Toegegee, daar is diegene wat haar as té sterk en beheersd beskou. En ja, dit mag waar wees: Sy was nog nooit juis een vir hande vashou of trane wegpink nie. Maar sy is immers nie ’n verpleegster nie; sy is ’n traumachirurg, een van die bestes in die stad. En ’n goeie chirurg moet haar emosies kan afskakel om doeltreffend haar werk te kan doen. Vir ’n tydjie – minute of ure – moet sy kan vergeet dat die liggaam voor haar meer is as die meganika van vel en spier en organe. Dat dit ’n méns is wat op die operasietafel lê: iemand met sy eie lewe vol drome en verlangens. Iemand met sy eie geliefdes.

      ’n Goeie chirurg moet kan afskakel.

      As jy nie kan afskakel nie, gaan die spanning jou op die ou end kry. Die vrees gaan jou lewend opvreet, die ontsettende verantwoordelikheid gaan jou keel laat toetrek en jou geen ruskans gun nie.

      ’n Suksesvolle chirurg hoef nie drukkies en sagte woordjies uit te deel nie. Wat ’n chirurg suksesvol maak, is fokus: dissipline en selfbeheersing en ’n ysere wil.

      Die wil om geen pasiënt in die steek te laat nie.

      Die wil om jou eie behoeftes tweede te stel.

      Die wil om nooit, ooit ’n fout te maak nie.

      Die wil om nie af te kyk nie. Om nooit te sien op watter dun tou jy balanseer, en hoe diep die afgrond onder jou gaap nie.

      Adrie

      Teen die tyd dat Adrie uiteindelik op ’n uitrusting besluit, lê die hele vloer al vol klere. Sy pluk-pluk aan haar rok, wonder of dit selfs mét die Spanx onderaan haar agterstewe te groot laat lyk. In die Kardashian-era mag mens mos kwansuis groot boude hê, maar dan moet jou middel so dun soos ’n anoreksiese perdeby s’n wees en jou boarms nie lyk soos twee varsgerysde brode nie.

      Ten minste lyk haar hare en grimering darem nie te sleg nie. Dis eintlik ongelooflik hoeveel beter mens voel as jy weer ’n slag ’n bietjie moeite doen: Vanaand lyk haar oë sommer weer blougroen en helder, haar lippe vol en soenbaar, haar hare soos daardie blonde watervalle waarvan skrywers in liefdesverhale praat. Vir die eerste keer in ’n baie lang ruk glimlag sy onseker vir haar weerkaatsing in die spieël.

      Toe haar foon pieng, loer sy na haar skerm. Dis ’n WhatsApp: MATRIEKREUNIE-groep.

      O. Oukei.

      Vir ’n oomblik is sy huiwerig om dit oop te maak, maar dan vertel sy haarself dat sy simpel is. Dis haar oudste vriende dié, en dis lekker dat hulle na so lank nog sulke goeie pelle is. Social media is eintlik wonderlik.

      Die WhatsApp-foto kom van Melissa: Haar perfek gemanikuurde voete staan op ’n skaal wat triomfantelik 59 lees.

      Judy se stemnota volg amper onmiddellik: “Dis drie kilogram onder jou goal weight na die babas! Well done, girl!”

      Melissa antwoord met nog ’n stemnota: “Ek moet bieg, my geheim is Christine se koolsop.”

      Dan is dit Christine se beurt: “Dis nie ’n geheim nie, dis ’n leefstyl.”

      Toe Adrie weer vir haarself in die spieël kyk, het haar glimlag heeltemal verdwyn. Dis nou al drie jaar na Leon se geboorte en sy is nie eens náby haar doelgewig nie. Laas Saterdag wou sy in trane uitbars toe sy sien dat daar ’n Blou Bul in die span is wat net soveel soos sy weeg. Darem nie ’n voorspeler nie, maar nog steeds.

      Sy kyk na haar foon; sy sal seker ook iets moet sê. Na ’n rukkie druk sy op die blou mikrofoontjie onder in die hoek. “Jy beter daai resep op die groepie post,” sê sy met wat sy hoop na entoesiasme eerder as desperaatheid klink.

      Judy stuur dadelik nog ’n stemnota: “Adrie, dankie dat ons die big reveal by jou huis kan doen. Julle weet hoe dit gaan met renovations.”

      Sy druk weer op die mikrofoontjie. “Net ’n plesier …”

      “Aaaaaaaaaaaa!”

      Die bloedstollende krete vanuit die badkamer laat haar nie té veel skrik nie – teen hierdie tyd weet sy presies hoe haar kinders klink as hulle regtig seerkry – maar dan word haar man se paniekerige stem deel van die kattekoor: “Adrie! Adrie! ADRIE!”

      “O, kakkers!” Toe sy haastig haar foon neersit, besef sy met ’n skerp, vinnige steek van verleentheid dat die mikrofoon nog aan was en dat sy haar huismanewales vir almal op die groep uitgesaai het. Maar daar’s nie tyd om nou daaroor te tob nie.

      Daar

Скачать книгу