Скачать книгу

moeilik; dis oor die gevoel van maat tot maat …

      … e … e … e … oor die manier wat Vader soms met Moeder praat.

      PERIANDROS

      My seun, loop jou gevoelens nie met jou op hol?

      ’n Kind moet nooit met die verhouding van sy ouers lol.

      LUKOPHROON

      Ek voel God het aan man en vrou die kind gegee

      dat hy opnuut gewete word tussen die twee.

      PERIANDROS

      Miskien! In elk geval, ek neem die erns van jou rede aan

      al word die dinge, my seun, so maklik nie verstaan.

      Terloops, jou moeder is die mooiste en die mees beminde

      vrou, nie net vir my maar ook vir ander in Korinthe.

      Tog, om by die vraag te kom wat my nou weer ontstel,

      my broeis maak en waansinnig soos ek my loop en kwel:

      daardie kliek van handelaars, die Bakchiadai, wat so verveel

      in die kalktuin die heeldag sit en kamma dambord speel.

      LUKOPHROON

      Maar hulle is ’n wins en vir Korinthe geen gevaar.

      PERIANDROS

      O so! Nou luister wat die leier van die leër verklaar.

      Met ’n slag op ’n simbaal ontbied hy die leier.

      LEIER

      My heer.

      PERIANDROS

      As jy die heerser was oor hierdie land,

      wat sou jy aanvang met die nuwe handelstand?

      LEIER

      Ek het bewyse hulle is die voos plek in die volk

      en voos plekke word netjies uitgekerwe met ’n dolk.

      PERIANDROS

      Goed, jy kan maar gaan.

      Leier af.

      LUKOPHROON

      Ag! dis malligheid om te vermoor.

      PERIANDROS

      Nie altyd nie. Ek wil die uitspraak ook van iemand anders hoor.

      Dis juis deur al die webbe dat ek jou aan my onvergete

      jeugvriend stilletjies wil stuur, Thrasuboelos van Milete.

      Ek en hy verkeer nog al die jare met mekaar in guns

      en hy verstaan, soos g’n ander, die heerskappy se kuns.

      LUKOPHROON

      Gaan Vader weer die opdrag vir die rare seereis stel?

      PERIANDROS

      Ja, want jy moet alles duidelik aan hom oorvertel.

      Ek moet in hierdie land van bietjie grond en baie klip

      daeliks oor die lot van die derduisende beskik,

      en uit die taai olyf, die engte tussen see en see

      besluit hoe ek ’n ganse volk gaan voed en klee.

      Tog, met tolgeld, die handelsvloot en garnisoen

      het ek die lande van die sfinks en die lemoen,

      van graan en silwer, lande wat ek net op kaarte ken,

      as bondgenote of kolonies van ons ryk gewen.

      Nou word die roustof in ons hawens opgehoop,

      verwerk en weer opnuut aan hulle terugverkoop:

      die kruike, silwerwerk, die streepkomberse van Korinthe

      is in elke dorpie om die waters van die Tussensee te vinde,

      en lewer nou en vir die wêreld later die bewys

      die skoonheid is in hierdie staat die hoogste eis.

      Ek moes die geld as middel vir ons ryk bedink,

      maar het vermanend die gevlerkte hings daarop geklink.

      En toe sien ek dat daar ’n ander slag van mense is:

      die jonger Bakchiadai, erfvyand van die koringkis,

      die nuwe rykes van Korinthe … Kyk hoe sit hulle daar verveel

      in die kalktuin die heeldag deur en kamma dambord speel.

      Dis winste en verliese; dis heeldag sit en kanse tel

      en meedoen aan die sette van die nuwe, goue spel.

      Die een koop al die kruike, ’n ander weer komberse op,

      die een word baas van olies, ’n ander laat die silwer klop;

      dit hou terug, laat los en stel die pryse vas,

      en heers verby my, heers net soos dit hulle pas.

      En nou die vraag waarop ek lank die antwoord reeds begeer:

      hoe moet ’n digter, denker, ’n man wat ontwikkel is, regeer?

      LUKOPHROON

      Raadpleeg die wysheid uit vier streke van die winde

      wat u laat saamwaai het in marmersale van Korinthe.

      PERIANDROS

      Ek sal, maar bo dié wysheid moet ek kan vertrou,

      soos vir Thrasuboelos, en daarom stuur ek juis ook jou.

      LUKOPHROON

      Vader, ek is half bang om van Korinthe weg te seil;

      ek voel daar dreig oor my, of eerder ons, ’n groot onheil.

      PERIANDROS

      Dis die opdrag en geheime taak wat jou oorspan;

      beskou dit as ’n rukkie rus, jou wording as ’n man.

      En vaar jy terug, mag daar ’n knop dan in jou keel opkom

      wanneer jy weer sien hoe die wit wolk bo die berg uitblom,

      of as jy in die nag kyk na die grootsste van gesigte:

      die eerste wêreldstad, ons korf van soet en goue ligte.

      Gordyn

      TWEEDE TONEEL

      Periandros en Melissa in hulle slaapkamer, waarin die sederkis nou staan.

      PERIANDROS

      En hierdie kissie vol albasterpotjies? Hierdie keur

      van al die olies en reukwaters van die fynste geur?

      MELISSA

      Pas op, moenie ’n druppeltjie daarvan uitmors!

      Dis palmolie vir die wange, die ronding van die bors,

      tiemie vir die keel en knieë, en die donkerbloue

      is ’n marjolein vir hare, wimpers en wenkbroue,

      die kruisement is vir die arms, en die soete

      vir die heupe, die mirre vir die bene en die voete …

      PERIANDROS

      Ja, ja! Maar wie het nogal dié vermetele en duur

      present agter my rug so stilletjies aan jou gestuur?

      Is dit dié keer dik Ganguloon, ons oliekoning,

      wat nou selfs instink tot die binnekamers van my woning?

      MELISSA

      Toe nou, toe nou! Keer tog net die woede;

      jy is verniet jaloers en altyd op jou hoede.

      Ja, ek het dit van

Скачать книгу