Скачать книгу

      2.Ons is onrealisties optimisties, soos die kankerpasiënt wat sy kanse op herstel oorskat. Of vra studente hoe hul toekoms lyk en die meeste vertel hoe rooskleurig dit sal wees met ’n goeie werk, groot salaris en slim kinders.

      3.’n Oordrewe sin van beheer. Ons dink ons besluite beïnvloed die wêreld, want ons is in beheer. Wanneer mense dobbelsteentjies gooi, gooi hulle harder wanneer hulle na hoër nommers mik en sagter as hulle laer nommers wil hê. Of hulle blaas daarop. Asof dit nou enigsins die val van die dobbelsteentjies sal beïnvloed.

      Druk, druk, drukkk maar daardie hysbakknoppie …

      Die enigste mense met ’n meer realistiese siening van hul eie vermoëns en die wêreld, en vir wie bogenoemde drie kategorieë nie geld nie, is depressielyers. Hul wêrelduitkyk is akkurater, bekend as depressiewe realisme. Maar terwyl depressiewe mense situasies waaroor hulle geen beheer het nie korrek takseer (dat hulle inderdaad geen beheer het nie), takseer hulle situasies waaroor hulle wel beheer het óók as sonder beheer.

      Dié “realisme” help die depressielyer nie veel nie. Hy’s steeds depressief.

      Die skrywer Kathryn Schulz som dit op in Being Wrong:

      1.Depressiewe mense verkeer nie onder die vrolike illusie dat hulle die verloop van hul lewe kan beheer nie.

      2.Hulle glo nie, soos die res van ons, dat hulle in alle opsigte ’n bietjie bogemiddeld is nie.

      3.En hulle verstaan, alte akuut, dat hul lewe net ’n kortstondige spikkeltjie is…

      Sadder but wiser.

      Maar Schulz sê ook mense met ’n positiewe uitkyk op die lewe erken makliker hul alledaagse foute en kan dan hul denke verander. As ons onsself nie oorskat het nie sou ons nie gewaag het nie. Dit maak ons optimisties. Schulz noem dit die “optimistiese model van foute”. Teenoor defensiewe pessimisme, wat mense help om die algemene uitdagings en stres van die lewe beter te hanteer.

      Defensiewe pessimisme is ’n strategie om gereed te maak vir ’n stresvolle gebeurtenis of om dit te vermy. Dan onderskat mense hul eie vermoëns en dink hulle hulle gaan nie so goed vaar nie ondanks suksesse in die verlede. Dit kan hulle egter motiveer om harder te probeer, om beter voorbereid te wees.

      Net so kan “’n bietjie” narsisme goed wees.

      In Evil Genes haal Barbara Oakley ’n Psychology Today-skrywer aan wat sê dit lyk of matige narsisme mense help om gouer van beserings en trauma te herstel.

      “Dit gee hulle ’n onrealistiese sin van onkwesbaarheid en hulle glo hulle sal enigiets wat die lewe na hul kant toe gooi, kan hanteer.”

      Jy’s natuurlik ook ’n beter werker as jou kollega, met beter vaardighede. Jy verdien daarom ’n groter verhoging (as jou baas dit net wil raaksien).

      Groot handelsvolumes op aandelebeurse is al aan die bogemiddelde-effek toegeskryf omdat makelaars dink hulle is goed, en prokureurs gaan maklik hof toe omdat hulle seker is van hul saak.

      Maar mense is blind vir hul eie vooroordele op grond waarvan hulle hulself beoordeel. Dis die bias blind spot en dis eweneens gevind mense met ’n hoër dunk van hulself toon groter illusionêre meerderwaardigheid as mense met minder eiewaarde. Dit kan jou oordeelsfoute laat begaan wanneer jy belangrike besluite moet neem.

      Andersyds is dit nie noodwendig ’n slegte ding as jy dink jy’s ’n bietjie beter as wat jy is nie. Dis gevind mense wat hulself op dié manier mislei, vaar inderdaad beter.

      Boonop: Miskien is jy so goed soos jy dink.

      Indien nie ’n bietjie beter nie.

      3. Ons is almal (’n bietjie) so

      Narsiste, psigopate en ander ongure karakters ly aan ’n persoonlikheidsteuring (disorder), nie ’n siekte (illness) nie. En dit lê op ’n glyskaal of kontinuum – van die moordenaar in die dodesel tot die gewetenlose aandelemakelaar tot die berekende ma langs die sportveld.

      “Ek word beskou as ’n baie behulpsame en bedagsame professor,” sê M.E. Thomas, wat so ’n goeie eerste indruk skep. “In wat ek doen, is ek ’n goeie mens, maar tog word ek nie gemotiveer of teruggehou deur dieselfde dinge as die meeste goeie mense nie. Is ek ’n monster? Ek verkies om te glo dat ek en jy bloot op verskillende plekke op die spektrum van menslikheid lê.”

      Van aanvaarbaar (links) tot aanstootlik (middel) tot kwaadaardig en gevaarlik (regs).

      Hou ook in gedagte daar is oorvleueling van eienskappe tussen steurings soos psigopatie en narsisme. Want hierdie steurings lê op dieselfde glyskaal. Vingers van dieselfde handskoen. Gewoonlik is mense nie nét ’n narsis of nét ’n psigopaat nie. Ander steurings gaan daarmee saam, bekend as komorbiditeit. Die psigopaat kan dalk ook ’n sadis wees, die narsis dalk ook obsessief of paranoïes.

      Kwaadaardige narsiste (malignant narcissists) toon talle eienskappe van die psigopaat, wat dit moeilik maak om tussen die antisosiale gedrag van die twee te onderskei, sê Paul Babiak, New Yorkse bedryfsielkundige, en Robert Hare, ’n sielkundige wat veral in die tronke van Vancouver gewerk het, in Snakes in Suits.

      Daardie kwaadaardigheid is gemik teen almal met wie die narsis te doen kry, ook – en veral – teen sy eie mense. Ja, “kwaadaardig” soos ’n gewas wat nie deur jou liggaam nie, maar deur jou lewe versprei.

      Vir die New Yorkse psigiater Otto Kernberg, kenner van narsisme en grenslynsteuring, lê die narsistiese persoonlikheid heel links op die glyskaal, kwaadaardige narsisme in die middel en psigopatie heel regs. Vir hom is narsisme dus ’n vorm van psigopatie. Soms word psigopate verkeerdelik as narsiste gediagnoseer omdat hulle ewe selfgesentreerd kan wees.

      Die outisme-kenner Simon Baron-Cohen sê in The Science of Evil narsiste sal nie sommer wreedaardig optree nie, maar daar’s kenners wat meen narsisme is onderliggend aan die persoonlikheid van reeksmoordenaars.

      “Die psigopaat verskil nie net in soort nie, maar ook in die erns van sy spesifieke afwyking, wat kan wissel van ’n ligte graad tot op die grenslyn (van psigopatie), wat hom toelaat om ’n betreklik normale en aanvaarbare lewe te lei tot erge grade van wanfunksie,” sê Hervey Cleckley in The Mask of Sanity.

      Ander navorsers meen die patologiese vorm van narsisme is inderdaad psigopatie wanneer egosentrisiteit, gebrek aan empatie en die narsis se sin van meerderwaardigheid saamval met die impulsiwiteit, bedrieglikheid en kriminele neigings van die antisosiale persoonlikheid. Dan kry jy ’n psigopaat wat sy selfsugtige impulse wil bevredig, maak nie saak hóé nie. Sonder empatie of berou agterna.

      In The Narcissist Test plaas die kliniese sielkundige Craig Malkin narsisme en psigopatie ook op dieselfde glyskaal met narsiste links en psigopate regs. Hy meen die ekstreme (kwaadaardige) narsis is inderdaad nie meer ’n narsis nie, maar ’n psigopaat.

      Hy plaas mense met min narsisme heel links en noem hulle eggoïste (“echoists”) na aanleiding van Eggo in die Narsissus-mite. Eggo het nie haar eie stem gehad nie. Haar lae selfbeeld en minderwaardigheid het haar waardeloos laat voel, amper onsigbaar. Terwyl narsiste ander mense benadeel, benadeel eggoïste hulself. Hulle is introverte wat te bang is om iets te vra. Hulle dink hul behoeftes is nie belangrik nie. Hulle is bang hulle word verwerp as hulle eise stel.

      Die ekstroverte lê verder na regs op die skaal. Dié wat nie heel regs lê nie is “subtiele narsiste”, sê Malkin. Moeiliker om uit te ken. Die teken sal wees wanneer die subtiele narsis aanspraak begin maak op dinge waarop hy voel hy geregtig is. Dan beweeg dit in die rigting van uitbuiting en jy sit met ’n “ekstreme narsis”.

      Hulle wat uitbuit en manipuleer.

      Soms is die manipulasie so subtiel, die narsis kry wat hy wil hê – jy géé dit vir hom – sonder dat hy daarvoor hoef te vra! En op ’n dag kom jy agter jy kan nie meer onthou wat jý graag in die lewe wou hê nie.

      Uitbuiting en ’n sin van aanspraak is amper dieselfde ding. Dis ’n “toksiese mengsel”, sê Malkin. Die

Скачать книгу