Скачать книгу

Wes-Afrika). Sy kan vyf tale vlot praat.

      “Hoekom wil sy saamgaan?” het Clarissa gesnou. “Haar Frans is dan perfek!”

      Clarissa is die ander meisie van wie almal weet. Die klas se flerrie, ’n blonde bom wie se skoolrokkie altyd ’n aks bo die voorgeskrewe lengte sit. Sy word konstant omring deur haar gevolg Barbie-nabootsers, ’n giggelende maskarabende. Met ’n spul swaapagtige seuns wat om hulle draai soos brommers om ’n trop perde. Sy beroem haar op ’n kas vol ontwerpersklere en het ’n tong soos Tabasco.

      Clarissa was natuurlik eerste om haar naam op die toerlys te skryf.

      “My pa het belowe hy sal my genoeg sakgeld gee om te shop tot ek drop. En die nagklubs in Parys is blykbaar smoking!”

      “Ek dink nie klubs is op julle itinerary nie,” het Salome bitsig gesê. “Die Louvre, ja. En sewentig ander museums. Juffrou Lategan sal julle nooit onder haar ysterklou laat uitglip nie.”

      As Salome maar kon saamgaan! Sy weet altyd wat om te sê. Maar sy het nie Frans as vak nie. En boonop sal haar ouers nooit hul enigste dogter saam met ’n trop hiënas aangetrek soos skoolkinders na die vreemde stuur nie (haar ma se woorde).

      Juffrou Lategan, die Frans-onderwyseres, is Emma se heel laaste keuse vir ’n chaperone. Want juffrou Lategan is vir seker weird. Salome reken sy kort net ’n man in haar lewe, maar volgens Emma sal die manier waarop Lategan aantrek, en haar gewoonte om in ’n beswyming te gaan oor die simpelste gediggie of blommetjie, enige normale man deur die klankgrens laat bars so vinnig sal hy weghol.

      Emma het nie eens die program behoorlik gelees nie, net haar kanse bereken om die toer te oorleef:

      •Sewentien kinders van verskillende skole in die Kaap en Gauteng.

      •Vier onderwysers.

      •Elf dae in Parys.

      •Dis darem somer in Europa.

      Die slegste is dat sy op haar eie moet gaan. Sonder Salome. Sonder Mathew, die liefde van haar lewe, al weet hy dit nie. Sonder Willem, en ouma Hebs, en sonder haar ma.

      “Grootword is ’n eenrigtingstraat,” het ouma Hebs gesê. “Jy kan nie omdraai nie, Emma. Vorentoe! En dis tyd dat jy so ’n entjie alleen gaan loop. Wie weet watter avonture daar op jou wag?”

      Maar dit voel soos ’n verbanning. Sy wil bly. Tog, ’n klein stukkie van haar hart wil ook gaan. Dalk, net dalk, sal alles anders wees as sy terugkom.

      Vertrek

      Saterdagaand ontmoet die toergroep op OR Tambo Internasionale Lughawe by die Mugg & Bean. Op die vlug van Kaapstad af was daar reeds vier vreemdelinge van ander skole, twee meisies en twee seuns. Emma het hulle skaars gegroet. Sy het haar oorfone in haar ore gestop en ten spyte van juffrou Lategan se afkeurende blik almal geïgnoreer.

      Aan juffrou Lategan sal sy haar vir seker nie steur nie. Hoekom pluk die vrou haar wenkbroue so dun? En daai outfit! ’n Oorgroot hemp met paisleypatrone en sulke yslike swaaiende oorbelle. Weet sy dan nie Parys staan vir styl nie? Swart rompies, serpe, groot leerhandsakke, elegante skoene. Nie die pienk spykerhakke waarop die Lategan soos ’n parkiet op stelte rondtrippel nie!

      Meneer Thompson, van een van die Kaapse skole, spel vir hulle die reëls uit.

      “Onthou, julle ouers het die verantwoordelikheid vir julle veiligheid aan ons toevertrou. Ons verwag dus dat julle deurentyd na my en Miena sal luister.”

      Emma kyk om haar rond.

      Miena?

      Juffrou Lategan glimlag soetsappig en fladder haar wimpers. Werklik! En meneer Thompson dra ’n breë goue trouring. Emma sug. Net nie nóg drama nie.

      “Kan ek vir jou ’n cappuccino bestel?” vra ’n stem links van haar.

      Sy gluur na haar buurman. Dis een van die seuns uit die Paarl. Rugbyspeler?

      Windgat! besluit sy dadelik.

      “Nee, dankie. Koffie hou my wakker en ek wil slaap op die vlug.”

      “Daar gaan lekker flieks wees om te kyk.” Hy glimlag so met die een mondhoek. Sy snork en kyk weg. “’n Muffin dan?”

      “Lemoensap, dankie, en ek sal vir myself bestel.”

      Meneer Paarl kry die boodskap en gee pad.

      Emma wil huil. Hoe gaan sy ooit hierdeur kom? Al hierdie lamlendige mense! Parys kan dalk pret wees, maar nie in súlke geselskap nie.

      Sy verlang al klaar na Salome. En as Mathew kon saamkom … Net verlede Vrydag het hy in tweede pouse nader gestaan en soort van ’n geselsie met haar aangeknoop. Hy wou weet wat sy en Salome die naweek gaan doen. Wou hy haar dalk uitvra? Maar toe kom Salome by die klas uit en hy begin stamel en vroetel en weet nie waar om te kyk nie.

      Salome het haar kuif op dáárdie manier uit haar oë gewip en gemaak of sy nie die groot oë raaksien wat Emma in haar rigting rol nie. Vir ’n oomblik het sy gewens Salome was nie altyd by haar nie. Beste vriendinne, ja, maar soms het ’n meisie ’n kans nodig.

      As Mathew hier was, kon hulle dalk langs mekaar op die vliegtuig gesit het. En in Parys, die romantiese Stad van Lig, sou sy saam met hom in die strate kon ronddrentel. Dalk iewers in ’n straatkafee gaan sit, net hulle twee. Saam kyk na die mense op straat, die mans almal met gestreepte hemde en swart berets, en daardie lang brode wat by hul inkopiesakke uitloer. Die Franse eet dit blykbaar vir ontbyt, middagete én aandete. Hmm, en kaas en uiesop, krakerige croissants met donkersjokolade diep ingebak in hul sagte binnekante.

      Mathew sou lastige ouens soos die breker van die Paarl van haar lyf kon weghou. Saam met hom sou die gedagte aan die Eiffeltoring en die Seine en die Louvre en al die ander Paryserige dinge haar meer opgewonde kon maak. Maar hy neem ook nie Frans as vak nie. En soos juffrou Miena Lategan nou besig is om te verduidelik, is die groot motivering vir die toer om hulle Frans te verbeter.

      “Julle skryf die DELF-eksamens by die Alliance Française net twee weke ná ons terug is. En soos julle weet, moet julle ook ’n mondelinge eksamen doen. Dis nou julle kans om Frans te bemeester tot die vlak waar julle dit vlot kan praat – ons sal sorg vir geleenthede om so veel as moontlik Franse gesprekke te voer. Madame Flaubert, die bestuurder van die gastehuis, is nou wel oorspronklik Afrikaans, maar sy woon al jare lank in Frankryk en was met ’n Fransman getroud. Haar seun, Luc, is ’n jaar of wat ouer as julle, en hy sal julle touwys maak oor die Franse tradisies en gewoontes.”

      “O, ’n regte, egte Franse ou!” koer Clarissa.

      Emma se selfoon biep. ’n WhatsApp van Salome.

      Waars jlle?

      Lughawe Jhb

      Enige hot ous?

      Hele Boishaai rgbyspn

      Kidding?

      Wt dink jy?

      “Kom, dis tyd dat ons aanstoot,” sê meneer Thompson, die selfverklaarde groepleier.

      Emma bekyk hom misnoeg. Verslete aktetas wat hy vir sy handbagasie gebruik, ’n sportbaadjie wat waarskynlik meer akriel as wol bevat, en ’n das wat mens nie te naby aan ’n vlam moet bring nie. Ouma Hebs het die belangrikheid van natuurlike vesel by haar ingeprent: katoen, wol of sy. Natuurlike vesel haal asem saam met jou lyf, akriel is soos ’n plastieksak wat jou porieë stadig versmoor.

      Sy tel haar rugsak op en streep agter die ander aan terwyl sy haar selfoon op flight mode sit. Sy sal haar gesprek met Salome hervat sodra die vliegtuig land. Die vlug is net bietjie minder as elf ure, as sy reg onthou.

      Agtuur môreoggend is sy in Parys.

Скачать книгу