Скачать книгу

leër. ’n Offisier wat, ondanks ’n bors vol medaljes, nie ’n dameskoor sou kon inspireer nie. Hy is die hoof kommunikasie-offisier vir die koloniale magte op die generale staf – luitenant-kolonel Garrick Courtney, V.C., D.S.O.” Saul huiwer en sy uitdrukking verstar. “Nie familie van jou nie, hoop ek.”

      “Nee,” lieg Sean sonder blik of bloos.

      “Dankie tog,” gaan Saul voort. “In elk geval, dis hoekom mense ons bejammer. Die verleentheid spruit uit die feit dat niemand ons amptelike bestaan erken nie. Selfs as ons rantsoene trek, moet Tim eers ’n belaglike stuk komedie met die kwartiermeester uitspeel. Omdat ons kastig Guides is, dink almal ons moet vooruit gaan en die pad beginne wys. Nou dink hulle dis ons skuld dat generaal Buller in drie maande se tyd nog nie eens eenhonderd jaarts vorentoe gevorder het nie.” Saul maak sy glas vol. “Hoe dit ook al sy, ons brandewyn is darem nog nie op nie.”

      “Jy bedoel ons doen niks nie?” vra Sean ongelowig.

      “Ons eet, ons slaap en ons drink.”

      “Partykeer gaan ons kuier,” las Tim by. “Ons kan dit sommer nou-nou gaan doen.”

      “By wie kuier ons?”

      “Die mees ondernemende vrou in die distrik, skaars vyf myl hiervandaan. Sy het ’n rondreisende sirkus – veertig waens en veertig meisies. Hulle tou agter die gevegsmagte aan vir troos en aanmoediging. Kom ons gaan kry ’n bietjie. As ons nou wegspring, is ons voor in die koor – eerste daar kan eerste kies.”

      “Ek laat daai besigheid maar aan julle oor.” Saul staan op en drentel weg.

      “Hy’s ’n goeie ou,” merk Tim op terwyl hulle hom agternakyk.

      “Is dit teen sy geloof?”

      “Nee, hy is getroud en vat dit kop toe. Wat van jou?”

      “Ek is nie getroud nie.”

      “Nou maar laat ons wikkel.”

      Heelwat later ry hulle saam in die maanlig terug kamp toe, albei bietjie soetbedroef van die vroue en drank. Die meisie wat vir Sean na haar wa toe gevat het, was vriendelik, met ’n paar reuse- moederlike tette.

      “Ek hou van jou,” het sy agterna gesê.

      “Ek hou van jou ook,” het hy geantwoord, in alle eerlikheid.

      Hoewel Sean geen skaamte of skuld voel wanneer hy enige van sy lyflike behoeftes bevredig nie, weet hy dat daardie halfuur saam met ’n vreemdeling in die wa se bed maar ’n flou plaasvervanger is vir die regte ding.

      Hy begin die wysie neurie wat Ruth op daardie stormnag gesing het.

      12

      Luitenant-kolonel Garrick Courtney trek sy uniformbaadjie uit en hang hom versigtig oor die staanhanger langs sy skryftafel. Hy vat-vat aan die pers sylint waaraan die swaar bronskruis hang totdat dit nét reg sit. Sy lippe vorm die woorde op die inskripsie – Vir Dapperheid – en hy glimlag.

      Die sjampanje wat hy by middagete gedrink het, laat sy brein soos ’n blink diamant in sy skedel voel, skerp en hard en helder.

      Hy gaan sit, draai sy stoel kant toe en strek sy bene uit, dwars met die skryftafel langs.

      “Stuur hom in, ordonnans!” roep hy, en kyk na sy stewels. Jy kan nie die verskil sien nie, besluit hy. Niemand kan met die blote oog sien watter een het vlees en been onder die gepoleerde leer nie, en watter een die houtbeen met die vernuftige enkelskarnier.

      “Kolonel.”

      Die stem laat hom skrik en hy trek sy bene haastig in, steek hulle onder die stoel weg. “Curtis!” Hy kyk op na die man wat voor hom staan. Tim staan netjies op aandag, kyk reg bo-oor Garrick se kop, en Garry laat hom so staan. Hy geniet dit dat hierdie groot lummel daardie twee sterk bene moet gebruik om eer aan Garrick Courtney te betoon. Laat hom staan. Garry wag, hou hom dop, en uiteindelik begin Tim vroetel en keelskoonmaak.

      “Op rus!” Daar kan nou geen twyfel wees wie die mag het nie. Garry tel die briewemes van sy tafel af op en draai dit in sy hande om terwyl hy praat. “Jy wonder seker hoekom ek jou laat kom het.” Hy glimlag breed. “Wel, die rede is dat ek uiteindelik vir jou ’n opdrag het. Ek het vanmiddag saam met generaal Buller geëet.” Hy wag dat die feit insink. “Ons het die offensief bespreek. Hy wou my mening hê oor sekere planne wat hy in gedagte het … In elk geval, dis nie die punt nie. Ek wil hê jy en jou manne moet die rivier aan albei kante van Colenso verken. Kyk hierso.” Garry sprei die kaart op die tafel oop. “Daar is driwwe hier en hier.” Hy wys met die briewemes na die plekke. “Kry hulle en merk hulle duidelik. Ondersoek die pad- en spoorbrug en maak seker hulle is nog heel. Doen dit vannag. Ek verwag môreoggend ’n volledige verslag. Jy kan gaan.”

      “Ja, kolonel.”

      “O, Curtis,” stop Garry hom toe hy by die tentopening uit begin koes. “Dis nie nou die tyd vir foute of verskonings nie – krý daardie driwwe.”

      Die seilflap val agter Curtis toe, en Garry maak sy lessenaarlaai oop en haal ’n silwer fles daaruit wat met kornalynstene versier is. Hy skroef dit oop en ruik die inhoud voor hy drink.

      Teen sonop kom die Guides twee-twee en bedremmeld in die kamp aan. Sean en Saul kom heel laaste. Hulle gee hul perde vir die bediendes en sluit aan by die groep om die vuur.

      “Wat’s nuus?” Tim kyk op van waar hy hurk met sy hande om ’n beker koffie geklem. Sy klere is sopnat en stoom slaan daaruit op in die vlamme se hitte.

      “Hulle het die spoorbrug opgeblaas, maar die padbrug is nog heel,” sê Sean.

      “Is jy seker?”

      “Ons het daaroor geloop.”

      “Dis ten minste iets,” brom Tim.

      Sean lig sy wenkbrou skepties. “Jy dink so? Jy dink nie hulle het dalk die brug gelos juis omdat hulle wil hê ons moet daaroor kom nie?”

      Niemand antwoord nie, en Sean gaan afgemat voort: “Toe ons die brûe ondersoek het, het ek en Saul bietjie anderkant die rivier ook verken. Net anderkant is daar ’n reeks koppies. Ons het onder hulle langs gesluip.”

      “En?”

      “Die Boere sit in daai koppies soos penne op ’n ystervark se rug. Enigiemand wat die brug helder oordag oorsteek, gaan die hel uit hom uit geskiet kry.”

      “Heerlike vooruitsig,” brom Tim.

      “Hmm, tog te lekker, nè? Genoeg om van te kots. Wat het julle gekry?”

      “Baie water.” Tim kyk na sy nat klere. “Diep water.”

      “G’n drif nie?” raai Sean teleurgesteld.

      “Niks. Maar ons het ’n veerboot op die wal gekry met ’n gat in sy bodem. Dit kan die rede wees dat daar ’n drif op die kaart aangedui is.”

      “Dus kan jy nou vir ons geliefde kolonel die goeie nuus gaan vertel,” sê Saul en grinnik. “Maar ek wed jou tien teen een dit sal g’n verskil maak nie. As ek moet raai, sou ek sê Buller gaan Colenso binne die volgende twee dae aanval. Net perdalks kry hy ’n paar duisend man oor daardie brug, en dan het ons ’n kans.”

      Tim kyk hom swaarmoedig aan. “En die Guides sal die voortou neem …”

      “Maar dis dan op die kaart gemerk,” protesteer luitenant-kolonel Garrick Courtney. Sy kop is geboë, sodat Tim die pienk kopvel kan sien deur die voortjies wat die kam in sy vaalbruin hare gemaak het.

      “Ek het al drake en seemonsters op kaarte gesien, kolonel,” antwoord Tim.

      Garry kyk hom aan met sy bleekblou oë. “Jy word nie betaal om grappies te maak nie, Curtis.”

      “Jammer … kolonel.”

      Garry frons. Curtis kan die rang na ’n belediging laat klink. “Wie’t jy uitgestuur?” vra hy.

      “Ek het self gegaan,

Скачать книгу