Скачать книгу

pad kantoor toe is sy gedagtes net by Alwyn se versameling. Die meeste van Alwyn se Suid-Afrikaanse seëls sal hy ook hê. Maar hy kan die duplikate weer vir ander seëls ruil onder sy uitgebreide netwerk filatelievriende. Hy sal nie die waardevolles op veilings verkoop nie, hy wil nie geld maak uit Alwyn se gebaar nie.

      Kassie parkeer agter Da Silva se kar, die personeelstaanplekke vroeg reeds vol. Hy sien Rooi is nog nie hier nie. Lê moontlik nog lepel agter Torretjie se rug. Hoewel hy nie regtig glo die konserwatiewe Rooi smul nou al aan die verbode vrugte nie. Volgens Rooi “vat hulle dinge stadig”. Maar aangesien Rooi onlangs by sy ma-hulle uitgetrek het en nou op sy eie in ’n woonstel naby Kassie in Goodwood woon, kan dit dalk net die einde wees van daardie edele voornemens.

      Dis eers toe hy agter sy lessenaar inskuif dat Kassie die notaboekie raaksien waarin hy die name van Daniel Knobel se makkers neergeskryf het.

      Hy maak die boekie oop en bekyk die name: Markus Moller, Willem Eksteen, Bernoldus Wagner, Pieter Louw en Jakobus Carelse. Gewone boerename. Almal al in hul grafte.

      Mevrou Knobel het genoem Daniel was in die laaste vyf jaar van sy lewe die enigste oorlewende stigterslid van die organisasie, en hy is al amper sewe jaar gelede dood. Dus is die laaste van sy makkers al ongeveer twaalf jaar gelede begrawe.

      Om meer besonderhede oor hulle of hul kinders te kry, gaan ’n byna onmoontlike taak wees. Kassie en Rooi kan die Kaapse telefoongids vat en mense met dié vanne begin bel, maar dit sal letterlik duisende oproepe behels. Hulle het al voorheen deur ’n soortgelyke oefening gegaan en moes dae lank tot laatnag op kantoor sit. Die meeste mense werk bedags en is eers na-ure beskikbaar. Dis ook nie te sê dat die mans se nageslagte nog in die Wes-Kaap woon nie.

      Hulle gaan net ’n helse lot geld en tyd mors, en daaroor is Daniels deesdae ’n pyn in die gat. Die speurders moet daagliks hoor hoe brigadier Filander hom hel gee oor die stasie se begroting, wat skynbaar jaarliks oorskry word.

      Kassie wend hom tot Google, maar sien gou hy gaan ook nie só regkom nie. Daar is vier-en-twintig inskrywings van verskillende Pieter Louws en almal lewe nog. Met die ander name gaan dit nie veel beter nie. Die inskrywings is vaag en in nege-en-negentig persent van die gevalle is daar nie kontakbesonderhede nie.

      • • •

      Daar kom onverwags ’n geleentheid vir TJ om meer oor die Orde uit te vind. Dis min dat Daisy in so ’n goeie bui is, maar ná vanoggend se gebruiklike vurige seks het sy in die waai van sy arm kom lê. Sy het met haar vingers deur sy borshare gestreel en hulle het só gelê totdat sy aan die slaap geraak het.

      Hy het genuine connected met haar gevoel. Dit was asof dit so hoort. Elke minuut was magic.

      Skuins ná elf het sy wakker geword, gesê sy is lus vir ’n braai. “Lekker skaaptjops, boerewors en koue wyn,” het sy haar bestelling geplaas.

      Hy was uitgelate. Haar goeie bui het nie soos die vorige kere koers gekies nie.

      Toe hy met die braaigoed by die huis terugkom, het hy die hout gepak en aangesteek. Snake het na sy motor geloop en weggery.

      Daisy sluit by TJ aan en hy skink vir hulle wyn.

      “Snake sê hy gaan vanmiddag in Vanderbijl fliek. Ek’s bly ons is vir die dag van hom ontslae.”

      Hy knik net. Sedert hul fight het hy nog nie weer met Snake gepraat nie.

      “Sien jy uit na die Kaapse trip?” vra hy terwyl hy die kole oopkrap. “Jy’s mos eintlik ’n Kaapse chick.”

      “Jy kan seker so sê. Born en bred in die Kaap, maar ek sal myself eerder as ’n chick van die wêreld wil beskryf. Ek wil nog baie reis, dalk eendag oorsee settle.”

      “Ja, dit sal nice wees. Ek ook … as die Orde my gaan toelaat om eendag te settle.”

      Sy glimlag net. “Moenie worry nie, ek sal toutjies trek.”

      “Klink of jy connections in die Orde het.”

      “Familie.”

      “Familie?” vra hy verbaas.

      Sy knik.

      “En hulle laat jou toe om só ’n gevaarlike job te doen?”

      Sy lag. “Ek het daarop aangedring. Ek’s verslaaf aan adrenalien.”

      “Wie’s familie van jou? V? E?”

      “Moenie jou hand oorspeel nie. Ek praat nie daaroor nie.” Sy huiwer ’n oomblik. “Dis beter so … vir jou ook.”

      “Wat’s beter vir my?”

      “Dat jy nie te veel weet nie. Die Orde hou buitestanders maar altyd op ’n afstand.”

      Hy pak die tjops en wors op die rooster. “O, is dít hoe die Orde my sien? Ek waag my lewe met elke job. Ek help die Orde om miljoene rande se juwele te kry. Ek moet Snake heeltyd bestuur om uit die shit te bly. En nou … nou is ek skielik ’n outsider?”

      Die glimlag verdwyn van haar gesig. “Moenie jouself bejammer nie, TJ. Elke werk onder die son het sy risiko’s. En jy het die werkaanbod met oop oë aanvaar. Die Orde betaal jou goed.”

      Sy hou haar glas na hom uit sodat hy dit kan hervul. “Maar jy bly net ’n klein ratjie in die Orde-masjien. Jy’s vervangbaar. Onthou dit.”

      “Is ek vir jou ook vervangbaar?”

      Haar wenkbroue lig. “Wat bedoel jy?”

      “Gaan jy my ook intrade op iemand anders wanneer jy die kans kry? Is ek ook net ’n klein ratjie in die Daisy-masjien?”

      Sy staan op, kyk met koue, gevoellose oë na hom. “Ek gaan die slaai haal.”

      16

      Kassie besluit om eers te gaan rook voordat hy sy brein knak oor hoe om by die nasate van die organisasie se stigters uit te kom. Sy longe roep met ’n luidspreker na nikotien.

      Hy kry Cliffie Arendse in die vierkant. Dié het al meer ophou rook en weer begin as wat Kassie kan onthou. Cliffie verklaar gereeld so vol oortuiging dat hy nóú sy laaste sigaret gerook het dat dit elke keer ’n skok is om hom weer met ’n sigaret te sien.

      Kassie weet Da Silva is heeltyd besig met kantoorweddenskappe oor wanneer Cliffie weer gaan begin rook. Hy het eenkeer gesien hoe Da Silva skelm ’n sigaret in Cliffie se boonste lessenaarlaai sit.

      “Besig?” vra hy ná die eerste paar trekke.

      “Ja, redelik,” sê Cliffie. “Maar ek staan nou eintlik en dink aan arme ou Boontjie. Het sy vrou vanoggend gebel. Sy sê dis nou nie meer lank nie, die kanker het versprei.”

      “Ek hoor so.”

      “Die wêreld is darem bleddie klein. Die afgelope tien jaar al speel ek mos snoeker by die klub hier anderkant in Rondebosch. Een van my gereelde partners, ou Klippies Kritzinger, noem toe mos Vrydagaand sy swaer is so siek aan kanker. En jou wragtigwaar, daar kom ek agter Boontjie is sy swaer! Ná al die jare wat ons saamspeel, ontdek ek dit nou eers.”

      Kassie knik, maar hy luister nie meer nie. Hy druk sy sigaret halfpad dood en druk dit versigtig terug in die pakkie. Met ’n “Cheers, Cliffie” haas hy hom kantoor toe.

      By sy lessenaar bel hy mevrou Knobel. Sy is verras om so vinnig van hom te hoor.

      Hy vertel haar dat hy die name van haar man se makkers gekry het. “Ek weet mevrou het gesê u ken nie die name van die ander lede van die organisasie nie, maar dalk het u wel van hulle geken sonder om te weet hulle is deel van die organisasie.”

      “Ja, dis moontlik. Hoewel ek en Daniel maar ’n klein vriendekring gehad het, en ek kan nie dink dat een van daardie mans by die organisasie betrokke sou wees nie. Hulle vrouens sou tog iets laat val het, nè?”

      Hy lees vir haar die vyf name.

      “Ek het vir Markus Moller geken! Nie goed nie, maar hy was lank Daniel se prokureur. Hy’s al in die 1980’s

Скачать книгу